Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse militêre doktrine

  • 33

Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse militêre doktrine

Leopold Scholtz, navorsingsgenoot, fokusarea Sosiale Transformasie, Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus)

LitNet Akademies Jaargang 16(2)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Min is nog geskryf oor die ontwikkeling van ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse militêre doktrine. Deel van die rede hiervoor is dat bitter min rolspelers in die Suid-Afrikaanse krygsgeskiedenis die moeite gedoen het om werklik oor die teorie van oorlogvoering te besin. Die enigste werklike uitsondering is genl.maj. Roland de Vries. Vir die res moet ’n mens ’n Suid-Afrikaanse doktrine aflei uit wat offisiere op en rondom die slagveld gedóén het, eerder as op wat hulle op skrif geteoretiseer het. Dit blyk dat die Suid-Afrikaanse militêre doktrine veral die volgende elemente bevat: ’n strewe om ongevalle so laag moontlik te hou, om liniêre oorlogvoering met frontaanvalle te vermy en eerder op maneuvrering, mobiliteit, omvleueling, flankaanvalle en misleiding van die vyand staat te maak. Die artikel ontleed elemente uit die Anglo-Boereoorlog, die twee wêreldoorloë en die Grensoorlog en kom tot die gevolgtrekking dat ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse militêre doktrine wel bestaan, en dat dit verwant is aan die Duitse Bewegungskrieg.

Trefwoorde: Anglo-Boereoorlog; Eerste Wêreldoorlog; Grensoorlog; militêre doktrine; Suid-Afrikaanse Weermag; Tweede Wêreldoorlog; Unie-Verdedigingsmagte

 

Abstract

The development of the South African military doctrine

Is there a typical South African military doctrine? South African officers have been notoriously reticent in writing about their profession. In fact only one – Major general Roland de Vries – has ever attempted to formulate a military doctrine, based on his study of the history of warfare and his own considerable experience. For the rest, one has to look more at what South African commanders did on the battlefield rather than what they wrote, although their published reminiscences do contain sprinklings of what they thought.

Based on what they did, however, a typical South African military doctrine does emerge. In this article, attention is given to the distinctive historical circumstances which influenced such a doctrine. This includes the vast distances, the shortage of manpower and the fact that economic circumstances favoured short wars. This meant that South African wars were fought mostly by militias, mounted infantry moving with great rapidity. Because of the lack of numbers, operations were mostly planned based on an absolute minimum number of casualties. That led to mobility, flanking attacks and indirect approach rather than full-frontal steamroller tactics without regard to casualties.

This approach typified the South African operations in German South West Africa and German East Africa during the First World War, when officers like General Louis Botha and Jan Smuts eschewed direct frontal attacks and preferred to outflank the German defenders. This type of tactic was once again followed in the first years of the Second World War, when the South Africans were involved in operations against the Italians in Somalia and Ethiopia. The traditional mounted infantry approach was continued there, albeit with the lorry rather than the horse as means of movement.

From 1941 onwards, however, the South Africans were integrated in British and American operations against the Germans in Libya and Italy, and their natural knack for mobility was stifled. This gave rise to considerable rows between South African and British generals.

The Border War (1966–1989) provides further material to identify the distinctive South African military doctrine. The easy-going lack of organisation and discipline which marked the Boers in the Boer War was replaced with a much more professional approach, albeit that the South Africans always allowed their subordinate commanders great leeway in deciding for themselves how to fight, provided that they stayed within the broad parameters of the operation as laid down by the commanders. In this the South African style was similar to that of the Germans in the 19th and 20th century, rather than that of the much more rigid British.

The cross-border operations undertaken by the South African Defence Force (SADF) into Angola after 1978 were also characterised by great mobility, while their adversaries in the Angolan Army (FAPLA) floundered about almost helplessly. Several times, the South Africans demonstrated their knack for doing the unexpected and attacking the enemy where and when they did not expect it.

However, during the last weeks of the final phase of the war in Angola the SADF top commanders – men without operational experience – deviated from the typical South African doctrine, and were punished for it. That meant that the final phase ended in a draw, rather than a South African victory. The fact is that the South African officers were traditionally tactically brilliant, but showed definite shortcomings on the operational and strategic level.

Keywords: Anglo-Boer War; Border War; First World War; military doctrine; Second World War; South African Defence Force; Union Defence Forces

 

1. Inleiding1

In die Suid-Afrikaanse krygsgeskiedenis en militêre geskiedskrywing beklee die kwessie van militêre doktrine ’n baie ondergeskikte posisie. En tog is dit belangrik as ’n mens die land se krygsgeskiedenis behoorlik wil verstaan.

Sloane (2012:244) definieer militêre doktrine só:

Doctrine can be conceived as a bridge between thought and action. It interprets ideas about war, and how they affect its conduct and its character, by combining strategic theories and operational plans into functional guidelines for action. To put this another way: military doctrine articulates war.

En Katz (2017b:22) vul dit aan:

Military doctrine is a set of fundamental military principles designed to gain advantage and eventually overcome an enemy. It is a formal expression of military knowledge and thought to guide military forces on how they should conduct their operational art and tactics to achieve their strategic objectives. It is descriptive rather than prescriptive, outlining how the army thinks about fighting, but not how to fight. It is a guide to military activity and does not replace initiative and judgement on the battlefield.

In sy geskiedenis het Suid-Afrika heelparty uitstekende offisiere en veldhere opgelewer. ’n Mens dink aan name soos Christiaan de Wet, Koos de la Rey, Louis Botha, Jan Smuts, Constand Viljoen, Jannie Geldenhuys, Roland de Vries, Deon Ferreira, Johann Dippenaar en ander. Maar die Suid-Afrikaanse krygsgeskiedenis is ook baie arm aan denkers, mense wat dieper nagedink het oor waarmee hulle besig is en hoe om dit te doen: hoe om die maksimum rendement met die minimum moeite te behaal. Daar is eintlik slegs een offisier wat hom werklik daarop toegelê het: Roland de Vries, wat verskeie boeke en artikels daaroor geskryf het. In die herinneringsgeskrifte van offisiere soos De la Rey, De Wet en Geldenhuys is daar enkele krummels wat ’n idee gee van hul denke. Tog moet enige poging om die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse militêre doktrine te ontleed dus hoofsaaklik berus op wat die betrokkenes op die slagveld gedóén het en nie soseer op wat hulle geskrýf het nie.

 

2. Die historiese omstandighede

Die Suid-Afrikaanse militêre denke en tradisie het nie, by wyse van spreke, klaar gemaak uit die hemel geval nie. Dit is gevorm deur die historiese omstandighede – die geografie, die ekonomie en die demografie.

Dit het al in die tyd van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) begin. Die Nederlandse Republiek het in die 17de en 18de eeu ’n tradisie geken van plaaslike eenhede bestaande uit burgers wat in tye van nood vir militêre diens opgeroep word, bekend as “schutterijen”. Rembrandt van Rhijn se bekende skildery De nachtwacht beeld juis só ’n groep burgers van die Amsterdamse “schutterij” uit (Carasso-Kok 1988). Die VOC het die tradisie aan die Kaap voortgesit in ’n vorm van wat toe as kommando’s bekend geword het. Die VOC het weliswaar ’n garnisoen met beroepsoldate gehad, maar dit was veels te klein om alle bedreigings die hoof te bied. Dus is die burgers by geleentheid gevra om met hul wapens, perde en genoeg kos vir ’n paar dae aan te meld – op kommando te gaan. Dit in teenstelling tot die massale beroepsleërs wat Europese militêre operasies in dié tyd gekenmerk het (Steenkamp 2012).

Die kommandotradisie is bepaal deur verskeie faktore wat saamgehang het. Dit was die groot ruimtes, die tekort aan mannekrag, die ekonomie en die noodsaak vir mobiliteit.

Die eerste was die ruimtes. Die gebied onder beheer van die VOC was in die 18de eeu maklik 15–20 keer groter as Nederland. Om slegs op professionele voetsoldate en kavallerie staat te maak om byvoorbeeld teen die swartes of Khoisan te veg, was nutteloos. Die aanwending van voetsoldate het in die betreklik beperkte Europese afstande sin gemaak. Maar in die uitgestrekte vlaktes van die Karoo sou dit weke duur voordat ’n afdeling infanterie op die toneel aankom waar hul vuurkrag nodig was. Iets anders was nodig.

’n Tweede faktor was die tekort aan mannekrag. Teen 1795, toe die VOC se heerskappy aan die Kaap beëindig is, was daar volgens skatting sowat 25 000 wittes – mans, vroue en kinders – in die Kaapkolonie (Scholtz 1967:69). Bowendien was dié beperkte bevolking dun oor die hele gebied versprei.

Saam het dié twee faktore beteken dat die liniêre oorlogvoering wat in Europa in swang was, vir Suid-Afrika eenvoudig geen opsie was nie. Europese veldslae is gekenmerk deur opponerende leërs met swaarbewapende infanterie, kavallerie en artillerie wat hulself basies in linies teenoor mekaar opstel en bestook. In die wye Suid-Afrikaanse vlaktes was die ruimtes te groot en die bevolking te klein. En dus het die militêre tradisie hier in ’n ander rigting ontwikkel.

Die kommando’s – milisies, burgerwagte, hoe ’n mens dit ook al wil noem – het dus nie uit ortodokse infanterie, kavallerie en artillerie bestaan nie, maar van vroeg af uit berede infanterie. Met ander woorde, dit is vegters met die mobiliteit van kavallerie, maar wat te voet kan veg as dit nodig is. En omdat die kommando’s almal berede was, het hulle ’n verstommende mobiliteit gehad, sekerlik vergeleke by die Europese leërs. Gesien die groot afstande wat hulle moes aflê, was dit ook geen wonder nie.

Steenkamp (2008:210) wys daarop dat die berede-kommando-tradisie nie slegs onder Afrikaners posgevat het nie. Ook Nama-groepe soos die Bondelswarts, Jonker Afrikaner se volgelinge, en die Witboois het die tradisie oorgeneem in wat vandag die noordwestelike Kaap en Namibië is.

Die snelheid waarmee die kommando’s betreklik lang afstande kon aflê, was pure noodsaak. Die burgers was nie professionele soldate nie en is ook nie vir hul kommandodiens vergoed nie. Hulle was meestal boere of handwerkers wat nie te lank van hul beroepe kon wegbly nie. Hulle moes kos op die tafel sit, en dit kon hulle nie doen as hulle maande lank op kommando moes wees nie.

Met ander woorde, veldtogte móés meestal relatief kort van duur wees. As ’n krisis ontstaan het, het die burgers blitsvinnig gekonsentreer, die bedreiging snel gekonfronteer en verslaan, en so gou moontlik weer uiteengespat om hul normale lewens te hervat. Teen dié agtergrond was die Anglo-Boereoorlog uiteraard ’n uitsondering. Toe moes die Boeregeneraals meermale ’n deel van hul mense huis toe laat gaan om te gaan oes (De Wet 1902:78; Raath 2007:407).

’n Ander uitsondering was die bestaan van twee klein artilleriekorpse: een in Transvaal en een in die Vrystaat. Dit het uit professionele, voltydse artilleriste bestaan, maar het op die breë gang van sake bitter weinig invloed uitgeoefen (Ferreira 1976).

