Die troebadoer, ’n vertelling: ’n onderhoud met Marié Heese

  • 0

Die troebadoer, ’n vertelling
Marié Heese
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485314519

Amanda Botha in gesprek met Marié Heese oor haar jongste publikasie, Die troebadoer, ’n vertelling

Ons kom ’n lang pad saam vanaf ons skooldae aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Baie gedeelde belangstellings en eertydse herinneringe het ’n gemeensaamheid en respek gebring waar ons ook saam aan skryfprojekte kon werk. Met LitNet se uitnodiging om ’n resensie oor Marié Heese se Die troebadoer, ’n vertelling, te skryf, het ek opnuut besef dat ek nie die objektiwiteit het om hieraan reg te laat geskied nie.

Met die lees daarvan het ek besef dat die vertelling ook vele insigte bied in die ryk binnewêreld en intertekstuele verwysings wat sy hier mildelik aanwend vir dié wat dit wil raak lees. Die troebadoer (2021) is ook, soos Vuurklip (2013), haar roman oor die vroeë mense van die Suid-Kaap, ’n verbeeldingskepping, ’n storie wat sig uit niets aangemeld het.

Heese het ’n indrukwekkende publikasielys: kinderlektuur, jeugboeke, haikoes, essays, ’n reisboek, Afrikaanse en Engelse romans en as samesteller van ’n keurbundel essays van haar ma, Audrey Blignault. Hierbenewens het sy ook verskeie akademiese boeke en artikels op haar kerfstok.

Historiese romans is by uitstek Marié se genre. Haar eerste titel, Die uurwerk kantel (1976), is eers baie later, in 2009, opgevolg deur The double crown: secret writings of the female pharaoh; The colour of power: A story of Theodora, Empress of Byzantium (2011); Vuurklip (2013); en Maestro: ’n roman oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini (2016). Die troebadoer word ook in die verlede gevestig, hoewel die era en plek waar dit afspeel, vaag is. Hierdie keer ’n allegoriese vertelling waar ook gebruik gemaak word van hiperbool, ironie en satire.

Hier is ’n verslag van ons gesprek oor die skryfproses en verskillende inhoude, betekenisse en verwysings wat in Die troebadoer aan die orde kom.

.......

Hier is ’n verslag van ons gesprek oor die skryfproses en verskillende inhoude, betekenisse en verwysings wat in Die troebadoer aan die orde kom.

........

Marié, ek herinner my dat jy vir my gesê het ná Maestro en Peter Pan is jy nou klaar geskryf. Hoekom het jy toe wel weer geskryf? En wanneer het jy aan Die troebadoer begin skryf?

Toe ons verneem van die algehele inperking wat op hande was, het ek besluit ek moet skryf, want anders gaan ek gek word. Die troebadoer het toe in my kop ingestap, met verflenterde hond en al. Ek het begin skryf op dag een van die eerste inperking, 26 Maart 2020.

Ek is gewoond aan jou deeglike navorsing, honderde aantekeninge met ’n lang leeslys, voordat jy ernstig begin skryf. So jy het dié keer net gaan sit met niks meer as ’n karakter nie en begin skryf? Het jy al vantevore so gewerk?

Ja, ek het so begin en nee, nog nie vantevore sonder enige beplanning hoegenaamd nie. Maar ek is beïnvloed deur ’n boek deur Andy Martin wat ’n jaar lank by Lee Child gesit het (ek is ’n Lee Child fan) om te kyk hoe hy een van sy boeke skryf. Martin se boek is getitel Reacher said nothing. Martin vertel hoe Child begin met sy karakter en elke dag gaan sit en kyk wat gebeur. Ek het dus hierdie voorbeeld in my kop gehad. Toe dink ek, kom ek maak so, dit kan net pret wees. En dit was.

........

Martin vertel hoe Child begin met sy karakter en elke dag gaan sit en kyk wat gebeur. Ek het dus hierdie voorbeeld in my kop gehad. Toe dink ek, kom ek maak so, dit kan net pret wees. En dit was.

.........

Hou die troebadoer se aanvanklike geheueverlies verband met hierdie “seat of my pants”-skryfbenadering? (Omdat jy self ook algaande moes uitvind wat het en nog gaan gebeur?)

Ja, beslis. Ek het gereeld ingewings gekry oor wat hy moet onthou en dan skryf ek dit. Dit was ook ’n nuttige tegniek om mense toe te laat om vir hom te verduidelik wat in die land aangaan. Maar ek het redelik gou ingesien wat ek eintlik met die vertelling wou bereik.

