Drag me to church: ’n preek deur Maryna Blomerus

  • 0

Prent: Canva

.........
En daar hang ek toe ook by ’n Tollie Parton drag show uit. Die konsertsaal sit op die rand van die dorp, aan die eindpunt van Kerkstraat wat begin daar waar dit met Hoofstraat kruis. Die Moederkerk sit reg by hierdie kruising.
............

En daar hang ek toe ook by ’n Tollie Parton drag show uit. Die konsertsaal sit op die rand van die dorp, aan die eindpunt van Kerkstraat wat begin daar waar dit met Hoofstraat kruis. Die Moederkerk sit reg by hierdie kruising. Voor die kerk sal jy die standbeeld van ’n bekende evangelis vind waar hy die dorp met waardigheid gade slaan. Al is die konsertsaal tegnies nog in Kerkstraat, strek die lang skaduwee van die kerktoring nie so ver nie en het die straat hier in elk geval ’n ander naam. Let op die simboliek, mense.

Ons evangelis was a closet Christen. Hy het spiritualiteit laat herleef met raad soos: “As you enter your prayer closet, let your first work be to thank God for the unspeakable love which invites you to come to Him.” Daarteenoor het Tollie Parton uit die kas geklim met ’n boodskap van die opstanding van die vlees, met die opdrag dat die Afrikanervolk weer moet paar soos hul voorsate (het jy getel hoeveel kinders hulle had?) en mekaar moet ploeg dat die saad in alle windrigtings skiet.

Die konsertgangers wat opdaag, is voor die voet mooi, vriendelike mense en verteenwoordig ’n diverse demografie. Drukkies word oral uitgeruil, want die mense van die dorp ken mekaar. Hulle is stamgenote. Baie van hulle is gay, maar nie opsigtelik nie. In hierdie dorp pronk mense nie met hul seksualiteit nie. Elkeen is normaal deel van die reënboog van seksuele oriëntasies, soveel dat daar letterlik (Tollie haat die gebruik van die woord letterlik) ’n seekat op die dorpsplein sal moet land voordat iemand kennis neem van enige vreemde thingamajiggies en tentakels.

Tollie maak haar dramatiese verskyning op die verhoog en kyk die gehoor deur. Sy verklaar haar mantra: “Moenie my vir ’n poes vat nie.” Sy som ons hopeloos verkeerd op. Sy vat ons vir die mense waarop haar ganse show geskoei is: konserwatiewe Afrikaners wie se tone heimlik krul van die prikkelende skoksensasie as jy ’n woord soos poes hardop sê. Sy weet nie wat ons weet nie. Hier in ons dorp is ons lankal post-poes, en al word daar hande geklap, word daar ook heelwat oë gerol. Hallo, dis 2024, selfs in hierdie klein dorpie.

Nou kyk, ek het op my dag ’n paar konserte vir ’n paar bekende Afrikaanse kunstenaars in Londen gereël, en het dieselfde kunstenaars oor en oor sien optree in sale wat gewissel het van die krip onder ’n Walliese kerk in Kings Cross tot verhoë in Wembley en die Royal Albert Hall, en die een ding wat ek weet, is dat konserte resepmatig is. Dieselfde grappies word konsert na konsert herhaal en dieselfde liedjies word in dieselfde volgorde gesing; deur slim in te zoem op elke unieke gehoor word daar darem effens, maar steeds veilig, geïmproviseer.

Dit is dan ook wat Tollie Parton doen. Die show bestaan grootliks uit ’n interaksie met die gehoor wat sy volgens plan uitvoer. So kies sy ’n ouer vrou wat sy kan etiketteer as verkramp en op wie sy dan haar banaliteite genadeloos kan uitstort; dan weer iemand om op ’n bekfluitjie te blaas en so aan. Maar uiteindelik kies sy ook iemand om openlik te verkleineer en lelik te noem, want Juanita, die Here het ons nie almal mooi gemaak nie, het hy?

Tollie Parton hou nie van gospelsangers en/of hul musiek nie. Dit kom ’n mens gou agter. Sy glo dis maar altyd ’n sukkelende loopbaan wat ’n sanger in die verwelkomende arms van gospel dryf. Maar is dit nie presies waaraan Tollie haarself skuldig maak nie?

Laat ek verduidelik.

