Die wêreld van die storie: ’n onderhoud met Willie Burger

  • 0

Die wêreld van die storie
Willie Burger
Uitgewer: Van Schaik
ISBN: 9780627036071

Naomi Meyer praat met Willie Burger oor sy boek Die wêreld van die storie.

Willie, vir wie het jy Die wêreld van die storie geskryf? Op die agterblad staan daar oor jou geskryf: “Met sy resensies en rubrieke oor die letterkunde in verskeie populêre publikasies probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.” Is ek reg dat die boek nie net vir studente van die letterkunde bedoel is nie?

Dalk is hier nog ’n vraag: Definieer "student van die letterkunde" – is dit ’n leser?

Een antwoord sou wees om te sê dat ek die boek geskryf het vir “almal wat van stories hou”. Dit sou egter klink asof ek van die begin af presies geweet het wat ek wil doen en hoe ek die boek gaan skryf, en dit is ’n bietjie oneerlik. Miskien help dit as ek meer oor die ontstaansgeskiedenis van die boek vertel?

Daar was eintlik twee beginpunte en ek het hulle self nie van die begin af saamgedink of as een boek gesien nie. Die redakteur van Vrouekeur, Eldaleen Hugo, het my jare gelede gevra om ’n reeks rubrieke te skryf oor hoe om romans te lees. Die grootste deel van hoofstuk 5 van die uiteindelike boek het uit hierdie rubrieke ontstaan. Hoewel ek die rubrieke aanvanklik dus vir “gewone lesers” geskryf het, het ek agtergekom dat my studente ook baat by daardie verduidelikings vind. Reeds van die begin af was die idee dus om toeganklik dog akademies grondig te wees.

Ek het dus met hoofstuk 5 begin en Van Schaik was entoesiasties oor die idee, maar ek het spoedig besef dat daardie bespreking binne ’n konteks geplaas moet word en geleidelik het ek uit my navorsingsbelangstelling in vertelling en uit sommige van die kursusse wat ek vir studente aanbied ’n ander verhaal begin vertel. Ek wou nie bloot ’n “hoe om te lees”-boek skryf nie (dit klink nogal pretensieus om vir ander sulke voorskrifte te gee), maar ek wou ook vir myself en vir moontlike lesers probeer verduidelik waarom ons stories lees, wat ons met stories doen, hoekom ons stories nodig het, wat stories met ons doen en wat dit vir ons kan beteken om stories en hoe hulle vertel en verstaan word, te ondersoek.

Ek het oor hierdie vrae geskryf, hopelik nie slegs vir studente van die literatuuur of vir akademici nie, maar vir enigeen wat in stories belangstel.

Dan is daar ’n tweede faktor wat ’n rol gespeel het. Ek dink nie dat daar noodwendig ’n groot verskil hoef te wees tussen “akademiese” skryfwerk en skryfwerk wat gerig is op mense buite die akademie (die “niestudente”-van-die-letterkunde) nie. Die vakgebied van die literatuurstudie verskil in sekere opsigte van die vakgebied van byvoorbeeld die fisika of biochemie. Letterkunde word immers nie geskryf slegs vir letterkundiges nie (of so sou mens hoop!). Literêre werke word deur baie mense gelees en geniet. Die meeste van hierdie mense is nie letterkundestudente nie, maar lesers. As hulle die literêre tekste kan lees, behoort hulle ook te kan lees wat die sogenaamde letterkundiges daaroor skryf (mits hulle natuurlik hoegenaamd daarin sou belangstel om kennis te neem van die letterkundiges se idees?).

Vandat ek ongeveer twintig jaar gelede rubrieke en resensies in koerante en populêre tydskrifte begin skryf het, vra ek myself dikwels af wat nou regtig die verskil tussen akademiese skryfwerk en skryfwerk vir ’n “algemene leser” is. Is dit nie maar altyd gewens om so helder as moontlik te probeer skryf nie? Ek het een keer in ’n onderhoud vir Chris Barnard gevra wat vir hom die verskil tussen sy verhale in populêre tydskrifte en sy “literêre” verhale is. Sy antwoord was dat hy glo daar is net twee soorte skryfwerk: goeie skryfwerk en swak skryfwerk. Vir hom maak dit nie saak waar dit gepubliseer word nie; hy probeer bloot om goed te skryf.

Dit mag ’n bietjie anders wees vir niefiksie , maar ek streef daarna om in al my skryfwerk, of dit nou vir Tydskrif vir Letterkunde of Vrouekeur is, so helder en verstaanbaar as moontlik te wees.

Die vraag is egter wat dit is wat akademiese skryfwerk ontoeganklik vir nie-akademiese lesers maak? Eerstens is daar natuurlik vakjargon. Vakterme wat onverstaanbaar lyk, word nie deur “kenners” gebruik uit ’n behoefte om slim te lyk of om ander te laat dom voel en hulle uit te sluit nie, maar omdat dit gesprekke makliker maak. Wat met een term vir ingewydes in ’n betrokke veld gesê kan word, moet vir oningewydes in ’n paragraaf of twee verduidelik word. Daarom is dit waar dat akademiese skryfwerk wat deurspek is van vakterme, gerig op ingewydes, dikwels vir buitestanders ondeurdringbaar lyk. Skrywers wat probeer om byvoorbeeld hoogs wetenskaplike werk te populariseer, het nodig om hierdie soort terme te vermy of gedurig te omskryf. Dit kan tot lompheid en ’n onnodig lang relaas lei. In die proses kan vervlakking en vereenvoudiging plaasvind.

