
...
’n Troudag sonder wyn is soos ’n koek sonder versiersel.
...
Dit was 4 November 2023, die dag toe die huweliksklokke vir ons gelui het.
Die son het geskitter, die voëls het gesing en daar was ’n sagte briesie wat soos ’n seën oor alles gehang het. Ek het gevoel soos ’n sprokiesprinses en Zander, my ridder in sy netjiese pak, het na my gekyk asof ek die enigste mens op aarde was. Die seremonie was pragtig, die trane was opreg, en selfs tannie Susan het dit reggekry om nie haar maskara te laat loop nie (’n wonderwerk op sigself).
Alles was perfek. Die musiek, die kos, die geselskap, en natuurlik die dans. O, die dans! Ek en Zander het ons skoene lank voor middernag verloor. Hy het my so rondgeswaai dat ek sweer my rok het sy eie lewe gekry. Daar was lag, liefde, en net genoeg wyn om almal te laat glo hulle kan “sokkie” professioneel uitvoer.
Teen die tyd dat ons uiteindelik by die ruimte se honeymoon suite beland het, het ek gedink dis die einde van ’n romantiese fliek. Die eienaars het regtig alles ingesit. Daar was kerslig oral, sagte musiek, rose op die bed en die badkamer het gelyk soos ’n spa vir Hollywood-sterre. Daar was selfs badbomme, gegeurde seep en ’n bottel sjampanje wat wag om oopgemaak te word.
Maar toe ... wel, laat ek sê, dis waar ons romantiese fliek verander het in ’n komedie!
Ons het natuurlik ’n bietjie te veel wyn gehad (’n troudag sonder wyn is soos ’n koek sonder versiersel). En toe ek besef my rok het meer knope as ’n skip vol matrose, het ek geweet ons is in die moeilikheid. Zander, my dapper man, het probeer help, maar hoe meer hy gehelp het, hoe stywer het daai rok gevoel. Teen die tyd dat ons uiteindelik die stryd gewen het, het ek gevoel ek verdien ’n medalje en ’n glas water.
Om dinge ’n bietjie af te koel, besluit ons om in die pragtige bad vol skuim te klim. Ek gooi badsout in, Zander gooi ’n badbom in en saam besluit ons: “Kom ons maak hom lekker vol.”
En toe gebeur dit.
Die bad begin oorloop. Eers ’n druppel, toe ’n straaltjie, toe ’n waterval wat sou maak dat selfs Victoria jaloers is. Die skuim het soos ’n sneeustorm oor die vloer versprei en binne minute het ons honeymoon suite gelyk soos ’n waterpark.
Ons het gegil, gelag, en probeer om die ramp te stop, maar dit was te laat. Die enigste manier om die vloer droog te kry, was om al die handdoeke te gebruik. Nie net die groot handdoeke nie, ook die kleintjies, die gesigdoeke, selfs die dekoratiewe een met die “Mr & Mrs”-borduurwerk op. Teen die einde het ons gelyk soos twee toergidse op ’n skip wat sink.
Uiteindelik, ná al die drama, het ons tog in die bad beland – of wat van hom oorgebly het. Ons het teruggeleun, diep asemgehaal, en net gelag oor ons eie chaos. Die skuim het stadig gesak, die kerse het nog sag gebrand ... en toe hoor ons “psssjjjj”.
’n Reuk van iets wat brand.
My oë rek.
Ek kyk op en daar sit Zander, heel ontspanne, maar met ’n vreemde gesig.
“Wat ruik so snaaks?” vra ek.
Hy kyk om en besef sy hare raak aan een van die kersvlamme!
Daar spring hy op, skuim oral, en klap op sy kop soos iemand wat ’n vuur probeer uitdoof met entoesiasme alleen. Ek lag so dat ek skaars kan asemhaal.
Daar, tussen die borrels, die rook en die chaos, het ek net geweet: Dit is ons, vir beter of vir slegter, vir droë vloere of vir oorstroomde badkamers.
En toe ons uiteindelik in die bed klim (nou effens vogtig, moet ek bieg), het ek my kop teen sy bors gelê en gefluister: “As ons die huwelik kan oorleef ná hierdie nag, kan ons enigiets oorleef.”
Zander het net gelag en gesê: “Danica, dis dalk nie die sprokiestroue wat hulle in boeke beskryf nie, maar dis beslis ons, nè.”
En dis presies hoekom ek hom liefhet – vir altyd, selfs met halfgebakte hare en nat handdoeke.