Die gebrek aan mannekrag het nog ’n uitwerking gehad: onwilligheid om verliese te ly. Europa, met sy bevolking van miljoene, kon groot verliese op die koop toe neem. Die Afrikaners, met hul klein getalle, kon nie. En dus sien mens in elke konflik waarin Afrikaners ’n beduidende rol gespeel het, ’n voortdurende begeerte om ongevalle te beperk. Die taktiek van Boere-aanvoerders soos Christiaan de Wet, Koos de la Rey, Louis Botha en Jan Smuts was sonder uitsondering deurgaans sterk beïnvloed deur die strewe na lae ongevalle. De la Rey noem byvoorbeeld die ongevalle in sy aanval op Lichtenburg (2 Maart 1901) – 14 dood en 40 gewond – “swaar” (Raath 2007:401). Die Slag van Rooiwal op 10 April 1902 in Wes-Transvaal, toe ’n kommando onder veggenl. Jan Kemp ’n onverstandige tromp-op aanval op ’n kolonne onder lt.genl. Ian Hamilton gedoen het, was ’n absolute uitsondering. Minstens 43 burgers het daar gesterf en ’n onbekende getal (in elk geval meer as 50, dalk tot 120) is gewond (Pakenham 1979:558–9; Kemp 1941:464).

Dit was juis na dié gebrek aan getalle dat Jan Smuts in sy aangrypende toespraak by die vredesamesprekings te Vereeniging verwys het: “[W]ij mogen niet het Afrikaansche volk voor de onafhankelijkheid opofferen. Wanneer wij overtuigd zijn dat er, menschelijkerwijs gesproken, geen redelijke kans is om onze onafhankelijkheid als republieken te behouden, dan wordt het ook onze duidelijke plicht den strijd te staken, opdat wij niet misschien ons volk, onze toekomst opofferen voor een bloot idee, dat niet meer kan verwezenlijkt worden” (Kestell en Van Velden 1902:194–5).

Terwyl offisiere soos Louis Botha en Jan Smuts in die Eerste Wêreldoorlog in Duitswes- en Duitsoos-Afrika onafhanklik kon optree, het hulle dié beginsel voortgesit. Katz (2017b:21) oordeel só oor Botha en Smuts se verowering van Duitswes-Afrika:

That the South African forces numbered approximately 50 000 compared to the modest German force numbering about 7 000, did not tempt them to conduct a costly war of annihilation. They avoided pitched battles in favour of advancing on multiple fronts. By using the threat of envelopment, the UDF dislodged the Germans from their prepared positions and made them defend locations not of their primary choice. The South Africans forced the Germans to surrender on 9 July 1915 with their fighting capability almost intact. The successful conclusion of the campaign, at relatively low human cost, was vindication of manoeuvre warfare and carried all the hallmarks of a South African “way of war”.

In Frankryk, waar ’n Suid-Afrikaanse brigade deel van ’n Britse divisie was en swaar verliese gely het (onder meer by Dellville-bos), was dit anders. Van die soldate in die Suid-Afrikaanse brigade aan die Wesfront het sowat 5 000 gesneuwel en is nog 10 000 gewond. Die totaal was drie keer meer as die brigade se oorspronklike sterkte (Digby 2016:413).

Dié skrikwekkende ongevalle het ’n beduidende rol in die Tweede Wêreldoorlog gespeel toe veral genl.maj. Dan Pienaar, bevelvoerder van 1 SA Divisie, gereeld kwaai met sy Britse meerderes gebots het oor sy strewe om sy eie soldate se lewens nie onnodig in gevaar te stel nie: “He [Pienaar] honoured the old Boer principle that it was a crime to sacrifice lives needlessly” – aldus Katz (2017a:74; vgl. ook Birkby 1987:266(8).

Dit was ook tydens die Grensoorlog ’n deurlopende strewe om bloedvergieting in eie geledere te vermy. In sy ongepubliseerde herinneringe oor Operasie Protea (1981) skryf kmdt. dr. Cas Bakkes dat verliese vir die SA Weermag “’n teer en gevoelige saak vir ons militêre lui was” weens die negatiewe uitwerking “op die Suid-Afrikaanse blanke publiek” (Bakkes 1981:4). Trouens, op beslissende oomblikke tydens Operasie Moduler in Oktober 1987 was die negatiewe uitwerking só sterk dat operasionele beplanning beslissend daardeur beïnvloed is (Scholtz 2013:289).

 

3. Dissipline en organisasie

Ofskoon die twee Republikeinse artilleriekorpse goeie militêre dissipline geken het, was goeie organisasie en dissipline nie ’n kenmerk van die Afrikaners se militêre tradisie met die Anglo-Boereoorlog nie. Die pionierstoestande waaronder die Boere geleef het, het ’n oordrewe vryheidsin meegebring. In hul verslag het die Nederlandse militêre attachés by die Republikeinse kommando’s in die Anglo-Boereoorlog hul waarneming só verwoord: “’t Is de vrijheidsliefde die den Boer als weerman ongeschikt maakt om tevens soldaat te zijn … Wij meenen ons juist uit te drukken, wanneer we zeggen dat de vrijheidsliefde van den Boer zuiver zijn persoon geldt; en in die richting viel het hem zwaar, zeer zwaar, voor het welzijn van de gemeenschap zich, in welke opzicht ook, te binden” (Collectie Asselbergs 26, 1902:340).

Samevattend beskryf hulle die Republikeinse krygsmagte met dié woorde: “Nagenoeg volstrekte afwezigheid van discipline, onkunde van vele aanvoerders en bevelhebbers, gemis aan organisatie en voorbereiding” (Collectie Asselbergs 30, 1902:340) En Jan Smuts se oordeel oor die Boere se krygsorganisasie, altans aan die begin van die oorlog, was nie minder skerp nie: “However good the Boers were as raw fighting material, their organization was too loose and ineffective, and their officers too inexperienced and in many glaring cases incompetent, to make a resort to offensive tactics possible” (Hancock en Van der Poel (reds.) 1966, I:562).

Later in die 20ste eeu sou dit verander. Reeds tydens die twee wêreldoorloë, toe die Unie-Verdedigingsmag se kultuur steeds meer deur die Britse leër beïnvloed is, het sowel die organisasie as die dissipline verbeter. En toe die Grensoorlog in die 1970’s en 1980’s oplaai, kon daar op dié terreine bitter min negatiefs oor die SA Weermag (SAW) aangemerk word.

Daar is ewenwel een verwante opmerking wat ’n mens oor die SAW in die Grensoorlog moet maak. Die SAW het geleer van die Duitse tradisie van bevel-en-beheer, wat anders as die kadawerdissipline van die Britte was. Die Duitse tradisie, bekend as Auftragstaktik (“opdragtaktiek”, in teenstelling tot Befehlstaktik of “bevelstaktiek”), kom kortliks daarop neer dat die bevelvoerder van ’n eenheid of formasie die parameters van ’n operasie in oorleg met sy ondergeskikte bevelvoerders bepaal. Hy maak seker dat elke ondergeskikte sy eie plek in die breër operasie ken. Vervolgens laat hy dit aan hulle oor om hul eie inisiatief te gebruik om onverwagte ontwikkelinge – wat byna altyd voorkom – die hoof te bied (Van Leussen 2019:60-71).

Dié tradisie dateer uit die 19de eeu, toe genl. Helmuth von Moltke die hoof van staf van die Pruisiese leër was. “Moltke,” skryf Hajo Holborn, “refrained from issuing any but the most essential orders. […] This meant that the commander in chief should hardly ever interfere with tactical arrangements. But Moltke went beyond this. He was ready to condone deviations from his plan of operations if the subordinate general could gain important tactical success …” (in Paret 1986:291).

Dit pas in by die Suid-Afrikaners se tradisionele weerstand teen sinlose kadawerdissipline. Dit laat aan offisiere op voetsoolvlak ook veel groter ruimte vir buigsaamheid om vinnig op veranderde omstandighede te reageer. Roland de Vries (in ’n skrywe aan my) kontrasteer die SAW-doktrine in dié verband met dié van die Forças Armadas Populares de Libertação de Angola (Fapla), die Angolese leër:

The South African combat leaders were afforded a great measure of initiative down to battle group and combat team level. This stimulated independent thought and conduct to a great extent down to ground level. The Fapla enemy did not have this flexible attribute. The poor devils had to ask permission for everything and were not allowed to think for themselves. (Aangehaal in Scholtz 2013:45-6)

Dit het daartoe bygedra om van die Suid-Afrikaners gedugte vegters te maak. Hierby moet wel aangeteken word dat die Suid-Afrikaanse generaals, veral genl. Jannie Geldenhuys (hoof van die SAW), lt.genl. Kat Liebenberg (hoof van die leër), en genl.maj. Willie Meyer (bevelvoerende generaal Suidwes-Afrika), in die later stadiums van die laaste SAW-operasies in suidoos-Angola teen Fapla in 1988 hiervan afgewyk het. Toe het hulle tot die frustrasie van die frontoffisiere tot in die kleinste taktiese beslissings begin inmeng. Dat die beslissings wat hulle toe afgedwing het, agterna gesien, dikwels foutief was, het nie gehelp nie (Scholtz 2013, hoofstukke 13 en 14).

 

4. Mobiliteit

Bogenoemde historiese faktore het meegebring dat die Suid-Afrikaners se militêre optrede in sowel taktiese as operasionele opsig bowenal op mobiliteit gebaseer was. Die veldtogte van feitlik alle suksesvolle veldhere in die krygsgeskiedenis is deur groot mobiliteit gekenmerk. ’n Mens dink aan byvoorbeeld Alexander die Grote, die Bisantynse generaal Belisarius, Frederik die Grote, Napoleon, Erwin Rommel, Heinz Guderian en Georgi Zjoekof. Elkeen van hulle het dit reggekry “to get inside the decision loop of the enemy”, soos die Amerikaners sê. Met ander woorde, jou opmars is só snel dat wanneer die vyandelike bevelvoerder reageer, die situasie reeds onder hom uitgehardloop het en sy reaksie op ’n verouderde stel feite gebaseer is.

Reeds die antieke Chinese militêre wysgeer Sun Tzu het eeue voor Christus geskryf “die essensiële faktor” van ’n krygsmag is “spoed, deur gebruik te maak van ander se mislukking om jou in te haal, deur roetes te gebruik wat hulle nie verwag nie, deur hulle aan te val waar hulle nie op hul hoede is nie” (Sun Tzu 1988:152–3, my vertaling).

