Die skielike heengaan van James Bhemgee

  • 0

“James Bhemgee was ’n bekende tenoor in die Kaap wat nooit die hoogtes bereik het waarvoor hy bestem was nie,” sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk.

James Bhemgee het Woensdag aan ’n hartaanval in Tygerberg Hospitaal gesterf. Sy dood was skielik en onverwags omdat baie nie van die siektetoestand bewus was nie. Sy lewe kan vergelyk word met die sprokiesverhaal Aspoestertjie – ’n lewensverhaal vanuit die Kaapse Vlaktes waar sy enigste kans op oorlewing sy pragtenoorstem was. Almal wat hom geken het, het altyd na hom verwys as ons operaster wat nooit was nie – die “Die Singende Straatveёr”.

James Bhemgee (Foto: Danie van Wyk)

Sy verhaal begin in Worcester waar hy in 1965 in die woonstelblokke in Rooigronde in absolute armoede gebore is. Sy ma het hom in 1969, op vierjarige ouderdom, en sy broer, Jonathan, by hul stiefmoeder gaan aflaai omdat sy nie meer na hulle kon omsien nie. In 1971 het sy hulle weer kom haal en met hulle na Retreat op die Kaapse Vlakte getrek. Daarna het hy en sy broer rondgeswerf van Retreat en Heideveld tot Gugulethu en hulle uiteindelik in Kalksteenfontein gaan vestig. Sy pa was ’n visserman en het hulle nie gereeld gesien nie. James het tot in standerd ses (vandag graad agt) gevorder toe hy in 1978 die skool om verskeie redes verlaat het, maar grootliks vanweë die swak sosio- ekonomiese omstandighede waarin hy en sy gesin hulle bevind het.

Hy het daarna los winkelwerkies gedoen om die inkomste van die huisgesin aan te vul. Die groot verandering in sy lewe het gekom toe hy in 1988 as straatveёr by die destydse Kaapstadse stadsraad begin werk het. Hy het die strate in die omgewing van Mowbray gevee en skoongemaak. Om sy tyd te verwyl het hy altyd gesing. Een van die inwoners van Mowbray, Angelique Furh, het sy pragtige tenoorstem gehoor en hom aangemoedig om sanglesse te gaan bywoon, wat hy toe gedoen het, en waarvoor sy betaal het. Sy het dit vir hom moontlik gemaak om sanglesse by die bariton Wayne Long, wat op daardie stadium verbonde was aan die Nico Malan-teater, vandag Kunstekaap, te ontvang, en later om vir ’n diploma in sangoptrede aan die Universiteit van Kaapstad in te skryf, wat hy nie voltooi het nie.

Daarna het hy by verskeie geleenthede begin optree teen vergoeding en sy naam veral in die Kaap gevestig. In 1994 het hy op die ontbytprogram van die BBC opgetree en hom vir twee jaar in die Verenigde Koninkryk gevestig, en daarna na Berlyn verhuis waar hy verdere stemopleiding ontvang het en vir vier jaar gewoon en gewerk het. In 2005 het hy teruggekeer  na sy geliefde Kaapstad en hom toe in Mitchells Plain kom vestig.

James Bhemgee se groot deurbraak het in 2010 gekom toe hy die SA’s Got Talent- kompetisie gewen het met ’n prysgeld van R250 000. Hy het baie harte verower met sy goue stem en dit het die ommekeer in sy lewe veroorsaak. Hy kon vir hom ’n huis in Mitchells Plain koop en het daarna gereeld optredes gehad wat sy lewensomstandighede verander het.

Tydens sy optrede by die  DAK Netwerk Danny Titus-gedenklesing op 22 Mei 2022 het hy aan die gaste gesê: “Vir 13 jaar was ek werkloos voor ek SA’s Got Talent gewen het, en dit was die moeilikste tyd van my lewe. Ek het oorleef want ek is ’n gelowige.” Hy het in November 2011 ’n CD met die titel Vicero vrygestel.

Met die besoek van André Rieu met sy Johann Strauss-orkes aan Suid-Afrika is James genader om in Kaapstad saam met Rieu op te tree. Daarna het hy ook opgetree met die internasionaal bekende Walliese sangeres Katheine Jenkins, ook in Kaapstad.

’n Gebeurtenis wat hom baie seergemaak het, was toe die polisie hom tydens die grendelperiode in 2020 aangesien het as ’n krimineel in Mitchells Plain en hom aangerand en aangekla het. Hy is onskuldig bevind op ’n klag van aanranding op die polisie.

Hy het die afgelope jaar gesondheidsprobleme ervaar, maar niemand het geweet hoe ernstig dit is nie. Hy was gewild by mense op die Kaapse Vlakte en is ’n tipiese verhaal van iemand wat sy droom nagejaag en sukses behaal het. Hy was ’n ikoon en het  “sanger van die mense” geheet.

DAK Netwerk het hom genader om as gaskunstenaar tydens ons Danny Titus-gedenklesing op te tree. Min het ons geweet dat dit sy laaste optrede sou wees. Ek onthou hoe hy by daardie geleentheid genoem het watter groot uitdaging dit is om Puccini se aria “Nessun Dorma” uit Turandot te sing. Hy het verwys na bergklim – “nie Tafelberg nie, maar die Berg Everest” tot groot vermaak van die gaste.

Wat altyd so ironies is van ons kunstenaars uit die mindergegoede woongebiede is dat hulle altyd in armoede sterf. James het nie ’n bestuurder gehad nie en mense het hom soms uitgebuit en baie min betaal vir sy optredes of soms nie eens betaal nie.

Huldeblyke stroom steeds van oral in van medekunstenaars en ander bekendes en mense betoon respek vir sy talent, maar ook aan hom as saggeaarde mens wat ’n rolmodel en mentor vir baie was in die gemeenskap van waar hy gekom het. James Bhemgee sal nie maklik vergeet kan word nie. Ek hoop dat daar in die toekoms met meer deernis met alle kunstenaars omgegaan sal word wat die afgelope twee jaar ernstige finansiёle probleme ervaar het en moes oorkom.

Foto van James Bhemgee: Solly Lottering

James Bhemgee sterf op 22 Junie 2022 op die ouderdom van 57 op pad na die hospitaal. Sy nalatenskap as iemand wat baie uitdagings moes oorkom, sal ons lank by bly. Hy was ons eie weergawe van Luciano Pavarotti.

Rus in vrede, vriend van die mense. Jou lewe het tot ’n einde gekom, maar jou stem sal in ons harte voortleef. Jou sprankel en suiwer tenoorstem sal nie meer gehoor word nie, maar ons weet ook dat jy nou veilig kan rus. Ek dra hierdie gedig aan jou op, James.

Ek hou van ’n man wat sy man kan staan,
Ek hou van ’n arm wat ’n slag kan slaan;
’n Oog wat nie wyk,
Wat ’n bars kan kyk,
En ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan.

(Jan FE Cilliers, “Trou”)

Lees ook:

Die "klein mannetjie" met die reusestem

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top