Het jy dit van dag een af as nog een van jou historiese romans gesien? Jy is nie in hierdie werk baie spesifiek oor die presiese tyd en plek nie. Alhoewel die leser wel ’n duidelike “sense of place” beleef, al het dit nie ’n naam nie.

Nee, dis juis nié ’n roman nie en daarom geen spesifieke eiland nie, alhoewel dit herinner aan Engeland, en ook geen spesifieke tyd nie, hoewel dit klink na die Middeleeue. Daar staan immers op die voorblad: ’n vertelling. En Deborah Steinmair het ingesien dis ook nie ’n fantasie nie. Op die agterblad sê sy dit is “universeel en tydloos”. Dankie, Deborah.

.......

Ek het dit lankal in my kop om ’n storie te skryf van dieselfde aard as Animal farm en Lord of the flies. Daardie twee werke is albei vaag oor tyd en ruimte, alhoewel albei in die eerste plek goeie stories is. Ek maak geen aanspraak op dieselfde gehalte nie, maar Die troebadoer is wel dieselfde tipe skryfsel, dus ’n allegoriese vertelling waarvan die leser die toepassing(s) self moet insien. Sulke vertellings lewer dikwels kritiek van ’n politieke aard. Toe dink ek, maar hier is nou my kans.

.........

Ek het dit lankal in my kop om ’n storie te skryf van dieselfde aard as Animal farm en Lord of the flies. Daardie twee werke is albei vaag oor tyd en ruimte, alhoewel albei in die eerste plek goeie stories is. Ek maak geen aanspraak op dieselfde gehalte nie, maar Die troebadoer is wel dieselfde tipe skryfsel, dus ’n allegoriese vertelling waarvan die leser die toepassing(s) self moet insien. Sulke vertellings lewer dikwels kritiek van ’n politieke aard. Toe dink ek, maar hier is nou my kans.

Animal farm was volgens Orwell bedoel as kritiek op die Russiese revolusie van 1917 en op die totalitêre Stalinisme wat daarop gevolg het. Maar dis sedertdien ook gesien as toepaslike kritiek op verskeie ander gevalle van “bevryding” wat uitloop op onderdrukking. Kan Die troebadoer gelees word as kritiek op die situasie in Suid-Afrika?

Ja, dit kan beslis. Die motto voor in die boek dui dit aan. Dit stel die hooftema van die allegorie: Mense, neem kennis, julle moet jul vryheid koester en verdedig, julle moet waaksaam wees. Hier wil ek jou iets vertel wat die dramaturg Bartho Smit eenkeer gesê het by ’n byeenkoms van die Skrywersgilde waar ek was. Hy het gesê jy moet altyd onthou jou onderbewussyn is jou medeskrywer. Die allegoriese benadering het my as’t ware bekruip. Maar toe sien ek nou maar goed, dís waarheen ek hiermee op pad is.

........

Hier wil ek jou iets vertel wat die dramaturg Bartho Smit eenkeer gesê het by ’n byeenkoms van die Skrywersgilde waar ek was. Hy het gesê jy moet altyd onthou jou onderbewussyn is jou medeskrywer. Die allegoriese benadering het my as’t ware bekruip.

.........

Die aanhaling van John Philpot Curran wat jy as motto gebruik, lees: “The condition upon which God hath given liberty to man is eternal vigilance; which condition if he break, servitude is at once the consequen of his crime and the punishment of his guilt.” Dis ’n belangrike merker vir die leser.

Dit kan gesien word as waarskuwing en spieëlbeeld van ons eie beskawing en tyd. Die afleidings hiervan is vir die insig van die leser. Daar is op bladsy 200 twee paragrawe oor die “vetgevoerde elite” wat vir enige leser herkenbare satire behoort te wees, en kennelik op Suid-Afrika van toepassing.

Jy verdeel jou vertelling in twee dele: “Die langpad roep my aan” en die slotdeel: “Anderkant die Dwaarsrivier”. Die eerste deel is pikaresk en die tweede meer dramaties, heeltemal ’n struktuurverandering. Het jy die bedoeling gehad om die gedagte aan die Rubicon te suggereer?

Ja, ek het die bedoeling gehad om die gedagte aan die Rubicon te suggereer. Daar was al meer as een Rubicon in die geskiedenis van Suid-Afrika. FW (de Klerk) was die een wat dit regtig oorgesteek het. En saam met hom die Afrikaners wat met die referendum willens en wetens hulself uit mag gestem het. Die eerste volk in die geskiedenis van die mensdom wat dit gedoen het. En daar was ’n alternatief, wat tevore oraloor gekies is, naamlik ’n bloedige burgeroorlog. Wat net verloorders oplewer. Ons het omgedraai.