Waarskynlik die aanskoulikste beskrywing van die waarde van snelheid en mobiliteit in oorlogvoering is afkomstig van die Britse soldaat, denker en historikus genl.maj. J.F.C. Fuller, wat oor die Duitse inval in Frankryk in Mei 1940 geskryf het:

It was to employ mobility as a psychological weapon: not to kill but to move; not to move to kill but to move to terrify, to bewilder, to perplex, to cause consternation, doubt and confusion in the rear of the enemy, which rumour would magnify until panic became monstrous. In short, its aim was to paralyse not only the enemy’s command but also his government, and paralysis would be in direct proportion to velocity. To paraphrase Danton: “Speed, and still more speed, and always speed” was the secret, and that demanded “de l’audace, et encore de l’audace, et toujours de l’audace”. [“Waagmoed, en meer waagmoed, en altyd waagmoed”.] (Fuller 1961: 256–7)

Toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek, was die Boererepublieke se militêre doktrine, gegrond op wat hulle gedoen het, om strategies offensief en takties defensief te wees. Hulle het die grense van die Kaapkolonie en Natal oorgesteek en toe verdedigende stellings ingeneem ter afwagting van ’n Britse offensief (Scholtz 1999, hoofstukke 2 en 3). Dit het net ’n paar maande gewerk, totdat die oorweldigende Britse oormag die Boere gedwing het om te wyk. Daarna het die Republikeinse kommando’s tot mobiele oorlogvoering oorgegaan, waar hul natuurlike talente tot hul reg gekom het.

Suid-Afrikaanse offisiere was nooit bekend vir die manier waarop hulle oor oorlogvoering geteoretiseer het nie. Die enigste twee wat in die Anglo-Boereoorlog, sy dit op uiters beperkte skaal, kennis van die teorie van oorlogvoering laat blyk het, was genls. Jan Smuts en J.B.M. Hertzog (Scholtz 1999:19–21). Tog het genl. Christiaan de Wet in sy oorlogsherinneringe by tye blyke van teoretiese insigte, gebaseer op sy praktiese ervaring, gegee. So skryf hy byvoorbeeld: “Wij moesten de vijand dus in overleg overtreffen, en de beste wijze om dit te doen, was om rad [snel] te zijn: Rad in het vechten, rad in het verkennen, rad (als het noodig was) in het vluchten” (De Wet 1902:122).

Genl. Jan Smuts het iets soortgelyks kwytgeraak:

While the English columns of mounted infantry on their clumsy horses and accompanied by their long convoys and artillery, including of heavy calibre, would, like a wounded snake, wind their slow strength along, the agile Boer commandoes were easily maintaining their start by short, rapid strides followed by rests which the slower enemy could not afford. The result was that after a so-called chase of some weeks the Boers and their horses would be comparatively fresh and fit for work while the English mounted infantry would be tired and used up and their animals either dead or fit only for the remount camps. (Hancock en Van der Poel (reds.) 1966:669)

Die Amerikaanse oorlogskorrespondent Frederick Howland het op grond van sy ervaring by De Wet se kommando’s in 1900 geskat dat De Wet ’n afstand van 40 km per dag kon aflê teenoor die Britte se 32 km (Howland 1901:180). En dit was nog met ’n walaer, wat die mobiliteit gestrem het. Iets later het De Wet die walaers genadeloos afgeskaf, wat sy beweeglikheid verder verhoog het.

Daar was slegs een keer in die hele Anglo-Boereoorlog dat die Britte ’n groter operasionele mobiliteit as die Boere kon handhaaf. Dit was tydens De Wet se tweede poging om die Kaapkolonie binne te val. Toe die Britte agterkom dat die Vrystaatse perdekommando suidwaarts aan die beweeg was, het hulle hul troepe per spoor tussen Bloemfontein en die Kolonie vervoer om De Wet by die Oranjerivier voor te lê. De Wet het die Britte egter met skynbewegings mislei en die rivier suksesvol oorgesteek. Dat die inval uiteindelik misluk het, was nie aan die Britte se spoormobiliteit toe te skryf nie, maar ongunstige weersomstandighede en die feit dat die Britte die omgewing van perde en wapens gestroop het (Scholtz 2003, hoofstuk 8).

Ook generaals soos Koos de la Rey en Jan Smuts se suksesvolle veldtogte in Wes-Transvaal en die Kaapkolonie was regstreeks aan hul meerdere mobiliteit te danke. Katz (2017b:25) skryf:

The Boer forces were highly mobile, being essentially formed from mounted infantry. They preferred to manoeuvre by conducting a strategic offensive and a tactical defensive. Through manoeuvre and high mobility, they often forced the British to attack in circumstances unfavourable to the attacker. Therefore, the Boers used their superior mobility to ensure that they would conduct a battle on ground of their choosing. Their superior mobility also allowed them to retreat out of harm’s way should conditions on the battlefield warrant a withdrawal. The Boer style of command allowed for a greater amount of initiative on the battlefield compared to their British opponents.

Dié tradisie is ná die Anglo-Boereoorlog voortgesit. Die nuwe Unie-Verdedigingsmagte wat in 1912 ná die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika gestig is, het in sowel hul struktuur as hul doktrine elemente van die Boere en die Britse leër bevat (Katz 2017a:73; Van der Waag 2015:105). Moontlik gedagtig aan hoe die Republieke se aanvanklike statiese-stelling-oorlog in 1899–1900 uiteindelik misluk het, het die Unie-Verdedigingsmagte in sowel die Eerste as die Tweede Wêreldoorlog groot klem op bewegingsoorlog gelê.

Oor die inval in Duits-Suidwes in 1915 skryf Gerald l’Ange (1991:339):

By continually outflanking the strongly entrenched German positions with forced marches that they did not believe could be made, Botha forced them to retreat to avoid being encircled. Thus pitched battles were few.

Botha was guided by the principle that it was better for his men to lose their sweat than their blood. He would rather push them to the limits of their endurance to outflank an enemy than give them an easy march to a bloody confrontation.

Ook in Duitsoos-Afrika – vandag Tanzanië – het Geallieerde magte (onder wie etlike duisende Suid-Afrikaners) onder leiding van genls. Jan Smuts en Jaap van Deventer hulle op mobiliteit toegelê. Volgens brig.genl. J.J. Collyer se amptelike geskiedenis van die stryd in dié gebied was die terugtrekking van die Duitse bevelvoerder, Paul von Lettow-Vorbeck, te danke aan die “outflanking movements by the South African mounted troops”. Dié flankbewegings was verantwoordelik vir die “relatively small loss to the infantry to whose lot fell the final advance against positions of unusual strength” (Collyer 1939:269). Hier kon egter nie die Duitse guerrilla-benadering van Von Lettow-Vorbeck, wat hierop gevolg het, behoorlik vasvat nie (Paice 2007, hoofstukke 14 tot 35).

Veel later, in 1940, het Suid-Afrikaanse magte deelgeneem aan die inval in die Italiaanse kolonies van Ethiopië en Somalië. Dié operasies, waar die Suid-Afrikaners taamlik onafhanklik kon opereer, is eweneens gekenmerk deur hoë mobiliteit en die tradisionele aanwending van berede infanterie. Die enigste verskil was dat die mobiliteit hier nie deur perde verskaf is nie, maar deur vragmotors en ander voertuie.

Oor die blitssnelle opmars na Addis Abeba skryf Brown (1990:182):

They had advanced through desert and mountain at an average speed of 25 miles a day for two months. The rugged Ford troop-carriers with their welded steel bodies, on which the men sprawled on their kit and bedrolls, weapons at hand, had been served by tirelessly efficient mechanics. These had kept the brigade’s vehicles moving for a road distance of 1 750 miles from Nairobi. … All were caught up in the irresistible spirit of Blitzkrieg – the lightning advance that gave the enemy no time to organise effective resistance.

Brig. Eric P. Hartshorn, wat self ’n infanteriebrigade in Oos- en Noord-Afrika gelei het, beskryf die Suid-Afrikaanse doktrine in Somalië en Ethiopië as “turn the flank, crawl like snakes, and dash in like lions” (in Katz 2017a:79). Wat daar gebeur het, was basies ’n gemotoriseerde herhaling van De Wet, De la Rey en Smuts se veldtogte in Suid-Afrika. Dié doktrineverskil was een van die redes vir die voortdurende botsings tussen Suid-Afrikaanse en Britse generaals in Noord-Afrika. “The South Africans had an intense dislike of defending fixed positions and preferred to remain mobile” – aldus Katz (2017a:79). Roland de Vries (in De Vries, Burger en Steenkamp 2017:132) stel dit só:

The SADF’s victory factor was that the genes for mobile warfare had been implanted in the institutional military memory for many generations, slumbering in between wars but ever available to be dusted off and activated when required at any particular time. It was like a chain whose links connected one dangerous time or event to the ones before and after it.

 

5. Misleiding en indirekte benadering

Mobiliteit is geen doel op sigself nie; dit is ’n middel tot ’n doel. Dit is interessant hoe De Vries (1987:31–2) dié idee uitwerk:

Hoë mobiliteit stel vegmagte in staat om die oorlog na vyandelike terrein te voer. Dit skep die vermoë om die vyand te omvleuel of by kwesbare plekke deur te breek en diep in te dring en uit te buit. Dit skep die potensiaal om op die slagveld te maneuvreer, vuurkrag op die deurslaggewende plek en tyd te konsentreer, die vyand te vernietig en vloeibaarheid in operasies te skep.

Uiteindelik gaan dit om die destabilisering van die vyand op die slagveld:

Dit benadruk die gedagte om teen ’n sneller ritme en tempo as die vyand op die slagveld te opereer. Dit is die basiese resep om: die vyand sy kohesie op die slagveld te laat verbrokkel; sy bevel-en-beheerstelsels te laat ineenstort; die vyand sy wil om te veg te ontneem; totale ontwrigting te bewerkstellig. (De Vries 1987:49)

Met dít in gedagte kan ons nou kyk hoe Suid-Afrikaanse veldhere sekere taktiese beginsels op die slagveld toegepas het. Veral twee samehangende beginsels is hier belangrik, te wete misleiding en die indirekte benadering.

Die begrip misleiding op die slagveld is so oud soos die berge. Reeds duisende jare gelede het die Chinese militêre wysgeer Sun Tzu (1988:49) geskryf: “’n Militêre operasie behels misleiding. Selfs as jy bekwaam is, lýk onbekwaam. Ofskoon jy effektief is, lýk oneffektief” (my vertaling). En die Amerikaanse krygshistorikus Bevin Alexander wys daarop dat een van die oudste taktiese metodes is “to attract attention in one place with some gesture, while taking decisive action elsewhere”. Behalwe wanneer hy oorweldigende krag het, “a commander must deceive his enemy so that the blow is not foreseen” (Alexander 2002:74–5).

Dit hang regstreeks saam met die indirekte benadering, ’n begrip wat geskep is deur die Britse militêre denker Basil Liddell Hart. In sy belangrikste werk wys hy daarop dat

[...] effective results in war have rarely been attained unless the approach has had such indirectness as to ensure the opponent’s unreadiness to meet it. The indirectness has usually been physical, and always psychological. In strategy, the longest way round is often the shortest way home.

More and more clearly has the lesson emerged that a direct approach to one’s mental object, or physical objective, along the “line of natural expectation” for the opponent, tends to produce negative results. … To move along the line of natural expectation consolidates the opponent’s balance and thus increases his resisting power. (Liddell Hart 1960:25)

Dit is waarom hy aanbeveel: “Choose the line (or course) of least expectation”, en “Exploit the line of least resistance” (Liddell Hart 1960:348).

