Die vrede van Vereeniging deur Jan Scholtz en die stilswye van die bitter beginners

  • 1

'n Foto vanuit die boek Die vrede van Vereeniging op bidorbuy en van Jan Scholtz (foto: LitNet)

Die stilte van die slottoneel van die Anglo-Boereoorlog is al deur meer as een skrywer geboekstaaf en uitgebeeld.

“Niks word gesê nie, die horlosie tik.” Só begin die tweede paragraaf van toneel 37 van Die Vrede van Vereeniging. ’n Filmdrama deur Jan Scholtz. ’n Groep mans sit aan drie kante van ’n tafel en onderteken die een ná die ander ’n dokument. Dan staan die nege mans aan weerskante van die tafel op en – so gaan die aanwysings van die toneelstuk verder – “nog steeds sonder om ’n woord te sê”. Een van die mans wat aan die hoof van die tafel gesit het, steek sy regterhand uit om te groet. “Hulle groet, niemand praat ’n woord nie.” Die nege vertrek woordeloos en die ander twee bly staan “ietwat afgehaal” (Scholtz 1982:53).

Die stuk is in 1982 in boekvorm uitgegee nadat dit as televisiedrama op Maandagaand 19 Oktober 1981 oor die Afrikaanse televisiediens van die SAUK uitgesaai is.

Nie alles in hierdie filmdrama kom presies ooreen met die beskrywing van die gebeurtenisse in die vernaamste historiese werke daaroor nie: die tydgenootlike Met die Boerekommando’s (1902 in Nederlands, 1999 in Afrikaans) van JD Kestell, die latere Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, Deel V (1899–1910) (1978) deur GD Scholtz en Die Bittereinder Vrede (2005) van MCE van Schoor. Toneel 37 is egter waarheidsgetrou, al gee dit miskien nie die volle waarheid nie – ten minste as ’n mens nog ’n bron betrek, naamlik FW Reitz se biografie.

Jan Scholtz se drama gaan oor die handelinge van die bittereinders – die republikeinse burgers wat tot die bitter einde die vryheidstryd bly voer het. “Die bitter einde” is die titel van een van die hoofstukke in Kestell se boek en ook die titel van ’n hoofstuk wat die bittereinder-digter Jan FE Celliers in ’n Afrikaanse verwerking van sy Nederlandse dagboek gebruik het (1936:29).

Kestell klee sy beskrywing in met woorde uit die toneelwêreld: “Die gordyn het oor ’n tragedie gesak” (Kestell 1999:296). Die Huisgenoot se redaksie voeg die opskrif “’n Treurspel se tragiese einde” bo aan ’n artikel waarin Kestell ná drie dekades die gebeure in herinnering roep: “Al dertig jaar gelede! Wie sou dit dink? Dertig jaar gelede kort voor middernag op een-en-dertig Mei.” Só skryf ’n mens as iets baie helder in jou gedagtes bly. En inderdaad: “Dertig jaar gelede, en dit lyk vir my asof dit gister kon gewees het” (1932:12).

Die slottonele speel in die laaste drie dae van Mei af. Die beraadslagings in Vereeniging het egter al op die koue mistige oggend van 15 Mei begin, waar ’n tentdorp en tent van samekoms vir die republikeinse verteenwoordigers opgerig was. Dit was naby die Vaalrivier, ’n paar honderd tree van die hoofspoorlyn. Genl Christiaan de Wet het geweier om voor 15 Mei by Vereeniging op te daag en die trein moes die vorige nag by Wolwehoekstasie wag. Hy het ook geweier om met ’n gehawende ou kar van die stasie af aangery te word, en het saam met ’n paar ander gestap (Van Schoor 2005:169).

Genl Christiaan Beyers – vriendelik, taktvol maar beslis – is tot voorsitter gekies. Die Boereleiers was in twee kampe verdeel: Pres MT Steyn, genl De Wet en die meeste Vrystaters, maar ook Transvalers soos genl Koos de la Rey, het die handhawing van die onafhanklikheid bepleit. Aan die ander kant was genls Schalk Burger, Louis Botha, LJ Meyer en JC Krogh bereid om die oorlog te beëindig al moes hulle die vryheid prysgee. Ernstige verdeeldheid het gedreig en FW Reitz het gevra of hulle nie iets aan die Britte kon aanbied in ruil vir die behoud van die republieke se onafhanklikheid nie. Hy het die Witwatersrand en Swaziland genoem. Op 18 Mei is besluit om ’n kommissie na Pretoria te stuur om met die Britte te onderhandel oor vrede met behoud van beperkte onafhanklikheid. Hulle was bereid om ’n Britse protektoraat oor ’n deel van Transvaal te aanvaar.

