Buried treasure is ’n skat vir leeskringe wat nie omgee vir diep delf nie

  • 1

Titel: Buried treasure
Skrywer: Sven Axelrad

Uitgewer: Umuzi
ISBN 9781415211083

Ek het hierdie skrywer se vreemde, baie donker humor geniet, maar dit gaan beslis nie almal gelukkig maak nie. Dit is dus een van daardie besprekings wat moet begin met ’n waarskuwing:

Die humor in hierdie boek is gitswart en is nie vir sensitiewe siele nie. My bespreking sal nie in te veel detail ingaan nie, maar stop liewer nou al as jy nie uitgedaag wil word nie.

Nou weet julle.

Leeskringe wat iets totaal aweregs soek om te lees, hou aan. Buried treasure is baie beslis nie “gewoon” nie.

Die ruimte en diegene wat daar (oor)leef, of nie

Hierdie roman speel af in die begraafplaas en in die afvoerslote van Vivo.

Vivo is ’n universiteitsdorp. Daar woon dus baie slim mense. Die probleem met baie slim mense is dat hulle dikwels vergeet van die arm mense. In Vivo se geval is dit ook so. In die afvoerslote waar die vullis uit die huise en die kantore van akademici na onnoembare plekke gaan, woon daar ook mense.

In die tweede hoofstuk ontmoet ons een van hulle, ’n baie jong meisie:

The girl is accustomed to the gutters of Vivo, which operate as roads themselves, a connectivity of byways for a different class of traveller. (bl 11)

Die mense wat in die afvoerslote woon, is ook slim, al is hulle nie akademici nie.

Despite her truncated formal education, the girl is by no means stupid. (bl12)

Hierdie “different class of traveller” in Vivo skarrel vir kos. Hulle ding mee met rotte, wurms en miere om die appelstronke, broodkorsies en visgrate te kry wat die ryk mense weggooi. Nartjieskille word byvoorbeeld gebruik as deodorant.

As jy ’n vrou of jong meisie is, dan is verkragting of sekswerk, of albei, jou voorland.

Axelrad bied hierdie gegewens aan die leser met oneindig baie humor en deernis.

The homeless are regarded by most Vivano men and women as a nuisance, but the right advertising agency could easily rebrand them as eco-friendly, much like the vital bacteria in the digestive tract of the body. (bl 15)

Aangesien die roman grootliks fokus op die armes, leer ons dus Vivo op ’n totaal ander manier ken as wat ’n mens van ’n universiteitsdorp sou verwag.

The small and fragile among us know that fear is a great observer, and that a blind man is more aware of his surrounding than a strong man. (bl 12)

Die uitdaging vir ons as lesers, en by uitstek diegene in leeskringe, sou wees om die leidrade wat Axelrad aan die leser gee, raak te lees deur akuut bewus te wees. Die leidrade kom soms op vreemde maniere na die leser.

Thankfully, words are only one of the ways we have to understand each other. God employs signs and wonders, prophets and plagues. Dogs, on the other hand, make remarkable use of their eyebrows. (bl 11)

Axelrad gebruik dalk nie sy eie wenkbroue nie, maar hy lig ons wenkbroue in hierdie roman.

In vivo of in vitro in Vivo?

Leeskringe wat nie ’n Latinis in eie geledere het nie, sou kon kers opsteek by iemand wat meer weet as ek. Vir nou sal ek ’n paar leidrade uitlig.

  • Vivo se naam is belangrik, want vivo beteken natuurlik opgewek of lewendig.
  • En, as jy iets in vivo beleef, is dit die teenoorgestelde van in vitro. Om in vivo te wees is om teenwoordig te wees, maar in vitro verwys na iets wat kunsmatig gemaak word.
  • Die vraag is wie in Vivo beleef die werklikheid in vivo en wie beleef die werklikheid in vitro?

’n Belangrike leidraad is die karakter, bekend as Professor, se lewe en woning. Hy leef ’n kliniese, sekslose lewe in ’n glashuis. Deur die glas kan hy sien wat aangaan en hy hunker daarna, maar hy beleef dit nie.

Die lewe in Vivo is dus, heel moontlik, kunsmatig vir ander akademici wat moontlik ook in glashuise bly. Leef hulle bloot in vitro in Vivo? Let byvoorbeeld op dat die professor se eerste seksuele ervaring, in vivo, tussen boeke plaasvind en nie in sy glashuis nie.

Die in vivo lewe van die armes in Vivo is egter baie werklik, maar is nie noodwendig opgewek nie.