Sonder dat die Boeregeneraals ooit in dié soort teorie onderrig is, het hulle dit instinktief begryp. Twee voorbeelde – daar is talle meer – uit De Wet se oorlogservarings wys dit duidelik.

Die eerste was De Wet se tweede poging om die Kaapkolonie binne te val. Uit die ervaring van sy eerste, mislukte poging het hy geleer dat die spoorlyn tussen Bloemfontein en die Kolonie aan die Britte ’n mobiliteit verleen het wat hy onmoontlik met ’n perdekommando kon ewenaar. Dus moes hy op iets anders staatmaak – misleiding van die vyand. Gevolglik het De Wet die Britte deur sy bewegings onder die indruk gebring dat hy die Kolonie oos van die spoorlyn gaan binneval. Op nommer laaste het hy egter weswaarts oor die spoorlyn gebreek en die grens wes daarvan oorgesteek (Scholtz 2003:225–35).

Die tweede was De Wet se skitterende oorwinning op Kersaand 1901. Hy het sorgvuldig ’n geïsoleerde vyandelike eenheid uitgekies met ’n basis op Groenkop naby Bethlehem. Deur sy verkenning het die generaal gesien dat die helling na die kop se kruin aan die oostekant steil is en aan die westekant meer geleidelik. Die Britte het gevolglik aangeneem dat indien die Boere sou aanval, dit aan die makliker toeganklike westekant sou gebeur. En dus het hulle inderdaad die swaartepunt van hul verdediging juis aan die westekant geplaas.

Bowendien het De Wet vooraf verhale versprei dat hy die omgewing na Winburg verlaat het. En toe val hy op Kersaand (met die Britte wat weens die feestelike tyd hul aandag verslap) van die westekant aan, van die kant waar die Britte dit nie verwag het nie. Dit was ’n tipiese voorbeeld van waar misleiding en die indirekte benadering gekombineer is (Scholtz 2003:287–95). Terloops, in sy boek oor mobiele oorlogvoering behandel De Vries (1987:130–1) die Slag van Groenkop juis as ’n gevallestudie.

In sy onvoltooide herinneringe sê genl. Koos de la Rey hy het nie geglo in “skynbewegings” en “flankbewegings” nie (Raath 2007:139, 316). Maar in die konteks waarin hy die terme gebruik, is dit twyfelagtig of dié ongeleerde Boer, wat nooit enige formele opleiding gehad het nie, begryp het wat hulle beteken.

Jan Smuts laat hom juis só uit oor De la Rey se operasionele benadering in die Wes-Transvaal:

De la Rey’s idea was rather to fight and keep in closest touch with the enemy wherever possible and always to be on the alert and to watch for an opportunity to strike an effective counter-stroke; and often months of more or less severe fighting would pass before the inexperience or the foolhardiness of his opponent would afford him an opportunity for striking such a return blow. He masked his essentially offensive plan in continual retreats until at last his unwary enemy was lulled into a false sense of security and would think he was no longer worth much care or watchfulness; and then he would pull his forces suddenly together at a suitable opportunity and like a tiger make a terrific spring on his enemy. (Hancock en Van der Poel 1966:608)

In die Grensoorlog is dieselfde benadering geïllustreer. Reeds in 1966, toe die destydse kol. Constand Viljoen bevelvoerder van die Militêre Kollege in Voortrekkerhoogte geword het, het hy besef dat die Tweede Wêreldoorlogse liniêre benadering nie in Afrika sou werk nie. In ’n onderhoud het hy later vertel die besef het posgevat dat “ons hele taktiese doktrine verkeerd is. Toe begin ons met die idee van mobiele oorlogvoering.” Dit was “nie daarop gebaseer om grondgebied te behou nie, maar om die geveg só te ontwerp dat jy die vyand tot op ’n slagveld lok en dan, met [die gebruik van] die superioriteit van vuurkrag en beweging, sal jy hom heeltemal doodmaak … Moet nooit aan ’n geveg dink wat met El Alamein vergelyk kan word nie, dis heeltemal onmoontlik. In Afrika opereer jy nie op daardie manier nie” (Scholtz 2013:43–4).

Fred Bridgland beskryf die operasionele benadering van kol. Deon Ferreira, bevelvoerder van 20 SA Brigade, tot die Slag van die Lomba, 3 Oktober 1987 só (waarskynlik op grond van ’n onderhoud met Ferreira): “[t]o exhaust the brigade and draw it into a ‘killing ground’ where the advantage would be with his small force which, like the Boer armies of old, aimed to keep the enemy off balance with fast-moving, unorthodox and aggressive manoeuvres until FAPLA began to make major mistakes” (Bridgland 1990:122).

Dis woorde wat essensieel identies is met hoe Smuts De la Rey se benadering beskryf. Aan die Lomba het Fapla se 47 Brigade (die enigste formasie wat tot suid van die Lombarivier kon deurdring) homself in ’n ondeurdringbare woud verskans. Die Suid-Afrikaanse bevelvoerder, kol. Deon Ferreira, het ná twee vergeefse aanvalle ingesien dat verdere aanslae vrugteloos sou wees. Terselfdertyd is die brigade daardeur geïsoleer. Dus het Ferreira die formasie deur sy artillerie en lugaanvalle sodanig uitgemergel dat die Angolese voorrade opgeraak het en hulle die woudvesting móés verlaat. Die oomblik toe hulle in oper terrein inbeweeg het, was hulle kwesbaar, en toe het Ferreira hulle in die beweging volkome onverwags met ’n verwoestende flankaanval getref en prakties uitgewis. Ferreira het die geveg só bestuur dat ’n oorwinning feitlik onafwendbaar was voordat ’n skoot geskiet is. Hy het die vyand aangeval toe dié kwesbaar was en dit nie verwag het nie (Scholtz 2017:48–73).

Hierna het Ferreira die volgende twee veldslae se gevegsontwerp aan sy tweede in bevel, Roland de Vries oorgelaat.

De Vries se boek oor mobiele oorlogvoering het net ’n paar maande tevore verskyn, en dit sou die moeite werd wees om eers aandag daaraan te gee.

In dié boek het De Vries Liddell Hart se idees oor die indirekte benadering in twee opsigte verder uitgewerk. Die eerste was ontwrigting: “Hierdie gedagte onderstreep die belangrikheid van sielkundige en fisiese ontwrigting. ’n Ontwrigtingsaksie moet enige operasie voorafgaan – die geleentheid moet geskep word.” Tweedens, uitbuiting: “Laasgenoemde idee benadruk die belangrikheid om die geleentheid wat geskep is op beslissende wyse drasties uit te buit – dit is voordat die vyand sy ewewig herwin het.” Die basiese doel, het hy gemeen, “moet dus wees om die vyand op vindingryke wyse te uitoorlê, eerder as om in ’n kop aan kop volskaalse konfrontasie betrek te word – Bloed is beslis nie die prys van oorwinning nie” (De Vries 1987:xxii; De Vries, Burger en Steenkamp 2017:112).

Met dit – en die eksplisiete aanwending van die beginsels van oorlogvoering – het De Vries die twee aanvalle op Fapla se 16 Brigade by die Chambingarivier op 9 en 11 November 1987 beplan. Allereers het hy dié brigade uitgekies omdat dit taamlik geïsoleer was. Deur ’n steekaanval op twee ander Fapla-brigades verder suidwaarts het hy hulle verhinder om 16 Brigade te gaan help. Op 9 November het hy ’n misleidingsaanval uit die suidweste op die brigade gedoen, en toe die Angolese se aandag volledig op dié rigting gerig was, skielik met sy sterkste veggroep verwoestend uit die noordweste aangeval. Twee dae later het hy die uitskakeling van die brigade voltooi deur ’n spieëlbeeld van die eerste geveg: eers ’n misleidingsaanval uit die noordweste, en toe sy hoofaanval uit die suidooste. ’n Deel van die brigade het weliswaar ontsnap, maar die formasie is só vermink dat dit vir alle praktiese doeleindes opgehou bestaan en selfs uit Fapla se gevegsorde verdwyn het (Scholtz 2018:350–81).

 

6. Taktiek

De Vries was ’n professionele offisier wat ’n deeglike studie van die teorie en praktyk van oorlogvoering gemaak het. Uit sy geskrifte en dade blyk dat hy dit uitstekend begryp het en inderdaad as een van die briljantste Afrikaner-offisiere van alle tye beskryf kan word. Ná die Grensoorlog het hy sy studie van oorlogvoering voortgesit en sy boek oor mobiele oorlogvoering in die lig van sy ervaring in die oorlog en nuwe insigte heeltemal oorgeskryf (De Vries, Burger en Steenkamp 2017).

Mense soos Christiaan de Wet, Koos de la Rey, Louis Botha en Jan Smuts het óf glad nie óf slegs sydelings met die teorie van oorlogvoering kennis gemaak. Tog het daar niks aan hul taktiese insigte geskort nie. Ons het reeds kennis gemaak met De Wet se natuurlike taktiese instink in die Slag van Groenkop, maar hy was nie die enigste taktikus nie. Ons kan dus na ’n tweede voorbeeld kyk: dié van Koos de la Rey by die Slag van Magersfontein, 11 Desember 1899.

Die Slag van Magersfontein het gevolg op drie vorige gevegte: dié by Belmont (23 November 1899), Graspan (25 November) en Modderrivier (28 November). In al drie was die Boere (onder die onbetekenende veggenl. Jacobus Prinsloo) op die verdediging om te keer dat die Britte na die beleërde Kimberley deurbreek, maar die Britte was telkens te sterk. By die Modderrivier het De la Rey, wat intussen as versterking aangekom het, opgemerk dat die rivieroewer ’n natuurlike sterk verdedigingsposisie vorm. Ofskoon die Boere ook hier nie kon standhou nie en noordwaarts tot by Magersfonteinkop moes terugtrek, het De la Rey die komende geveg uitstekend vooraf bestuur (Breytenbach 1971:102–5; Pakenham 1979:199–200).

Die plaaslike Republikeinse bevelvoerder, genl. Piet Cronjé, wou hê dat die kommando’s stelling op Magersfonteinkop inneem. Maar De la Rey het ingesien dat die kop die natuurlike posisie sou wees, en dat die Britte gevolglik die Boere se stellings daar sou verwag. Dus het De la Rey Cronjé – weliswaar ná ’n skerp koppestampery – oortuig om loopgrawe aan die voet van Magersfonteinkop te grawe. Dit sou nie alleen beteken dat die verdedigers die onvermydelike Britse bombardement sou vryspring nie, maar ook dat die aanvallers as ’t ware in ’n hinderlaag gelei sou word.

Loopgrawe was weliswaar as sodanig nie nuut nie – dit is al in die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) gebruik. Maar De la Rey se geniale gedagte was om die loopgrawe te posisioneer waar die Britte hulle nie verwag het nie, naamlik aan die voet van Magersfronteinkop, soos reeds gemeld. Opnuut ’n staaltjie van skitterende misleiding.

