Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium en die Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie: ’n onderhoud met Pieter Grobler

  • 1

Iguanat from Pixabay

Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium en Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie vind van 1 tot 7 April 2024 by die Endlersaal in Stellenbosch plaas.

Pieter Grobler is verbonde aan die US se klavierafdeling en is een van die organiseerders van die Stellenbosch Internasionale Klavierkompetisie. Hy praat met Naomi Meyer oor die kompetisie – en oor die klavier as instrument.

Pieter,  die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium en Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie is op die oomblik in Stellenbosch aan die gang. Waarom word daar spesifiek ’n simposium vir pianiste aangebied?

Die projek het as inisiatief van die klavierafdeling begin met die doel om pianiste van dwarsoor die land aan mekaar bekend te stel en die ryk klaviertradisie in Suid-Afrika verder uit te brei. Daar is wel simposiums vir belanghebbendes in verskillende instrumentegroepe, en ons fokus op die klavier is dus maar een van ’n konstellasie van instrumentetradisies in Suid-Afrika.

Enigeen wat die klavier as instrument lief het, weet dat daar as ’t ware ’n hele orkes in een instrument opgesluit kan wees. Wie is die teikengehoor vir hierdie simposium: studente, pianiste, klavieronderwysers, ’n gehoor wat musiek wil kom luister? 

Bogenoemde is alles waar – ons konserte bied iets vir almal. Klavier-nerds is egter beslis die teikenmark! Dit is spesiaal om twee internasionale pianiste tussen die klomp plaaslike kollegas te verwelkom, en dit bied ’n positiewe energie wat ook aan die studente en gehoor oorgedra word. 

Watter items kan jy vir voornemende luisteraars oor die naweek aanbeveel?

Die solokonsert van die internasionale kunstenaar Henri Sigfridsson vind Vrydag plaas en bestaan uit transkripsies van werke van Rachmaninoff en Liszt. Daarna volg die Hennie Joubert-klavierkompetisie se finaal, gevolg deur die klavierekstravaganza. Die klavierekstravaganza bied ’n groot variasie van items wat vir die algemene publiek baie toeganklik sal wees. 

Die Hennie Joubert-kompetisie is ’n geleentheid waar jong pianiste kan kom deelneem. (Nadat hulle reeds ’n aanlyn aanbieding geslaag het en die finaliste gekies is, speel hulle dan in uitdunrondes voor die Endler se gehoor sodat die finaliste en deelnemers aan die finale kompetisie bepaal kan word.) Wat is die belang van hierdie kompetisie vir jong pianiste in die hede – en ook vir hulle toekoms?

Dit ontwikkel hulle vaardigheid om ’n groot verskeidenheid repertoriums van internasionale standaard baas te raak. Hulle kan daarna ook aan ander groter kompetisies deelneem.

.........
Die kompetisie is ’n uitstekende leerskool vir die professionele konsertlewe. Die deelnemers oor die jare sedert 1984 lees soos ’n kortlys van professionele musici. 
.............

Die kompetisie is ’n uitstekende leerskool vir die professionele konsertlewe. Die deelnemers oor die jare sedert 1984 lees soos ’n kortlys van professionele musici. 

Dis wel nie gewoonlik die geval dat daar meer as een (of twee) van dieselfde instrumente gelyk bespeel word nie. Tien klaviere is dus nogal iets besonders! Hoe gaan dit prakties werk – is daar ’n dirigent? Voel die spelers mekaar aan? Vertel asseblief iets van hierdie konsert, wat een van die geleenthede is waarna luisteraars kan uitsien.

Die spelers is almal hoogs ervare. Ons speel in groepe saam op dieselfde part en is so op die verhoog gerangskik dat ons oogkontak kan maak. Aanvanklik is dit totale chaos, maar almal sorteer gou genoeg hulle parte uit! Tussenin word hard gelag tydens die repetisies, en kollegas waardeer mekaar se geselskap en die kans om saam musiek te maak. 

Dit was onlangs Wêreldklavierdag (aan die einde van Maart – 28 of 29 Maart, afhangende van of dit skrikkeljaar is). Daar kan so baie verskillende genres van musiek op die klavier gespeel word. Wat is vir jou die mees betowerende of inspirerende musiek wat op die klavier gespeel kan word? 

Ons is almal klassieke musici, so uit die aard van die saak is dit ons eie fokus. Ons is ook almal veelsydige musici. So het Nina Schumann byvoorbeeld ’n transkripsie van ons jazzdosent, Ramon Alexander, se “Louwkloof se mense” gespeel wat deur Cornél Engelbrecht gemaak is – dit saam met ’n tromstel! Dit was die perfekte einde aan die personeelkonsert. 

In Suid-Afrika is daar so baie verskillende denkstrome, en musiek uit verskillende omgewings is nie superieur of ondergeskik aan mekaar nie. Daar is musiek vanuit die sogenaamde Westerse klassieke tradisie en ook musiek uit Afrika. Is daar musiek op eie bodem wat tot sy reg kan kom op die klavier as instrument?

Die klavier is ’n veelsydige instrument wat in verskillende kulturele tradisies aangewend kan word. Daar is nie ’n populêre of jazzgenre waarin die klavier nie sentraal staan nie. Daarby is plaaslikte aanslagte soos amapiano noemenswaardig. Daar is ook in ons land ’n ryk klassiekeklaviertradisie, en dit is waarin ons ons bevind in hierdie simposiumkonteks.

Die klavier is ’n baie duur instrument. Om te besit en om te bespeel. Wat kan gedoen word om kinders vanuit alle agtergronde toegang tot die klavier te gee en om heinings en mure af te breek wat mense laat glo hierdie instrument sit iewers afgebaken en ontoeganklik vir voornemende spelers?

Nuwe tegnologie maak instrumente soos keyboards lewensvatbaar as oefeninstrumente. Dit bied reuse voordele in terme van bekostigbaarheid. Daar is ’n ongelooflike klomp projekte wat hulle beywer om musiekonderrig na hulle plaaslike areas te bring. Hierdie projekte doen ongelooflik goeie werk en moet ondersteun word om musiekonderrig vir almal moontlik te maak. Verder is dit belangrik om die infrastruktuur te ondersteun wat geleenthede aan jong musici bring. In terme van bekostigbaarheid bied die simposium aan plaaslike pianiste die geleentheid om by die voorste plaaslike klavieronderwysers asook by internasionale kunstenaars les te neem. So iets sou in oorsese terme peperduur wees. 

Daarom is dit so besonders dat luisteraars in hierdie week kan uitsien na aandkonserte in die Endlersaal. Die saal is boonop bekend vir sy goeie akoestiek.

Hier is nog inligting oor die simposium en die kompetisie.

Lees ook:

From violence to violins: ’n onderhoud met Maria Botha van Muzukidz

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top