Die slaaimetode: ’n gesonde lees- en leertegniek

  • 2

Daar is 'n krisis in ons onderwysstelsel – en dit hang saam met leerders se onvermoë om te kan lees. Om akademies te kan vorder, moet 'n student met begrip kan lees. Kan ’n mens léér om met aandag en begrip te lees? Dalk is daar 'n kleurvolle metode wat aangewend kan word, maniere om stap vir stap te leer lees en verstaan. Hier is 'n onderhoud met twee navorsers wie se artikel hieromtrent onlangs in LitNet Akademies (Opvoedkunde) verskyn het.

Lees ’n gesprek van Estelle Kruger met Amanda Anker en Sanet Cox oor hulle artikel: Die oordrag van leesbegripstrategieë op ander akademiese vakke op universiteitsvlak

Wat was julle onderskeie ervarings in die onderwysprofessie voordat julle die akademie betree het?

Ons is beide gekwalifiseerde Intermediêre fase onderwyseresse wat in hoofstroomskole in die Boland skool gegee het. Amanda het Afrikaans en Engels vir graad ses en sewe leerders onderrig terwyl Sanet ’n rondreisende Xhosa-(Tweede Addisionele Taal) onderwyseres was. Sanet het ook multigraadonderwys aangebied vir beide laerskool- en hoërskoolleerders voordat hulle beide by CPUT betrokke geraak het.

Wat is die agtergrond van die studie – m.a.w. watter omstandighede het hierdie navorsing van julle geïnspireer? Hoe het julle bewus geword van die moontlikheid om leesbegripstrategieë te gebruik op ander vakke op universiteitsvlak?

Ons was betrokke by die Akademiese Leesstrategie-onderrigprogram (vroeër genoem Leesnet) by CPUT waar ons na afloop van opleiding, die bestaande program help ontwerp en implementeer het. Dit was aanvanklik ’n vrywillige program vir B.Ed. 1- en 4-studente, maar as gevolg van die sukses wat ervaar is, het dit in ’n volwaardige program ontwikkel wat verplig is vir alle B.Ed. 1-studente.

’n Vorige navorsingsprojek oor die sukses van hierdie program het ons geprikkel om verdere navorsing te doen rakende die oordrag van strategieë na ’n ander vakgebied met spesifieke verwysing na ons kampus, met ons studente en na aanleiding van die program wat ons implementeer.

Hoe sou julle die konsep “leesbegripstrategieë” in 25 woorde verduidelik aan belangstellende (maar oningeligte) onderwysers/lektore van ander vakke om dit toe te pas in hulle vakgebiede?

Dit is spesifieke strategieë wat goeie lesers gebruik om betrokkenheid by ’n teks te bewerkstellig om sodoende begrip te bevorder, en behels die bewustheid van metakognisie (bewus van die bewustheid van denke terwyl ’n mens lees).

Hoe het julle op die idee van Leesnet afgekom om dit te ontwikkel vir ander vakke as taalonderrig? Was daar baie mense wat betrokke was by die ontwikkelingsproses? Vertel asseblief.

Die leemte (van studente wat sukkel om op ’n tersiêre vlak akademiese tekste met begrip te kan lees) is deur die destydse assisstentdekaan op ons kampus geïdentifiseer waarna hy vier belangstellende dosente van CPUT Wellingtonkampus genader het. Ons het opleiding ontvang en daarna die program na aanleiding van ons studente se spesifieke behoeftes ontwerp en geïmplementeer. Die program het oor die jare ontwikkel na aanleiding van studenteterugvoering.

Met verloop van tyd het dosente aangesluit, terwyl ander weer weg is. Opleiding is elke keer verskaf aan die nuwe aanbieders.

Verduidelik asseblief die volgende:

Die kognitiewe prosesse wat aan die gang is terwyl leesbegripstrategieë in Leesnet geïmplementeer word

Ons poog om metakognitiewe denke aan die student te modelleer en veranderde denkprosesse te stimuleer. Die fokus is om studente op ’n kognitiewe vlak bewus te maak van wat die “stem in hulle koppe” doen terwyl hulle lees. Ons verduidelik metakognisie as die bewustheid van ’n stem in die kop wat denke help lei. Ons maak van eksplisiete onderrig gebruik om hulle bekend te stel aan die leesbegripstrategieë byvoorbeeld vraagstelling, voorspelling, monitor van begrip, opsomming en assosiasies.

