Melankolie en geluk hand aan hand met Brel en Piaf: Brel/Piaf – a revue of their songs

  • 1

Foto van Amanda Strydom en André Schwartz: verskaf

.............
Kyk, jy weet jy is in vir ’n tranetrekker as jy na die liedjies van Brel en Piaf kom luister. En jy weet van melankolie – nie net oor hul lirieke se temas en die tye waarin dit geskryf is nie, maar ook omdat jy jare laas vir André en Amanda op ’n Kaapse verhoog kon sien.
Maar dan arriveer jy by Theatre on the Bay en skielik is daar ’n ander atmosfeer in die lug: een van optimisme, van mense wat lag en gesels en wyn by hoë tafeltjies staan en drink, van teatervriende wat mekaar baie lanklaas gesien het, van mense wat uit die pandemie-hibernasie opgestaan het.
..............

Die openingslyn kom uit Amanda se mond en sy sê ons is nou hier in die jaar van die plaag. Vir elkeen in die gehoor hou daardie sin sy eie hartseer, verlies en ontbering in. Niemand is onaangeraak deur die afgelope twee en ’n half jaar nie.

André en die twee pianiste, Dawid Boverhoff en Coenraad Rall, is uitgevat in swart. Die pianiste flap hul manelpakke se sterte soos pronkerige poue elke keer as hulle voor die klavier inskuif. Die blinkers om die nek van Amanda se fluweelrok skitter soos diamante onder die teaterligte.

Die melodieë dartel om ons enkels, die onthou tik saam ingedagte vingers op knieë. Die waarhede in die lirieke tref jou: “Jy vergeet, vergeet net nooit die verlede nie. Jy leef daarmee. Dis al.” Of die versugting van “die enigste sterre waarna ons kon reik, was die stervisse op die strand ...” Of die amper temerige ritme van “Seasons in the sun” met André wat kruisbeen op ’n bankie sit, verlig in ’n enkel straal lig.

Pouse in die foyer kan jy amper vergeet van die afgelope 36 maande. Dis regtig ’n herontmoeting en herontdekking van die magiese krag van teater.

Die tweede helfte open met ’n a cappella-weergawe van “The three bells” oor die lewe van Jimmy Brown. Slim teaterligwerk vorm ’n verligte kruis teen die andersins donker verhoog. Die twee pianiste sing saam; soms net ’n enkele noot wat André op die klavier slaan.

Met die paar bekende treffers in Frans, is die applous uit die halwe gehoor weens Covid-regulasies dubbel so oorweldigend, en soos die twee kunstenaars se stemme elke hoekie van die teater vul met hul sang, so propvol energie vul die dawerende applous ook elke gaatjie.

Die jong man langs my sit kort-kort sy glas wyn neer om hande te klap. Op een plek met “La vie en rose” lyk dit of hy wil opstaan, homself bedink en weer terugleun teen sy stoel. Sy hande vryf opgewonde oor sy bobene en hy kyk rond in die halfdonkerte of daar nog mense is wat sy entoesiasme deel.

.............
Ek wens Saartjie Botha wil meer skryf vir die verhoog. Haar aanslag met ’n produksie wat baie maklik net meer van dieselfde (lekkerte en bekende) kon wees, is só verfrissend. Dis in die detail, soos die vertaling van gewilde liedjies uit Frans of Nederlands, en die papiermannetjies in die tweede bedryf wat in hul onskuld agter op die klavier rus, maar by nadere inspeksie met mortiere en groot gewere in die oorlog poseer. Dit kom lê die nostalgie en melankolie net so ’n klein bietjie swaarder in jou skoot.
...........

Daar is baie nat oë toe die ligte na ’n encore-liedjie aangaan. Miskien is dit André se woorde “till death comes, I will sing about life”, met almal wat weet van sy motorneuronsiekte, of miskien is dit daardie melankolie wat Piaf en Brel so goed by jou kan tuisbring.

Toe die staande ovasie effe bedaar, is dit André wat laat hoor: “Theatre is alive and well.”

Finula Dowling se woorde uit haar jongste roman, The man who loved crocodile tamers, oor melankolie en geluk, is die gedagte wat my bybly toe ons in die gitswart nag huis toe ry.

“Happiness, how elusive it was – always located somewhere behind one in the past, or ahead, in the future … He had been present in those moments without knowing he was happy.

“Happiness is like that. It doesn’t linger or solidify as melancholy does. Happiness shrugs and says, ‘That’s it. I’m off.’”

Brel/Piaf – a revue of their songs

Met André Schwartz en Amanda Strydom
Regisseur en skrywer: Saartjie Botha
Musikale regisseur: Louis Zurnamer
Pianiste: Dawid Boverhoff en Coenraad Rall

Theatre on the Bay, Kampsbaai

Tot 11 Junie 2022

Kaartjies deur Computicket of die Theatre on the Bay-kaartjieskantoor by (021) 438 3300. Kaartjies word in pare verkoop.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie, Maryke!
    Brel en Piaf kom 'n baie lang pad.
    Boonop is dit is al amper 4 dekades dat ek 'n pad met André en Ms Mandy geloop het.
    Ek voel elke keer melankolies oor die tweeslaapkamer woonstel in Brighton Court, langs Pieter se Theatre on the Bay, wat ek in 1992 besluit het om nie te koop nie, desondanks die feit dat ek gewapen was met Gräbe Nel, NBS Germiston bestuurder, se R240 000 voorafgoedgekeurde finansiering.
    Ek sal graag opnames wil sien!
    Analoog aan Amanda se State of the Heart, wat ek nog met skoonma vir oulaas laasjaar kon deel op 80, enkele maande voor haar dood.
    Intussen sal ek maar weer Danielle Pascal, Herman van Veen en Jannie du Toit se CDs moet afstof...
    PS: Ek is bly oor jou sentiment uitgespreek oor Saartjie! Ek was besonder nuuskierig, veral daaroor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

    Top