Tweedens word leesbaarheid ook beïnvloed deur sintaksis – hoe lank of hoe ingewikkeld die sinne byvoorbeeld is (hoeveel bysinne in elke sin ingebed is). Ek dink egter die belangrikste manier waarop enige skryfwerk toeganklik gemaak kan word, is deur elke brokkie inligting behoorlik te kontekstualiseer. As die leser kan sien waar die nuwe inligting inpas en waarom dit hoegenaamd ter sprake kom, kan selfs die gebruik van onbekende terme en ingewikkelde formulering heelwat verlig word.

Wat ek in al my skryfwerk probeer doen, is om die konteks van die argument uit te spel en om die abstrakte argument self so helder as moontlik te hou (deur elke stap uit te spel, eerder as om spronge te maak en te probeer om elke stap deur middel van voorbeelde toe te lig). Ek dink ek is gewoon nie slim genoeg om té abstrakte argumente te volg of te voer nie, en daarom skryf ek maar stap vir stap uit om dinge ook vir myself helder te kry.

’n Verdere faktor wat ’n rol speel, is die feit dat ek hierdie boek in Afrikaans geskryf het. In Afrikaans word daar nie genoeg “intellektuele” gesprekke gevoer nie. En ek voeg dadelik by dat ek die woord “intellektueel” hier positief beskou, nie in die neerhalende sin van meerderwaardigheid en snobisme wat dikwels daaraan gekoppel word nie. Met “intellektuele gesprek” sluit ek aan by wat Van Wyk Louw as ’n soort “lewenshouding” beskryf het: ’n lewenshouding waarvolgens idees krities ondersoek word, 'n houding wat lei tot die ondersoek van vooroordele, van eie belange en oorweegredes, 'n oopheid vir nuwe en ander idees. 'n Intellektuele ingesteldheid spruit uit 'n bewussyn dat die wêreld soos ons dit ervaar, nie maar altyd so was nie, en dat daar redes is waarom dit, juis nou, só vir ons lyk. So 'n ingesteldheid behels onder meer dat erns gemaak word met die manier waarop die wêreld beskryf en ondersoek word. Onakkuraathede moet blootgelê word, vooronderstellings moet krities bekyk word, en veral daardie sekerheid dat ek reg is en die ander verkeerd, moet afgelê word. Die intellektuele gesprek is dus die soort gesprek wat op rasionele gronde gevoer word, ’n “oop gesprek” in Louw se terme, waarin daar plek is om oor enige onderwerp, op logiese gronde, met erkenning vir kundigheid en respek vir gespreksgenote, te streef na die verruiming van denke, na die ontdekking van ander moontlike maniere van verstaan.

Hierdie soort gesprek hoort nie slegs in die akademie nie. Ja, ons probeer studente lei om met so ’n ingesteldheid te leef, maar dit is die soort gesprek wat vir enigeen wat belangstel in idees, in ander se menings, met die onsekerheid oor eie waarheid, gevoer behoort te word. Sulke mense is nie noodwendig “studente van die letterkunde” nie, en ek het in my oormoed gehoop om vir sulke lesers leesbaar te wees.

Uiteindelik dink ek dus die boek is vir lesers – want ernstige lesers is mense wat met die optel van ’n nuwe boek hulself oopstel vir ’n ander ervaring en hopelik ’n konfrontasie met hulself. En die boek is vir hulle – nie net vir studente nie.

Miskien nog ook dit: Iewers in die boek verwys ek daarna dat ons almal ook leer om stories te vertel na aanleiding van voorbeelde. Ons gebruik die stories wat ons ken, wat ons baie gehoor het, om as modelle vir ons eie vertellings te dien. Toe ek ’n voorgraadse student was, het ek een vakansie die twee volumes van Van Wyk Louw se Versamelde prosa gelees. Wat my daarvan bybly, is juis dat sy werk altyd so helder en duidelik is. Hy het ’n intellektuele gesprek in Die Huisgenoot gevoer en in radiopraatjies (ja, toegegee, dit was ’n ander Huisgenoot as vandag, maar nogtans!). Hoewel ek vanselfsprekend bewus daarvan is dat ek nie as denker en skrywer eens in dieselfde asem as Louw genoem kan word nie, streef ek daarna om oor ingewikkelde filosofiese en kulturele sake te skryf op só ’n manier dat enigeen wat ’n Afrikaanse literêre teks kan lees, dit kan volg.

Die gevaar is natuurlik – soos ek in die inleiding noem – dat ek tussen twee stoele kan deurval – dat die akademici kan sê Burger skryf sommer sulke oppervlakkige goedjies sonder die fyn begrip vir die ingewikkelde nuanses van die akademiese argumente (en hulle sou nie heeltemal verkeerd wees nie), terwyl die nie-akademiese lesers kan kla dat dit te ingewikkeld is. Ek weet nie – ek skryf maar soos ek skryf. Die terugvoer sal seker nog kom.

