Die Woordfees TV-fees is van 15–28 Julie op DStv-kanaal 150

  • 0

Foto: Maryke Roberts

Die Toyota US Woordfees vind vanjaar weer dwarsoor Suid-Afrika en Namibië in jou sitkamer – eksklusief op DStv – plaas. Die Woordfees TV-fees is van 15–28 Julie op DStv-kanaal 150, en in Namibië ook op GOtv-kanaal 27, op die lug.

Geen verkeersknope, geen oorvleueling van vertonings waarvoor jy jouself nie in twee kan skeur nie, en geen stres omdat drie tannies in die gehoor nie hul selfone wil afsit of wil ophou om lekkergoedpapiere te ritsel in die mees spanningsvolle oomblik van die drama nie.

Die feesprogram is onlangs op die Toyota US Woordfees se Facebook-blad en DStv se YouTube-kanaal bekend gestel. Vanjaar se tema is Wild! En dit gaan omtrent wild wees met 100 verskillende aanbiedinge, van boeke tot dans en film.

Maar daar is ook vanjaar ’n fees in die vlees in Oktober!

Foto: Maryke Roberts

Die oulike geskenkboks wat kort voor die bekendstelling by my afgelewer is, lê oopbek langs my op die mat.

Foto: Maryke Roberts

Ek het spesiale Wild-Woordfees-sokkies aan, drink lekker aan my Lanzerac Syrah en knaag aan my skyfies en sjokolade. Die vuurtjie knetter in die kaggel en ek maak notas oor alles wat ek wil sien.

Saartjie Botha, Toyota US Woordfees-direkteur, is merkbaar opgewonde oor dié konsep en sê hulle was verstom oor die positiewe terugvoer op die eerste TV-fees en hoe roerend dit vir kykers was. Ek moet saamstem – verlede jaar was die opwipkanaal ’n wonderlike ontvlugting tydens inperkingsreëls en maskers en handreinigers.

Sy sê: “’n Opwip-TV-fees is ’n wonderlike, veilige manier om die kunste dwarsoor die land te stimuleer, te ondersteun, te deel en te vier. Die Woordfees-TV-model maak dit vir ons moontlik om ons handelsmerk lewendig te hou, inkomstegeleenthede vir kunstenaars te skep en blootstellingsmoontlikhede te gee aan ons borge, wat ons so getrou deur die pandemie ondersteun. Ons is baie dankbaar vir die bydraes van Toyota, Universiteit Stellenbosch, kykNET, MultiChoice en Media24 waarsonder hierdie TV-fees nie moontlik sou wees nie.”

Alle narratiewe inhoud en gesprekke sal Engelse onderskrifte hê, wat die fees se trefkrag soveel wyer maak.

Saartjie sê ’n kunstefees is ’n broeiplek vir energie en met twee feeste vanjaar het elkeen ’n unieke plek in die landskap van die uitvoerende kunste. “Met Woordfees TV hoop ons dat ons die kunste na meer mense in Suid-Afrika sal kan bring en gehore sal ontwikkel vir allerhande kultuurfeeste en -aktiwiteite. Ons hoop julle stel julself oop vir nuwe gedagtes en ons hoop ons sien julle in Oktober in Stellenbosch se strate.”

In samewerking met die Woordfees se sustersprojek, Woorde Open Wêrelde (WOW), is daar ook heelwat opvoedkundige elemente in die program, waaronder spel-speel met jou gunsteling onnie, die uitdagings van onderwys wat onder die loep kom en ’n spelfees onder spanne met drie verskillende moedertale.

Landboukwessies word in drie gesprekke oor voedselsekerheid, grondkwessies en stories van hoop bespreek. Dit word deur die voorste landboukenners bespreek.

Skrywers en boeke

Die Woordfees het 23 jaar gelede as ’n deurnagpoësiefees begin, en boeke en skrywers is steeds die hart van die program. Vanjaar is daar 18 nuwe boekgesprekke op die program. Die program het ’n wye onderwerpsveld en van ons land se voorste skrywers neem deel.

Die 19 boekgesprekke wat verlede jaar verfilm is, insluitend ’n gesprek tussen die teatermaker Marthinus Basson en die 2021 Booker-pryswenner, Damon Galgut, word weer uitgesaai.

Van vanjaar se hoogtepunte is onder meer die Digtersparadys met Philip de Vos, Lynthia Julius, Elias P Nel, Louise Boshoff, Grant Jefthas, Franco Colin, Dean Balie (voorleser) en Kabous Meiring (aanbieder). ’n Goue herfsmiddag met poësie en musiekbegeleiding deur Wilken Calitz word afgesluit met Dean Balie se spesiale musikale voorlesing uit die nuwe Adam Small-versamelbundel.

Abel Esterhuyse gesels met Alexander Strachan en Clive Cupido oor die boek 1 Recce: Die nag behoort aan ons. Twee lede van die SANW se spesiale magte gesels oor die geheimhouding rondom dié elite-groep soldate, terwyl die skrywer – ’n lid van die “moedermag”, 1 Recce – die operasies onthou, maar ook ligter oomblikke, soos rugby met ’n mak leeu.