Die kommissie van vyf Boereleiers (Louis Botha, Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Barry Hertzog en Jan Smuts) was van 19 tot 28 Mei in Pretoria om met twee Britse leiers te beraadslaag. Dit was die opperbevelhebber van die Britse mag, lord Kitchener, en die Britse hoë kommissaris en goewerneur van die twee geannekseerde republieke, lord Milner. Van 29 tot 31 Mei het die burgers weer by Vereeniging vergader. In hierdie drie dae het alles gebeur wat Kestell as ’n groot drama beskou.

Nie dat die tyd in Pretoria altyd sonder drama was nie. Veral met Milner was daar hewige konfrontasies. Die twee lords het die republikeinse voorstel onmiddellik van die hand gewys. Hulle het ’n eie ontwerp opgestel waarvolgens die republikeinse magte die anneksasie van die republieke erken en as “British citizens” die wapens neerlê. Hierdie onvoorwaardelike oorgawe sou Milner die mag gee om volkome oor die wel en wee van die Afrikaners te beskik. Die Boereleiers, veral De Wet, het hulle heftig hierteen verset. ’n Dooie punt het gedreig, maar Kitchener het voorgestel dat Smuts, Hertzog en Milner, met sir Richard Solomon as adviseur, ’n ander dokument opstel. Die twee jong Afrikaanse regsgeleerdes moes dus toegewing probeer beding by Milner, “’n Brit, so meedoënloos soos ’n roofdier teenoor sy prooi” (GD Scholtz 1978:232).

Milner het toegegee dat dit ’n “hard conflict with Boer lawyers” was (Van Schoor 2005:201). Hertzog en Smuts het byvoorbeeld daarop aangedring dat ’n moontlike vredesverdrag slegs deur die regerings van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranjevrijstaat onderteken word. Die Britte moes dus die anneksasie van die twee republieke as niebestaande hanteer (Van Schoor 2005:199; Pretorius 2009:476). Die konseptraktaat is op 21 Mei per kabel na Engeland gestuur sodat die regering dit kon goedkeur.

In die week waarin hulle op die Britse antwoord moes wag, het verdeeldheid tussen veral Botha en De Wet toegeneem. Tussen die twee lords was daar ook soms verskille. Milner het eenkeer per kabelgram by Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, gekla dat hy hom in ’n swak posisie bevind omdat Kitchener hom nie altyd in die teenwoordigheid van die Boere gesteun het nie. Smuts en Hertzog is laat die aand van 24 Mei na Kitchener ontbied om oor sekere sake te praat, soos die wyse waarop vergoeding aan die Boere betaal moes word. Milner was ook daar. Hertzog teken in sy dagboek aan: “Kitchener het nuwe konsep insake note ens opgestel. Milner baie onhebbelik teen Kitchener wat werklik begerig is om kwessie op te los.” Kitchener het hom ’n keer bloedig vir Milner vererg voor Hertzog en Smuts. Milner het Kitchener se konsep hooghartig en krities deurgekyk, dit minagtend van hom weggestoot en laat blyk dat dit nie deug nie. Kitchener het bloedrooi geword en gesê: “Jy moet onthou ek is nie ’n Oxford don nie, ek is ’n soldaat” (Van Schoor 2005:205).

Die antwoord van die Britse regering op die nuwe verdrag is op 28 Mei ontvang. In wese het niks aan die Britse voorwaardes verander nie, hoewel sekere wysigings iets voordeliger vir die Boere was. Die vyf generaals het die beslissing stilswyend van Milner verneem. Daar was ’n valbyl: die Boere moes op 31 Mei hul antwoord aan Brittanje meedeel.

Daardie selfde Woensdagaand om nege-uur het die kommissie met die trein na Vereeniging vertrek en teen eenuur daar aangekom. Hulle was moeg en teleurgesteld omdat hulle so min kon bereik. Vroeg op Donderdag 29 Mei is hulle na Steyn se tent. Op die eerste vergaderings het hy nog in die tent van samekoms verskyn, “maar anders as in die dae van sy forse liggaamskrag”. Sy gesondheid was geknak en hy het die tent “leunende op ’n ander” binnegekom, onthou Kestell (1932:12). Tydens die vyf se afwesigheid het hy elke dag swakker geword.