Kom ons praat oor die ontstaansgeskiedenis van die storie. Het dit om ’n vuur begin, om te vermaak, om mense se aandag af te trek van hul dag se oorlewing en vlug en insamel? Om nie te dink aan môre se vrese en waar sal ons kos en die jagdiere vandaan kom nie? Hieruit spruit ook ’n vraag (b): Is hierdie soort vraag iets soos die arts versus crafts-debat? Hogere kuns versus handwerk? Was letterkunde bedoel om geïnterpreteer te word? Of was ’n storie wat dit was – ’n storie? En hoe verskil dit van vandag se stories, ongeag kulturele agtergrond, ongeag Westerse, Oosterse of Afrika-maniere om stories te vertel?

Om stories te vertel is een van die mees basiese maniere waarop ons sin maak van die wêreld. Om ’n storie te vertel is om verbande te lê tussen (sekere, uitgesoekte) gebeurtenisse, om die waarnemings van ons omgewing, die indrukke wat ons elke oomblik beleef, op só ’n manier te rangskik dat ons sin daaruit kan maak. Voordat ons ’n storie maak, het ons slegs data. Om ’n storie te vertel, is om die data wat relevant vir ons is uit te soek en op ’n manier te rangskik wat sin daaraan gee. Hierdie proses van uitsoek en rangskikking is niks anders nie as om ’n storie te maak. Sonder om sekere brokkies inligting uit te soek en te rangskik volgens tyd (en toe … en toe …) en kousaliteit (daarom … gevolglik) is ons bloot oorweldig deur inligting en te veel sensoriese indrukke. Ons het die stories nodig om te verstaan wat met ons gebeur en wie ons is. Daarom het ons uitdrukkings soos “ek moet nou eers my storie agtermekaar kry” of “ek moet nou eers tot verhaal kom”.

Stories het dus nie ontstaan om te vermaak nie, maar uit ’n behoefte om te verstaan, om sin te gee, om verklarings te gee (verklarings wat nie noodwendig “waar” is nie, en daarom is daar dikwels nuwe stories nodig wat die vorige stories weer vervang). Boonop word stories gedeel, aan ander vertel, oorvertel, en so ontstaan gedeelde maniere van verstaan.

Alle stories verg verbeelding – dit neem verbeeldingskrag om verbande tussen waarnemings te lê, om sekere gebeurtenisse saam te groepeer, ander uit te los, en hulle op ’n bepaalde manier te rangskik. Sodra die verbeelding ter sprake kom, is daar natuurlik ook die kans dat stories nie noodwendig met die bekende werklikheid ooreenstem nie. Wat meer is, stories maak dit moontlik om ook oor dinge te praat wat nie tevore op tasbare vlak in die werklikheid bestaan het nie. Mense kon stories vertel oor hoe die jag verloop het om te verduidelik waar die bok vandaan kom, maar hulle kon natuurlik ook vertel het hoe groot die bok was wat weggekom het (selfs as hul nie eens ’n bok gesien het nie). Stories kan “lieg”. Die moontlikheid om stories te vertel oor dinge wat nie bestaan nie, oor heldedade, oor eenhorings, oor spoke en oor gode, het mense in staat gestel om mekaar te motiveer en op groot skaal saam te werk ter wille van abstrakte idees. Stories oor dinge wat nie “regtig” bestaan nie, is nie noodwendig blote leuens nie – hulle bring ook werklikhede tot stand. Harari wys in Sapiens op die voorbeeld van geld. Die geldnoot in jou hand is eintlik ’n waardelose stuk papier, en jy gaan byvoorbeeld nie ’n sjimpansee oorreed om dit by jou te neem in ruil vir sy tros piesangs nie. Slegs as mens die storie van geld ken, kom die waarde daarvan tot stand. Die idee dat ’n stukkie papier waardevol kan wees, hang af van ’n gedeelde storie. Stories oor alternatiewe wêrelde (soos ’n beloofde land, die hemel – ’n Derde Ryk, ’n onafhanklike volkstaat) wat nie waarneembaar is nie en slegs in die stories bestaan, kan mense oorreed om op ’n bepaalde manier op te tree: as jy nou jou eie lewe opoffer met ’n bom om jou middel, kry jy ’n plek in ’n ander hemelse wêreld.

Maar natuurlik het stories nie slegs hierdie doel nie. Ons vertel ook aan mekaar stories oor ons eie ervarings ten einde mekaar beter te leer ken. Ons vertel skinderstories om sodoende vriendskappe te vorm en te bevestig. Ons vertel stories om mekaar te leer (in geskiedenis het hul ons van Racheltjie de Beer vertel om ons trots te maak op ons dapper voorouers, om die indruk te wek dat ons uit ’n volk van helde stam), maar dalk ook om te leer wat ’n goeie, aanvaarbare manier van leef in ons groep is.

Uiteindelik het storievertel vir vermaak ook ontstaan. (Sommige stories vir vermaak wil eintlik ook iets leer, ’n boodskap oordra, ’n gevoel vasvang.) Natuurlik is daar ook sommige mense wat stories tot vermaak van ander kan vertel en ander wat dit om de dood nie kan regkry nie.

Kortom: ons vertel stories om te verklaar, te verstaan, te leer, te stig, te vermaak, om nuwe moontlikhede te ondersoek, te skep. Stories kan ons ’n wye spektrum emosies laat ervaar. Fiksie – of dit nou populêre formulefiksie of sogenaamde Literatuur met ’n hoofletter is (en hierdie onderskeid is problematies!) – kan al hierdie funksies op verskillende tye en op verskillende maniere vervul.

