Die "klein mannetjie" met die reusestem

  • 0

“Moenie my groter maak as wat ek is nie,” het James Bhemgee, wat hierdie week oorlede is, altyd gekeer wanneer ’n goeie vriend, Rif’at Bowers, hom op die verhoog voorstel. “Ek is,” sou hy dan byvoeg, “maar ’n klein mannetjie.”

Jy sou egter ’n fout maak as jy hom slegs aan sy postuur gemeet het. Wanneer hy sy mond op die verhoog of by enige ander sangvertoning oopgemaak het, was hy inderdaad groter as wat hy voorgekom het.

Hiervan het ’n mens opnuut bewus geword toe hy ’n maand voor sy afsterwe met sy optrede by die Danny Titus-gedenklesing gesorg het – saam met die gasspreker, Hein Willemse – dat Titus se nalatenskap nie onteer word nie. Dit was, aldus die fotograaf Solly Lottering, Bhemgee se laaste openbare optrede voordat hy hierdie week vermoedelik weens nierprobleme in die hospitaal beswyk het.

En by daardie geleentheid was hy sy gewone beleefde en beskeie teenwoordigheid, soos ons hom oor die jare geleer ken het, maar (onvleiend beskou) kompleet asof hy nooit werklik die beeld van ’n kop-onderstebo-straatveër afgeskud het nie. Waarskynlik was dit sy manier om te verseker dat hy nooit ’n opgeblase ego ontwikkel nie; dat nederigheid sy middelnaam sou bly, want in die gemeenskappe wat talent soos syne oplewer, word hovaardigheid afgewys, durf jy nooit té hoog vlieg nie.

Geen toevalligheid dan dat “nederigheid” die een beskrywing oor hom is wat gedurig opduik nie: “Oh, dear, he’s so humble!” word hy besing deur Wendy Fine, self ’n operaster, wat veel gedoen het om te help dat sy talent ontdek en ontwikkel word. In ’n video van die Nuwe Apostoliese Kerk onthou sy ook: “And when I first met him, he was so quiet, not forthcoming, low self-esteem. [He] knew he had a voice, of course.” Dié stem het hom nooit verhewe bo ander laat optree nie, het die beoordelaar Randall Abrahams beklemtoon toe Bhemgee in 2010 die eerste SA’s Got Talent-kompetisie wen. Grasieus het hy sy nuutgevonde roem tegemoet gegaan en waardering vir staande ovasies betoon.

Hoewel hy toe al vir ’n aantal jare opgetree het, opleiding plaaslik en in lande soos Amerika, Engeland en Duitsland ontvang het, homself later van tyd in die verhooggeselskap van sterre soos Katherine Jenkins, Sibongile Khumalo, André Rieu en top tenore van oorsee bevind het, was die SAGT-oomblik die “hoogste punt” van sy loopbaan. Hier was die uiteindelike bewys dat sy land en sy mense hom en sy talent erken; hy het ’n knop in die keel gekry toe hy sy wennerswoorde moes spreek, en in trane het hy sy kop op die skouer van die aanbieder Conrad Koch laat sak.

In sy geestesoog sou hy sy dae as straatveër van die stad Kaapstad in die voorstede Mowbray en Soutrivier herbeleef en – “destyds was dit mos nog apartheid” – die mense van sy gemeenskap tóé hoor sê: “Met só ’n stem moet jy vir die wit mense gaan sing.” En só sou hy daagliks voortgaan om die strate te vee, vee en vee; en elke dag het hy aangehou sing, sing en sing, deurentyd “met die hoop, soos die mense gesê het, dat ek eendag vir die wit mense sal kan sing”. Die hoop het nie beskaam nie, want eendag toe kom daar “so ’n ou vroutjie” en vra: “Did you sing so beautiful?” “Yes, Madam,” het hy haar geantwoord. “Oh,” sê sy toe haar vermoede bevestig word, “I thought it was the radio.”

Die “ou vroutjie” het die eerste hoofstuk van ’n inspirerende verhaal vir die Kaapse Vlakte en die ganse Suid-Afrika gehelp skryf. Uit die uitsigloosheid van sy vroeë bestaan het Bhemgee as ’n ster verrys.

Maar sy pad tot hier was lank en eensaam en moeisaam. In die skool het dit begin, by die saalbyeenkoms, toe ’n onderwyser wou weet wie so mooi daar agter sing. “James!” het die ander kinders uitgeroep – en op ’n stoel moes hy toe staan en voor die hele skool wys dat dit inderdaad hy was (James die kabouter, James die skaam seun, James die hakkelaar) wie se stem bo-oor al die ander kinders s’n weerklink het. En soos kinders mos maar kan wees, lag hy self jare later daaroor, het ’n vriend hom gereeld in die middae al stotterend met sy weergawe van “Oh, K-k-k-Krismis tree, oh K-k-k-Krismis tree” gekoggel.

Nadat hy SAGT gewen het, het niemand hom meer gespot nie. Teen dié tyd was sy Engels ook al op ’n vlak wat Wendy Fine “very well” noem; weinig van sy gehakkel was nog te bespeur; en sy stem kon enige sluimerende gehoorlid, na die betekenis van “Nessun Dorma”, wakker hou. En terwyl enige tenoor wat dié aria in die slottoneel van Puccini se Turandot aanpak, onvermydelik te staan kom teen vergelykings met die onverbeterlike Pavarotti, het dit Bhemgee nie verhinder om dit “liries” met sy eie unieke stem uit te voer nie.

Oor die jare het hy so na Pavarotti en ander groot tenore geluister en geluister en in die Kaaps van sy bestaanswêreld aan homself gesê: “Nei, ek her’it.” Maar hy was ook alte bewus daarvan dat hy as kunstenaar sal kan oorleef net as hy aanhou om hard te werk en “as ek my gesond hou”. Helaas, as ’n mens nou na die foto’s kyk wat van hom by die Danny Titus-gedenklesing geneem is, is daar duidelik tekens van moegheid – indien nie ongesteldheid nie – in sy oë te sien.

Nou weet ons dat dit toe reeds nie meer goed gegaan het met sy gesondheid nie – en ook nie met sy finansies nie, soos familie en vriende vertel. Dit is die lot van soveel kunstenaars uit die gemeenskappe wat ’n James Bhemgee oplewer: Hulle word dikwels in armoede ontvang; ontsnap tydelik daaruit, maar weens twyfelagtige keuses en swak leiding of bestuur is dit uiteindelik weer terug in armoede dat hulle ons ontval.

Maar die rykheid van James Bhemgee se stem sal onverdoofbaar bly deur die oorgawe waarmee hy die slotreël van “Nessun Dorma” uitbasuin: “Vincerò! Vin-ce-rò!” Dit was ongetwyfeld dié “klein mannetjie” met die reusestem se persoonlike oorwinningskreet.

Lees ook:

Die skielike heengaan van James Bhemgee

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top