Die oggend van 29 Mei het hy gesê dat hy glad nie die vredesvoorwaardes aanvaar nie. Maar, het hy bygevoeg, hy kan self nie langer aan die stryd deelneem nie en het daarom moontlik nie meer die reg om te praat nie. “Vandag moet ek vanweë my ernstige siekte my amp neerlê en nou is die saak in die hande van die volksverteenwoordigers” (Kestell 1999:294)

Ná die oggendsitting van die volksverteenwoordigers in die tent van samekoms moes die Vrystaatse regering tydens die middagpouse in die tent van genl CR de Wet (eintlik hoofkommandant) verneem dat die President sy amp neergelê het. Hy het hulle in ’n brief meegedeel dat sy toenemende siekte hom dwing om te bedank. Kragtens die Vrystaatse grondwet het hy hoofkommandant De Wet as waarnemende president aangestel.

Voordat die gewese president kon vertrek, het die Vrystaters van hom afskeid geneem. Chris van Niekerk het later die verslae stilte van die laaste toneel beskryf. “Hy kon nouliks nog orent kom. Op sy kampbed het hy gelê, met sy oë toegeval, sy arms magteloos langs hom. Diep bewoë, ontroerd, het ons daar in die sieketent maar net om hom gestaan. Niemand wou dit waag om na hom te gaan en hom te groet nie. Die stoere kommandant Frans Mentz van Vegkop het eerste vorentoe getree en gegroet. Vir my was dit byna ondraaglik, maar toe het ek my moed bymekaargeskraap om kommandant Mentz te volg en nader te gaan. Met sy twee lamme hande het hy myne geneem en ek het syne vasgehou. Trane het oor sy wange gevloei en ook oor myne. En toe is ek die tent uit” (Hopkins 1963:135).

De Wet was waarskynlik een van die laastes wat Steyn gegroet het. Nie een van die twee het laat blyk wat in sy gemoed omgaan nie, maar terwyl De Wet Steyn se hand styf vashou, het laasgenoemde gesê: “Chrisjan, ek is jou trane nie werd nie” (Van Schoor 2005:215).

Kort voor drie-uur is ’n rytuig ingespan. Steyn is opgelaai en (dr) Willem van der Merwe het met hom na sy huis in Krugersdorp vertrek waar hy hom sou versorg. Kestell was elders in die kamp met die skryf van notules besig en het hom nie sien wegry nie. Toe Kestell agterkom dat Steyn vertrek het voordat hy hom ’n laaste handdruk kon gee, het hy agter die rytuig aangehardloop. Die wagte het die rytuig gestop. Kestell het die hand van die sieke vasgegryp. “Ek sien hom nog soos hy daar gesit het.

“Vir my was hy die verpersoonliking van die heroïese, vir ’n man wat alles vir ’n groot gedagte sou opoffer.”

Kestell swyg oor die twee vriende se afskeidswoorde. “Ek voel nog sy handdruk. Ek hoor nog sy woorde. Maar hoe hy gelyk het en wat hy gesê het, durf ek nie neerskryf nie – wat in my hart omgegaan het, kan ek nie ...!

“Die rytuig het weggery.

“Die gordyn het oor ’n tragedie gesak.

“Marthinus Theunis Steyn het van die toneel verdwyn” (Kestell 1999:296).

Met Steyn se verdwyning van die toneel laat eindig NP Van Wyk Louw sy drama Die pluimsaad waai ver. In die drama gebeur dit ná die President se vasbeslote weiering om die onafhanklikheid prys te gee. Hy sterf liewer as om onreg te doen – só het Louw self Steyn se weiering geïnterpreteer:

Ek het my met ’n duur eed gebind.

Ek is gebind aan al ons dooies onder die aarde.

Dít sal ek antwoord aan dié wat wil oorgee.

Dit sê hy in die drama aan De Wet. Kestell skryf dit was bitter om die oggend vroeg van Steyn te moes hoor: “Ek is soos iemand wat noodlottig gewond is.” In dié trant praat Steyn in Louw se drama met sy agterryer Ruiter:

[Die president staan moeisaam op en soos hy vorentoe kom, struikel hy en val. Hy stut hom met moeite op sy elmboë. Ruiter kom ingehardloop.]

RUITER: Aai, Oubaas tog! Hy kniel by Steyn.

PRESIDENT: Hulle sal my soos ’n gevrekte skaap moet wegsleep. [Vir homself] Nie eers ’n offerlam nie, maar hierdie hand sal nooit ... nooit ...”

[Sy linkerhand en sy hele lyf is verlam.]

RUITER: My oubaas, ai, my oubaas. (Louw 1972:82)  

Die lot van Steyn, wat nooit mismoedig geword het tydens die oorlog nie, “het ons harte gebreek,” skryf Kestell (294).