Nou kom ek by jou vraag of die letterkunde “geïnterpreteer” moet word. Die taak van die letterkundestudie is nie in die eerste plek om die verhale te “interpreteer” soos jy dit hier noem nie. Elkeen wat dit lees, interpreteer dit in ieder geval op sy of haar manier. Watter sin die leser ook al uit die storie maak, hoedat enige leser dit ervaar, is reeds die gevolg van interpretasie. Die taak van letterkundestudie is nie in die eerste plek om “beter” te interpreteer nie, maar eerder om vas te stel waarom sekere tekste hoofsaaklik ’n sekere reaksie by lesers ontlok, om te probeer verstaan hoekom mense dit op ’n bepaalde manier interpreteer. Watter verteltegnieke word met watter effek aangewend? Die vraag is waarom sekere verhale op sekere maniere vertel word, wat wel ingesluit word in daardie vertellings en wat nie. Waarom vertel mense in ’n sekere tyd spesifieke stories en waarom is ’n bepaalde manier van vertel so gewild? Wat sê dit van die samelewing waarin daardie verhaal vertel word? Letterkundestudie het dikwels te make met vrae wat aan tekste gestel word, eerder as wat dit bloot die (verbloemde) betekenis van ’n teks probeer onthul. (Hierdie idee dat ’n middelaar nodig is om die teks te verklaar, is ’n indruk wat waarskynlik ontstaan het by die uitleg van heilige geskrifte waartoe slegs sekere skrifgeleerdes toegang gehad. Hulle interpretasies is dan aan die ander voorgehou: “Dit is wat hierdie skrifgedeelte eintlik beteken.” Miskien het die invloed van modernistiese letterkunde, wat dikwels as “moeilik” beskou is, ook ’n rol gespeel om die opvatting te vorm dat letterkundiges nodig is om daardie moeilike tekste aan die “gewone mense” te verduidelik.) Van die vrae wat letterkundiges oor literêre tekste vra is: Hoe werk magsuitoefening in die teks? Wat word verswyg in die verhaal? (Hoekom is daar byvoorbeeld geen beduidende swart karakters in ou plaasromans nie?) Letterkundiges vergelyk ook tekste met mekaar en plaas tekste in groter kontekste, met die gevolg dat literatuurgeskiedenisse ontstaan. Die studie van letterkunde omvat dus veel meer as interpretasie (wat dikwels slegs ’n vertrekpunt is).

Jou pad met Die wêreld van die storie: Waar begin dit? Was daar spesifieke kinderboekskrywers wat indruk gemaak het? Onlangs het ek, saam met my dogtertjie, vir Paul Biegel herontdek. Enige skrywer wat vir jou uitstaan, wat vir jou stories ontsluit het?

Een van die eerste invloede wat ek kan onthou, was WO Kühne se Huppelkind-stories. Ons het ’n plaat gehad en ek het ure lank onder die ou radiogram gelê en luister na daardie stories. Die wonderlike wêreld van Huppelkind, in die middel van die wêreld in die middel van die vlei, met karakters soos Diefman, die slim ou stokou Storieman, die Wolman en die broers Haak en Steek, het my geboei, maar ek dink veral die klankryke taalgebruik het my meegevoer.

Op laerskool het boeke oor seevaart en seerowers en ontdekkingstogte my geboei – Skateiland van Robert Louis Stevenson, en Lafras Kuyper-boeke. Ook ou-Kaapse verhale soos Gerrie Radlof se Buiterboeke, en boeke deur Dan Sleigh en Karl Kielblock. Daar was ’n wonderlike reeks vertalings uit ander lande, die Libri-reeks, wat werk ingesluit het soos Jack London se White Fang, die wolfhond, Die onsigbare man, Dr Jekyll en Mnr Hyde, Met Scott na die suidpool. Veral die boeke oor groot avonture in onherbergsame uithoeke van die wêreld het my geboei. Een vakansie het ek Louis L’Amour ontdek en ek het byna al my sakgeld by die tweedehandseboekwinkel uitgegee op sy westerns. Dit was die begin van my blootstelling aan romans in Engels. My Engels-onderwyseres in standerd 7 het Steinbeck se Of mice and men vir ons gelees en ek het Steinbeck se oeuvre deurgewerk. In Afrikaans het ek in standerd 8 Chris Barnard se kortverhaal “Bos” as begripstoets gekry en daarna al sy werk gelees. Brink se ’n Droë wit seisoen het ’n enorme impak op my gehad – dit het my laat besef, as skoolseun wat eintlik net graag branders wou ry en meisies wou vry (onsuksesvol met albei), dat stories ’n mens se gelukkige wêreld heeltemal kan omkrap en verander.

Die vraag oor wie vertel die storie en wie s’n is wie s’n ... Agentskap, ’n warm kwessie in hierdie land. Eienaarskapskwessies oor grond soos oor stories op eie bodem. Jy fokus op betowering, lees ek. Maar kan mens die storie van die verteller skei?

