Donkerberg/Bloodwood deur Dominique Botha: ’n resensie

  • 1

https://voertaal.nu/tyd-is-skemer-tyd-is-gras-tweespraak-met-dominique-botha/

Donkerberg/Bloodwood
Dominique Botha

Dwarsrivier Uitgewers
9780620942638

Dominique Botha ryg met haar debuutroman, Valsrivier (2013), sommer ’n hele rits pryse in. Nie net ontvang sy vir die Afrikaanse weergawe van die roman die UJ-debuutprys nie, maar die ekwivalente prys vir ’n Engelstalige debuutwerk word ook aan False River (2013) toegeken. Die resepsie van die roman (in Afrikaans sowel as Engels) was baie positief, en met goeie rede. Ná twee dekades van romans wat peins oor die Afrikaner se geskiedenis aan die hand van ’n soort bildung van ’n wit protagonis, was baie lesers al ’n bietjie moeg vir dié resep. Maar Valsrivier het op allerlei wyses aan die meeste van die hebbelikhede van sy voorgangers in die genre ontkom, en was – verál vir ’n debuut – ’n kragtoer. Daar verskyn ’n klein bietjie poësie in die roman en dit is daarom nie geheel verbasend dat ’n digbundel uit Botha se pen nou ook die lig gesien het nie. ’n Mens wil natuurlik nie altyd bly vassteek by ’n skrywer se debuutwerk nie, maar wanneer ’n skrywer na ’n ander genre oorslaan, ontstaan daar die vraag of ’n talentvolle prosaskrywer ook as digter kan slaag.

.........
Maar Valsrivier het op allerlei wyses aan die meeste van die hebbelikhede van sy voorgangers in die genre ontkom, en was – verál vir ’n debuut – ’n kragtoer.
............

In 2021 verskyn die dubbeldoorteks Donkerberg/Bloodwood. Hierdie digbundel, wat uitgegee word in ’n Afrikaanse en Engelse spieëlbeeldformaat, kan op verskeie maniere deur die leser benader word. Enersyds is dit ’n digbundel wat op sy eie staan. Andersyds is dit ’n bundel wat as ’n soort begeleidingsbundel vir Valsrivier (en False River) dien. ’n Leser hoef nie noodwendig vertroud te wees met Botha se roman om hierdie bundel na behore te interpreteer en geniet nie, maar die lees van die bundel baat wel by ’n kennis (en miskien selfs ’n herlees) van Valsrivier. Hiermee wil ek nie die indruk skep dat Donkerberg nie sterk genoeg is om alleen te staan nie, maar eerder stuur ek daarop af dat die bundel en die roman gelees kan word as deel van ’n verhaal en verhaalwêreld wat deur mekaar aangevul kan word. In hierdie resensie bemoei ek my met die Afrikaanse helfte van die digbundel.

........
Hiermee wil ek nie die indruk skep dat Donkerberg nie sterk genoeg is om alleen te staan nie, maar eerder stuur ek daarop af dat die bundel en die roman gelees kan word as deel van ’n verhaal en verhaalwêreld wat deur mekaar aangevul kan word.
...........

Die bundel is in vyf afdelings verdeel, maar hierdie onderskeid is losweg ’n rangskikking van temas wat ondergeskik is aan die hooftema, aangesien sekere verwysings en personae oor en weer en deurgaans na vore tree sonder om hulle te veel te steur aan die grense wat met die eerste oogopslag deur die afdelings se titels gesuggereer word. Die sentrale tema wat in byna al die gedigte na vore tree, is die landskap van die platteland, en spesifiek die Vrystaatse platteland. Ook die titel en die keuse om die omslag met ’n Pierneef-landskap te illustreer beklemtoon hierdie verbondenheid. Die eerste afdeling van die bundel, getiteld “die mooiweer en warm koninkryk”, open met ’n vers wat deel van die toon aangee (11):

alles is stuifmeel selfs die bitter blomme

ek reis met die witduif van my oë                       1
terug na die mooiweer en warm koninkryk
op jou verjaarsdag die eerste januarie
waar die son met sy geel snawel
gesnaar aan die basiliekblou                              5
die hoogste van alle voëls
in die hemel kan vlieg
en wolke ophoop soos uitskotvag
oor die sluistrog van landerye

ek wil my oë sluit                                            10
in die immergroen olyf
gewortel in jou vrede
waar kosmos
die modder is wat sing
tussen jou vingers                                           15
ingestem tot op die laaste blaar
in die kaal stempel
van nog ’n jaar.

