Die storie van Racheltjie de Beer: Antoinette Louw praat oor haar kinderboek

  • 0

Titel: Die storie van Racheltjie de Beer
Skrywer: Antoinette Louw
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928518099

Antoinette Louw praat met Naomi Meyer oor haar kinderboek, Die storie van Racheltjie de Beer, en die film Racheltjie de Beer, waarin sy een van die rolle vertolk.

Antoinette, jy vertolk ’n rol in die film Racheltjie de Beer. Wie is jou karakter hier en wil jy iets vertel van wat jy van haar weet of kon uitvind in die vertolking van jou rol?

Ek speel Sara Lundt wat saam met haar ouers (gespeel deur Sandra Prinsloo en Marius Weyers) alleen op ’n plaas in die Oos-Vrystaat woon. Haar ouers is al oud en haar ma het demensie. Sy het haar werk as onderwyseres gelos om na haar ouers te kyk. Racheltjie, haar pa en broer is alleentrekkers, en kom dan by die Lundts se plaas aan, waar hulle agv omstandighede op die plaas moet bly. Dis hier waar die tragiese verhaal van Racheltjie afspeel. Sara Lundt en haar ouers is karakters wat die skrywer van die draaiboek self bygevoeg het.

En nou het jy ’n kinderboek geskryf met die titel Die storie van Racheltjie de Beer. Was die feit dat jy in die film speel vir jou die inspirasie om die boek te skryf, of hoe het die proses (of die inspirasie) gewerk?

Ja, dit was deel daarvan. Terwyl ek op stel was, het ek en my pa oor die foon gepraat – dis hý wat met die voorstel van ’n Racheltjie de Beer-kinderboek vorendag gekom het. En ek het gedink dis ’n fantastiese idee. So my pa moet die krediet kry.

Ek het die boek vir my dogtertjie voorgelees en sy was diep betrokke by die boetie-karakter en het my aanhou vra hoe oud hy is. Weet jy dalk? En het jy ’n spesifieke seuntjie in jou kop gehad toe jy oor hom geskryf het?

In my kop is hy vyf jaar oud, dieselfde ouderdom as wat Johannes Jordaan was wat die rol van Jamie in die film vertolk. En ook krulkop en blond. Klein Johannes is die oulikste seuntjie – so ja, hy was definitief ’n inspirasie vir die karakter in die boek.

Wie is jou gunstelingkarakter in die boek en hoekom?

O genade, dis soos om vir ’n ma te vra wie van haar kinders sy die liefste het! Maar ek moet sê klein Jamie het diep in my hart kom lê. Ek het dit vreeslik geniet om hom te skryf.

Ek het gewonder oor die agtergrondstorie. Racheltjie de Beer wat besig is om te trek en die ossewa en alles wat gebeur. Is dit iets wat jy nagevors het of is dit fiksie? Dit voel darem baie werklik.

Dis alles fiksie. Daar is sekere goed wat in die filmweergawe is wat in die kinderboek ook is. Soos Racheltjie, haar pa en boetie wat alleen trek en op ’n plaas aankom, asook Racheltjie se liefde vir en verstaan van plante.

Ons kom ’n lang pad saam, Antoinette, en ons weet uit ons jeug dat ons kinders van die apartheidsjare is. Iewers langs die pad gaan mens se oë oop vir onregte wat deur wit mense gepleeg is. Hoe maak mens nou – as ons kyk na iemand soos ’n Racheltjie de Beer en alles wat haar geskiedenis omring. Hoe word sy ’n universele heldin, iemand na wie mense van alle kultuurgroepe in die land kan opkyk? Wat is vir jou eienskappe van hierdie dogtertjie wat jy dink almal in die land hulle mee kan vereenselwig?

Ons moet onthou dat die meeste mense in ons land nie die verhaal van Racheltjie de Beer ken nie. Hulle het nie daarmee grootgeword soos ek en jy as wit Afrikaanssprekendes in apartheid nie. Daarby dra die storie universele menslike emosies van verlies, opoffering en liefde. Emosies waarmee almal kan vereenselwig. Matthys Boshoff, die regisseur, het vir my ’n radio-insetsel gestuur van Motsweding FM, ’n Setswana-radiostasie. Die resensent het gesê dis die beste fliek om te gaan kyk, al verstaan jy nie Afrikaans nie. Ek het hoendervleis gekry. Ons beweeg al nader daaraan om volksverhale as Suid-Afrikaans te sien, en nie geëien en gekaap deur een kultuurgroep nie. Dis universeel.

Wie vertel wie se storie? Ek is by nog ’n moeilike vraag: Hoe dink mens jou met vandag se bril en tydperk in in die skoene van ’n kind van daardie tyd? Jy het dit so goed gedoen en jou storie vertel moeiteloos vir vandag se kinders, het ek self besef terwyl ek die storie vir my kinders voorlees. Vertel my van jou navorsing. Hoe het jy uitgevind hoe dit was om ’n dogtertjie van Racheltjie de Beer se tydperk te wees?

Ek het reeds baie navorsing oor daardie era gedoen in my voorbereiding vir die film. En ek was gelukkig om op stel die gevoel van daardie tyd te beleef. Maar op die ou einde is kinders net kinders. Maak nie saak in watter era hulle leef nie.

Wat was vir jou die lekkerste deel van die skryf van hierdie storie?

Om myself in te leef in daardie tyd. En dat die karakters – veral die kinders – self begin praat het. Hulle eie persoonlikhede ontwikkel het. Soms moes ek – veral vir Jamie – stilmaak, want hy is ’n klein babbelbek.

Wat was die moeilikste?

Om vir Jamie stil te maak wanneer hy nog wou praat.

Jy skryf al vandat jy klein is. Wil jy vertel waaraan jy nou skryf? Of iets anders waarmee jy besig is: ’n rol, of ’n projek wat jou inspireer?

As dit goed gaan met hierdie boek, is my visie om ’n reeks kinderboeke te begin wat Suid–Afrikaanse volksverhale vertel. Suid-Afrika is ’n skatkis van die wonderlikste volksverhale – baie wat ons nie eers ken nie. En wat besig is om verlore te gaan.

  • Die storie van Racheltjie de Beer kan bestel word by www.naledi.online.

Kyk die lokprent van die film Die verhaal van Racheltjie de Beer hier. Die film is tans in fliekteaters te sien. 

Filmresensie: Racheltjie de Beer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top