Dit het baie goed gewerk. Vroeg die oggend van 11 Desember, toe die Britse infanterie onder dekking van ’n oorweldigende bombardement op Magersfonteinkop oor die kaal vlakte opruk, is hulle opeens op kort afstand deur geweldige geweervuur begroet. Hulle moes platval en die oorlewendes moes sowat die hele dag in die bloedige son lê totdat hulle onder dekking van die donker met swaar verliese kon onttrek (Breytenbach 1971, hoofstuk 6; Pakenham 1979, hoofstuk 18).

Terloops, al was De la Rey toevallig nie daar op dié dag nie, het hy die geveg vooraf só bestuur dat die botsing eintlik gewonne was nog voor die eerste skoot geval het.

Die punt is dat die Afrikaners op taktiese gebied – in sowel die Anglo-Boereoorlog as die Grensoorlog – ’n natuurlike instink gehad het wat hulle baie goed te staan gekom het.

Op operasionele en strategiese vlak was dit egter ’n ietwat ander storie.

 

7. Operasioneel en strategies

Taktiese insig stel jou nie outomaties in staat om ook insig op operasionele en strategiese vlak te hê nie. Afrikaners is op verskeie terreine – militêr, ekonomies, polities – takties dikwels goed. Maar om operasioneel en strategies te kan dink verg meestal ’n spesiale talent wat nie almal het nie.

De Wet is ’n goeie voorbeeld. ’n Beter taktikus kan jy jou byna nie voorstel nie, en heeltemal sonder strategiese insig was hy ook nie. Maar sy twee pogings om die Kaapkolonie binne te val het skipbreuk gely juis weens sy gebrekkige operasionele en strategiese gevoel.

In September 1900 het die Boereleiers (weliswaar in die afwesigheid van De Wet) by Syferfontein in Wes-Transvaal op ’n breë operasionele en strategiese plan besluit. Die vernaamste aspek daarvan was ’n gelyktydige inval in Natal en die Kaapkolonie. Dit het die potensiaal gehad om die Britse oorlogspoging só te ooreis dat ’n politieke kompromis moontlik kon word (Scholtz 1999:126–40).

Maar dit sou net kon slaag as die Transvalers en Vrystaters hande vat en behoorlik gekoördineerd optree. Helaas vir die Republieke het De Wet twee keer besluit om die Kolonie op sy eie binne te val. Vanweë verskeie faktore het albei pogings misluk. Belangriker is egter die feit dat dit die Britte gewaarsku het. Die Britse bevelvoerder, lord Kitchener, het dus deurtastend gereageer. Hy het die distrikte waar die Boere verwag is, van perde en vuurwapens gestroop, en dit só vir die koloniale Afrikaner-simpatiseerders onmoontlik gemaak om hulle by die kommando’s te voeg en in opstand te kom. Die enigste gevolg was ’n kleinerige kommando wat uiteindelik in September 1901 onder leiding van Jan Smuts tot in die Kaapkolonie deurgedring het. Smuts se buitengewone taktiese talente het gesorg vir ’n epiese tog regdeur die Oos-Kaap en die Kaapse Middelland tot in die noordwes-Kaap, waar hy ’n hoogs suksesvolle guerrilla-oorlog teen die Britte gevoer het. Maar die noordwes-Kaap was as ’t ware ’n dunbevolkte buitepos sonder veel strategiese belang. En dus, toe die Boereleiers in Mei 1902 te Vereeniging byeenkom om oor vrede te beraadslaag, moes Smuts hulle meedeel dat die Kolonie nie die redding sou bring nie (Scholtz 1999:142–52 en 166–80). Dit was die regstreekse gevolg van De Wet se gebrekkige operasionele en strategiese insigte.

Iets soortgelyks het ook tydens die Grensoorlog gebeur. Nadat die SAW-magte die Fapla-offensief in September–Oktober 1987 aan die Lombarivier tot stilstand gebring en uitmekaar geslaan het, is daar met die seën van pres. P.W. Botha op ’n teenoffensief besluit. Die idee was om Fapla só hard te slaan dat dié sy jaarlikse offensiewe teen Unita in 1985, 1986 en 1987 nie in 1988 sou kon herhaal nie.

Die vraag was watter roete vir die teenoffensief gebruik sou word. De Vries en sy aanhangers het voorgestel dat ’n houmag naby die Lombaslagvelde, oos van die Cuitorivier, gelaat word om Fapla daar te bind en te mislei. Terselfdertyd sou ’n sterk gemeganiseerde mag met tenks en artillerie wes van die Cuito ingestuur word. In dié gebied was daar byna geen Fapla-magte nie, hoogstens ’n kompanie ’n ent suid van Cuito Cuanavale; die meeste Angolese eenhede was in die gebied oos van die rivier gekonsentreer (Scholtz 2013:290–3).

De Vries se plan het die voordeel gehad dat die vyand se krag ontwyk kon word, dat die opmars sou plaasvind in ’n gebied waar Fapla swak was en ’n opmars nie verwag het nie. Maar dit was ’n onortodokse plan wat nie in goeie aarde by die versigtige SAW-leierskap geval het nie. Die generaals – en hier dink ’n mens veral aan Jannie Geldenhuys, hoof van die SAW, en Kat Liebenberg, hoof van die leër – se operasionele insigte het hulle hier in die steek gelaat. Hulle het bepaal dat die opmars op die ortodokse manier, oos van die Cuito, sou plaasvind. In die proses het die Suid-Afrikaners (soos by die Chambinga, wat hier bo bespreek is) ’n paar skitterende taktiese oorwinnings behaal. Maar dit was ook regstreeks verantwoordelik vir die feit dat die SAW noord van die Chambinga in takties onvoordelige terrein gekom het. En dít het uitgeloop op die drie mislukte aanvalle op die Tumpo-driehoek (25 Februarie, 1 Maart en 23 Maart 1988), wat Fapla en die Kubane in staat gestel het om op ’n weergalose propagandasege aanspraak te maak (Scholtz 2013, hoofstukke 13 tot 15).

Dié benadering het ook daartoe gelei dat Operasies Moduler, Hooper en Packer, soos die SAW-ingryping aan die kant van die Angolese rebellebeweging União Nacional para la Independencia Total de Angola (Unita) bekend gestaan het, ’n volle ses maande geduur het. Dit op ’n tydstip dat die Suid-Afrikaanse regering weens die opstande in die townships en sy internasionale isolasie kniediep in die moeilikheid was, waardeur die land eintlik geen uitgerekte militêre veldtog in Angola kon bekostig nie (Scholtz 2013:251–5).

Daarteenoor staan wel die feit dat veral Geldenhuys ’n goeie politieke aanvoeling gehad het. Tydens die onderhandelinge in 1988 met die Kubane en Angolese het hy ’n waardevolle en selfs onontbeerlike rol gespeel. Dit neem egter nie weg dat die hoogste offisiere in die SAW die tipiese Suid-Afrikaanse klem op taktiek gehad het, maar op operasionele en strategiese vlak minder goed gevaar het nie. Daar het hulle die neiging van hul voorgangers in die Anglo-Boereoorlog voortgesit.

 

8. Gevolgtrekking

Die meeste elemente van die Suid-Afrikaners se krygstradisie, goed en sleg, was reeds in die Anglo-Boereoorlog sigbaar. Die Republikeinse oorlogspoging het oorweldigend op berede infanterie berus; die kommando’s se mobiliteit was ongeëwenaard en is met afguns deur die Britte bejeën; die offisiere se taktiese insigte was meestal ongelooflik goed. Daarteenoor het hul operasionele en strategiese insigte hulle dikwels in die steek gelaat. Dít, saam met hul gebrekkige organisasie en dissipline, was van die belangrikste redes waarom die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 in Melrose-Huis op ’n voorwaardelike oorgawe neergekom het.

Die Afrikaners se organisasievermoë en dissipline het natuurlik later verbeter. Teen die tyd van die Grensoorlog het dit geen millimeter teruggestaan vir enige ander weermag ter wêreld nie. Wel het die individuele onafhanklikheidsin van die Republikeinse Boere op ’n gesonde manier in die latere SA Weermag voortbestaan. Dit het voortbestaan in die oorname van die Duitse Auftragstaktik, wat offisiere aanmoedig om binne die grense van die breë opdrag eie inisiatief te gebruik, pleks van die blinde dissipline wat aan die ander kant by die Angolese en Kubaanse magte gegeld het.

Hoe ook al, die Anglo-Boereoorlog het ’n duidelike bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaners se trotse krygstradisie. Dit het ’n vaste fondament geskep waarop later in die twee wêreldoorloë en die Grensoorlog voortgebou kon word.

Die getuienis dui dus op die bestaan van ’n eiesoortige Suid-Afrikaanse militêre doktrine: ’n begeerte om ongevalle te vermy; maneuvrering en flankaanvalle eerder as frontale aanvalle; mobiliteit; en die indirekte benadering. Dit is weliswaar nie altyd nagekom nie – tydens die Suid-Afrikaanse deelname aan die Tweede Wêreldoorlog in Noord-Afrika en Italië (toe onder Britse en Amerikaanse bevel) is hulle gedwing om die algemene liniêre benadering na te volg. Maar in die Grensoorlog het die natuurlike neiging om te maneuvreer en die vyand deur beweging en mobiliteit te uitoorlê weer tot sy reg gekom. Dié benadering vertoon opvallende ooreenkomste met die Duitse Bewegungskrieg. Dis trouens ’n ontwikkeling waaroor indringende navorsing nog gedoen moet word.

Die Britse krygshistorikus Geoffrey Parker identifiseer vyf elemente waarop die Westerse manier van oorlogvoering berus. Westerse weermagte het swaar staat gemaak op “superior technology, usually to compensate for inferior numbers”. Verder het dié beter tegnologie gepaard gegaan met “better war plans, the achievement of surprise, greater economic strength and, above all, superior discipline”. Dit alles het die vermoë teweeg gebring “to compensate for numerical inferiority” (Parker 1995:3). Die Suid-Afrikaanse manier van oorlogvoering het nie van die begin af hieraan voldoen nie, maar het in die loop van die 20ste eeu duidelik in daardie rigting ontwikkel.

Helaas het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die jare ná 1994 onvoldoende geleer van die ou SAW se professionele benadering. Só het Suid-Afrika se krygsmagte weg van die Westerse tradisie in die rigting van die Afrikatradisie beweeg. Howe beskryf die Afrika-benadering só: “The civil-military divide has been breached by civilians attempting to manipulate military affairs and by military officers who pursue political control of the state. The resultant weaker militaries increasingly threaten state legitimacy in the post-Cold War era” (Howe 2001:3).

Dit is des te meer tragies dat die generaals in Pretoria in die laaste stadiums van Operasies Moduler, Hooper en Packer weer teruggekeer het tot die gediskrediteerde Tweede Wêreldoorlogse liniêre benadering.

 

Bibliografie

Alexander, B. 2002. How wars are won. The 13 rules of war from Ancient Greece to the war on terror. New York: Three Rivers Press.

Bakkes, C.M. 1981. Dagboek van kmdt. C.M. Bakkes gehou aan die hoofkwartier van Sektor 10, Ovambo, tydens Operasie Protea (Augustus–September 1981). Ongepubliseerd; faksimilee in my besit.

Birkby, C. 1987. Uncle George. The Boer boyhood, letters and battles of Lieutenant-General George Edwin Brink. Johannesburg: Jonathan Ball.