In die eerste strofe word die beweging van die werkwoord “reis” (reël 1) op twee wyses versinnebeeld. Ná die aankondiging dat ’n reis hier ter sprake is, word die leser en aangesprokene meegeneem na “die mooiweer en warm koninkryk” (reël 2). Die daaropvolgende reëls word stelselmatig korter, waardeur die spoed van die reis voorgestel word, terwyl die son, wat vergelyk word met ’n voël, stelselmatig ook hoër teen die hemelgewelf beweeg. Die opwaartse beweging word kragtig uitgedruk deur die werkwoord “vlieg” tot die uiterste einde van die sinsdeel uit te stel. In die sewende reël bereik die strofe sy vinnigste pas, wat dan dadelik met die daaropvolgende reël gerem word wanneer “wolke ophoop soos uitskotvag”. Die vroeëre beeld van die “basiliekblou” hemel word verder met hierdie beeld versier, en herinner die leser aan die plattelandse landskap wat hier geskets word deur die gebruik van die woorde “uitskotvag”, “sluistrog” en “landerye” (reëls 8–9). Die reis na die land van “mooiweer en warm” en die andersheid van hierdie land word juis beklemtoon deur die gebruik van die nie-alledaagse woorde “uitskotvag” en “sluistrog”. Die gebruik van woorde wat in onbruik geraak het of bloot nie algemeen aangetref sal word in die stedelike spreker se woordeskat nie, loop die gevaar om geforseerd aan te doen, maar hier is dit nie die geval nie. Inteendeel ondersteun dit die reis wat in die eerste reël aangekondig word, en is dit ook gepaste beskrywings vir die landskap wat hier uitgebeeld word. In die tweede strofe word hierdie landskapsbeeld voortgesit, met die treffende slot in die laaste drie reëls wat deur die rymende “blaar” en “jaar” die belofte van ’n nuwe jaar – reeds in reël 4 genoem – uitroep.

Dit sou verkeerd wees om aan te neem dat die toon wat in hierdie openingsvers gevestig word, deurgedra word na ’n bundel vol net mooi pastorale verse. So beklemtoon die realisme van die tweede vers die nostalgiese aard van dit wat in die vorige vers beskryf word, en stelselmatig word die leser daarvan bewus dat die gedigte eintlik waarsku teen die gevare van ’n eenvoudige nostalgiese blik op vervloë tye en vergane plekke.

“ten minste het die wind gaan lê” (bl 12) handel oor Pa, ’n boer wat van sy plaas, implemente en ook plaaslewe moet afskeid neem. Die belofte van ’n beter lewe vir die seun van ’n voormalige plaasvoorman neem ’n hartseer wending (strofe 1) en die vaderfiguur se verdriet skemer ook deur soos wat hy stuk-stuk van sy plaasimplemente ontslae raak:

vandag moes hy al die ou implemente van die hand sit
handgredrewe mieliestropers
tefsaaiers
vleismeulens
die eerste trekker wat hy ooit gekoop het
’n klein rooi massey ferguson
wat die boere destyds ’n vaaldonkie genoem het.