Natuurlik kan verteller en storie nie geskei word nie. Ek dink dat Etienne van Heerden hierdie probleem besonder vaardig ondersoek het in sy jongste roman, Die wêreld van Charlie Oeng. Dis ’n roman deur ’n wit Afrikaanse man oor ’n wit Afrikaanse man wat die storie van ’n Chinees vertel, welbewus geplaas binne ’n rassistiese Suid-Afrikaanse omgewing. Hy haak eintlik aan by probleme in verband met vertelling, die probleme in verband met die toe-eiening van ander se verhale. Dit is kennelik ’n ingewikkelde kwessie, maar ek dink dit is juis deur stories dat ons ingetrek kan word in ’n ander se ervaring van die wêreld, en sodoende word ’n ander manier van beleef ook ervaarbaar gemaak, verstaanbar gemaak. Wat stories anders maak as sosiale teorieë, of sielkundige teorieë, is dat dit altyd die klem laat val op ’n besondere individu se eie ervaring van die wêreld op ’n gegewe moment. Dit is juis daardie blootstelling aan ’n ander se ervaring wat deel van die betowering uitmaak. Die vraag is nie wie wie se storie gesteel het nie, maar of ’n storie tot ’n insiggewende, roerende ervaring van die wêreld uit ’n ander hoek lei.

Die storie en die kommersiële sukses daarvan: Hou dit noodwendig verband? Verkoop goeie stories altyd? Of, die omgekeerde: Wat van kommersiële suksesse – is hulle noodwendig goeie stories? Praat met my oor die verband tussen geld en stories.

Baie faktore bepaal kommersiële sukses. Een van die vernaamste redes waarom ons iets soos genrefiksie het, is dat ’n bepaalde kommersiële sukses daardeur gewaarborg word. Kyk maar hoedat ’n bepaalde roman wat skielik baie gewild is, gevolg word deur talle ander romans op dieselfde patroon. As speurrillers gewild is, volg talle ander skrywers dieselfde patroon om ook geld te maak.

Cawelti het gepraat van “formula fiction”. Dit is glad nie ’n neerhalende term nie, maar dui bloot op herhalende patrone wat voorkom. Mense hou van romanses, avontuurrillers, speurverhale wat ’n bepaalde patroon volg. ’n Roman wat ’n bepaalde formule volg, kan meestal ’n redelik voorspelbare inkomste genereer. Sommige skrywers kry dit reg om die formule ’n bietjie te vernuwe, te verskuif, en wanneer hulle daarmee sukses behaal, word die nuwe patroon weer deur ander gevolg.

Maar uiteindelik is daar nie slegs formulefiksie nie. As storievertelling slegs van die kommersiële sukses daarvan afgehang het, sou ons weinig verskuiwings gesien het, min aanpassings aan die formules wat “werk”. Daar is altyd ook skrywers wat heeltemal van die formules afwyk, wat elke geykte patroon van vertelling uitdaag en ondermyn. Meestal is hierdie soort vertellings nie kommersiële suksesse nie (soms op verrassende wyse wel!), maar uiteindelik is baie van hulle invloedryk en vind die verteltegnieke geleidelik inslag in die formules ook.

Maar ek dink nie daar is slegs hierdie uiterstes nie. Daar is baie fiksie wat “tussenin” is, wat elemente van die formule bevat maar op onvoorspelbare maniere afwyk. Soms verras ’n baie “literêre” boek met kommersiële sukses. Miskien is die kuns om ’n goeie storie goed te vertel, iets wat altyd indruk sal maak (nie noodwendig kommersiële sukses nie). Maar die probleem is dat wat ek hier met “goeie” bedoel, ook weer deeglik uitgepak behoort te word.

Gepraat van geld en stories en eienaarskap: Wat van kopiereg op stories? Die storie behoort dus tog aan ’n eienaar, maak nie saak wát mens dink nie. Wat is jou gevoel oor die voorgestelde kopieregwetgewing-wysigings? Kán dit, as dit reg hanteer word, toegang vir mense bewerkstellig tot stories wat hul andersins nie sou kon bekostig nie? Maar wat dan van die skrywer?

Dis nie so eenvoudig nie. In ’n sekere sin wil ek sê dat ’n storie immers eers bestaan as hy vertel is. Dan eers kan iemand dalk aanspraak maak op kopiereg. Ek kan nie sonder meer kopiereg op ’n storie eis wat ek nog nooit vertel het nie maar wanneer iemand anders dit vertel voel dit vir my asof my storie gesteel is. Dit sou ’n kwade dag wees as mense verbied word om sekere stories te vertel. Mag ek dan slegs ’n storie skryf vanuit die oogpunt van ’n middeljarige wit Afrikaanssprekende man om te voorkom dat ek ’n vrou of kind of Chinees se storie steel? Gaan ons slegs Herman Giliomee se geskiedenis oor die Afrikaner as outentiek aanvaar en T Dunbar Moodie se Rise of Afrikanerdom verwerp omdat hy nie van binne kan vertel nie? Dit sal die dood in die pot vir geskiedskrywing wees, vir verslaggewing. Ook vir letterkunde. Ons sal Madame Bovary moet verbied en ook Anna Karenina omdat hierdie klassieke romans oor vroue deur mans geskryf is. Letterkunde sal maar ’n vervelige spulletjie word as elkeen slegs oor hom- of haarself durf skryf. Hoe durf Dan Sleigh dan ’n roman soos Eilande skryf en mense van verskeie rasse, geslagte, klasse en gelowe se stories uit die verlede “steel”? Dit is juis die krag van die verbeelding waardeur die skrywer sigself in die ervaringswêreld van ’n ander in kan verbeel, en wat die leser of hoorder of kyker in daardie wêreld in kan trek wat fiksie waardevol maak, wat ons in staat stel om uit ons solipsisme te kan ontsnap; of as ons nie regtig heeltemal uit ons eie denke en wêreldjie kan ontsnap nie, dan ten minste so effens bewus kan word van hoedat ’n ander mens die wêreld uit ’n ander oogpunt kan ervaar.