Breytenbach, J.H. 1971. Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, II. Pretoria: Staatsdrukker.

Bridgland, F. 1990. The War for Africa. Twelve months that transformed a continent. Gibraltar: Ashanti.

Brown, J.A. 1990. The War of a Hundred Days. Springboks in Somalia and Abyssinia 1940–1941. Johannesburg: Ashanti.

Carasso-Kok, M. 1988. Schutters in Holland: kracht en zenuwen van de stad. Zwolle: Waanders.

Collectie Asselbergs. 1902. Rijksargief Den Haag.

Collyer, J.J. 1939. The South Africans with General Smuts in German East Africa, 1916. Pretoria: Staatsdrukker.

De Vries, R. 1987. Mobiele oorlogvoering. ’n Perspektief vir Suider-Afrika. Menlopark: F.J.N. Harman.

De Vries, R. en I. McCaig. 1987. Mobile warfare in Southern Africa. Strategic Review, Augustus, ble. 11–20.

De Vries, R., C. Burger en W. Steenkamp. 2017. Mobile warfare for Africa. On the successful conduct of wars in Africa and beyond – Lessons learned from the South African Border War. Solihull: Helion.

De Wet, C.R. 1902. De strijd tusschen Boer en Brit. Amsterdam: Höveker & Wormser.

Digby, P.K.A. 2016. Pyramids and poppies. The 1st SA Infantry Brigade in Libya, France and Flanders 1915–1919. Solihull: Helion.

Ferreira, O.J.O. 1976. Die staatsartillerie van die ZAR. Militaria, 6(2):1–15.

Fuller, J.F.C. 1961. The conduct of war 1789–1961. A study of the impact of the French, Industrial and Russian Revolutions on war and its conduct. Londen: Eyre & Spottiswoode.

Hancock, W.J. en J. van der Poel (reds.). 1966. Selections from the Smuts Papers, I. Cambridge: Cambridge University Press.

Howe, H.M. 2001. Ambiguous order: Military forces in African states. Londen, Lynne Reiner.

Howland, F. 1901. The chase of De Wet and other later phases of the Boer War as seen by an American correspondent. Providence: Preston.

Katz, D.B. 2017a. South Africans versus Rommel: The untold story of the desert war in World War II. Londen: Stackpole.

—. 2017b. A clash of military doctrine: Brigadier-General Wilfrid Malleson and the South Africans at Salaita Hill, February 1916. Historia, 62(1):19–47.

Kemp, J.C.G. 1941. Vir vryheid en vir reg. Kaapstad: Nasionale Pers.

Kestell, J.D. en D.E. van Velden (reds.). 1902. De vredesonderhandelingen tusschen de regeeringen der twee Zuid-Afrikaansche republieken en de vertegenwoordigers der Britsche regeering, welke uitliepen op den vrede, op 31 Mei te Vereeniging gesloten. Amsterdam: J.H. de Bussy.

Kros, J. 1992. War in Italy. With the South Africans from Taranto to the Alps. Rivonia: Ashanti.

L’Ange, Gerald. 1991. Urgent Imperial Service. South African forces in German South West Africa 1914–1915. Rivonia: Ashanti.

Liddell Hart, B.H. 1960. Strategy. Londen: Praeger.

Paice, E. 2007. Tip and run: The untold tragedy of the Great War in Africa. Londen: Weidenfeld & Nicolson.

Pakenham, T. 1979. The Boer War. Londen: Weidenfeld & Nicolson.

Paret, P. 1986. Makers of modern strategy from Machiavelli to the nuclear age. Clarendon: Oxford Press.

Parker, G. 1995. The Cambridge illustrated history of warfare. The triumph of the West. Cambridge: Cambridge University Press.

Raath, A.W.G. 2007. De la Rey. ’n Stryd vir vryheid. Brandfort: Kraal.

Scholtz, G.D. 1967. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner, I. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Scholtz, L. 1999. Waarom die Boere die Oorlog verloor het. Pretoria: Protea.

—. 2003. Generaal Christiaan de Wet as veldheer. Pretoria: Protea.

—. 2013. Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2017. The Battle of the Lomba, 3 October 1987: A tactical and operational analysis. Journal for Contemporary History, 42(2):48–73.

—. 2018. Die Slag van die Chambinga, 9 en 11 November 1987: ’n taktiese en operasionele ontleding. LitNet Akademies, 15(3):351–81. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Scholtz_351-381.pdf.

Sloan, G. 2012. Military doctrine, command philosophy and the generation of fighting power: genesis and theory. International Affairs, 88(2):243–63.

Steenkamp, W. 2008. The shaping of the South African soldier, 1508–2008. Journal for Contemporary History, 34(1):207–22.

—. 2012. Assegais, drums & dragoons. A military & social history of the Cape. Johannesburg: Jonathan Ball.

Sun Tzu. 1988. The art of war. Vertaal deur T. Cleary. Boston: Shambhala.

Van der Waag, I. 2015. South African defence in the age of total war, 1900–1940. Historia, 60(1):129–55.

Van Leussen, W.L. 2019. Opdrachtgerichte commandovoering: Het geheime wapen voor een rubuuste en wendbare krijgsmacht. Militaire Spectator, 188(2):61–71.

 

Eindnota

1 Dié artikel is in groot mate gebaseer op ’n voorlesing wat die skrywer op 6 April 2019 voor die Vriende van die Oorlogsmuseum in Melrose-Huis, Pretoria, gelewer het.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 33

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Interessant, daar word altyd oor krygstaktiek geskryf, maar nie oor die swak dienslewering voor ABO aan burgers in Vrystaat en ZAR. Baie min of geen mediese dienste, swak skoolopleiding, slegte infra-struktuur bv rioolering en paaie.
    Dissipline was sleg in ABO kommandos.
    Die skrywer laat na dat militêre personeel uit bv Frankryk, Duitsland en Rusland ook bygedra het tot aanvanklike loopgrawe en latere veg en vlug taktiek.
    Piet Cronje, die "generaal" wat boeke oor militêre taktiek gelees het, was gou op St Helena saam met sy vrou. Hy is nie juis "held", net soos Piet Joubert wie soos 'n Pruisiese generaal rondgeloop het, instede van aanvanklike suksesse opvolg.

  • Hans Richardt

    Om die Boere se tegniek op te som in 2 woorde: nie-liniêre oorlogvoering. Dit word in ander doktrine ook byna dieselde verwoord, bv Chinese Art of warfare.

  • Hans, kan jy bietjie meer vertel oor die boere se gebruik van nie-liniere oorlogvoering en die Chinese kuns van oorlog? Wat sou jy dink moes die boeregeneraals se ‘krygstaktiek’ gewees het?

  • Hans Richardt

    Abel, die Boere generaals het eers goeie taktiek gehad, na Piet Cronje gevangene geneem was en Piet Joubert dood is.
    Lees Art of Warfare.
    Nie-liniêre oorlogvoering, is selfs vir VSA met ruimte tegnologie onoorwinbaar.

  • Hans Richardt

    Abel, lees ook op oor Mao Tsedong se People's war.
    Ongelukkig was kerk en staat nie geskei van mekaar en was besluite te stadig geneem.
    In Vietnam het Vsa oorlog verloor, want hul troepe was van lae IK.
    Elke nie-liniêre oorlog het 4 vlakke-
    Sosiaal
    Ekonomies
    Polities
    Militêr
    Het jy militêre oorhand met soldate getalle en toerusting, maar geen invloed op 1ste 3 vlakke, sal jy verloor soos in Afghanistan en Irak.
    Sou Scholtz sy analise op 4 vlakke ontleed het, sou hy sien waar Kitchener oorhand gekry het in ABO.

  • Hans, ek weet baie min van die militêre goed. Sou jy dan wou argumenteer dat daar eintlik geen kans is dat enige weermag suksesvol in 'n 'nie-liniêre' situasie kan wees nie. Veral dan nie as jou soldate oor 'n lae IK beskik soos jy te kenne gee die geval was met die VSA in Vietnam.

  • Hans Richardt

    Abel, die VSA het nooit oorlog met Noord-Korea klaargemaak nie, daar is nog steeds wapenstilstand, geen vredesakkoord. Daarna Vietnam, Afghanistan, Irak... Maak jou eie afleidings. Baie min bv Harvard-gegradueerdes in VSA-weermag. Die VSA maak oorlog, maar bedryf ook misdaadsindikate terselfdetyd. Baie bendes uit bv Bronx in Marines...

  • Hans Richardt

    Om terug te kom na die 4 vlakke van nie-liniêre oorlogvoering -
    Sosiaal - krygsgevangenes en konsentrasiekampe het sosiale orde van Boere vernietig.
    Ekonomies - Scorched earth het boerderye vernietig en myne was ook buite produksie.
    Polities - net Pres Steyn wat te velde was, met Kruger in Switserland. Britse magte was betaal en Boere was, dikwels onwillig, vrywilligers op hulself aangewese vir alles.
    Militêr - Brittanje het koloniale magte en verraaiers en hensoppers gehad. Boere kon nie kommandos aanvul nie. Brittanje het beter en konstante voorsieningslyne gehad, Boere het geen voorsieningslyne gehad na eerste 6 maande van ABO.
    Takties kon burgers op hul eie funksioneer in kleiner groepe en was kommandos nie altyd groot groepe nie, met voorgeskrewe beheer en bevelstrukture nie.

  • Baie interresante bydrae. Volgens my is die "konvensionele oorlogvoering" vir altyd verby. Dit was op 'n stadium die aangewese manier en het seker uit die "oertye" ontstaan toe daar met jou soldate opgeruk is en julle man tot man geveg het. As ek dit reg het die "mobiele oorlogvoering" tydens die ABO ontstaan. Jy beweeg in kleiner groepe en slaan toe, beweeg weg en val weer vanuit 'n ander rigting aan. Soos in die skrywe genoem is dit seker die mees suksesvolle metode in Afrika en kan moontlik in die toekoms ook toegepas word. Ongelukkig is die dae van die ou oorlogvoering vir altyd verby. Bring jou duisend man en ons bring ons duisend man en ons veg dat die bloed loop. Met die hedendaagse tegnologie en toerusting kan jy jou vyand duisende kilometers van jou af vlenters skiet en vewoes. Al wanneer die menslike faktor 'n rol gaan speel is om iemand in te stuur om die lyke op te tel. Tragies daardie tyd is ook verby.

  • Hans Richardt

    Reusedwerg, met al die Vsa se ruimte tegnologie, kon hul nog steeds nie nie-liniêre oorlog teen bv Taliban op donkie en perde se ruêns of te voet, deurslaggewend afhandel na byna 2 dekades, met huursoldate van bv Blackwater op die grond.
    Kleintaktiek help hierdie Taliban, wat minimum formele militêre opleiding het. Die voordeel wat Taliban het, hul is aangewese op PB's en vertroud met terrein.
    Die Vsa oorweeg al om genetiese gemanupileerde soldate te gebruik in nie-liniêre oorlogvoering.