Hoe studente bewus gemaak kan word van hulle eie metakognisie in die leesbegripkonteks?

Ons onderrig metakognisie eksplisiet as ’n stem in die kop wat aan die hand van die “reading salad”-lesplan gemodelleer word. Dit behels die konkrete uitbeelding van die denkproses tydens lees met behulp van gekleurde blokkies papier wat onderskeidelik die teks (in groen blokkies) en denke (in rooi blokkies) voorstel. Aan die hand van ’n leesstuk beeld die dosent dan die proses uit en bou die “slaai” as kombinasie van teks en denke, wat gesamentlik tot die leesproses lei. Die denke wat gemodelleer word sluit die aktiverng van vooraf kennis, die gebruik van tekseienskappe, vraagstelling, voorspelling, monitering van begrip, opsomming en assosiasie in. Mettertyd tree die dosent stapsgewys terug en ondersteun die studente om uiteindelik selfstandige metakognisie toe te pas (“Instructional scaffoling”).

As een van julle die vakhoof van ’n ander vak as taal op skool of universiteit sou wees:

Hoe sal julle onderwysers motiveer om Leesnet te implementeer in hulle vakke?

Ek sal gereelde personeelgesprekke aanmoedig oor die voordele van hoe onderwysers in hulle vakke dink en hoe hulle dus die vakteks/handboek lees. Ek sal hulle aanmoedig om dit hardop vir die klas te lees en hulle denke daaroor te modelleer. Sodoende word die studente in verskillende vakke aan verskillende denkwyses blootgestel. Onderwysers kan ook aangemoedig word om ’n joernaal te hou oor hoe hulle oor hulle vak en die metodiek daarvan dink. Hierdie benadering impliseer nie dat meer onderrigtyd gebruik word nie, maar juis dat onderrigtyd baie funksioneel gebruik word. Dit lei ook daartoe dat hulle leerders beter formuleer wanneer hulle oor die vak skryf. ’n Verdere voordeel is dat die onderwyser sy metodiek aanpas en uitbrei.

Hoe kan onderwysstudente opgelei word om Leesnet te gebruik in hul onderrigsituasies by skole?

Ons onderrigbenadering is juis vakdidakties van aard. Alhoewel ons primêre doel is om die student op ’n akademiese vlak te help om met begrip te lees, is ons sekondêre doel om hulle bewus te maak van die waarde van leesbegripstrategieë en die uiteindelike gebruik daarvan in hulle klaskamers.

Op watter manier kan konteksgebondenheid as negatiewe oordrag met betrekking tot leesbegripstrategieë geminimaliseer word?

Dit kan geminimaliseer word deur gebruik te maak van ’n verskeidenheid tekstipes en onderwerpe. Outentieke tekste, wat deur mededosente in ander vakgebiede binne die betrokke kursus gebruik word, kan vir hierdie doel effektief wees. Studente kan aangemoedig word om tekste wat vir hulle relevant en/of interessant is te bring waaruit leesonderrig kan plaasvind.

Julle navorsingspopulasie was ’n groot groep (305 studente). Dink julle:

Die bevindinge is beduidend vir toepassing by ander universiteite en skole in Suid-Afrika? Verduidelik asseblief.

Ons glo so, die populasie is verteenwoordigend van tipiese tweedejaar-onderwysstudente in Suid-Afrika.

Skole in Suid-Afrika is oor die algemeen goed genoeg elektronies toegerus om Leesnet te kan gebruik? Motiveer

Hoewel ons nie die praktiese situasie in alle skole ken nie, weet ons dat die Departement van Onderwys daarna streef om skole toe te rus. Rekenaargebruik, in die konteks van Leesnet, is ’n klein onderafdeling van die program en sou daarsonder kon funksioneer. Leesnet fokus op eksplisiete strategie-onderrig terwyl die rekenaar bykomend gebruik word slegs om leesspoed en basiese leesbegrip te monitor.