Volgens Van Schoor (2005:213) wou Steyn enduit by Vereeniging bly, maar die twee republikeinse regerings het vanweë sy verswakkende gesondheid by hom gepleit om liewer saam met die mensliewende Willem van der Merwe na Krugersdorp te vertrek waar hy behoorlik verpleeg sou kon word.

Vroeër die dag het al die afgevaardigdes die terugvoering van die kommissie verneem oor hul onderhandelinge met die Britse leiers. Hul ontoegeeflikheid was nie onverwags nie, maar “nietemin verbysterend”, konstateer Kestell. “Dit het almal verstom soos ’n donderslag wat enige oomblik verwag word en dan skielik slaan.” Hy voer die beeld verder: “Die wolke het saamgepak en hulle somber skaduwees het tot aan die einde van die beraadslagings oor die vergadering gehang” (Kestell 1999:294).

Die kommissielede het verduidelikings van artikels in die verdrag gegee. Uiteindelik het iemand die groot vraag gestel: voortgaan met die stryd, die voorwaardes aanvaar, of onvoorwaardelik oorgee? ’n Stemming het nog dié dag geheers dat die stryd moes voortgaan omdat die Engelse voorstelle “’n uiters ongunstige indruk gemaak het” (Kestell 1999:297). Verskeie afgevaardigdes was ten gunste van ’n versigtige oorweging van die saak omdat ’n oorhaastige optrede noodlottig kon wees. “Aan die een kant is aangevoer dat dit die plig van die volk was om met die stryd te volhard. Aan die ander kant is gevoel dat dit nie meer moontlik was nie, selfs al sou ’n mens dit wou doen” (Kestell 1999:297).

Geleidelik het dit op 29 en 30 Mei duidelik geword dat dit onmoontlik was om die oorlog voort te sit. ’n “Gees van teësin in verdere teenstand [is] gebore. Daar is besef dat dit tevergeefs was om ’n mens teen hierdie geestestoestand te verset (Kestell 1999:299). Selfs dié wat moed gehou het, het ontmoedig geraak omdat hulle geweet het hoe kritiek sake is. Daar was nog enkeles wat anders gevoel het. “Tevergeefs dat iemand na die nageslag verwys het en aangevoer het dat die nageslag sy voorvaders sal verwyt dat hulle die wapens neergelê het toe hulle met die stryd moes aanhou” (Kestell 1999:300).

“Die onvermydelike – die harde, onverbiddelike werklikheid – het die byeenkoms in die gesig gestaar. Dit was eenvoudig onmoontlik om langer teen die stroom te stry,” skryf Kestell (1999:300). Militêr was hulle nie verslaan nie, maar ter wille van die volk kon hulle nie voortgaan nie. Onvoorwaardelike oorgawe? Dit was wat die krygsman wou hê: “Hy sou geen gunste van die vyand wou ontvang nie; na geen voorwaardes van sy teenstander luister nie. Hy sou aan sy oorwinnaars wou sê: ‘Kyk, ek kan niks meer doen nie. Hier is my wapen! Doen met my wat jy wil!’” (Kestell 1999:300). Maar só kon dit nie gebeur nie – ook die volk se voortbestaan en belange moes hulle in ag neem.

Kestell (1999:300) maak met waardering melding van Louis Botha wat ook voorheen op die belange van die volk gewys het. Aanvaarding van die voorwaardes sou impliseer dat die volk sy persoonlike vryheid en eiendom sou behou en uiteindelik selfbestuur sou kry. Die Kaapse rebelle sou vry bly, al sou hulle hul stemreg vyf jaar lank verloor. “Ter wille van die volk en om in staat te wees om vir die volk te sorg, het die hoofde hul militêre trots opgeoffer en om die wonde wat die volk toegedien is, in ’n mate te heel, het hulle gesê: ‘Ons sal ons nie onvoorwaardelik oorgee nie; ons sal aanbeveel dat die afgevaardigdes die voorstelle van Engeland aanvaar’” (Kestell 1999:301).

Was dit net enkeles wat wou volhard? ’n Aansienlike aantal wou tog met die oorlog voortgaan – hoofsaaklik Vrystaters, maar ook Transvalers. De Wet was onversetlik. Verdeeldheid het gedreig.

Die byeenkoms van Saterdagmôre 31 Mei het in stilte begin. Min mense praat; sommige fluister (Van Schoor 2005:237).