Die Hertzogpryswenner SJ Naudé – die eerste skrywer wat twee keer na mekaar dié prys vir prosa gewen het – noem homself “’n aktivis vir die kortverhaal” en gesels met Marius Swart in Dol heuning met SJ Naudé oor inspirasie en die waarde van skryfopleiding. Sandra Prinsloo lees voor uit een van sy verhale.

In Wanneer vandag en gister nie lepellê gesels Diana Ferrus met with Kirby van der Merwe (Eugene), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom) en Brian Fredericks (Hou jou oë oop) oor die agtergrondstories van hulle onderskeie boeke, maar ook die spanning wat soms in hulle gemeenskap bestaan tussen iemand se komvandaan en sy lewe vandag. Daar is ook gesprekke rondom Michael Vlismas se boek oor Elon Musk, en Mynhardt Joubert en Tiaan Langenegger, die eerste Kokkedoor-wenners, is in gesprek oor kosmaak, kookboeke en waar hul koswortels begrawe lê. Ander boeke onder die loep sluit onder meer in Kaptein Ben Bliksem Booysen, Veertig jaar getroud met ’n narsis en Die Boereoorlog ingekleur.

Musiek en liriek

Iets wat jy beslis nie sal wil misloop nie, is die interessante kontemporêremusiekprogram, want dis ’n medium wat besonder goed na televisie vertaal, vertel Saartjie. Dis ook lekker uiteenlopend, maar dis veral die Theuns Jordaan-konsert en Antjie Krog-ode (Al om Antjie) wat vir my hier uitstaan. In laasgenoemde word haar 70ste verjaardag gevier met toonsettings van ’n paar van haar geliefde gedigte deur bekende kunstenaars uitgevoer onder Schalk Joubert se musiekregie.

Saluut, Theuns Jordaan (Foto: Verskaf)

Saluut, Theuns Jordaan, bring hulde aan dié ster wat verlede jaar oorlede is. Hier sal Anton Goosen, Bok van Blerk, David Kramer, Dozi, Dr Victor, Gian Groen, Karen Zoid, Kurt Darren, Sima Mashazi, Tarryn Lamb en Valiant Swart van sy liedjies sing met Melissa van der Spuy as musiekregisseur.

As die musiek van Brel en Piaf jou hartsnare so roer soos myne, is die Brel/Piaf-vertoning beslis een om in jou kalender aan te teken. Vir agtergrond hieroor, lees gerus my resensie van die onlangse uitvoering daarvan by Theatre on the Bay.

Boeremusiek & mirror balls (Foto: Nardus Engelbrecht)

Maak ook ’n aantekening van die Rocco de Villiers se Boeremusiek & mirror balls – boeremusiek op die klavier à la Rocco. Nico Carstens, Ollie Viljoen en Hendrik Susan het ’n nuwe huppel in hul stap danksy dié nostalgiereis met toekomsvisie.

Daar is ook blues en jazz en genoeg rede om voete saam te tik terwyl jy jou spaghetti bolognaise op ’n TV-skinkbord geniet.

Karen Zoid & kie (Foto: Nardus Engelbrecht)

Ek het verlede jaar met die eerste opwipfees ’n paar maal na Karen Zoid en die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se uitvoering geluister. Soms alleen, soms saam met vriende en een aand by kerslig saam met my geliefde.

Die wêreld was toe ’n donkerder plek as nou, waar ons sonder maskers en met minder regulasies kan uitgaan. Ons kan weer in teaters gaan sit. Maar toe dié uitvoering opgevoer is, het ons dit nie geweet nie en met die sielvolle vertolking van musiek en woord het sy en haar span ’n ware hoendervleis-ervaring gegee.

Ek het toe op LitNet geskryf: “Ek sit vasgenael in die donker; die videografie van die vertoning só meesleurend: nabyskote van vingers op snare; ’n trom wat saggies tril onder ’n slag; die konsentrasie op ’n violis se gesig; Karen se blonde krulle wat skud as sy Valiant Swart se “Sonvanger” met soveel emosie sing die trane loop by my wange af.

“Dis mooi; dis nostalgie; dis spyt vir dit wat nie kan wees nie; dis dankbaarheid vir dit wat kan wees. Ek drink gulsig aan die kunsbeker; die dors was diep.”

Ek is dus verheug om te sien dit word vanjaar weer uitgesaai, saam met verskeie ander 2021-hoogtepunte wat op feesliefhebbers se spesiale aanvraag weer beskikbaar is, waaronder die David Kramer tribute – Boland to Broadway en Smeltkroes.