En die lewe in die begraafplaas? Daar leef die spoke in vivo op maniere wat die stugge akademici in Vivo skynbaar ook nie regkry nie.

In Vivo se begraafplaas

Daar in die begraafplaas is dit – op die oog af – net Mateus en sy ou, swart hond wat na die dooies se laaste rusplek omsien.

Terloops, die hond heet God, want karakter Mateus is disleksies, so toe hy vra dat Dog (haar oorspronklike naam) ’n naamplaatjie moet kry, het hy God op die papier geskryf vir die man wat die graveerwerk moes doen. Which means God is a black bitch in this book. (Jy is vooraf  gewaarsku.)

Die hond is ’n wonderlike meeloper vir arme, eensame Mateus, en sy is baie lief vir grawe. Mateus, wat reeds begin oud word, kan dus agteroor sit terwyl God die grafte grawe.

In Vivo is die begraafplaas egter nie doods nie, want talle dooies hang nog luidrugtig rond. Hier is die spoke springlewendig. Hulle drink selfs koffie.

Mateus bring dan vir Novo, ’n jong meisie, na die begraafplaas. Dit is waar die boek begin.

’n Metaroman

Die roman steur sigself nie baie aan die reëls van alledaagse fisika of morele standaarde nie.

Die meisie se naam – wanneer sy ’n naam kry – moet ons reeds waarsku.

“Novo,” Novo says.
“But that’s a boy’s name. Surely it should be Nova?”
Novo shrugs: “These days it’s not so simple.” (bl 20)

Novo verwys na iets wat voorheen nie was nie.

Sy word skielik aan die leser bekendgestel.

Dit gaan weer gebeur. Die leser gaan talle sulke vreemde karakters en situasies aantref. ’n Nuwe storielyn, ’n nuwe karakter, ’n nuwe logika word gewoon geskep, saamgeneem begraafplaas toe en deelgemaak van die verhaal wat al hoe vreemder word.

Leeskringe kan gerus hieroor gesels.

  • Is die manier waarop karakters skielik aan ons bekendgestel word slim, of is dit dalk steurend?
  • Is die manier waarop ons Novo leer ken, en daarna die ander karakters ook, dalk ’n slim manier om die leser die hele tyd op ons tone te hou? Of werk dit nie?
The savage detectives as ’n interteks

Leeskringe moet let op hoe belangrik The savage detectives is as ’n interteks tot Buried treasure. Hierdie roman, oorspronklik deur Roberto Bolaño in Spaans geskryf as Los detectives salvajes, handel oor ’n groep digters wat hulself in die Engelse vertaling “Visceral Realists” noem.

Ons het nie ’n direkte Afrikaanse vertaling vir visceral nie, maar ons weet wat dit beteken as iemand sê hulle is tot in hulle derms geraak deur iets. Bingo. Om met jou maag en jou derms en jou innerlike gevoelens die lewe in die gesig te staar, is baie anders as om in glashuise te bly en bloot intellektueel met die lewe om te gaan.

Kom ons keer terug na die professor, wat ’n belangrike aktant is om The savage detectives in Novo se hande te laat beland. Hy ervaar sy eerste seks in die biblioteek, tussen boeke, ná hy sy glashuis verlaat. Die la petite mort wat hy daar ervaar, lei egter na sy uiteindelike dood, wat maak dat ons hom as ’n spook leer ken. Sy diepste begeerte is ook sy ondergang. Tog, dalk is sy ondergang, sy verlies van akademiese status, dit wat hom kortstondig in vivo laat lewe, en dan as spook weer die ware lewe in Vivo laat ervaar.

Telefoonhokkies in Vivo

Soos in die res van Suid-Afrika is die fone in Vivo se foonhokkies lank nie meer bruikbaar nie, maar anders as in die res van Suid-Afrika, het foonhokkies hier ’n baie goeie alternatiewe gebruik gekry. Dit is waar die “booths” (lees sekswerkers) hulle kliënte ontmoet.

Is in vivo seks in Vivo dus iets wat in ’n glasbuis (in vitro) plaasvind? (Julle is gewaarsku.)

Meer nog: Daar is ook diegene wat hulle toiletsake in die foonhokkies doen. In Vivo is seks dus maar ’n stinkstorie en die mans skiet vinnig as hulle in ’n los bol trap.

Hier moet leeskringe weer intertekste opsoek. Ondergrawe Axelrad sy intertekste, of dalk juis nie?

  • Superman het altyd in foonhokkies van gedaante verwissel.
  • In The Matrix word die lewe binne en buite die matriks ook via foonhokkies benader.