Leesnet kan help om studente in tersiêre onderwys beter toe te rus in voorgraadse kursusse? Verduidelik asseblief.

Sekerlik. Die primêre doel van hierdie program is om studente  te bemagtig om op ’n akademiese vlak met begrip te lees. Die studente word deurgaans aangemoedig om die strategieë in hulle eie studies en leeswerk toe te pas. Sodra sukses prakties ervaar word, is studente positief oor die vak, en die implementering daarvan.

In ’n ideale wêreld – hoe sou Leesnet geïmplementeer kan word in multikulturele en oorvol klaskamers? Wie kan iets daaraan doen om by hierdie ideaal uit te kom?

Ons kan slegs antwoord binne die grense van ons navorsing en ervaring wat tersiêre onderwys is, binne die onderwysfakulteit. Ons kan slegs spekuleer oor die praktyk van onderwys in skole (indien dit die omvang van die vraag is?). Ons aanbeveling bly steeds dat groot klasse in kleiner groepe onderverdeel word sover dit moontlik gedoen kan word. Vir ons is ’n multikulturele klas nie ’n uitdaging nie, maar ’n positiewe eienskap aangesien dit moontlik kan lei tot verskillende perspektiewe.

Waarmee het julle gesukkel in hierdie navorsingsproses? Enige kritiek?

Ons was gelukkig in ’n situasie omring met kenners op die gebied van navorsing asook gewillige deelnemers aan die projek wat die proses aansienlik vergemaklik het. Die aantal respondente was groot; dus was die verwerking en opskryf van die data uitdagend. Hierdie artikel is ’n uitvloeisel van ’n M.Ed.-verhandeling.

Op ’n persoonlike vlak was dit nie altyd maklik om hiervoor tyd te maak nie aangesien albei skrywers beroepe en gesinne het.

Watter verrassings het julle gekry in hierdie navorsingsprojek?

Studente se vermoë om oor hulle eie leesproses te praat en dit duidelik te kommunikeer was ’n aangename verrassing. Ons was ook voorbereid om negatiewe kommentaar oor die program te hoor en om die program dienooreenkomstig aan te pas, maar was verbaas met die positiewe terugvoer wat deur die empiriese data opgelewer is.

Wat het julle elkeen as persoon geleer in die proses van navorsing en die publikasie van julle navorsingsbevindinge?

Die hele proses van studie, navorsing en publikasie was vir ons albei ’n nuwe uitdaging en ons het gevind dat toegewydheid, gewilligheid en om pligsgetrou te wees die deurslag gegee het. Ons het elke klein hekkie stap-vir-stap aangepak en oorkom.

Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op die horison vir julle?

Sanet is besig met die finalisering van haar PhD-studie rakende e-leerondersteuning vir taaldosente waaroor sy ook artikels skryf. Amanda besin oor haar akademiese toekoms en besluit tussen verdere PhD-studies en navorsingsartikels. Sy is betrokke by verskeie projekte, het ’n passie vir leesonderrig en is veral geïnteresseerd in die veld van inklusiewe onderwys.

Ons is ook beide betrokke by ’n leesondersteuningsprojek by ’n skool in ons omgewing wat moontlike verdere navorsingsgeleenthede inhou.

Krisis in ons opvoedingstelsel

  • 2

Kommentaar

    • Hallo Corlia, van LitNet se kant af het ons oefenvraestelle vanaf graad 3 hier aanlyn beskikbaar. Hier is 'n indeks van die vraestelle, ingedeel volgens graad: https://www.litnet.co.za/indeks-notas-toetse-en-vraestelle/. Ek stel voor dat jy so gou moontlik met jou seun se klasonderwyser gesels. Dalk het die onderwyser raad oor hulp in die klaskamer. Persoonlike opmerking: Tale en lees kan verbeter as mens selfs net elke aand 'n paar minute lank stories saam lees. Wiskunde kan verbeter deur herhaling en oefening. Maar gesels asseblief met die klasonderwyser vir nog raad. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top