  • Reusedwerg - "Volgens my is die 'konvensionele oorlogvoering' vir altyd verby." Die antwoord is "nee". Kom ek haal Prof Colin Gray aan wat die huidige voorkoms van konvensionele oorlog betref - "it is down but not out". En hy gee vyf redes daarvoor. Gaan lees gerus verder in hoofstuk 5 van sy boek "Another Bloody Century: Future War". Die vyf argumente hou verband met die koste van "regular interstate war" nl die ekonomiese argument; die wydverspreide voorkoms van kernwapens; die VSA se magspotensiaal as hipermoondheid; die opkoms van demokrasie (the Scotch verdict of democracies don't fight each other; en die liberale aard van post-religieuse en post-militêre aard van ’n groot deel van die Westerse samelewing - Wes-Europa in die besonder. Nie een van hierdie argumente is waterdigte argumente wat die gebruik van gereelde oorlog in die toekoms tot nul maak nie.

  • OK - so let me make a couple of points about the usefulness of contemporary conventional power. Please read prof. John Ferris in this regard. Conventional power is a great but limited tool of state. It once was a spear for the strong against the strong; now it is most valuable as a weapon against the weak. At present it is and remains the main shield for most states, but the sword of choice for few. Conventional power is most useful as a negative than a positive tool: to stop others from moving, as against doing so oneself. Thus, its value is mostly in deterrence and compellence. Conventional power is a fundamental means to demonstrate resolve, or support any strategies of dissuasion and compellence, though not more so than nuclear power and diplomatic influence. Many of the consequences of CP lie in what it drives states to do elsewhere – in deterring people from using an obvious tool, and in driving them to develop others. In short, the pure game of conventional war is played in a narrow field between two limits: weapons of mass destruction on the on hand and terrorism and guerrilla warfare on the other. In many ways it is like All Black rugby - too much success drives one’s rival off the field to play on others. A rational enemy plays to its strengths and not yours. Thus, strength in the conventional domain is forcing your enemies off the field to search for alternatives - in the irregular domain.

  • Reusedwerg - "As ek dit reg het, het die "mobiele oorlogvoering" tydens die ABO ontstaan." Ek is nie seker wat jy bedoel met mobiele oorlog nie. As dit verwys na onkonvensionele oorlog moet jy iewers die moeite doen om oor die geskiedenis en oorsprong van die sogenaamde "Fabian strategy" te lees. Indien jy na mobiele oorlog verwys binne die konteks van gereelde oorlogvoering en sogenaamde "Blitzkrieg" will ek jou aanbeveel om na Sun Tsu se idee van die indirekte oorlog te bestudeer en dan op te lees oor die Duitse ontwikkeling van sogenaamde 'operational art' in die na-Napoleontiese era.

  • Hans Richardt - ek glo nie aan 'conspiracy' nie en baie van jou argumente reflekteer ’n misplaaste begrip van militêre strategie "as the dialectic of two opposing wills using force to resolve their dispute". Sien my antwoord rakende die voorkoms van 'regular interstate war' in die wêreld op die oomblik. Jou argumente oor die VSA is gebaseer op opinie; nie feite nie. Ek will jou tog aanraai om Prof Victor Davis Hansen se boek "Carnage and Culture" te lees. Miskien raak jy iets wys oor "the Western way of war" en "the American way of war". Lees ook Prof Stephen Biddle se boek "Military Power: Explaining Victory and Defeat in Modern Battle" waar hy in diepte skryf oor die sogenaamde "modern military method of force employment". But let me make a couple of remarks about the contemporary western and American way of war. Major wars between Western states have become somewhat obsolete. However, the West is still willing and able to fight wars – and has been doing so regularly. West warfare has been variously described as spectator sport war or CNN Wars. It is wars that are localised in conduct and impact. It is more often than not focused on a narrow concern - often the replacement of a particular regime or leader. Western wars are therefore of an expeditionary nature. The armed forces of the opposing state and its citizens are not seen "as the enemy". Thus, the need to minimise ‘collateral damage’ because civilians are no longer seen as legitimate targets. Western warfare is characterised by low levels of societal participation and conduct and participation by small professional armed forces. Western wars are wars of choice rather than survival; wars in which a small numbers of casualties may have dramatic political repercussions. This directs them to the use of air power as the weapon of choice. Air power is easy to deploy and provide quick and direct access to enemy leadership. It is accurate and the west enjoys a comparative advantage. The West can achieve its objects through the use of air power very often without engaging the mass of the enemy armed forces and without high numbers of western casualties.

  • Dankie Abel. Die oorlogsvoering metodes kom daarop neer dat jy die mees gevorderde tegnolgie kan besit maar nie 'n oorlog wen nie. Dit is dieselfde met intelligensie invordering. Jy kan wat se tegnologie tot jou beskikking hê, maar jy sal nooit weet wat in iemand se kop aangaan nie.

  • Hans Richardt

    Abel, ek versprei nie "gerugte" nie. Lees asb "McNamara's Folley: The use of low - IQ troops in Vietnam". Robert McNamara het 100 000 troepe gestuur.
    Google asb "Mongol Tactics and organisation", waar mobiele oorlog deur Ghenghis Khan begin was.
    Nie-liniêre oorlogvoering maak gebruik van konvensionele wapens in onkonvensionele manier, bv om hoë kanon vuur te doen en vinnig te ontrek na nuwe aanvalspunt om weer dieselfde te doen. In konvensionele oorlog, was daar geboude masjiengeweer poste en kanon posisies, bv in WO1.
    Blitzkrieg was net moontlik met grootskaalse gebruik van stimulant Pervitin in al die vorms.
    Die Boere het soos Ghenghis Khan, Britse vaste vestings (bv blokhuise) of konvooie vinnig aangeval en onttrek, na aanvaklike konvensionele oorlog(statiese oorlog) by oa Kimberley, Mafikeng en Ladysmith.
    Gedagtig aan Ghenghis Khan se Mongoolse hordes, was die Boere kommandos klein.
    Ek sal nie-liniêre oorlogvoering nie uitsluitlik toeskryf aan ABO nie, maar as element wat goed gebruik was in verset teen Britte, na Bloemfontein en Pretoria reeds in Britse hande was en blokhuise en konsentrasiekampe realiteit was.

  • Hans Richardt

    Abel, het jy al fliek Forest Gump gekyk? Gewonder hoe die hoofkarakter in Vsa weermag toegelaat was? Lees McNamara's Folley om te verstaan.
    Soek gerus "gangs in Usa military" op. Die bendes het groot invloed op beheer en bevelstrukture.
    Nie-liniêre oorlogvoering is wanneer jy my veel kleiner weermag, 'n getalle groter weermag in statiese posisies aanval of waar jy vinnnig toeslaan en chaos veroorsaak en onttrek.
    Die stafoffisiere kursusse het tog sekere verhandelings vereis, wat breedvoerige navorsing geverg het.
    Uit my diensplig dae onthou ek dat 4 vlakke ontleed moes word, om impak te bepaal-
    Sosiaal, ekonomies, polities en militêre.
    Nie-liniêre oorlogvoering sluit oa "IED's", selfmoord bomme en voertuigbomme in, in Afghanistan en Irak, alles wat in geen formele militêre opleiding of doktrines gebruik word of aanbeveel word nie. Ook nêrens in ABO gebruik was nie, deur militêre ondergeskikte mag teenoor super moondheid.

  • Hans Richardt

    Abel, wat min weet, is dat Unita bv na Ops Protea, die dorpies in Kunene provinsie gestroop het, van kragopwekkers in Xangongo, tot toilette, opwasbakke en selfs waterpompe. Sonder statiese radar en vaste radio stasies in Kunene provinsie, was kommunikasie, bevel en beheer vir FAPLA en Kubane moeilik. Sonder vlugbakens vir Angolese vliegtuie, was lugsteun vir jare byna onmoontlik vir FAPLA. Die SAW was nie afhanklik van statiese infra-struktuur soos bv FAPLA en Kubane nie. Daarna moes Angolese vliegtuie van ver in binneland vlieg en selfs sonder brug oor die Kunene rivier, was padvervoer baie moeilik vir FAPLA. Maw die sentrale deel van Angola was niemandsland, waabinne SAW vir lang tye tydelike basisse kon vestig.
    Later was dit makliker om vanuit Angola aanvalle te loods. SAW helikopters kon dus hervul by hervullingspunte in Angola om konstante lugsteun te gee vir troeperings. Gebruik van voertuie was baie moeilik in Angola, agv UNITA se mynvelde, wat gelê was om FAPLA se beweging aan bande te lê.
    Leopold vereenvoudig die mobiliteit deur analogieë te trek met ABO, toe radar en landmyne nog nie bestaan het nie. "bundu bashing" was tydrowend deur mopanie bome.
    Om perd met Puma helikopters te vergelyk, is appels met pere vergelyk.

  • Hans Richardt

    Abel, ongeag van, was daar vele voor ABO wat wel nie-liniêre oorlogvoering taktiek gebruik het. Jan Smuts was Oxford gegradueerde en London balie advokaat. Om sommermeer die jonger Boere generaals as ongeskoolde boere voor te hou, is ook nie korrek nie. Daar was 2 ou korrelkoppe, nl Piet Cronje en Piet Joubert, wat groot mannekrag verliese aan Boere kommandos veroorsaak het, wat na statiese fases in ABO nie meer teenwoordig was nie. Ongelukkig was Boere se grofgeskut ook toe daarmee heen.
    De Wet het waens en kanonwaens uitgesny en so ook andere. Tog was hierdie verset kommandos wat Bittereinders geword het. Die verraaiers en hensoppers het hul taktiek verstaan en later moes hul uitwyk na Noordkaap omdat hul byna geen beweging meer gehad het met Britse blokhuise en Britse hakkejag kommandos. Kitchener se Verskroeide aarde beleid en konsentrasiekampe was groor menseregte skendings, maar strategies effektief teen nie-liniêre oorlogvoering taktiek van Boere.

  • Hans Richardt

    Kan die skrywer, Leopold Scholtz, van die artikel dalk antwoord op ons kommentaar?
    Ek dink dat die ABO beide insurgensie taktiek en teen insurgensie taktiek opgelewer het.
    Loopgrawe en bunkers, as oorlogtaktiek in statiese oorlogvoering, is in WO1 vervolmaak.

  • Leopold Scholtz

    1. Jou effens neerhalende houding teenoor Abel wys jy ken hom nie. Hy is prof. dr. lt.kol. en hoogleraar in militêre strategie aan die Militêre Akademie op Saldanha. Hy is 'n swaargewig en weet waarvan hy praat. Oor my eie kwalifikasies, my agt boeke en meer as 50 akademiese artikels, meestal oor militêre sake, sal ek maar nie uitwei nie. Vertel bietjie van jou publikasies en kwalifikasies?
    2. Ek het enkele sentrale gemeenskaplike elemente uitgelig. Dit gaan oor militêre beginsels wat oral en altyd geldig is, van - om maar iets te noem - Alexander die Grote tot Desert Storm. Jy verstaan dit klaarblyklik nie.
    3. Lees my "Waarom die Boere die Oorlog Verloor het" om te sien waar hulle gefouteer het.
    4. Lees my "Die SAW en die Grensoorlog", en my "Die SAW en Cuito Cuanavale" (lg. verskyn in Maart volgende jaar) om te sien wat die SAW reg gedoen het in die Grensoorlog en waar hulle gefouteer het.
    5. As jy weer 'n bydrae lewer, in alle vriendelikheid, probeer helder en duidelik formuleer. Mense soos ek is maar dom; ek verstaan helfte van wat jy probeer sê glad nie. Lekker naweek vir jou.

