Ongelooflik baie dinge het verlede jaar verander en sommige daarvan, is ek bevrees, gaan ’n baie lang skaduwee oor die wêreld van die lettere werp. Dit is die noodwendige gevolg van die oorlog tussen Israel en Hamas, wat op 7 Oktober verlede jaar begin het.
Ek en my man het einde verlede jaar gereis, eers agter die rugby aan, en daarna ’n paar van die stasies op ons bucket list besoek. Ons het Frankryk getref ’n rukkie voor die rugbytoernooi begin het. Die huisie waarin ons tuis was op ’n plattelandse dorpie behoort aan ’n Suid-Afrikaner, ’n sakeman van Centurion. Op die boekrakke was daar onder meer ’n klompie romans van Daniel Silva, wat ek uit nuuskierigheid begin lees het en toe verbete deurgedraf het. Teen die tyd wat ons Frankryk verlaat het, het ek self van die boeke begin aankoop waar ek kon. Die jongste titel uit Silva se pen, The Collector, het ek op Heathrow gekoop.
Ek’s kwartpad, maar markeer vir eers die pas.
...
Die mense van Israel is die uitverkore volk, nes die Afrikaner ook eens was.
...
Daniel Silva skryf oor Gideon Allon, eens hoof van Israel se spioenasie-agentskap. Ek het skoolgegaan in die ou TOD-konteks van Calvinistiese Afrikaner-nasionalistiese instellings. Israel is aldaar beskou as die Heilige Land. Die mense van Israel is die uitverkore volk, nes die Afrikaner ook eens was.
Ons vergewe hulle omdat hulle nie heeltemal so sterk voel oor Jesus soos ons nie. Jy het nooit vir John Vorster of PW Botha of FW de Klerk hoor lelik praat van hulle nie.
Julle kry die prentjie?
Die Silva-romans stel mens baie positief in jeens Israel en die uitdagings wat hulle het. Iewers in jou gemoed is daar nog die reste van jou skooldae – Israel as die moderne inkarnasie van die voorvegter van, wat? Seker die ou idee van die bakermat van die Westerse beskawing. Israel die onaantasbare danksy die Holocaust van die Tweede Wêreldoorlog.
Die oorlog tussen Israel en Hamas het alles verander. Ek meen ek het nog begrip vir die enorme bedreiging waarmee die staat van Israel sit. Asook vir die posisie van die Palestyne. Die onverdrote ywer waarmee die Israelies hulself beveilig kos baie lewens aan Palestynse kant. Die probleem is net dat hoe meer die Israelies se vasbeslotenheid onwrikbaar bly, hoe meer begin hulle lyk soos die mense wat die Joodse nasie eens wou vernietig.
In die lig van alles wat tans in Gaza gebeur, is die optimisme wat Colum McCann se wonderlike roman Apeirogon by mens gewek het, ietwat onvanpas. Daardie gesprek tussen twee mans van Israel en Palestina sal vandag op suiwer wensdenkery neerkom.
...
As ’n mens in terme van uitverkore volke praat, is dit uiteraard nie ’n begrip wat onbekend is aan enigiemand wat binne die bovermelde Afrikaner-nasionalistiese en -Calvinstiese instelling gematrikuleer en gekatkiseer het in die jare vyftig tot tagtig nie. Dít was waarteen ’n baie groot deel van die Sestigers se verset was.
...
As ’n mens in terme van uitverkore volke praat, is dit uiteraard nie ’n begrip wat onbekend is aan enigiemand wat binne die bovermelde Afrikaner-nasionalistiese en -Calvinstiese instelling gematrikuleer en gekatkiseer het in die jare vyftig tot tagtig nie. Dít was waarteen ’n baie groot deel van die Sestigers se verset was. (Heel ironies is die enigste Afrikaanse skrywer wat tot nog toe homself oor die Palestynse problematiek uitgespreek het die digter Breyten Breytenbach.)