Natuurlik is dit ingewikkeld wanneer dit kom by mense in magsposisies wat ander se stories vertel – soos Elsa Joubert wat as gevestigde skrywer met toegang tot uitgewers die storie van Poppie Nongena vertel. Dit word uiteindelik ’n roman wat aangewys word as een van die 100 belangrikstes uit Afrika. Het sy Poppie se storie gesteel en tot haar eie gewin aangewend? Moes dit liewer glad nie vertel gewees het nie? Het sy daarin geslaag om die storie nie vir haarself te steel nie? Hierdie soort vrae sal mens altyd kan vra, maar dit verg versigtige en genuanseerde antwoorde en kan nie ruweg veroordeel word as appropriasie nie.

Wat is ’n storie volgens jou?

Ek het hier bo gesê dat ’n storie ’n seleksie en ordening van inligting is. Die ordening vind plaas deur ’n vertelproses wat ’n soort samehang aan die geselekteerde inligting gee.

Wat is ’n goeie storie, volgens jou?

As ’n storie die seleksie en ordening van inligting is, is ’n goeie storie een waarin die seleksie en ordening op só ’n manier plaasvind dat dit die leser/kyker/luisteraar boei, vermaak, ontroer, insig gee en anders laat kyk na die wêreld en homself, wat ’n manier van verstaan moontlik maak wat nie moontlik was voordat hierdie verhaal vertel is nie. Ek dink dat dit meestal gebeur wanneer die leser in die wêreld van die storie ingetrek word sodat die vertelling nie meer slegs “van buite” gehoor word nie, maar dat die leser ’n ervaring het van betrokkenheid by die storiewêreld.

Maar dit hang ook af van wat jy met “goeie” bedoel. Goed waarvoor? Goed om jou te laat lag? Dan moet die storie snaaks wees. Goed om my aandag af te lei van my daaglikse sleur en spanning? Dan moet die spanningslyn van so ’n aard wees dat ek meegesleur word. Goed om my te laat nadink oor my wêreld? Dan moet die storie my konfronteer met aspekte van die samelewing waarvan ek nie tevore bewus was nie of my op ander maniere daarna laat kyk. Sommige stories is so goed dat hulle al hierdie dinge en nog veel meer doen.

Stories in die tyd van die internet en die sosiale media: Hoe sien jy die veranderinge deur die letterkunde beweeg? Is dit merkbaar in korter hoofstukke, in ander woordkeuses en spanningslyne en moontlikhede wat oopgaan of wegval?

Stories word op baie maniere vertel. Enkele sinne, “memes” wat aangestuur word, YouTube-video’s, foto’s op Instagram, noem maar op  – almal vertel stories. Maar dit bly stories. Ander tegnologiese moontlikhede maak voortdurend ander vertelmoontlikhede oop. Dink aan die verskuiwing wat plaasgevind het met die uitvinding van skrif of die boekdrukkuns. Stories kon langer word; meer storielyne word vervleg. In romans het plek ontstaan vir filosofiese nadenke, essayagtige gedeeltes, vir langer gedetailleerde beskrywings. Film het ook weer nuwe moontlikhede gebied om stories te vertel – ’n korter vorm as die lang roman, maar weens die visuele aard daarvan word ander moontlikhede oopgemaak terwyl sekere beperkings bly bestaan (interne fokalisering is byvoorbeeld taamlik moeilik om op oortuigende wyse in film aan te bied). TV het opnuut ander  vertelmoontlikhede oopgemaak, en reekse het die moontlikheid van lang epiese vertellings oopgemaak. Die feit dat reekse dikwels ge-binge-kyk word en aanlyn beskikbaar is, het nie slegs uit verbruikersoogpunt ’n verandering meegebring nie, maar maak eweneens ander vertelmoontlikhede oop. Ek dink vertelmoontlikhede wat in een medium oopgemaak word, vind dikwels ’n vernuwende roete na ander mediums van vertelling.

Die dood van die roman is al dikwels in die vooruitsig gestel – dat film die einde daarvan sou beteken, of televisie, of die internet. Tog lyk dit op hierdie stadium asof die roman heel goed vaar ten spyte van doemprofete. Miskien het Harry Potter ’n belangrike rol gespeel om die roman opnuut gewild te maak onder ’n nuwe generasie lesers (wat ook nou teruggaan na Tolkien se dik boeke!). Ek dink nie mens kan sommer so maklik beweer dat hoofstukke korter word vanweë die korter aandagspan van lesers weens die invloed van videospeletjies of sosiale media nie. Dinge is meer ingewikkeld as dit. Die afgelope klompie jare het talle besonder dik historiese romans, vol besonderhede en lang sinne en hoofstukke, die lig gesien – dink maar aan Hilary Mantel se werk. Kyk ook hoe gewild is juis dik historiese avontuurromanses nou! Kate Mosse skryf reekse van sulke boeke en mense kan nie wag om die volgende een te lees nie. Dikwels word hierdie romans weer verwerk tot films of TV-reekse en sommige TV-reekse gebaseer op romans kry weer ’n eie lewe, soos Game of Thrones.