Daar verskyn wel steeds iets van die gemoedelike landelike gemeenskap wanneer daar verwys word na die Malans, die familie wat die plaas by Pa koop: “inhalige mense die malans / wat nog altyd elke pennie so hard knyp / dat van riebeeck daarvan kreun” (reëls 31–33). Die bittersoet beskrywing van die vader word terstond deur die digter onderbreek: “ek sit my pen neer / dis te warm / ek maak die deur oop en stap af rivier toe” (reëls 37–39). Hierop volg ’n verslag van die lot van Marie Malan, wat byna saaklik – duidelik in teenstelling met die draaiende detail van die voorafgaande strofes – aangebied word: Marie is tydens ’n plaasaanval en herhaaldelik daarna verkrag en het gesterf. Dit is hierdie skielike digterlike poging tot afstand wat die wrede aard van plaasaanvalle tuisbring. Met hierdie saaklikheid is dit juis asof die spreker aanvoer dat trauma soms nie na behore in selfs kreatiewe taal vasgevang kan word nie.

’n Eweneens geslaagde struktuur van ’n sagte nostalgie gevolg deur ’n gewaarwording van die barsheid van die plaaslewe kom ook voor in “my kinders is ryk maar my kinders is arm” (26). Deurgaans in die bundel voel die leser aan dat die digterlike sketse van die plattelandse wêreld juis wil ingaan op die dramatiese teenstellings waardeur dit gekenmerk word. In die afdeling getiteld “in die huwelik van ons asem” (36–48) wyk Botha met ’n reeks erotiese en liefdesverse hiervan af. Die mooi “minnekoors” toon hoe die digter vernuftig geykte liefdesbeelde vermy:

minnekoors

kom deur die poort
met jou arms vol perlemoenduiwe
en jou keel vol rose
volg die klein suiderkruis
wat tot sporing kom op my dy
soos seewier wat verlangend opwel
na die son se soen

ek wag op jou
aronskelke in die skaamvlei
van hartjiesgras
wande gekarring
uit moederlint en kaneel

my mond is takkies en donsvere
wat wil oopbreek op joune
soos koors breek
op spiraaltrappies
in laatmiddagvoortuine.

Maar die liefdesverse is ’n kort verposing van die bundel se tematiese bemoeienis met ’n familie teen die agtergrond van die landelike wêreld. Hierin lê ook die bundel se sterkste ooreenkomste met die tematiek van Valsrivier. Figure uit dié roman kom in talle gedigte ter sprake: die spreker, die vader en moeder, die grootouers, en uiteindelik ook die broer, Paul. Elkeen van hierdie figure word deur ’n kombinasie van ’n gebalanseerde verwondering en objektiewe oorweging in verse vasgevang. Die laaste afdeling van die bundel, “die kind wat geen perke geken het nie”, word dan in sy geheel aan Paul gewy. Die lang gedig waarmee Valsrivier geëindig het (“roudig”, bl 74), sluit dan ook Donkerberg af, en hervestig sodoende die skakel met die digter se debuutroman.

Die bundel is in pragtige hardeband met stofomslag uitgegee. Hoewel lesers sal baat by voorkennis van die digter se eerste werk, is ’n mens ook genoop om te erken dat dit beslis nie ’n voorvereiste is om hierdie digbundel te waardeer nie. Donkerberg is nou dalk nie die oorrompelende kragtoer wat Botha se debuutroman was nie, maar dit is immers nie wat ’n mens noodwendig van die poësie sou verwag nie. Ten spyte van ’n gedeelde tematiek met haar roman is die gedigte in sekere opsigte stadiger en bepeinsend, en hulle draai so nou en dan van die blik op ’n verlede af, soos die geval is met die liefdesverse in die derde afdeling. Donkerberg is ’n knap poësiedebuut.

 

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

Lees ook:

Toyota US Woordfees op TV: Anna-Mart van der Merwe oor Valsrivier

Toyota US Woordfees 2020: Dominique Botha oor Valsrivier op die verhoog

"Tyd is skemer, tyd is gras" ‒ Tweespraak met Dominique Botha

  • 1

Kommentaar

  • Pierre Bruwer

    'n Kragtoer van prosa, poësie en rissie-skerp nuutskeppinge. Maklik-lees verhalende skryfwerk wat beelde vaslê in die gemoed en geheue. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top