Twee voorstelle is gedoen: die eerste was om die Britse vredesvoorwaardes te verwerp, die tweede om dit te aanvaar. Die afgevaardigdes was dus verdeeld en Kestell vra: “Sou hulle in gramskap van mekaar skei? Sou hulle in die toekoms met bittere verwyt teenoor mekaar na hierdie grootste oomblik in die geskiedenis van Suid-Afrika terugkyk?” (302).

Dit is toe dat De Wet praat. “Die tyd is te kort om oor hierdie voorstelle ’n diskussie te voer. Ons moet tot ’n beslissing kom. Ek stel voor dat ons aan advokate Smuts en Hertzog opdrag gee om ’n voorstel op te trek waarin die sienswyses van hierdie vergadering saamgevat word. Laat ons ’n uur verdaag – die Transvalers afsonderlik en die Vrystaters afsonderlik om te probeer ooreen te kom” (Kestell 1932:12–3). Sy voorstel is aangeneem.

Dié ontwikkeling volg op “iets verhewe” (Kestell 1999:302) wat laat die aand van 30 of vroeg die oggend van 31 Mei gebeur het: ’n gesprek tussen De Wet en ’n paar Transvaalse leiers. Dié leiers het besef dat De Wet se onversetlike houding die Vrystaters sou laat besluit om, as dit daarop aankom, die stryd alleen voort te sit. Die Transvaalse leiers het gemeen dit sou noodlottig wees as die volk op Vereeniging sou skeur. Hulle wou verdeeldheid voorkom.

Volgens Kestell (1999:302) het De la Rey en Botha vroeg die oggend met De Wet gaan praat, hom daarop gewys dat die stryd nie kon voortgaan nie en dat dit verkeerd sou wees om op die laaste oomblik geskei te word. Hy het hom laat oortuig. Sy reaksie op die twee voorstelle vroeg Saterdagmôre was die resultaat van hul ooreenkoms. Dit was dat die leiers die Vrystaters en Transvalers afsonderlik laat vergader om eenstemmigheid te bereik. .

Was net De la Rey en Botha by De Wet? Daar bestaan volgens Van Schoor ’n ander moontlikheid. “Een bron wil dat genls Botha en Smuts hom [De Wet] nog laat in die nag in sy tent besoek het (2005:237). In ’n ander werk noem Van Schoor Hertzog, Botha, Smuts en De la Rey. Hulle vier en De Wet sou ooreengekom het om die wapens neer te lê, met die verstandhouding dat die stryd hervat word wanneer die geleentheid hom voordoen. Bewyse hiervoor kon nog nie gevind word nie, “maar historici glo sterk dat die moontlikheid nie uitgesluit kan word nie”. Dit bied ook ’n aanneemlike verklaring vir die sienings en optrede van De la Rey en in ’n mate vir dié van De Wet, Christiaan Beyers en Manie Maritz in Oktober 1914 aan die begin van die Rebellie (2006:16.) As dit wel so gebeur het, was dié ooreenkoms ’n skrale troos. De Wet het Botha bowendien nooit heeltemal vertrou nie.

In Jan Scholtz se drama is dit Botha en Smuts wat De Wet oortuig om ter wille van die eenheid – “Ek pleit by jou: hou ons volk byeen”, sê Botha – die stryd te staak en te wag totdat Engeland eendag teen ’n ander groot moondheid soos Duitsland moet veg. Met ’n kennis van wat in 1914 gebeur het, laat Scholtz De Wet ten slotte sê: “Nooit, nooit moet jy van my of een van my burgers vra om Engeland in een van sy oorloë te help nie.” Botha antwoord dan: “Jy het daardie belofte, Christiaan.” De Wet vra aan Smuts: “Jan?” “Jy het ons belofte – natuurlik, oom Christiaan. Hoe ken jy ons dan?” (Scholtz 1982:43). Dis ironies, miskien gemanipuleer, maar tog. Botha en Smuts het in 1914 Suid-Afrikaanse vrywilligers gevra om Duits-Suidwes-Afrika op versoek van Brittanje in te neem nadat dié land en Duitsland in ’n oorlog gewikkel geraak het.

Vir die Vrystaters het De Wet die Saterdagmôre tydens die verdaging gesê dat daar geen kans meer was om met die stryd voort te gaan nie, dat hulle nie verdeeld moet wees nie en eenparig die voorstel moet aanneem. “Ek sien hom nog, die onbuigbare man met sy deurdringende oë, sy sterk mond en ken – ek sien hom nog soos ’n leeu wat in ’n vanggat geval het. Hy wil nie, hy kan nie, maar hy moet die stryd staak.