Dink ook aan die ontstaan van fanfiction. Aanhangers van sekere verhale of reekse skryf nuwe avonture oor hulle gunstelingkarakters. Die fiksiewêreld bestaan reeds en hulle kan net aangaan en voortborduur of nuwe avonture in daardie wêreld bedink. Dit is sekerlik nie ’n nuwe verskynsel nie – mens kan maar net terugdink aan die talle weergawes van Don Quixote-verhale wat op Cervantes se eerste roman gevolg het, sodat dit vir hom noodsaaklik geword het om sélf ’n tweede deel te skryf waarin al die ander “vals” weergawes verwerp word. Maar wat nou anders is, is die skaal – enigeen wat kan tik, kan fanfiction uitdink en met miljoene lesers deel. Sommige skrywers beveel selfs beginnerskrywers aan om fanfiction te skryf omdat dit mens kan help om styl te ontwikkel sonder dat jy noodwendig ’n hele fiksiewêreld van voor af hoef te skep. Binne elke medium en genre word voortdurend ander moontlike maniere van vertel ondersoek. Ek dink dit is baie opwindend om te sien hoedat kruisbestuiwing plaasvind.

Die wêreld van die storie is oor ’n soort wêreld, maar ’n binnewêreld. Ons leef elke dag eie narratiewe, ons beweeg tussen andere se stories (soveel stories, soveel weergawes!). Tog het dié wêreld, die een van die storie, reëls. Maar wat van “to each age its art, to art its freedom”, om daardie groep Oostenrykse kunstenaars aan te haal? Hoe vry is die storie wérklik, in ’n oomblikgebonde, plekgebonde, realiteitsgebonde, polities-gebonde werklike wêreld? (Jy beantwoord hierdie vraag eintlik reeds waar jy skryf oor elke storie wat gebore word binne ’n kultuurhistoriese diskoers, maar tog … brei asseblief maar hierop uit.)

Ek dink nie enige storiewêreld kan absoluut geen verband hou met die wêreld waarin dit onstaan nie. Selfs in fantasiewêrelde is daar uiteindelik sekere konsekwenthede, sekere aspekte van ander wêrelde wat daarin opgeneem word – of dit nou is dat swaartekrag ook daar geld of dat karakters (van watter aard ook al) mag uitoefen, jaloesie en haat en deernis kan ervaar. Uiteindelik gaan dit in alle stories wat vertel word oor die manier waarop karakters op hulle storiewêreld reageer. Dit maak nie saak watter wêreld geskep word nie – ’n futuristiese wonderwêreld van ’n sterrestelsel ver, ver van hier, of ’n soort Middeleeuse wêreld met drake en towenaars, of ’n realistiese wêreld van Hillbrow se strate – die karakters wat hulle in hierdie uiteenlopende wêrelde bevind, sal, soos Thomas Pavel beweer, óf tuis in die wêreld wees, óf ontuis. As hulle ontuis in hulle wêreld is, sal hulle óf probeer om die wêreld te verander sodat dit ’n plek kan word waarin hulle tuis kan wees (as hulle daarin kan slaag, dan is dit ’n heldeverhaal, en as hulle nie daarin kan slaag nie, dan is dit ’n tragiese verhaal, of ’n komedie), óf hulle sal self moet verander sodat hulle tuis kan word in die wêreld (byvoorbeeld die bildungsroman).

Hoewel dit ’n groot fout sou wees om alle stories direk allegories te interpreteer, is dit tóg so dat ons iets van ons eie wêreld in daardie fiksiewêrelde herken, en ook iets van die karakters se handelings kan herken as iets wat vir ons in ons wêreld ook bekend is. Ons kan byvoorbeeld iets van die karakters se ontuiswees herken omdat ons soortgelyke ervarings het. ’n Mens hoef nie met presies die realiteit van ons eie tyd en plek gekonfronteer te word in die storie voordat mens sekere aspekte van ons samelewing daarin herken nie. Dit is juis een van die boeiende aspekte van fiksie, dat Homeros of Cervantes of Shakespeare ons kan bewus maak van aspekte van ons menswees en ons bestaan, net soos wat NoViolet Bulawayo of Chimamanda Ngozi Adichie of SJ Naudé dit doen.

Die punt is dat sekere aspekte van ons wêreld altyd opgeneem word in daardie fiksiewêrelde en dat ons deur die wyse waarop dit belig word, opnuut daardeur gekonfronteer word. Die verbeelding is dus vry om te hol en handelinge en situasies te bedink, om ander maniere van die weergee van situasies en handelinge te skep, om woorde en taal en prentjies en kleur op ander maniere in te span; maar omdat die spesifieke verbeelding ook gevorm en bepaal en gefilter word deur ’n spesifieke bewussyn, op ’n spesifieke tyd en plek, sal iets van daardie omstandighede neerslag vind in die vertelling.

Is enige storie verhewe bo ’n ander?

