Filmresensie: Racheltjie de Beer

  • 4

Moenie hierdie resensie lees nie. Stop dit. Ek is ernstig. Gaan kyk net die film. Ek is nugter genoeg oor die impak van resensies om te weet dat die probleme wat ek met Racheltjie de Beer het, nie die algemene filmganger behoort te pla nie. Moenie verder lees nie! Laat Stian Bam toe om jou hart te breek.

Moet jou ook nie steur aan die debat rondom of Racheltjie bestaan het of nie. Dit is irrelevant. Baie van ons het grootgeword met die legende; dit is deel van Afrikaners se weefsel en daar is baie om uit te leer. Vandag nog.

Willie Nel, jou staatmaker, jou kinematograaf van formaat. Jy het hierdie film so mooi geskiet, mens wil vorentoe leun en daaraan vat. Jy voel die Vrystaat-son op jou vel, jy ruik die gras. Wie ook al besluit het om alleenlik met natuurlike lig te werk, verdien ʼn bottel goeie rooiwyn. Die afwesigheid van nagemaakte, koue en onpersoonlike lig verleen aan die film ʼn warmte wat jou intrek.

Behalwe Sandra se ietwat stowwerige pruik verleen die klere, meubels, waens en toerusting ʼn outentieke gevoel aan die film. Die gebruik van blomme en kruie, en die helende krag en betekenis daarvan is iets besonders. Wat ook verfrissend is, is dat die vrouens in hierdie periodedrama nie onderdanige siele is nie. Racheltjie staan op teen haar pa en sy duiwels. Sara stuur haar pronkponiekêrel in sy peetjie in.

Dank vader regisseur Matthys Boshoff het vir 99% van die film die stroopblik stewig toegehou. Racheltjie de Beer kon so maklik in melodrama verval het. Daar is aangrypende nuanses wat beïndruk. Ek plaas Boshoff binnekort onder kruisverhoor.

Dié wat die storie van Racheltjie de Beer ken, weet tog hoe dit eindig, en tog kry Matthys dit reg om ons te laat hoop, om ons te laat gryp na grashalms in die hoop dat sy nie sterf nie. Bederfwaarskuwing: sy sterf. Meer oor daardie toneel later.

So wat is my probleem? Eerstens was die rekenaargegenereerde beelde óf te dramaties, óf te amateuragtig. Die donker en dreigende stormwolk lyk byvoorbeeld soos iets wat in ʼn Hollywood rampfilm hoort met The Rock in die hoofrol, nie in ʼn genuanseerde film oor ʼn pa en ʼn dogter nie. Dan lyk die CGI-luiperd soos ʼn skugter hond-ding wat nies. Dit doen afbreuk aan die simboliek van die dier.

Tweedens was die film met tye te “on the nose”, soos die Engelse sê. Waar die wa deur die rivier moet ry, beveel Racheltjie se pa haar om na Jamie te kyk. Wanneer haar boetie uitval, sou ʼn vuil kyk van Herman af genoeg gewees het. Die verdere uittrap was onnodig. Ons verstaan waarop haar pligsbesef afstuur.

Derdens: Die film ondersoek belangrike vraagstukke, soos menstruasie, depressie en selfmoord, maar dit voel nie asof dit diep ingewikkel in die weefsel van die film is nie. Dit is nie die einde van die wêreld nie. Dalk as die film minder vraagstukke aangevat het, en meer tyd op slegs ʼn paar spandeer het, het dit dalk meer deurweef gevoel.

Al hierdie kritiek is egter onbenullig wanneer jy die laaste twee of drie minute van die film meemaak waar Herman sy dogter se liggaam vind. Daar is omtrent geen dialoog nie en jy is in die hande van baie bekwame akteurs. Goeie genade, Stian Bam en Antoinette Louw gaan jou hart uit jou borskas uit ruk in een van die mees treffende tonele. Boshoff eindig die fliek ook daar. Hy onderskat nie jou intelligensie met verdere verduidelikings, tonele of dialoog nie. Die verlies is absoluut.

Kyk die amptelike lokprent hier:

Die storie van Racheltjie de Beer: Antoinette Louw praat oor haar kinderboek

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Tussen Eugene Marais se dwelmverslawing en storie van Twee dapper Afrikanervroue in die April 1921 uitgawe van tydskrif Boervrou en AG Visser se 1929 Sneeuwitjie van die veld, het ons nou Afrikaanse vroue-heldin gekry, op papier en nou as film 🎥. Dit na die voorval van 3 kinders in VSA wat tydens sneeustorm verdwaal het en die 2 jongeres warm gehou was deur die ouer suster wie verkluim het, in 1920.
    Daar is werklike heldinne, dink bv Nonnie de la Rey.
    Dalk was hul nie Vrymesselaar skepping nie?

  • Avatar
    Etienne Viviers

    Ek sien baie daarna uit om hierdie film te sien. Die voorskou is indrukwekkend. Egter: die debat rondom of Racheltjie bestaan het of nie is beslis nie "irrelevant" nie. Dit het te doen met die belangrike verskille tussen "storie" en "historie".

  • Avatar
    Reney Warrington

    Etiene, ek hoor jou. Dalk moes ek duideliker gewees het: storie of historie, moenie dat dit jou afsit om die film te kyk nie.

  • Avatar
    Hans Richardt

    'n Legende was deur Eugene Marais geskep in April 1921 uitgawe van tydskrif Boervrou.
    Dit is verder versterk deur AG Visser se Sneeuwitjie van die veld, in sy 1929 uitgawe van versamelde gedigte.
    Sou wit Afrikaners aandring daarop dat Racheltjie de Beer feitlik is, sal ons ook moet toegee dat legendes van Krotoa en hoofman Tshwane feitlik is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top