Die twee godsdienste wat jy geskep het, en eintlik teenoor mekaar opstel, is interessant. Die Moederheer is afgelei van die naam van die Egiptiese godin Ma’at, nie waar nie? En die Voorgode, waar kom hulle vandaan? Wat wou jy met hierdie teenoorstelling bereik? Hou dit verband met jou hooftema? 

Ja, die Moederheer is, soos jy noem, afgelei van die naam Ma’at – dit kom uit my navorsing vir my roman oor antieke Egipte, The double crown. Maar vir hulle was sy maar net een van vele. Ek het ’n hele godsdiens op haar geskoei. Ma’at staan vir orde teenoor chaos, en elke mens se hart (maar veral die Farao s’n) moet teenoor ’n veer van haar vlerk geweeg word na afsterwe. ’n Bose hart sal teen jou getuig – dit sal swaar weeg en jy sal vir ewig deur die doderyk vol demone dwaal.

Die Voorgode is ’n godsdiens wat ek saamgestel het uit verkillende gode wat iewers aanbid word, en die kern daarvan is dat die Voorgode irrasioneel is en offers opeis sonder om van hul aanbidders ’n etiese leefwyse te verwag.

Dis die belangrike verskil tussen hierdie twee godsdienste en ja, dis van toepassing op Suid-Afrika, waar sommige burgers se geloof duidelik geen individuele verantwoording vereis nie en ander s’n wel. Ons kan almal waarneem dat ’n land wat regeer en bestuur word deur mense sonder ’n besef van persoonlike verantwoordelikheid, vir die ashoop bestem is. Dis nou tensy die burgers van die land opstaan teen die onverantwoordelikes, wat ook al hoe meer na tirannie gryp hoe meer hulle misluk.

En dit sluit weer by jou motto aan. Nou iets oor die karakters. Jy noem dat die troebadoer in jou kop ingestap het. Waar het die ander karakters vandaan gekom? Of het hulle ook as’t ware aangemeld?

Ek het toe besef Die troebadoer moet meer karakters kry. Ek het sommer besluit die groepie moet altesaam sewe wees. Irina het wel aangemeld, maar vir die res het ek na tarotkaarte gekyk. Jy sal seker weet, dis ’n stel speelkaarte wat sedert die 15de eeu vir verskeie kaartspeletjies gebruik is en later vir voorspellings. Daar is beelde op die kaarte wat spesifieke betekenisse het. Toe sien ek die troebadoer self en Irina pas ook daarby in. Hy is die towenaar en sy is die hoëpriesteres. En die donkiekar is die strydwa.

Goed, dis dan waar die karakters vandaan gekom het. Maar soos wat hulle saans om vure in die veld vir mekaar hul lewensverhaal vertel, word dit duidelik dat elkeen sy eie “quest” het. Was dit van dag een af jou plan, of hoe het dit gebeur?

Nee, dit het naderhand tot my deurgedring dat so iets nodig is om spanning te skep. As jy so onbepland skryf, kry jy algaande insigte en dan moet jy teruggaan op jou spoor en dinge inskryf en oorskryf. Skryf is altyd vir my ’n iteratiewe handeling, nie liniêr nie.

Is dit nie ’n groot toeval dat al die verskillende karakters wat by die troebadoer aansluit, goeie musikante is nie? Hulle bespeel instrumente wat nie in vandag se tyd bekend is nie (soos die luit en die vielle, wat ’n soort ouderwetse viool is). Dus steeds binne die kader van die Middeleeue, al is dit nie ’n historiese roman nie?

Ek het probeer om die gebeure te laat afspeel binne ’n tydperk waar daar min tegnologie was, om dit so tydloos moontlik in te kleur. Dit is min of meer die Middeleeue, daarom het ek gewaak teen anakronismes. Dis juis ’n goeie rede hoekom almal dalk ’n instrument kon bespeel, want daar was geen TV, grammofoonplate, kassette, DVDS’s of radio’s nie. Mense het saans hul eie vermaak geskep, musiek gemaak, gesing ... Die groepie se sukses met die musiekmaak sou ook simbolies gesien kon word. Samewerking is nodig.

Dit val my as leser op dat jy ’n soort refrein gebruik ten opsigte van die ietwat beteuterde groepie wat telkens een lid bykry. Uiteindelik word hulle “sewe stuks, met ’n hond, ’n donkiekar, en vyf perde”. Hoekom het jy dit gedoen?

Dit is ’n kenmerk van ’n vertelling, dat daar sulke herhalings voorkom. Ek wou daarmee klem plaas op die feit dat dit ten beste min mense is, en ja, beteuterde mense wat elk met die een of ander besering loop. Hulle is die uiterste teenoorgestelde van mense met mag en met allerlei middele, insluitend geld, tot hul beskikking.