Wanneer jy ’n kunstenaar sien optree, neem jy die gehalte van die hele produksie in ag. Die valutatransaksie is dit: Hou jy daarvan, sal jy betaal om dit weer te sien en sal jy ander aanmoedig om hul geldjie ook in ’n konsert te belê. Waar dit gospelmusiek aangaan, moet daar egter nog ’n faktor ingereken word, naamlik die “Divine Exchange”. 'n Gospelsanger moet jou nie net vermaak nie; hy of sy moet jou ook ’n Godservaring gee wat jou verder, hoër neem as die plesier van die artistieke. Vir baie Christene maak dit dus weinig saak as die stemgehalte so-so is of as die lirieke teologies vlak of verdag is, solank die musiek ’n snoesige emosie opwek en dit die gospeletikel dra.

So, toe ek diep daaroor nadink, tref dit my soos ’n openbaring dat Tollie Parton eintlik net ’n closet gospelkunstenaar is. Haar geloofsbelydenis is dat heilige koeie die sappigste boerewors maak en sy sien dit as haar missie om elkeen van hulle persoonlik te slag. Toegegee, die slag van sekere heilige koeie kan as genadedood verdedig word, maar kan ons daaroor saamstem dat die toets uiteindelik in die boerewors moet lê? Ons moet vra of dit goed is. Sou ’n mens die vertoning aan die min musiek alleen beoordeel (als lipgesinkroniseer), die danspassies waarvan daar geen is nie, die ylgesaaide goeie grappe en ooraanbod van tiperings wat gekristalliseer het in onbuigsame, growwe veralgemenings omtrent Afrikaners, sou ’n mens vind dat jy nie geskok is deur die kruheid wat letterlik (ja, Tollie, letterlik) rou boerewors insluit nie, maar eintlik net erg verveeld is met ’n vertoning wat op die laagste kommen denominator gerig is.

Maar liewe vriende, daar is ongelukkig ook die “Divine Exchange” wat aan die werk is, daardie konneksie met die heilige wat ’n mens se gesonde oordeel vertroebel. Tollie hou haar heilige dinge voor as inklusiwiteit, leef-en-laat-leef, diversiteit, verdraagsaamheid, oopkopgeid en dies meer. En sy kul jou hier en sy kul jou daar en siedaar, Tollie Parton het haar drag show verhef tot ’n heilige ding. As jy die show nie geniet nie, móét jy dus ’n bevooroordeelde, verkrampte, ultrakonserwatiewe ou poep wees. En voilà, genoeg mense word genoeg kere met hierdie slap riem gevang om te sorg vir die Tolgeld wat die show op die pad moet hou.

Nou wat sou ek dan hoop om by ’n goeie drag show te vind?

Om mee te begin, verkies ek rou emosies op die verhoog bo rou wors. Ek verkies ’n drag persona wat ’n gehoor uitdaag om kwesbaarheid, ruggraat, wysheid, deursettingsvermoë, integriteit en ongekwalifiseerde liefde te kweek en dit dan ook personifieer bo een wat seksualiteit poesvoos en holrug ry.

En dan sou ek hoop dat, juis omdat daar met hoogheilige dinge omgegaan word, die vlak van artistieke uitnemendheid so hoog sal wees dat dit ononderskeibaar sal wees van ’n geestelike ervaring. Om deur musiek en die kunste by die heilige betrokke te raak bring tog 'n groter aanspreeklikheid, dan nie? Maar dit verg harde werk om goed te wees. Dis baie, baie makliker om kru te wees.

’n Konsertsaal en ’n kerk verskil uiteindelik nie soveel van mekaar nie. Die moderne McChurch het tipies ’n praise and worship band wat hul liedere resepmatig saamgroepeer met soomlose oorgange tussen temas en die tempo's van die liedjies, van vinniger na stadiger, lewendig tot gewyd – alles om by te dra tot 'n groeiende gevoel van ’n naderende ontmoeting met God. Te dikwels is dit egter dan maar ook net ’n vertoning wat die kollig van die heilige dinge steel.

