
Oftewel: Die respektabele leedvermaak van selfdood
Ek kon onlangs eers Chris Karsten se 2014-roman, Die respektabele meneer Hartslief, in die hande kry en dit lees. Die verhaal bevat talle boeiende aanknopingspunte, of mens dit vir die misdaad wil lees, as ’n vorm van Suid-Afrikaanse letterkunde, of bloot net om die adrenalien te laat pomp. Die spanning begin by ’n draad wat oor ’n pad gespan word, met noodlottige gevolge vir die eerste motorfietsryer wat daardeur ploeg. Hierdie aspek van die verhaal word egter daar gelaat; in hierdie skrywe word selfdood, ’n ander aspek van die verhaal, vervolgens vanuit ’n bepaalde oogpunt beskou en besin oor wat met mense uit die werklikheid gebeur wat iemand aan so ’n dood moes afstaan.
Karsten speel uit die aard van die saak met woorde: Die verhaal begin (nadat ons Antie se droom gehoor het) by ene “Lood” – en dis nie soos die koeël wat deur die spreekwoordelike kerk vlieg nie. Dis ’n afkorting vir die Loodgieter wat die Romeense nagklubeienaar, Bodgan Petrescu, gebruik om sy vuil werk vir hom te doen. Wanneer laasgenoemde agterkom dat iemand by sy meisie slaap, stuur hy vir Lood om die “probleem” op te los. Die “probleem” is egter ’n mens, en wel iemand wat deel vorm van ’n besorgde uitgebreide “clan” wat besluit om die reg in eie hande te neem wanneer inspekteur Kolise te lank sloer met Basie se moorddossier.
Elie is die oudste van sy broers en susters, by name Boela, Moks, Sampie en Lottie (almal met die van Lerm) terwyl hy, Basie en Poppie Hartslief deur Antie Engel aangeneem is. Hy is ’n skrander rekenmeester en neem die leisels agter die polisie se rug om sélf uit te vind wat gebeur het, met hartverskeurende gevolge.
Elie se jongste sussie, Poppie, is 16 jaar oud en droom om ’n Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioen te word. Wanneer Mister P (Petrescu) agterkom Elie snuffel té naby aan sy gebied, doen Lood, Petrescu en sy seuns die ondenkbare: Poppie word bedwelm, en terwyl sy bewusteloos is, word ’n pornografiese video van haar gemaak wat op sosiale media versprei word. Die arme meisiekind is verpletter en Elie besluit om in te gryp. Hy vra dat sy vir ’n rukkie by hom kom bly terwyl hy en sy vriendin, Wanda, haar probeer opkikker en bederf en wat nog alles net sodat sy weer haar voete kan vind.
Wat egter gebeur, haal ek vir die leser hier aan:
Hy (Elie) fluister: “Pops ...”
Hy ruik die sjampoe aan haar hare, dit ruik na appelkoos of perske.
Hy ruik iets anders: Medisyne, daardie chemiese reuk wat ontsnap wanneer jy ’n bottel pille oopdraai.
Hy trek die duvet met sy duim en voorvinger van haar wang weg. Hy skrik. Haar mond is halfoop en daar is ’n nat kol op die kussing, wit skuimerigheid aan haar lippe. Hy wonder of sy in haar slaap opgegooi het. Gelukkig dat sy nie op haar rug lê nie, sy kon versmoor het.
Hy skud haar weer, harder dié slag, voel met sy vingerpunte aan haar keel. Hy ruk sy hand weg. Haar vel is koud.
Hy probeer sluk. Kyk af na Poppie se bleek gesig en gaan pluk die gordyne heeltemal oop. Hy storm terug bed toe.
“Poppie! Pops!”
Madri Victor (2015) wys in haar resensie daarop dat Karsten die gebeurtenis “uitstekend beskryf” en dat Karsten se “navorsing daaroor ... indrukwekkend (is)”, gevolg deur ’n verwysing na Nina Burleigh se “Sexting, shame and suicide: a shocking tale of sexual assault in the digital age”. Victor haal ook vir Thys Human aan wat meen Karsten “doen moeite om sy karakters veelvlakkig en elk met sy eie mankemente uit te beeld”. Dit is dalk juis hoekom dit ’n mens se hartsnare roer: Die leser voel die teerheid in Elie se gedagtes aan: “Sy kon versmoor het ...”
Wat egter in my agterkop klop, is die uittreksel van ’n gedig wat Frieda Hughes (die digter Sylvia Plath se dogter) geskryf het – “My mother” (Hughes 2006):
The peanut eaters, entertained
At my mother’s death, will go home,
Each carrying their memory of her,
Lifeless – a souvenir.
As navorser van individue wat selfdood gepleeg het, is ek self waarskynlik ook so ’n “peanut eater”. Dit is juis hoekom die saak onder die loep geneem moet word. Dit spreek boekdele van Karsten se bekwaamheid dat hy hierdie toneel op so ’n manier beskryf dat die leser se hart breek vir beide Elie en sy sussie. Wanneer Elie byvoorbeeld hulp ontbied, is hy so ontsteld dat hy nie eens agterkom wie hy bel nie. Sy woorde dui ook op absolute skok: “Luister ... ek het hulp nodig. Weet nie wat om te doen nie. Kan iemand kom help? Asseblief. Dis Poppie, iets het gebeur ...” (bl 235).
