Die tantes van Atlantis deur Philip de Vos: ’n lesersindruk

  • 2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die tantes van Atlantis, plus 99 ander limerieke vir vrypostige kinders
Skrywer: Philip de Vos
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637006460

Nie alle boeke met prentjies tel as kinderboeke nie. Hierdie een is wel geskik vir “vrypostige kinders”. Ek dink De Vos bedoel kinders van 12 tot 112.

Kyk bietjie na dié gedig:

Die stoute jong Jannie Vermeer
laat ’n prent op sy stert tatoeëer.
  En die dinges daar onder
  is dikwels bewonder
en vir Facebook gefotografeer. (bl 30)

Op my volwasseboekrak staan ’n kopie van Chaucer’s Canterbury Tales, hervertel en geïllustreer deur Marcia Williams. Dit is ’n lieflike boek, mooi om na te kyk en onkreukbaar lekker om te lees. Maar dis nie vir kinders nie, o vet, nee.

LAPA het wel Die tantes van Atlantis as kinderboek bemark, en Magdel Vorster het dit selfs ingesluit in haar “Kinderboeke vir die Kerskous” wat einde verlede jaar verskyn het.

So, anders as Chaucer, hou De Vos op voor dit werklik skunnig raak. Hy speel wel met suggestie:

Die oulike ouma Van Schoor
sê: “Ai, maar die bungee was goor.
  My tande, my pruik
  plus my waterverbruik
het ek al met die afspring verloor.” (bl 59)

Of dan:

Die vieslike Frikkie Fourie
het graag in die swembad ge-pie,
  maar als het verander
  toe mense laat spaander
omdat die in die swembad weet wie. (bl 58)

Die De Vries loop ook deeglik deur:

Die vieslike Fanie de Vries
gee weekliks ’n vreeslike nies.
  Die nies is so woes
  sodat mense moet koes
en moet vlug voor daai slym’rige sies! (bl 35)

De Vos het al oor homself gesê dat hy nog nooit grootgeword het nie.

In die opdrag voorin skryf hy: “Vir Ina en Jan wat op hulle gevorderde ouderdom dalk ietsie stouter verwag het.”

Dis Philip de Vos. En dis hoekom die boek se subtitel sê dit is vir “vrypostige kinders”.

Pa’s en ma’s, oupas en oumas: Koop hierdie boek sommer vir julself!

100 stukkies lekker ’n klomp interessante feite

Daar is 100 limerieke in dié lekker versameling; ’n 100 redes dus om die boek aan te skaf. Of, net dalk, as ’n mens mooi kyk, is daar dalk meer as ’n 100 verse?

De Vos het ook vir ons ’n voorwoord geskryf waarin hy vertel oor die komvandaan van die limeriek en hoe dit werk. Dit is so eenvoudig geskryf, selfs ek kan dit verstaan. Op universiteit kon ek egter nie kop of stert uitmaak van jambiese pentameters of sulke goed nie. De Vos se verduideliking snap ek wel!

Die illustrasies

Foto deur Harald Funken van Pixabay

Ons weet nou al Piet Grobler en Philip de Vos is soos pap en sous: Hulle werk baie goed saam.

Grobler se tekeninge is meer as net prentjies. Hulle herinterpreteer die verhale wat elke limeriek vertel.

Die limerieke is in temas geskryf en Grobler het die bladuitleg fyn bekyk. Daarvolgens het hy met sy sketse óf ’n aweregse toevoeging tot die verse gemaak, óf hy het die betekenis van die gedigte tong in die kies uitgedaag.

Ek het al te vore genoem dat kinders leer lees deur die prente te interpreteer.

Hierdie boek is eintlik vir volwasse kinders bedoel, al is daar prentjies in. Lesers moet dus nie die boek probeer vluglees nie. Kyk na die bladsy, lees die limerieke, meet en pas die prent by dit wat jy gelees het.

Oumense soos ek is beslis nie te oud om ook die spel tussen woord en beeld te geniet nie. Dalk help dit ons om weer in voeling te kom met die magiese ontdekking van boeke soos toe ons jonger was?

’n Fees vir almal wat hou van lag en lees!

Ek het hierdie opskrif gegaps van agter op die boek se omslag, want ek stem nogal saam daarmee.

Nou wil ek afsluit met hierdie limeriek op bladsy 52:

Die lieflike Bybie de Wet
is trots op áls wat sy het:
  haar neus en hande,
  haar ore en tande
en haar tone wat krul van die pret.

My kopie van Die tantes van Atlantis gaan op die volwasserak staan.

Wat as een van die kleiner kinders dit ook wil lees? Doe dan maar so voort, dink ek. Kleintjies sal die ritme geniet, al sal hulle nog nie verstaan hoekom Bybie de Wet se tone krul nie.

Eendag, wanneer hulle eie tone begin krul, sal hulle reg wees om die boek self te wil lees en die pret met die geliefde, wat vir hul krom tone verantwoordelik is, te deel.

Lees ook:

Philip de Vos en Piet Grobler gesels oor Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes

Schoenbek: ’n Onderhoud met Joukje Akveld en Piet Grobler

Hoe ’n digter jou hele dag kan bederf

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout: ’n lesersindruk

LitNet wag op jou lesersindruk!

  • 2

Kommentaar

  • Marieta McGrath

    Dankie hiervoor, Izak. 'Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes' is ook beskryf as 'n kinderboek in 'n resensie en staan in die boekwinkel by die kinderboeke. In my nederige opinie is dit soos jy sê, vir "kinders" ouer as 12. (Ek het self jong kinders, dalk help dit om te weet.)
    Albei boeke is kunswerke, koop dit!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top