Nou wat sou ek dan verwag van in ’n preek in die Moederkerk? Eerstens, ’n prediker wat rou waarheid preek, gestroop van die godsdienste drag waarmee die kerk homself die afgelope 2 000 jaar opgetof het. Dat hy sal praat oor daardie een gebod waaraan die res net soos toebehoorsels, bykomstighede, hang: liefde. Liefde vir God en liefde vir jou naaste. En dat hy dan sal praat oor die revolusionêre, radikale implikasies van liefhê-soos-jouself. Dat hy my sal uitdaag om die kwesbaarheid, ruggraat, wysheid, deursettingsvermoë, integriteit wat ongekwalifiseerde liefde verg te kweek, te mobiliseer en dapper te gaan uitleef.

Tweedens sou ek hoop dat die prediker sy gemeentelede intiem sal ken. Hy sal byvoorbeeld nie ’n belofte wat God eeue gelede aan die een of ander Bybelfiguur binne ’n sekere konteks gemaak het, universeel maak en dit slap-bang copy en paste en net so op sy gemeente van toepassing maak nie. Hy sal wegstuur van iets soos: “Gemeente, die Here sê vandag vir u ’Wees sterk en vol moed.’” Sê wie? Miskien wil God eerder ’n paar waarskuwings en klappe uitdeel as mooi beloftes. So ’n prediker sal Dawid en sy Reus, Nehemia en sy Muur, of Moses en sy Rooi See nie vergeestelik met hoe ons vandag ons eie reuse moet trotseer, ’n Godsmuur om onsself moet bou of wonderbaarlik op droë grond deur ons diep waters kan kom nie. Sy boodskap sal wel in die ewige geanker wees, maar sal relevant wees en mense uitdaag om vandag se helde te word. ’n Piet en sy Skuiling, ’n Monique en haar Sopwa, ’n Johan en sy Protesveldtog. Maar dit verg balls om die tralies wat mense om hul gerief oprig, te rammel. Copy-paste is baie, baie makliker.

Dalk lê die waarde van die beste drag shows daarin dat hulle ons daaraan herinner dat ons almal naak gebore is en dat die res net drag is, nes Adam en Eva se vyeblaar. Dat die drag queen en die prediker net verskillende kostuums dra om dieselfde boodskap van versoening oor te dra. Dat ons almal net ’n karikatuur van onsself is en dat ons onsself minder ernstig moet opneem. Dat ons onsself moet losmaak van die binêre manlike/vroulike en dat jy die een of die ander moet wees voordat jy éérs daarin geslaag het om net mens te wees. Dat deur die beste van manlikheid en vroulikheid in menslikheid te kombineer, van medemenslikheid die hoogste gemene deler maak waarmee ons almal kan identifiseer.

............
Uiteindelik is dit tussen Kerkstraat se twee verste punte waar ons ons daaglikse lewens uitleef. Dis in die dorp waar jy ons in ons huise, kantore (“9 to 5”, Dolly), winkels, kuierplekke en parke sal vind en waar ons skouer skuur met mekaar. Ons waardes, of ons mekaar rou of glad gaan skuur, word egter tog in ’n groot mate bepaal deur die gehalte van die kerk aan die een kant en van die kunste aan die ander kant, maar dan weer word die standaard van kerk en kuns deur ons bepaal afhangend van hoe hoog ons die lat stel.
..............

Uiteindelik is dit tussen Kerkstraat se twee verste punte waar ons ons daaglikse lewens uitleef. Dis in die dorp waar jy ons in ons huise, kantore (“9 to 5”, Dolly), winkels, kuierplekke en parke sal vind en waar ons skouer skuur met mekaar. Ons waardes, of ons mekaar rou of glad gaan skuur, word egter tog in ’n groot mate bepaal deur die gehalte van die kerk aan die een kant en van die kunste aan die ander kant, maar dan weer word die standaard van kerk en kuns deur ons bepaal afhangend van hoe hoog ons die lat stel. As ons tevrede is met middelmatigheid, is dit wat ons gaan kry. Dalk het die tyd aangebreek dat ons ’n poes vir ’n poes vat en by ’n konsert uitstap om ’n punt te maak as dit nie goed genoeg is nie. En om dieselfde rede uitstap by ’n kerkdiens wat sy relevansie verloor het.

Amen.

Lees ook:

Suidoosterfees 2023, ’n oorsig: "Fees vir almal" gedenk 20 jaar met meesterlike aanbiedinge

Die Vrystaat Kunstefees vier die Suid-Afrikaanse kunslandskap van stories in al sy glorie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top