Dit is die gedeelte wat so te sê alle geskiedkundiges, navorsers en skrywers blykbaar vergeet: Die oorledenes het mense gehad wat vir hulle omgegee het en wat ook ly. Ted Hughes (Plath se man) sê byvoorbeeld: “The main problem with SP’s biographers is that they fail at the outset, when they embark on the book they hope will sell a lot of copies, to realize that the most interesting and dramatic part of SP’s life is only ½ SP – the other ½ is me’ (Malcolm 1995:201).
Petrovna Metelerkamp skryf in die inleiding tot LM van der Merwe se Gesprekke oor Ingrid Jonker oor die “opwindende” nuwe inligting wat die boek bevat (Van der Merwe 2006:7). Dit is ook die trekpleister wat gebruik is toe Ingrid Jonker: ’n biografie (2018) verskyn het, dat daar “nuwe inligting ... kort na haar dood” in die boek opgeneem is. Dit klink egter net soos Simone Simmons se Diana. The last word wat in Junie 2005 verskyn het: Daar is geen “laaste woorde” nie. Selfs Charles Spencer, Diana se broer, het vanjaar weer oor sy suster geskryf in Swan song: Diana my sister, en dit bykans 30 jaar na haar dood.
Die mens kan oor sulke gebeure wonder en wonder en skryf en skryf, en tog sal niemand ooit wérklik weet wat die dag gebeur het toe iemand selfdood gepleeg het nie. Na Plath se dood is Ted Hughes met Assia Wevill getroud, en hulle het ’n dogtertjie, Shura, gehad. Wevill het in Maart 1969 ongelukkig ook selfdood gepleeg en Shura saam met haar vergas. Volgens Brenda Heddon, ’n vriendin, het hy nog voor die begrafnis aan haar geskryf: ‘Ted told me that he was poisoned by his obsession with the words ‘black’ and ‘death’ which affected not just him but everybody around him. He vowed that if he survived the ordeal and found strength to go on writing, he would break away from these topics” (Koren en Negev 2007:208–9).
Kan die mens dan nie van hierdie dinge af wegbeweeg nie? Is ons so behep met die dood – en spesifiek wanneer mense dit aan hulself doen – dat daar net meer en meer oor sulke sake bespiegel en geskryf gaan word?
Tog kan ’n mens Karsten se roman ook as parodie beskou, soos Joan Hambidge in haar resensie beweer: “Parodie nie in die sin van send-up of grap nie, maar as teks wat al die kenmerke en stylfigure van die misdaadroman wil uitlig op ’n self-bewuste manier.” Die boek gaan dan juis en hoofsaaklik oor die moord van Basie Hartslief (ander mense word ook deur Lood vermoor). Tog is dit vir ’n mens skynbaar makliker om oor moord as oor selfdood te lees. Dit is asof dit makliker is om so iets as “sprokie” af te maak as Poppie se dood. Om ’n ander koers in te slaan, sou daar waarskynlik nie veel van ’n verhaal gewees het as die Poppie wat Karsten geskep het dieselfde murg in haar pype gehad het as die Poppie oor wie Elsa Joubert in 1978 geskryf het nie.
Per slot van rekening is dit ’n goeie boek. Die skrywer laat Mister P vir sy sondes boet en dan is daar nog die ander saak van Elie se werkgewer. Sekere resensente meen dit is op so ’n manier geskryf dat daar ’n opvolgverhaal sou kon wees. Dit is iets wat Karsten en hierdie skrywer aan die leser sal oorlaat.
Bibliografie
Hambidge, J. 2014. Chris Karsten – Die respektabele meneer Hartslief (2014). https://joanhambidge.blogspot.com/2014/12/chris-karsten-die-respektabele-meneer.html (7 September 2026 geraadpleeg).
Hughes, F. 2006. 45 Poems. New York: Harper Collins Publishers.
Koren, Y en E Negev. 2007. Lover of unreason: Assia Wevill, Sylvia Plath’s rival and Ted Hughes’s doomed love. Cambridge: Da Capo Press.
Malcolm J. 1995. The Silent Woman: Sylvia Plath and Ted Hughes. New York: Vintage Books.
Van der Merwe, LM. 2006. Gesprekke oor Ingrid Jonker. Hermanus: Hemel en See Boeke.
Victor, M. 2015. Resensie: Die respektabele Meneer Hartslief deur Chris Karsten. https://www.litnet.co.za/resensie-die-respektabele-meneer-hartslief-deur-chris-karsten (7 September 2026 geraadpleeg).
Lees ook:
Resensie: Die respektabele Meneer Hartslief deur Chris Karsten
Onderhoud met Chris Karsten oor Die respektabele Meneer Hartslief