Ons staan nou al dertig jaar ná die ondergang van die apartheidsbestel en ons bevind ons by die punt waar die transformasie van die samelewing nog nie werklik deurwerk na Afrikaanse fiksie nie. (Elders ook nie, maar dis nie my job om te praat oor wat met Eskom, Transnet, die SAPD of staatshospitale gebeur nie.) Ons boeke is nie soos 7de Laan nie. Of enige van die gediversifiseerde TV-reekse wat die Amerikaners en Britte deesdae so fluks maak nie. ’n Rol vir verteenwoordigers van elke bevolkingsgroep, fisiek en geestelik gestremdes, Bridgerton à la mode. Dis asof die ganse vermaakspektrum volgens een of ander kwotastelsel funksioneer.
Terug by Afrikaans. Soos in die apartheidsjare skryf bruin skrywers oor bruin mense, en wit skrywers oor wit mense. Albei het token-karakters uit die ander groep. Slim mense waarsku teen toe-eiening sonder om twee keer te dink oor presies wat dit is wat hulle van skrywers eis.
...
Die toe-eieningsdebat sou amusant gewees het as dit nie was daarvoor dat dit meestal deur nie-skrywers aangehits is nie.
...
Die toe-eieningsdebat sou amusant gewees het as dit nie was daarvoor dat dit meestal deur nie-skrywers aangehits is nie. Bid jou aan, ’n skrywer moet die transformasie van ons sosiale strukture beskryf, maar mag hom/haar nie probeer indink hoe die lewe moet wees van iemand wat uit ’n groepering kom wat nie identies is met dié van die skrywer nie. Die dood is in die pot.
Maar wag. Die voetwerk vir ware transformasie word reeds by Afrikaanse uitgewers gedoen. Die dinge wat eintlik in die jare vyftig en sestig moes gebeur het, naamlik groei in publikasies deur bruin skrywers, dít is nou in volle swang. Die aanmoediging van Kaaps, wat reeds geaktiveer moes gewees het toe Adam Small se eerste publikasie verskyn het, dít is nou só orraait dat akademiese proefskrifte daaroor trend.
As jy ’n manuskrip voorlê, sê ’n uitgewersvriendin vandeesweek vir my, sal dit help as jou karakters ’n diverse samelewing weerspieël. ’n Sterk storie sal ook help, sê sy. Ek wou nog vra oor toe-eiening, maar sy het reeds vir die rekening gevra.
Dit kan nie anders nie, maar haar woorde laat my aan een woord dink: kwota. Sorg dat jou dramatis personae die demografie van ons illustere volk weerspieël.
Goed en wel. Crito is nie ’n Luddiet nie. Ek is só sensitief ek kan matmiete hoor braak. En die spook wat ek sien is dat, nes Daniel Silva homself passé gaan vind, só gaan historiese romans (tydperk = enigiets vóór 1994) allerhande ongemaklike vrae oor die skrywers se heimlike hunkerings opwerp – veral as dit ’n wit skrywer is. Of dit nou relevant is of nie.
...
Ons staan voor die bloeityd van die equal opportunities-reeksmoordenaars en dom speurders.
...
Dit sal uiteraard nie by historiese romans bly nie. Hoekom moet dit? Ons staan voor die bloeityd van die equal opportunities-reeksmoordenaars en dom speurders. Geen skrywer sal dit waag om realisties te wees oor ons polisie nie, want dit sal nie in die gees van rensformasie (suurmelk plus transformasie) wees nie.
Is ek nog ’n bietjie vaag? As jy nie diversiteit uitdra, transformasie bepleit en die ou gees name-n-shame nie, kan jy vergeet. Is dit nie wonderlik hoe sensuur sigself getransformeer het nie? Dis omtrent ons Suid-Afrikaners se grootste prestasie – dat ons die ou sensuur afgeskaf het en dit vervang het met informele sensuur, wat meestal manifesteer as onderdele van die cancel-kultuur en Facebook se klandestiene wyshede.
