Die vegetariër is spektakulêr en deksels moeilik | Toyota US Woordfees 2023

  • 0

Foto: Ilo | Pixabay

Titel: Die vegetariër
Oorspronklike teks: Han Kang
Verwerking vir die verhoog en Afrikaanse vertaling: Willem Anker
Regisseur, vervaardiger, stelontwerp en tegniese versorging: Jaco Bouwer
Spelers: Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt, Stian Bam, Melissa Myburgh
Beligtingsontwerp: Wolf Britz
Kostuums: Bridget Baker
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Moontlik gemaak deur: Toyota US Woordfees
Speelvak ondersteun deur: NATi

Tydens ’n kunstefees probeer ek my bes om ten minste een stuk te gaan kyk wat met my kop gaan smokkel. Daar was ’n paar opsies by die Toyota US Woordfees 2023, maar my tyd was uiters beperk. Kaartjies koop is ook nie vir sommer net nie, so ek moes kies.

Uiteindelik het ek en my feesmaatjie kaartjies vir Die vegetariër gekoop, lank terug reeds want ons het geweet die name gekoppel aan hierdie stuk gaan dit gewild maak.

Willem Anker is verantwoordelik vir die teks, wat gebaseer is op Han Kang se roman The Vegetarian, wenner van die 2016 Man Booker International-prys.

Ek het die roman nie gelees voor die tyd nie, maar ek is nou baie lus om dit wel te lees.

My interpretasie van die stuk begin dus reeds op die agtervoet, en dit is belangrik.

Visueel skokkend én aanskoulik

Die vegetariër is ’n brutale stuk wat hoë eise stel aan die akteurs.

Wees gewaarsku. Daar is ten minste twee verkragtingstonele in die stuk.

Tog, dit is spektakulêr. Wat Jaco Bouwer met die stel aangevang het, is reeds die geld vir die kaartjies werd. Gooi dan nog die musiek en die akteurs en die ligte by, dan prut die koue pampoen en die vuurwarm rissies gou vir ’n feesmaal.

En, nee, ek het nie ’n enkele foto geneem nie. Juis nie.

’n Bolangse opsomming van die verhaallyn

Die storie is redelik eenvoudig. Die uitvoering glad nie.

’n Vrou kondig aan dat sy gaan ophou vleis eet.

Dit ontstel haar man geweldig. Hy is ’n rigiede, stereotipe knaap wat glo sy vrou is daar om hom gelukkig te hou.

Sy sê aan hom dat hy in elk geval bitter min by die huis eet, waarom sou haar gebrek aan vleis in haar dieet hom nou skeel?

Haar ouers is egter ewe bekommerd en wil gewoon nie ophou om haar anders as ’n stout kind te hanteer nie.

Sonder om doekies om te draai maak die stuk dit redelik duidelik dat ’n vrou, in tradisionele oë, aan haar man onderdanig moet wees, en ook nie haar ouers mag teëgaan nie; anders is daar erge gevolge.

Die punt word brutaal gemaak met maskers en opsetlike kostuums en kru tonele en vleishake... Gaan kyk maar self.

Die vrou se emosionele lewe gaan al hoe meer agteruit en sy beland in ’n inrigting.

Die verhaal het egter ’n tweede deel.

’n Aangetroude familielid is ’n visuele kunstenaar. Hy begin ’n obsessie ontwikkel met die vrou en gebruik haar lyf as doek om ’n videokuns mee te vervaardig.

Wanneer hy sy hande op haar lyf kry, dan hou dit nie op nie.

Sonder meer word die beeld duidelik: Vroue in tradisionele verhoudings is ook maar diere ter slagting.

Moeilik

Die teks is moeilik om te volg.

Aan die een kant is dit ’n stroom van woorde wat die kyker probeer inlig wat in haar kop aangaan, maar aan die ander kant is daar talle belangrike verwysings na grond, wortels en plante wat sonder twyfel betekenis het, maar ’n bietjie bo my vuurmaakplek was.

Die feit dat ek te onnosel is om alles te verstaan, is natuurlik nie die dramaturg se skuld nie. Anker is bekend vir sy ryk en wydreikende intertekste; ek het reeds genoem dat ek nie die roman gelees het waarop die stuk geskoei is nie.

Ek is dus nie die ideale kyker nie.

Talle van my medekykers was egter ook effens verward – iets wat Anker moontlik sou laat glimlag.

Die impak?

Die vegetariër kom in die eerste rondte uit met bokshandskoene en hou nie op slaan tot die einde nie. Moenie spookasem verwag nie.

Daar is ander stukke wat ook moeilike onderwerpe aanraak en tog meer toeganklik is. Lara, my feesmaatjie, het Pieter Odendaal se Droomwerk gaan sien kort ná sy Die vegetariër gesien het en was diep beïndruk daarmee. (Ek ook; ek het dit by die Nasionale Kunstefees gesien.)

Ons twee het ook die baie donker Mirre en aalwyn gaan sien by die KKNK, en selfs daarmee kon ons makliker aanknopingspunte vind.

Die vegetariër is geskep om te skok, om afstand te skep.

Ten einde laas

Ek is bly ek het Die vegetariër gesien.

Toe Lara my tong in die kies vra of ek lus is om dit die volgende dag weer te gaan sien saam met haar, was my antwoord: “Jy is welkom, maar ek gaan dan ’n hamburger koop en dit opeet.” Dit sou nie ’n vegetariese opsie wees nie.

Lees ook:

Pieter Odendaal se Droomwerk bring postkoloniale denke na die hospitaal

Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom: twee resensies en steeds ’n soeke

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top