  • Hans Richardt

    Leopold, dankie vir jou antwoord.
    Ek glo die SA militêre tradisie word tog nagevolg deur ander in konflikte.

  • Hans Richardt

    Die fases in ABO was nie konstant nie.
    Kitchener het sekerlik met sy COIN /teeninsurgensie taktiek aan einde van 1ste jaar van ABO groot invloed gehad op tipe taktiek aan Boere kommandos se kant.
    Ek was hoegenaamd nie sarkasties met Assosiaat prof, doktor, lt kol Abel Esterhuyse nie. Interresant om darem te weet dat teen insurgensie minimale aandag kry in krygstaktiek deesdae.

  • Hans Richardt

    Leopold Scholtz, ek het geen publikasies nie.
    Ek was ook geensins sarkasties teenoor As prof dok lt kol Abel Esterhuyse nie.
    My leke opinie is bloot gebaseer op taktiek van lord Kitchener, uit Small wars: Principle and practise -Col C. E. Callwell 1896.
    Kitchener het Boeremagte met sy COIN / teeninsurgensie taktiek in die insurgente rol ingedwing. SAW was eintlik insurgente in Angola.
    My beskeie opinie is dat dit nie-liniêre oorlogvoering taktiek is, waar insurgente geen vaste basisse het om vanuit te opereer nie en dus heeltyd moet beweeg.
    In geval van SAW was tydelike basisse in Kunene provinsie, waar FAPLA geen permanente basisse gehad het nie.
    SAW opleiding het destyds COIN opleiding ingesluit, wat nie altyd duidelik is in analise.
    Maar dis my leke opinie en geen geleerde opinie nie.

  • Hans Richardt

    My aanname van nie-liniêre oorlogvoering, is dat Unita nie standaard militêre opleiding gebruik het nie. SAW gekombineerd met UNITA teen FAPLA/Kubane, was tiperend van tipe nie-liniêre oorlogvoering, waar die SAW insurgente was en Unita bv dikwels krimineel geopereer het, met bv skiet van PB's en verkragtings, asook afbrand van PB 's se krale, om te intimideer. Verder was sabotasie ook deel van die operasies van Unita deur opblaas van brûe, treinspore en landmyne op paaie. In Ongiva en Xangongo het Unita bv infra-struktuur uitgehaal(wat element van diefstal was) as oorlogsbuit.
    Diamante en ivoor was gebruik om Unita se oorlogspoging te finansier.
    Maw SAW was formele deel en Unita die kriminele deel in insurgensie/nie-liniêre oorlog in Angola teen FAPLA.
    Verskeie pro Weste joernaliste was gebruik om propaganda vir CIA proksie oorlog in Angola, in positiewe lig van oorlog teen kommunisme, voor te stel. Weste vs Oosblok, in Afrika? Reagan en Thatcher het gehelp.
    Hamas doen dit en IDF het hul teen insurgensie taktiek, wat as onmenslik voorgehou word.
    In Oekraine gebruik pro Russiese rebelle in Ooste dit teen dieselfde taktiek van pro Westerse NATO magte.

  • Hans Richardt

    De la Rey het loopgrawe eerstemaal by beleg van Mafikeng gebruik teen Baden-Powell. Mafikeng is nader aan Lichtenburg, vanwaar De La Rey se kommando was.
    Daarna het De La Rey gepantserde trein by Kraaipan aangeval, wat oppad was na Mafikeng, om dit te ontset.
    Voor Magersfontein, was daar slag van Belmont, want Roberts se troepe het by Oranjerivier stasie, 10 km buite Hopetown afgeklim en gemarsjeer. Intussen het De La Rey loopgrawe op Thomas Farm voorberei vir slag van Belmontstasie. Daarna was daar slag by Ritchie op Rietrivier se walle en eers hierna, Magersfontein buite Kimberley.
    Feitlik moet die onthou word dat die Skandiwiër korps gesneuwel het op Thomas Farm. Takties was daar geen vasgestelde doktrine aan Boere kommandos se kant nie.
    Ek as leek is van opinie dat De La Rey tydelike loopgrawe as taktiek gebruik het.
    De Wet was beter met mobiele, as statiese gevegte.
    Kitchener het na minimum fase, teen insurgensie taktiek gebruik, waarin die populasie geteiken word, infra-struktuur geteiken word en insurgente van hul ondersteuningsbasis te ontsê.

  • Hans
    1. Daar bestaan nie iets soos liniêre oorlogvoering nie; deur die eeue heen is oorlog nog altyd gekonseptualiseerde binne die konteks van gereelde teenoor ongereelde oorlogvoering. As jy in die besigheid van ‘buzzword descriptions of war’ jouself wil vasdraai – sterkte daarmee.
    2. “Ek glo die SA militêre tradisie word tog nagevolg deur ander in konflikte.” Die antwoord is nee. Wat laat jou dink dat die Suid-Afrikaners se bydrae tot die ontwikkeling van oorlogskuns deur die eeue van so ‘n aard was dat ander lande dit navolg. Moenie dat jou onderrok van onkunde so ver uithang nie.
    3. “Die fases in ABO was nie konstant nie.” Verkeerd. Die ABO het in twee duidelik afgebakende fases ontvou: die konvensionele fase aan die begin van die oorlog (gereelde oorlog) en die onkonvensionele fase (ongereelde oorlog) na die besluit van Maart 1900. Sien Prof Andre Wessels se artikel by http://scientiamilitaria.journals.ac.za/pub/article/viewFile/110/143
    4. “Kitchener het sekerlik met sy COIN /teeninsurgensie taktiek…” Jy verwys seker Kitchener se teeninsurgensiestrategie?
    5. “... om darem te weet dat teen insurgensie minimale aandag kry in krygstaktiek”. Ek weerhou my daarvan om baie persoonlik en neerhalend te reageer op die ‘darm’ en ‘minimale aandag’ omdat dit in wese ‘darm’ baie reflekteer op jou ‘minimale’ kennis van krygskunde. Indien jy die moeite sou doen om jou te vergewis van die kurrikulumaanbod van Universiteit Stelllenbosch se Fakulteit Krygskunde sal jy baie duidelik sien dat ons studente, in diepte, konteks en wydte op beide voor en nagraadse vlak in teoretiese en historiese konteks aan die taktiek en strategie van gereelde en ongereelde oorlogvoering blootgestel word. Hulle kry ʼn onderrig wat jy ooglopend nie gehad het nie en waarin jou tuisonderrig jou ook nie veel gehelp het nie.
    6. Terloops – daar bestaan nie iets soos assosiaat professor nie; die korrekte bewoording is medeprofessor.
    7. Ek stel voor dat jy nie jouself begewe op die terrein van die Grensoorlog. Ek het rede om jou intellektuele, teoretiese of historiese begronding te bevraagteken om daardie debat in diepte, konteks en wydte te betree. Gaan lees Prof Scholtz se boek en word wys.

    Ek beëindig hiermee my deelname aan hierdie debat.

  • Hans Richardt

    My idee van Tchipa naby Calueque, is die van Piet Cronje by Paardeberg. Die situasie was dmv diplomasie beredder en die SAW het in 1989 onttrek via die korridor.
    Hier moet ek toegee aan die skrywer van die artikel, Leopold Scholtz, dat die loopgrawe eerder aan die Somme of Piet Cronje se taktiek herinner daar. Met die Kunene provinsie weer inbeheer van FAPLA, het hul beter lugsteun gehad as die SAW.
    Soortgelyke situasie het ook by Cuito Cannavale ontstaan, nadat FAPLA en Kubane hulself hervestig het in Ongiva, die lughawe en radar herstel het.

  • Hans Richardt

    Leopold Scholtz, ek sien nie Stephen M Miller van Universiteit van Maine, se opinie in jou bibliografie nie. Wonder net of jy kritiek kan hanteer.

  • Hans Richardt

    Is doktrine nie die handboek waarvolgens beplanning, opleiding en inoefening van operasies gebeur nie?
    Die SAW se doktrine was tog die wat in Westerse weermagte gebruik was, volgens NATO voorskrifte en Geneevse konvensie.
    Gevegstaktiek het herinner aan Boere taktiek in ABO, behalwe dat daar nie huis toe gegaan was tussen gevegte om te ploeg en plant nie...

  • Hans Richardt

    Wel, die SA doktrine was dus om met so min lewensverlies en verlies aan uitrusting, in korste tyd moontlik tyd 'n beslissende oorwinning te behaal, om so min moontlik politieke gevolge te hê en ekonomies nie te groot las te word nie. Dit het nie voorsiening gemaak vir die lae IK Suidwes-Afrika Gebiedsmagte, wat gerebeleer het in 1987, omdat hul gevoel het hul was as kanonvoer gebruik in gevegte, voor wit troepe.
    1987 was beslis jaar waarin SAW doktrine beslis getoets was, sodat PW Botha persoonlik na operasionele gebied gevlieg het om bevelstrukture te motiveer? Pres Steyn was saam met Genl Christiaan de Wet te velde en ek wonder of dit deel van doktrine tradisie was?

  • Hans Richardt

    Wel, ek was veronderstel om in vlamme neergevel te word deur 2 professore...
    Ek het my opinie gerig aan wat ek met "amateur tuisonderrig" opgelees het in artikels deur oa -
    Small wars journal
    Rand Strategic planning Corp
    NATO defence college
    Jane's defence magazine
    Ek haal myself darem nie aan in my eie bronnelys van verwysings nie.
    Ek berus my, dat US al self so agter raak, hul dink hul is voorste gesag.

  • Hans Richardt

    Volgens die beweerde Gerasimov doktrine, word die aanslag op 4 vlakke gelyktydig gedoen-
    Sosiaal
    Ekonomies
    Polities
    Militêr
    Hierdie is volgens NAVO nie-liniêre oorlogvoering gedoop. Die aanslag word konvensioneel/ onkonvensioneel gedoen, maar ook met rekenaarsisteme en veral deesdae disinformasie/vals nuus. Baie van die militêre strategie word met privaat weermagte gedoen, wat uit vrywilligers bestaan, staan 'n land se staatsweermag of koalisie weermagte.
    Voorbeeld hiervan was bv ISIL.
    Die omvang hiervan is dat dit bv uit misdaadsindikate se opbrengs bv dwelms en prostitusie, gefinansier word en selfs formeel op aandele markte kan met geld chaos dmv spekulasie kan veroorsaak.
    ISIL het bv olie op swartmark verhandel, aan regerings.
    Die konvensionele / onkonvensionele militêre strategie gaan nie suksesvol wees in hierdie stryd waar oligarchs vinnige geld wil maak nie. Militêre strategiese beplanners en bevelstrukture het geen enkele doktrine teen hierdie tipe oorlogvoering nie.
    Synde ek amateur met tuisonderrig is, is dit my afleiding.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top