“Ek sien nog die somber gesigte van die offisiere wat tot op daardie oomblik so onwrikbaar was en afgevaardig was om die onafhanklikheid te handhaaf. Ek sien hulle nog asof hulle blind in die ruimte staar. Ek sien op hulle gesigte iets onbeskryfliks gegraveer wat vra: ‘Is dit die bitter einde van ons lyding en stryd, van ons geloof op en ons sterk geroep tot God? [...]

“Ek het daar die lippe sien bewe van manne wat nooit vir ’n vyand bang was nie. Ek het daar gesien hoe trane opwel in die oë wat droog was toe hulle hulle dierbares in die graf weggelê het ...

“Die manne het ooreengekom om verenig te bly” (Kestell 1999:302–3).

Op die vergadering in die tent van samekoms is die verklaring van Smuts en Hertzog aan die vergadering voorgelê. Dit het ingehou dat daar geen redelike gronde bestaan om te verwag dat die volk sy onafhanklikheid sou kon behou deur die oorlog voort te sit nie. Onder die omstandighede is dit nie geregverdig om met die oorlog voort te gaan nie, “aangesien dit alleen kan strek tot maatskaplike en stoflike ondergang, nie alleen van ons nie, maar ook van ons nageslag”. Die vergadering gee opdrag aan die republikeinse regerings om die voorstelle van die Britse regering te aanvaar. Die voorstel is met 54 stemme teenoor ses aangeneem.

Sober beskryf Kestell en Van Velden die toneel ná die stemming: “Toen het besluit genomen was, waren er niet vele droge oogen in de tent” (1909:212).

’n Groot stilte het geheers toe waarnemende president Schalk Burger net ná die stemming gepraat het. “Ons staan hier by die graf van die twee Republieke.” Só het hy sy kort toespraak begin. “Daar bly vir ons baie oor om te doen, al kan ons dit nie meer doen in ampsbetrekkings waarin ons tot hiertoe gestaan het nie.” Ook het hy gevra dat die gedeelte van die volk wat ontrou was, “mag ons nie verstoot nie” (Kestell 1999:309). Hiermee, dit meld die notule, kom die laaste vergadering van die twee republieke ten einde.

Later die middag is weer vergader. Die aanvaarding van die vredesvoorstelle het nie die gedagte laat ontstaan dat die volk daarmee tot niet gegaan het nie, skryf Kestell (1999:309).

Die bittereinders was ook die “Bitter beginners”. Dié woorde is NP Van Wyk Louw s’n as alternatiewe titel van Die pluimsaad waai ver.

Dit was die begin van die nuwe stryd om die voortbestaan van die Afrikaners, nie alleen as individue nie, maar as ’n volk met ’n ander taal as dié wat die veroweraars aan hom wou oplê. Die eerste aksie vir die volk was die aanstelling van ’n kommissie wat moes sorg vir die insameling van middele vir die weduwees, wese en ander noodlydendes. De Wet, De la Rey en Botha is na Europa afgevaardig om vir dié doel geld in te samel. Soos dit later sou blyk, is van dié geld ook vir die taalstryd in die onderwys gebruik. De Wet het in September 1902 in Amsterdam steun gevra vir die onderwys en opleiding van die noodlydendes sodat die identiteit van die Afrikaner nie verlore sal gaan nie (Van Schoor 2007:211). In dieselfde tyd het Kestell in Met de Boeren-commando’s (1902) geskryf dat die taal nie vernietig is nie. “Die Afrikaanse volk bly ’n onuitdelgbare element in die Britse ryk” (1999:307).

Die saadjies vir die komende oorlewingstryd is reeds by verskeie geleenthede in Mei 1902 gesaai. Die kommissie van vyf wat met Kitchener en Milner onderhandel het, het voor hul eerste ontmoeting ’n brief opgestel waarin hulle die wense van die volksverteenwoordigers uiteengesit het. Een daarvan het gelui: “Die Hollandse taal en die Engelse taal moet dieselfde regte geniet” (Van Schoor 2005:195).

Toe dié saak ter sprake kom, het Milner wrewelrig uitgeroep: “Ek wil net een amptelike taal in Suid-Afrika hê!” Hertzog het onmiddellik geantwoord: “Ek ook!” Die twee manne het mekaar aangegluur en hulle het besef dat ’n groot stryd voorlê (Van Schoor 2005:201).

