Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium en Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie
1 tot 7 April 2024 by die Endlersaal in Stellenbosch
Die week sluit af met die “Piano Extravaganza” waar tot twintig pianiste gelyktydig op tien klaviere speel.
Die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium, wat sedert 2006 tweejaarliks by die Universiteit Stellenbosch plaasvind, bring die voorste klavieronderwysers en studente bymekaar vir ’n fees van lesings, openbare meesterklasse en konserte. Die simposium is bekend daarvoor dat dit vele nuwe internasionale kunstenaars aan die Suid-Afrikaanse konsertpubliek bekendstel, en bied aan plaaslike leerders ’n ongeëwenaarde geleentheid waarvoor hulle andersins oorsee moet reis.
Die simposium is, soos gewoonlik, gepak met openbare meesterklasse, lesings en konserte. Alle konserte sal in die Endlersaal by die Musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch plaasvind.
’n Daaglikse hoogtepunt is sonder twyfel die uitstekende konserte wat elke aand om 20:00 in die Endler sal plaasvind. Musiekliefhebbers kan kies tussen konserte deur bekroonde internasionale pianiste, geliefde plaaslike kunstenaars asook die finale rondte van die Hennie Joubert Klavierkompetisie saam met die KFO wat op 6 April plaasvind.
Laai die volledige program hier af.
Die Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie, wat ook tydens die simposiumweek aangebied word, is in 1984 gestig om jong pianiste vir groter kompetisies en ’n konsertloopbaan voor te berei. Dit word sedert 2012 onder die vaandel van die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium aangebied. Suid-Afrika se top- jong pianiste sal op 1 en 2 April tydens solorondtes vir die geleentheid meeding om op 6 April in die finaal van die Hennie Joubert Klavierkompetisie saam met die KFO op te tree. Die solorondtes kan gratis bygewoon word en kaartjies vir die finaal kan by Webtickets bespreek word.
Laai die kompetisieprogram hier af.
Die week se aandkonserte word op Woensdag 3 April geopen deur die internasionaal bekroonde konsertpianis Jan Jiracek von Arnim, wat tans ’n gasprofessor aan die Elisabeth Universiteit in Hiroshima, Japan en ook ’n besoekende professor aan Yale Universiteit in die VSA is. Gehore kan op Vrydag 5 April na die Finse pianis Henri Sigfridsson se solouitvoering uitsien. Sigfridsson is tans ’n Professor aan die Essen Folkwang Universiteit. Hy was onder meer ’n medaljewenner in die Geza Anda Klavierkompetisie in Zürich in 2000 en sy gewildheid onder gehore het spoedig ’n loopbaan in prominente konsertsale wêreldwyd verseker.
Vir diegene wat iets ongewoons soek, sal die immergewilde Klavierextravaganza op 7 April nie teleurstel nie. Die gehoor sal getrakteer word met interessante klavierensembles van populêre klassieke werke wat later ’n klimaks bereik met 10 klaviere gelyktydig op die Endlersaal se verhoog.
Kaartjies vir individuele vertonings, sowel as die opsie van ’n volle feespakket, is by Webtickets beskikbaar: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1542834917