Die ander interessante vraag sou wees of heteroseksuele mans wat nie van sekswerkers gebruik maak nie, juis ander plekke nodig het vir hul genot – en hoekom?

  • Die professor is gay en hang dus nie in die glashokkies uit nie, maar net voor sy eerste ware seks hou hy ’n boek teen sy oor en sê: “Yes? Hello?”
  • Daar is ’n bepaalde, ontstellende toneel van nekrofilie wat ook nie heteroseksueel is nie, en juis nie in die hokkies plaasvind nie.
  • En wat van die jong man wat opsetlik die gebeure binne die hokkies van buite af dophou?

Axelrad smokkel heerlik met ons koppe.

Die skaduwee en Buried treasure

Ek wil nie regtig praat oor die skaduwee wat teen die einde van die boek verskyn nie. Netnou gee ek te veel weg. Belangrik net dit: Daar spoel ’n donker mag deur die strate van Vivo wat die lewe uit die gemeenskap suig – selfs die spoke skyn nie immuun te wees teen hierdie mag nie.

In die tweede laaste hoofstuk is ’n belangrike leidraad om hierdie “karakter” te verstaan. Op bladsy 218 word daar vertel dat sulke skaduwees waargeneem is (dalk steeds waargeneem word) tydens oorloë waar talle mense in massagrafte begrawe is. Die identiteite van die dooies kan dus nie met bepaalde grafte verbind word nie.

Tot nou het ek min gesê oor die titel van die roman. Dalk moet die leser dié leidraad op bladsy 218 in gedagte hou.

Let ook op na die titel van hoofstuk 7 in afdeling 6 op bladsy 177: “The professor ascends (into the Aaró)”.

Aaró is ’n Finse naam wat hoë berg beteken, maar ook kan verwys na ’n toestand soortgelyk aan Nirvana – waar die siel of gees ’n hoër status bereik.

Let op dat Novo een klein spelfout moes regmaak om die professor se siel tot rus te laat kom. Is goeie spelling dus gelyk aan Nirvana? Dalk nie. Dalk is die korrekte erkenning van iemand se identiteit die ware skat waarna die spoke soek.

Leeskringe sou ook gerus moeite kon doen om iemand te kry om te gesels oor die belang van die korrekte rituele wanneer die “voorvadergeeste”, of beter gesê die “voormense”, ter ruste gelê word in van die Afrikatradisies. Hierdie rituele is nie lukraak nie, dit gee aan die agtergeblewenes verskillende maniere om afskeid te neem. Hierdie rituele verbind die lewendes met die dooies. Leesgierige en nuuskierige lesers sou ook Rituals and Medicines: Indigenous Healing in South Africa deur WD Hammond-Tooke (Ad. Donker, 1989) by ’n biblioteek kon probeer opspoor.

Axelrad skryf bewustelik nie oor Afrikarituele nie, maar hy maak sonder twyfel die deur oop vir besprekings met plaaslike kenners oor die rituele wat talle Suid-Afrikaanse kulture het om die identiteit van die gestorwene lewendig te hou – selfs in die dood.

Of, dink aan ’n praktiese saak: Baie Afrikaanse protestante raak erg ontsteld as begraafplase nie goed versorg word nie. Hoekom?

Die Anglikane weer het bewuste rituele, liturgieë selfs, om die afsterwe van ’n geliefde te gedenk. Diegene wat protestants grootgeword het, mag dit interessant vind om meer hieroor te leer.

Waarom moet lewendes soveel klem lê op die dood?

Watter skat(te) word begrawe as ons iemand in ’n graf plaas?

Ander besprekingspunte

Hierdie roman is ’n seminaarreeks werd.

Leeskringe kan veral moeite doen om:

  • Al die name in die boek te probeer ondersoek – niemand is bloot ’n naam gegee nie.
  • Al die hoofstukke se titels te herlees ná die roman klaar gelees is.
  • Die struktuur van die boek te ondersoek. Hoekom is dit in sewe dele?

Daar is veel meer. Arundhati Roy se roman The ministry of utmost happiness is ’n toevallige interteks, deels omdat begraafplase en mense van mindere aansien ook ’n baie belangrike rol speel.

Vir ’n leeskring wat nie bang is nie, gaan hierdie boek baie skatte oplewer. Maar die titel sê dit reeds: ’n Leser moet grawe om by die skatte uit te kom.

  • 1

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Baie dankie Izak. Toe ek die boek gelees het, het ek ook sommer dadelik gedink dit moet op die beginlys vir 2025 kom. En jou broodkrummels, so mildelik gedeel, kan dit 'n interessante leeservaring maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top