Taal het inderdaad, soos een van die afgevaardigdes, JF Naudé, dit gestel het, die “kanaal” gevorm “waardeur die volk weer volk kan word”. Naudé, een van die ses wat teen die vredesverdrag gestem het, was bitter ongelukkig omdat die taalregte heeltemal opsygesit is (Kestell en Van Velden 1982:144).

Later die aand van 31 Mei – die regeringslede was op pad na Pretoria vir die ondertekening van die vredesverdrag – het die burgers in die groot tent vir ’n godsdienstige samekoms vergader. CF Beyers, die voorsitter, het sy vriend, TC Stofberg, ’n landdros, voorheen onderwyser en tydens die beraadslagings krities oor die taalbepalings in die Britse voorstelle, gevra om dit waar te neem. Hy het voorgelees uit die slothoofstuk van die Klaagliedere van Jeremia, wat in die Statebybel só begin: "Gedenk, Heere! wat ons geschied is; aanschouw het en zie onzen smaad aan. Ons erfdeel is tot de vreemdelingen gewend, onze huisen tot de uitlanders.” (In die Afrikaanse 1933-vertaling lui dit só: “Dink Here, wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad. Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders.”)

Stofberg het later vertel dat die burgers kort-kort opgekyk het terwyl hy lees om te sien of hy nie ’n toespraak hou pleks van voor te lees uit die Bybel nie – so toepaslik was die woorde op hul toestand (Van Schoor 2005:249).

Die Vrystaatse en Transvaalse regerings was in daardie stadium per trein na Pretoria onderweg. Die son was al onder toe hulle vertrek het. Hertzog se biograaf meld dit was sewe-uur die aand (Van den Heever 1944:175).

Die trein het kort voor elfuur in Pretoria aangekom en die manne is dadelik na die ruim eetsaal van die huis van George Heys gebring. Hierdie huis, Melrose House, was die hoofkwartier van die Britse magte in Suid-Afrika. Saam met die regeringslede was ook Kestell en DE van Velden, die notulehouers van die vredesonderhandelinge.

’n Rukkie is die republikeinse leiers alleen gelaat om seker te maak dat die dokument sonder foute is.

Daarna het lord Kitchener en lord Milner ingekom en aan die hoof van die lang tafel aan die suidekant van die vertrek gaan sit. Die naaste aan lord Milner, aan sy linkerkant, het die Transvalers plaasgeneem: SW Burgers, FW Reitz, kommandant-generaal Louis Botha, genl JH de la Rey, JC Krogh en oudgeneraal LJ(Lukas) Meyer. Aan Kitchener se regterkant het gesit CR de Wet, genl CH Olivier, regter JBM Hertzog en waarnemende staatsekretaris WJC Brebner.

Die kontrak was in viervoud op perkament getik. Een eksemplaar was bestem vir die Koning van Engeland, een vir Kitchener, een vir die argief in Pretoria en een vir die argief in Bloemfontein.

Alles was doodstil toe Burgers die pen in die hand neem. Kestell het op sy horlosie gekyk. Dit was vyf minute oor elf. Ná Burgers het die lede van die Transvaalse regering geteken, toe De Wet en die lede van die Vrystaatse regering. Reitz het, voordat hy geteken het, opgestaan en verklaar dat hy dit nie as FW Reitz onderteken nie, maar in sy amp as staatsekretaris.

Lord Kitchener het geteken en toe lord Milner.

Kestell was dankbaar dat Steyn se ernstige siekte hom verhinder het om te teken. Hy het gesê: “My hand op papier sit om die onafhanklikheid van my volk prys te gee – nooit!” (1999:310). Reitz, sy voorganger as Vrystaatse president, het volgens ’n Engelse bron ná die ondertekening in ’n hoek van die vertrek in trane uitgebars (GD Scholtz 1978:241). Hy was een van die vroeë Afrikaanse digters en het ná die vredesluiting die ondergang van die republieke betreur in ’n Nederlandse gedig wat begin met die versreëls: “Niet langer mag de vierkleur wapperen / Met tranen gaven wij haar af. / Zij is met onze dode dapperen / Verdwenen in een eervol graf.”.

Reitz herinner hom dat Kitchener die republikeinse leiers die hand gegee het toe hulle die voordeur uitgaan. Aan dié voor Reitz het Kitchener gesê: “Good friends, I hope?” Almal het geantwoord: “Yes.” Ook Milner het hom “daarop toegelê” om hulle die hand te gee. Toe Reitz aan die beurt kom, sien hy dat Milner langs Kitchener staan, maar so half agter hom. “Daarom het ek op die beleefde vraag van die generaal geantwoord: ‘Yes, sir, with you’.