Zorada Temmingh (Foto: Nardus Engelbrecht)

Die klassiekemusiekfees skitter ook vanjaar met verskeie vertonings wat nie misgeloop moet word nie, waaronder die Gemeenskapsgala 2021 met Anna Davel, Earl Gregory, Luvu Maranti en Zip Zap Circus wat saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes opgetree het; ’n huldeblyk aan Allan Stephenson en Thomas Rajna met fondse wat vir die MAXCYK Oekraïne-rampfonds gaan; Universiteitskoor Stellenbosch University Choir 2022 (die 2021-opname word ook weer uitgesaai); die jaarlikse Huberte Rupert Gedenkkonsert wat vanjaar Elgar se ikoniese tjellokonsert is; en ’n heruitsending van Zorada Temmingh se orreluitvoering in die Stellenbosch Moederkerk van verlede jaar.

Universiteitskoor Stellenbosch (Foto: Stefan Els)

Dans, leefstyl, diskoers, film en visuele kuns

Die dansfees is net so uiteenlopend en sluit onder meer Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens in, waarin Ronelda Kamfer se poësie deur die Garage Dance Ensemble met dans vervleg is.

Die internasionaal gerekende choreograaf Gregory Maqoma se dansfilm, Retrace-Retract, verken die lewe in Soweto en belig die verskille en dinamika van kulture, tradisies, hiërargieë en drome. Dit is ook deel van vanjaar se dansprogram.

Die leefstylprogram word vanjaar deur die Stellenbosch Wynroetes aangebied en wys die beste wat die Eikestad en omliggende wynlande kan bied. Daar is nuwe wynkroeë op die dorp, wilde sampioene word saam met Dave Pepler uitgesnuffel en jy kan die dorp deur die oë van die glanssjef Bertus Basson – wat nou weer in kykNET se In die sop te sien is – se heruitsending van Local & lekker sien.

Kabous Meiring (Foto: Verskaf)

Die Woordfees was nog altyd bekend vir sy vurige gesprekke en debatte. Vanjaar se diskoersprogram – een van die fees se hoekstene – word deur die gesoute joernaliste Kabous Meiring (aanbieder van Prontuit op kykNET) en Pieter du Toit (assistent-redakteur vir in-diepte nuus by News24) aangebied en sluit onder meer gesprekke rondom voorkomende gesondheidsorg, opvoeding, entrepreneurskap en die middelklas in.

Koos Doep (Foto: Verskaf)

Die filmfees het ’n gros moet-sien-films, maar dis die film oor Koos du Plessis, En tog die deuntjie draal, wat hier uitstaan. Koos Doep het in die byna vyf jaar voor sy dood in 1984 die landskap van Afrikaanse musiek en lirieke onherkenbaar verander. Sy werk is tydloos en ’n jonger geslag begin nou sy musiek ontdek. In die film gee lede van sy gesin, medemusikante, vriende, joernaliste en tydgenote meer insig oor die man agter die musiek.

Onder die visuele kuns is daar ’n lesing deur Strauss & Co oor hoe die waarde van kuns bepaal word en ’n dokumentêr oor die gevierde skrywer en fotograaf Lien Botha.

Toneel

Proscenium: Babbelagtig (Foto: Nardus Engelbrecht)

Daar gaan ’n lekker verskeidenheid toneelstukke op jou TV-skerm wees. Heelwat daarvan was al by ’n fees of twee op die planke, maar nou kan meer mense oopmond staar en lag vir Proscenium: Babbelagtig, Proscenium: Toutjies en Ferreira, Die naaimasjien, Mis, Krismis van Map Jacobs en Ferine and Ferase.

Saartjie sê klassieke musiek en toneel kry by die Woordfees-bestuur voorkeur vir die fisieke fees, omdat dit nie net die duurste en langdradigste is om op te neem nie, maar ook nie altyd so goed vertaal na die televisieskerm nie.

En wat sal ’n fees sonder komedie wees? Vanjaar se Savanna Stand-up-komedie gaan beslis die lagtrane laat rol met geliefde komediante, waaronder Kagiso KG Mokgadi, Angel Campey, Nik Rabinowitz, Mariette Loubser, Rob van Vuuren, Wayne McKay, Melt Sieberhagen en Shimmy Isaacs. Moet ook nie die komediegleuf met die TikTok-fenomeen van Wyn vir die pyn, Wynand Kotzé, misloop nie.

Soos Leon Theron, senior vise-president: verkope en bemarking by Toyota SA, die feesborg, sê: “Gaan wild en geniet dit!”

Hoe gemaak as ek wil saamkyk?

Alle Suid-Afrikaanse DStv-intekenaars met ’n Premium-, Compact Plus-, Compact- of Family-pakket sal toegang tot dié opwipkanaal hê, maar in Namibië sal Woordfees TV nie ook op Family beskikbaar wees nie. As jy nog nie op DStv ingeteken is nie, kan jy dit maklik vir ’n maand doen en dit gaan jou goedkoper as die tradisionele fees uitwerk. Nuwe programme wat vir 2022 vervaardig word, sal op DStv Catch Up beskikbaar wees. Jy kan die fees ook stroom vir die maand. Meer inligting is op die webwerf (woordfees.co.za) beskikbaar.

Op 28 Julie word die program van die fisiese fees van 10 tot 16 Oktober op Woordfees TV bekendgestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top