Afrikaanse skrywers worstel reeds die afgelope paar dekades met hierdie nuwe paradigma en die invloed daarvan op dit wat hulle skryf. Soms vind hulle ’n besonder kreatiewe oplossing daarvoor, soos Chris Karsten gedoen het met Op pad na Moormansgat.
’n Mens kan dit egter nie van almal verwag nie. ’n Skrywer ontgin die bekende ruimte. Jy kan nie van SJ Naudé se Van vaders en vlugtelinge of Bettina Wyngaard se Lokval anders verwag nie.
Nes mens nie Daniel Silva met ’n lied in die hart kan lees terwyl Gaza jou gees verniel nie, net so gaan buite-literêre maatstawwe ’n rol in Afrikaans bly speel totdat transformasie óf voltrek óf vervang is deur ’n volgende sjibbolet.
Gaan Daniel Silva sy skrywersloopbaan red? Net as hy standpunt inneem. Gaan Afrikaanse lektuur oorleef? Ek hoef nie ’n antwoord uit te spel nie. Al wat ek vir seker weet, is dat dit ontsaglik moeilik vir skrywers moet wees om te probeer raai watse soort boeke vir uitgewers aanvaarbaar is. En uitgewers het grys hare van worry oor wat dit is wat die publiek sal wil koop aanstaande jaar. Ás hulle boeke wil koop.
...
Sou Sewe dae by die Silbersteins of Triomf gepubliseer word as hulle vandag eers aan uitgewers voorgelê is?
...
Sou Sewe dae by die Silbersteins of Triomf gepubliseer word as hulle vandag eers aan uitgewers voorgelê is? Kennis van die aand? Kroniek van Perdepoort, Kroniek uit die doofpot of Eilande?
Vir aspirantskrywers sou ek ’n lys van riglyne kon saamstel om hulle deur hierdie moeilike proses te help kom en die harlaboerla van boeke vir hulle verstaanbaar te maak. Ek doen dit met die besef dat my ou lesers dadelik sal sê ek moet nie ná die betoog hier bo grappies maak nie. Vir hulle kan ek verseker dat daar niks ligsinnigs of humoristies is aan hierdie lysie nie.
- Geen seksbeskrywings nie, tensy daar absoluut geen ander uitweg is nie.
- Ondersoek die rol wat ’n blesser in jou protagonis se lewe kan speel.
- Sorg dat jy au courant is met geslagtelike identifikasie en laat vloeibaarheid die lig wees wat jy op jou karakters wil skyn. Maar wees vreeslik versigtig. Vaag is jou wagwoord.
- Jy wil soos Wladimir Iljitsj Lenin wees – tuur oor almal se koppe na ’n blink getransformeerde toekoms. Jou toegewing aan die bose verlede is jou gespierde taal.
- Mense is in wese goed. Hulle het Waardes. Hulle deel graag. Behalwe die antagoniste. Laat hulle gekneus word. En asseblief, maak seker dat jou karakters jou lesers verras met hul vermoë om hul intelligensie weg te steek terwyl hulle al die regte dinge doen.
- As jy hierdie dinge gedoen het en nog steeds vir iemand aanstoot gee, dan het jy iets anders reg gedoen. Jy het ’n nuwe groeipunt vir die lettere gevind. Kom ons laat dit daar.
My skrander lesers sal merk dat ek nie ’n woord oor resensies gesê het nie.
Lees ook:
Revisiting Bloke Modisane, from Sophiatown to Gaza: #2 On violence, on history
Om vrede te maak met my oupa: Koos Kombuis gesels oor voorvadergeeste, Afrikaanse resensies en RSG
Buried treasure is ’n skat vir leeskringe wat nie omgee vir diep delf nie
Die Melkweg en die miskruier deur Jeanette Ferreira: ’n resensie


Kommentaar
Crito : Op die Versindaba het digters gereageer op die Palestynse problematiek.
Net soos op Rusland se inval.
http://www.versindaba.co.za