Die wêreld van die storie
Willie Burger
Uitgewer: Van Schaik
ISBN: 9780627036071
Eendag, lank, lank gelede …
Stories. Vanaf kindsbeen word die mens deur stories gefassineer, hetsy deur die vertel of voorlees van sprokies, fabels, religieuse stories of selfs spookstories wat om die kampvuur vertel word. Die Khoisan het hul tradisies en geskiedenis mondeling deur middel van stories van een generasie na ’n ander oorgedra. Daagliks word ons lewens met stories gevul: die buurman wat ’n staaltjie oor die tuinmuurtjie deel of ’n ouma wat wyse raad deur middel van ’n storie aan ’n kleinkind oordra. Stories is so oud soos die mens self.
Willie Burger is naas literator ook een van Afrikaans se mees bedrewe en gesiene resensente. In 2015 het hy die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur ontvang en in 2016 is hy met die kykNet-Rapport-toekenning vir boekresensent van die jaar bekroon. Sy weeklikse resensies in Vrouekeur is veral op die breër leserspubliek gerig; hy ontsluit daardeur ’n wye verskeidenheid tekste op verstaanbare wyse vir lesers en slaag sodoende daarin om ’n liefde vir lees en belangstelling in Afrikaanse literêre tekste te bevorder.
Literatuurteorie, en meer spesifiek narratologie (insluitend narratiwiteit), vorm ’n belangrike komponent van enige letterkundekursus. Oor die afgelope dekades het letterkundedosente en studente veral gebruik gemaak van tekste soos Mieke Bal se De theorie van vertellen en verhalen (1978), Shlomith Rimmon-Kenan se Narrative fiction (1983), Heilna du Plooy se Verhaalteorie in die twintigste eeu (1986) en André P Brink se Vertelkunde (1987) – akademiese tekste wat hoofsaaklik vir studiedoeleindes gebruik word. Dit is juis laasgenoemde eienskap wat Burger se Die wêreld van die storie van sy voorgangers onderskei. Burger het daarin geslaag om die teoretiese komponente van narratologie en narratiwiteit te verweef en op praktiese en toeganklike wyse vir sowel akademiese as nie-akademiese lesers aan te bied.
In die inleiding skryf Burger dat sy boek ontstaan het “uit die verwondering daaroor dat mens heeltemal meegevoer kan raak deur ’n storie”. Hy plaas veral klem op die ervaring wat die leser van ’n storie het en op watter wyse daar ’n beleefbare wêreld in die leser se verbeelding tot stand kom. Hierdie boek is dus nie bloot nog ’n akademiese boek wat slegs op letterkundiges gemik is nie. Die klem val op storiewêrelde en die verhoudings tussen storiewêrelde (en ander wêrelde) en die leser se leefwêreld.
Die teks is in ses hoofstukke ingedeel, naamlik “Wonderwêrelde”, “Wêrelde word tot stand vertel”, “Wêreldskepping as kognitiewe proses”, “Interpretasie van storiewêrelde”, “Leidrade en konteks” en “Towerwêrelde en kritiese refleksie”. Elke hoofstuk bevat belangrike teoretiese konsepte wat letterkundestudente in staat sal stel om tekste krities te lees en te ontleed. Burger verskaf die spreekwoordelike “gereedskap” (om Mieke Bal se term te gebruik) tesame met praktiese voorbeelde deur na romans in beide die Afrikaanse en Engelse letterkundes te verwys. Die teks is in eenvoudige styl aangebied en enige leser wat van stories hou, sal dit toeganklik asook verrykend vind. Die teks self lees soos ’n storie en is besonder boeiend. As letterkundedosent was ek in vervoering met die lees van “Leidrade en konteks”. Nog nooit tevore het ek so ’n deeglike en praktiese uiteensetting teëgekom wat letterkundiges (en gewone lesers) in staat stel om die fynere nuanses van stories te ontrafel nie.
Veral opvallend is die praktiese wyse waarop Burger literêre begrippe wat studente en gewone lesers soms uitdagend vind, verduidelik. So verduidelik hy byvoorbeeld die verskil tussen diëgesis (“vertel”) en mimesis (“wys”) wat dikwels in skryfkursusse ter sprake kom:
Hierdie onderskeid kom in die eenvoudigste vorm neer op die verskil tussen “Piet is kwaad vir die professor” en “Piet spring op. Sy stoel val agteroor en skuif met ’n slag tot teen die muur. Hy buig oor die tafel en pluk die professor aan sy das. Dan draai hy om en stap uit. Hy klap die deur toe.” (53)
Die teks in sy geheel sien esteties geslaagd daar uit met ’n netjiese bladuitleg en aanloklike voorblad waarby sowel die student as die gewone leser aanklank sal vind. As letterkundedosent wat die teks vir studente voorgeskryf het, vind ek egter die finale taalversorging en afronding van die teks problematies. Dit is nie ongewoon dat ’n tikfout in ’n teks insluip nie, maar helaas is daar heelwat foute wat nie deur die taalversorger of die twee proeflesers van die teks voor publikasie gekorrigeer is nie. Tik- en spelfoute soos in geskiedeis (33) en defineer (51) kom voor. Daar word na die skrywer Elbie Lötter as “Elbe” (85) verwys; Gabriel García Márquez se van is foutief (16, 39, 129); en Sonja Loots se roman Sirkusboere word Boeresirkus (130) genoem. Die infinitief op bl 91 is foutief en die jaar van publikasie vir Marlene van Niekerk se Triomf (1994) en Anna M Louw se Vos (1999) word onderskeidelik as 1993 (95) en 2000 (142) aangedui. Op bl 143 verwys Burger na “verskeie aspekte van romans [wat] in ongeveer 30 afdelings bespreek [is]” terwyl daar slegs 17 onderafdelings in dié afdeling van die hoofstuk bestaan. Die karakter in André P Brink se roman Bidsprinkaan (2005) word verkeerdelik as Cupido (148) in plaas van Kupido Kakkerlak aangedui. Op bl 153 word daar verwys na “elkeen van ons in hierdie kursus” (my kursivering) wat nie op die teks van toepassing is nie. Dit is betreurenswaardig dat ’n akademiese uitgewer soos Van Schaik nie sulke foute voor publikasie gekorrigeer het nie. Hopelik sal die foute met ’n moontlike herdruk reggestel word.
Ten spyte van laasgenoemde gebreke is Die wêreld van die storie ’n welkome toevoeging tot die studie van stories en die wêrelde waarin dit afspeel. Letterkundedosente, studente, onderwysers, bibliotekarisse asook gewone lesers wat in stories belangstel, sal hierdie boek waardevol vind. Met hierdie teks lewer Burger ’n belangrike bydrae tot literêre studie in Afrikaans.
Kommentaar
"A kingdom for a..." uitgewer met behoorlike taalversorging...
Waar kan ek die boek kry?
Het dit baie dringend nodig!