Die vraag kan minstens twee implikasies hê. Die een is of sekere stories beter vertel word as ander. Ek dink sekerlik is dit waar dat sommige stories nie boeiend is nie, nie veel bydra vir lesers/hoorders nie. Ander is weer meer boeiend. Of die implikasie met die vraag kan wees of sommige stories “waarder” as ander is en daarom “verhewe”. Die ekstreme postmodernistiese opvatting is dat ons in elk geval slegs stories het, en dat alle stories gelykwaardig is. Nie een kan meer aanspraak op die waarheid maak nie. Waarheid is slegs ’n konstruksie, die resultaat van ’n storie, en hang af van iemand met mag om dit in sekere omstandighede waar te maak. Hiervolgens sou mens kon redeneer dat die Nazi’s se storie oor Jode maar net nog ’n storie is, hulle oortuiging, en dat niemand grond het om op te staan om die storie te verwerp nie. Ek deel nie daardie standpunt nie. Al het ons net stories om mee sin te maak van die wêreld, beteken dit nie dat alle stories, alle weergawes van die wêreld, alle moontlike vertellings ewe waardevol is nie. Ek glo wel dat sommige stories beter konstrukte van die wêreld bied. Ons lees en hoor daagliks talle stories – weergawes van die verlede (geskiedenis), koerantstories, getuienis voor die Zondo-staatskapingskommissie (Agrizzi se voorlegging lees soos ’n misdaadriller!). Al hierdie stories ding mee om gehoor te word. Almal is nie gelykwaardig nie. Daar is maniere om weergawes te toets, te ondersoek. Sommige van die stories is meer fiktief as ander. Dit is soms bitter moeilik om vas te stel, maar daar is prosedures. Die belangrike is dat ’n mens voortdurend aan alternatiewe stories sal aandag gee, dat mens voortdurend jou eie storie sal herbedink, sal vrae vra oor waarom dit juis op hierdie manier vertel word, wat uitgelaat word uit die storie (doelbewus of weens blinde kolle); dat stories met ander woorde voortdurend hersien moet word, uitgedaag behoort te word deur ander weergawes van ervarings. Ons kan nooit aanspraak maak op ’n storie wat volkome van buite vertel word met volledige kennis oor alles en sonder enige vooroordele en doelwitte nie. Daarom moet stories uitgedaag word. My storie kan slegs in my eie bewussyn gevorm word, en al ervaar ek en jy presies dieselfde gebeurtenis, sal ons elkeen dit weer anders weergee. Dit beteken nie volslae relatiwiteit nie, maar wel versigtigheid tot toe-eiening van toegang to die “suiwer onverdunde ewige waarheid sonder woorde” (soos Treppie die hemel beskryf in Triomf). Niemand het daardie toegang nie en daarom moet ons aanhou vertel en hervertel.

Kom ons praat oor die oomblik, oor vandag. Mindfulness is ’n trefwoord. Wat sien jy vandag, op hierdie oomblik, in die Afrikaanse letterkunde? En hoe laat dit jou voel?

As ek bloot moet oordeel aan die aantal boeke wat per jaar op my tafel beland, gaan dit baie goed met skryfwerk in Afrikaans. Ek het nie nou statistiek by my nie, maar die gevoel wat ek kry, is dat daar elke jaar meer boeke deur nuwe skrywers verskyn. Ek wonder soms wie al hierdie boeke lees en hoeveel daarvan verkoop, maar alleen aan omvang gemeet, lyk dit asof dit baie voorspoedig gaan. Wat ook opval, is die verskeidenheid. Ja, verreweg die meeste van die boeke is genrefiksie, veral misdaadfiksie, en baie daarvan maak ’n sterk tweedehanse indruk, vol clichés van vertelling, van verhaal en van taal, maar daar is ook ’n groei in verskeidenheid en daar is ook talle voorbeelde van oorspronklikheid (iets soos Chase Rhys se Kinnes was ’n dekade gelede ondenkbaar; Alettie van den Heever se Stof bring wat taal en styl betref iets nuuts).

Miskien kry ek hierdie indruk van groter verskeidenheid onder meer omdat (anders as miskien ’n twintig jaar gelede) die skerp onderskeid tussen “hoë letterkunde” en populêre fiksie onder druk gekom het. Gevolglik word talle romans voorgelê om in aanmerking te kom vir literêre pryse wat voorheen waarskynlik nie een naastenby oorweeg sou gewees het nie. Deels is die harde grens tussen “Letterkunde” en “populêre fiksie” deur die groot sukses van skrywers soos Deon Meyer en Karin Brynard aan die vaer word; deels het dit dalk te doen met ’n algemene weerstand teen elitisme. Wat ook al die redes, dit is duidelik dat daardie ou onderskeid minder strak is. Hierdie onderskeid geld nie slegs vir genrefiksie en literêre fiksie nie, maar ook vir niefiksie  naas fiksie (Dana Snyman se Op pad byvoorbeeld, of Nagmusiek, Sneeuslaper, Wit issie ’n colour nie, ’n Ander tongval, of selfs Donker stroom).

Hier is talle vernuwende woelinge in die Wes-Kaap en die Noord-Kaap wat Afrikaans ’n leestaal buite klaskamers en aftreeoorde maak. Hoe groter die verskeidenheid stemme, hoe beter. Hoe groter die verskeidenheid wêrelde wat ondersoek word, hoe beter. Hoe groter die verskeidenheid maniere waarop die wêreld ondersoek word, hoe beter.

Lees ook:

Die wêreld van die storie deur Willie Burger

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top