En tog is dit hierdie groepie onmagtiges wat ’n hele ommekeer teweegbring. Heel ironies, moet ’n mens sê. Selfs die patetiese donkiekar speel ’n belangrike rol.

Net so. Dis presies die punt. Intelligensie en waagmoed is wat saak maak.

Die sprokiesgevoel in die slot waar alles vir almal – en die bestel – ten goede meewerk ... ’n “happily ever after vibe”?

Ja, die sprokiegevoel werk vir my by ’n allegoriese vertelling. Alles kan regkom as jy die regte keuses maak. Minder goed as jy ’n roman skryf. Maar sê jy nou vir my hoekom ek vaag sou gewees het as ek ’n roman wou skryf. ’n Historiese roman steun juis op spesifieke besonderhede en ek doen oneindig baie navorsing om dit reg te kry wanneer ek ’n roman aandurf. Sprokie, ja.

En dis sekerlik nie toevallig dat dit ’n vrou is – eintlik ’n jong meisiekind – wat die kritieke rol speel nie. Elke vrou in jou verhaal is sterk op haar eie manier. En ’n vrou is die regmatige kroonopvolger.

Ek is nie die soort feminis wat mans haat nie. Ek het nie self onder enige patriargale juk moes buk nie. Inteendeel. Daar was wonderlike mans in my lewe. Is steeds – een van die dae is ek 58 jaar getroud met een. Maar as ek waarneem dat vrouens onderdruk, mishandel en verguis word, dan raak ek moeilik. En skryf daaroor.

Ek het groot plesier gehad met my speurtog na die talle intertekstuele verwysings en wat in Die troebadoer meewerk tot ’n ryk tekstuur. ’n Patina van deurleefde insigte. Vertel meer hiervan?

Ek het dit sommer vir die pret ingevoeg, byvoorbeeld “die maer man met die groen trui” (Breyten Breytenbach) wat ’n skep pap koop by ’n mark. Die resep vir die pap (frumenty) kom uit The mayor of Casterbrigde (Thomas Hardy) waar die hooffiguur sy vrou op ’n mark verkoop. Daar’s ook Shakespeare en sint Augustinus.

Shakespeare is Rufus wat in Afrikaans op bladsy 111 sê: “Man, proud man, drest in a little brief authority” wat kom uit Measure for measure. Sint Augustinus het my gehelp aan “As jou hart daarvoor gesnaar is.” Daar’s ook “Bring vir die harlekyn (viellespeler) nog wyn” (Sonja Herholdt). Boerneef ja – op bladsy 109 staan daar die troebadoer “flennie die snare”.

O ja, en die gedeelte wat die kolonel voorlees uit die fiktiewe Boek van die Voorgode by Basjan se begrafnis kom uit die Oepanisjad – ek het net die verwysing na die sewe Voorgode ingewerk (bladsye 167–8). Seker nie meer kopiereg daarop nie. Ek dink dis pragtig. Ek kan nie onthou waar het ek ut honorem deorum gekry nie – ek dink dit was by Cicero. Ek was nie in my ernstige akademiese naslaanmodus soos ek altyd is as ek historiese romans skryf nie.

Daar mag nog leengoedjies wees waarvan ek nou self vergeet het.

Maar dis nie die hooftema van hierdie boek nie, is dit? Hoe sou jy dit opsom?

Alle burgers moet jaloers oor hul vryheid waak.

Nota: Ken Swart is die jonger broer van Audrey Blignault en Marié Heese se oom aan wie Die troebadoer opgedra is. Hy was ’n bekende radio-omroeper en het later as ’n redakteur vir Tafelberg-uitgewers gewerk. Hy het lank by die Blignaults in Pinelands gewoon toe Heese op skool was. In haar matriekjaar(1959) kon hy nie werk nie, want hy het herstel van ’n operasie vir ’n gewas op die brein. Heese vertel: “Ek het vir matriek Engels sowel as Afrikaans op hooftaalvlak geneem. Hy het daardie jaar vir my getutor in die Engelse letterkunde en ek het daarvoor ’n A gekry in die eksamen. (Vir Afrikaans ook.) Toe ek by die Universiteit Stellenbosch aanland, was ek klaar goed opgelei in die verwagte benadering tot letterkundige kommentaar. Hy is gedurende my tweede universiteitsjaar oorlede. Ek mis hom nog en wens hy kon geweet het van The double crown se sukses. Dit wat ek by hom geleer het, beïnvloed steeds hoe ek skryf. Hy was ’n absoluut rigtinggewende invloed in my lewe.” (Amanda Botha)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top