“Generaal De la Rey loop net voor my uit en toe ons buite kom, sê hy:

“‘Jy het Milner ’n steek gegee’, waarop ek antwoord:

“‘Ja, so het ek dit bedoel’” (Reitz 1978:51).

Kestell beskryf die slottoneel anders: “Dit is stil daar in die saal. ’n Verpletterende gevoel van verlies oorweldig ons manne. Spreek, dit kan hulle nie. Dit is Kitchener wat dit die eerste doen. Hy is soldaat en as soldaat het hy sy plig teenoor sy land gedoen. ‘We are friends now,’ sê hy en hy reik ons manne die hand. Hulle neem dit van hom aan in die gees waarin hy dit uitgespreek het en verlaat die saal.” So lui die laaste paragraaf van Kestell se artikel van 1932 in Die Huisgenoot.

In Met die Boerekommando’s en MCE van Schoor se Kestell-biografie word Kitchener se woorde weergegee as “good friends”. In eersgenoemde werk laat Kestell volg: “Het dit hom bevrediging verskaf? Het geen pyl van smart, van wroeging deur sy hart geskiet by die gedagte dat hy ’n groot aandeel in die verdelging van ’n vrye volk gehad het nie?

“Maar hy het as krygsman met die dapper vyand gepraat wat gedwing was om sy swaard prys te gee en die lede van die regerings het dit probeer aanvaar in die gees waarin dit gesê is. Maar hulle harte was gebreek.

“Daarop het hulle die saal verlaat” (Kestell 1999:311).

Gebreek was hul harte wel; of met Jeremia in sy Klaagliedere: “Die vreugde van ons harte het opgehou, ons reis het in treurigheid verander.” Voor geweld moes die republikeinse leiers swig; die stiltes van die slottonele val egter op deur hul waardigheid. Maar saam met die traanlose verdriet was by sommige ook ’n voorneme om as volk te bly voortleef, die bewustheid van ’n nuwe bitter begin, ’n vasbeslotenheid om die maghebbers oor dié strewe uit te daag.

Bibliografie

Celliers, Jan FE. 1936. Uit my Oorlogsdagboek. Die bittere einde. Die Huisgenoot, 28 Februarie 1936, ble 29 en 67.

Hopkins, HC. 1963. Maar één soos hy. Kaapstad: Tafelberg.  

Kestell, JD. 1902. Met de Boerencommando’s. Mijn ervaringen als veldprediker, Amsterdam, Pretoria: Höveker & Wormser.

—. 1932. 30 Mei 1902. Die Huisgenoot, 27 Mei 1932, ble 12 en 13.

—. 1999. Met die Boerekommando’s. Vertaal deur DPM Botes uit Duits. Pretoria: Protea. 

Kestell, JD en DE van Velden. 1909. De vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit in Zuid-Afrika. Pretoria, Amsterdam: JH de Bussy.  

—. 1982. Die vredesonderhandelinge, vertaal deur FJ le Roux in oorleg met DJ van Zyl. Kaapstad, Pretoria: Human & Rousseau.

Louw, NP Van Wyk. 1972. Die pluimsaad waai ver of Bitter beginners. Kaapstad: Human & Rousseau.  

Pretorius, Fransjohan. 2010. The A to Z of the Anglo-Boer War. Lanham, Toronto, Plymouth: Scarecrow Press.

Reitz, FW. 1978. Outobiografie, toegelig deur prof JC Moll, met Twee en sestig uitgesoekte Afrikaanse gedigte, ingelei deur dr CJS Burger. Kaapstad: Tafelberg.  

Scholtz, GD. 1978. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaners. Deel V (1899–1910). Pretoria: Perskor.

Scholtz, Jan. 1982. Die Vrede van Vereeniging. ’n Fimldrama. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.  

Van den Heever, CM. 1944. Generaal JBM Hertzog. Johannesburg: AP-Boekhandel.

Van Schoor, MCE. 1992. John Daniel Kestell 1854–1941. Outobiografies beskryf. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.

—. 2005. Die Bittereinder Vrede. Brandfort: Kraal-Uitgewers.  

—. 2006. Generaal JCG Kemp en die epiese woestyntog. Pretoria: Protea.

—. 2007. Christiaan Rudolph de Wet. Krygsman en volksman. Pretoria: Protea.

Lees ook ander artikels rondom die Anglo-Boereoorlog wat in die akademiese joernaal LitNet Akademies verskyn het:

Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse militêre doktrine

Vroeë artikels oor die Anglo-Boereoorlog wat in internasionale vakkundige tydskrifte verskyn het

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top