Die Oudgriekse musiek en musieklewe (deel 2)

  • 2

Apollo met ’n lier | Foto: Wikimedia Commons

“Musiek is die snelskrif van die mens se gevoelens en emosies.” – Leo Tolstoi, 1828–1910

Bewaargeblewe Oudgriekse musiekfragmente

Enkele fragmente van Oudgriekse musieknotasies het tog vir ons bewaar gely. Ons vind dit op klip uitgebeitel, op papirusbrokkies uit die droë sand van Egipte, en in enkele manuskripte. Ek noteer hier ’n paar.

1. Drie himnes toegeskryf aan Mesomedes uit Kreta van die 2de eeu nC, onderskeidelik die Muses, Helios (die Son), en aan Nemesis (die Wraakgodin). Om op die skoonheid en eenvoud van die Oudgriekse musiek te wys, is hierdie drie himnes vir die eerste keer afgedruk deur Vincenzo Galilei (vader van die groot wetenskaplike Galileo) in 1581 onder die titel Dialogo della musica antica e della moderna. Dit was alleen maar jammer dat hy die teks nie kon ontsyfer nie. Mesomedes was ’n tydgenoot van die Romeinse keiser Hadrianus, die Spanjaard. Die waarskynlike doel daarvan was, soos ons kan aflei, om verskillende musikale ritmes mee aan te dui.

2. Die melodie van die eerste Puthiese Ode van Pindaros (gebore in Thebe ong 522 of 518 vC). Dit is die openingstrofe van die Ode. Dit is vir die eerste keer in 1650 deur Athanasius Kircher in sy Musurgia Universalis Dit staan egter onder die moontlike suspisie van vervalsing, moet bygesê word (vgl Classical Philospohy, 1936, ble 120 vervolgens).

3. Enige fragmente vir die kíthera (snaarinstrument soos die siter, harp of luit) wat in 1841 deur F Bellermann gepubliseer is onder die titel Anonymus de musica.

4. ’n Paián (paiaan, oftewel plegtige loflied as oorwinningslied, ter ere van die god Apollo, uit die 2de eeu vC (of vroeër), in 1918 uitgegee as die sogenaamde Berliner Papyrus. Die twaalf reëls van hierdie paiaan vertolk dus Hellenistiese (naklassieke) musiek.

5. Twee paiane op klip uitgebeitel vir Apollo, ook uit die 2de eeu vC. Dit is in 1893 deur Franse argeoloë by Delphi ontdek. Dit vorm vandag die mees ekstensiewe stuk Oudgriekse musiek wat ons besit.

6. ’n Lied oor die selfmoord van (Homerus se) Ajas; dit is op ’n stuk papirus in Egipte gevind. Dit is ook in 1918 uitgegee, onder die titel Berliner Papyrus.

7. Die fraai liedjie van Seikilos, uit die 1ste of 2de eeu vC, wat ’n man gekomponeer het as ’n epitáphios lógos (grafskrif) vir die gestorwe vrou, in 1883 in Klein-Asië gevind. In vertaling lui dit: “So lank as wat jy leef, laat jou lig skyn. Jy moet nooit bedroef wees nie. Om te lewe is net vir ’n kort tydjie, want tyd eis altyd sy eie einde op.”

8. ’n Fragment op papirus van die Eerste Stasimon (koorsang) van Euripides se Orestes, reëls 338–44, in 1892 ontdek. Dit is stellig die oudste musiekbrok uit die Griekse Oudheid wat ons vandag besit. ’n Afdruk, met ontsyfering deur Theodore Reinach, het in 1955 te Amsterdam verskyn in Verlucht relaas van dertig eeuwen muziek door Caspar Höweler, bl 17.

9. ’n Oud-Christelike himne wat in Oxyrhynchus in Midde-Egipte gevind is wat uit die 3de eeu nC dateer en in 1922 uitgegee is. Hierdie himne is weer die oudste stukkie Christelike musiek wat ons vandag besit.

10. Papyrus Cairo 59533 uit die sogenaamde Zenon Argief van omstreeks 250 vC. Dit is slegs ’n kort musikale fragment, waarskynlik uit ’n (Griekse) tragedie: sien Journal of Hellenic Studies, 1931.

Oudgriekse skrywers self oor musiek en die musiekteorie

Ons besit vandag ’n aansienlike, maar uiters fragmentariese, korpus van geskrifte oor die Oudgriekse musiek en musiekteorie wat in die Oudheid deur Griekse skrywers self opgestel is.

Die grondlegger van die antieke musiekwetenskap was sekerlik Aristoxenos van Terentum in Magna Graecia, Suid-Italië. Hy is tussen 375 en 360 vC gebore. Sy vader Spintharos was sy eerste musiekonderwyser, later bygestaan deur ’n sekere Lampros uit Euruthrai in Ioniese Klein-Asië. Nadat hy vir ’n kort tydjie in die historiese Mantinea in Arkadië op die Peloponnees, asook Korinthe by die Istmos (die landengte tussen die Peloponnees en Attika), vertoef het, het hy na Athene verhuis vir sy hoër opvoeding. Hier het hy toe, as uitstaande student, aan Aristoteles se Peripatetiese filosoweskool, die Lyceum, studeer, asook vir ’n kort rukkie onder Xenophilos die Puthagoreïstiese wysgeer in die stad. So begaafd was hy dat almal verwag het dat hy Aristoteles as hoof van sy skool sou opvolg. Maar Theophrastos is toe verkies. Die Suda (’n Griekse leksikon van die 10de eeu nC) rapporteer dat Aristoxenos daarna ’n hele paar skinderstories oor die Atheense wyses van die dag versprei het. Hy sou Aristoteles self aangeval het, Sokrates beskinder het, en beweer het dat Plato suiwer plagiaat gepleeg het uit Puthagoriese bronne met die opstel van sy beroemde Staat in tien boekdele.

Aristoxenos het ontsettend veel geskryf. Die Suda sê dat hy 453 boekdele nagelaat het. Dit het gehandel oor filosofiese en historiese onderwerpe (biografieë, sy Bíoi Andrôn, ingesluit). Maar hy was veral beroemd om sy geskrifte oor die Oudgriekse musiek en musiekteorie. Hy het oor al die bekende musiekinstrumente van die dag geskryf asook oor die vervaardigingsprosesse daarvan. Feitlik al hierdie werk het jammerlik genoeg vir ons verlore gegaan. Ons besit egter nog sy Archaí (“Beginsels”) en Stocheîa (“Elemente”) wat oor die Oudgriekse musiek handel. Hoewel erg geskonde is dit vandag vir ons van onskatbare waarde.

Aristoxenos het die hele scopus van musiek as wetenskap bespreek: die noteleer, musikale intervalle, tetrakoorde, toonhoogtes, toonlere, stemtone (tónoi), stembuiging, die komponering van melodieë (melopoiía) en 27 teoremata oor musikale konstruksies. Hy het veral belanggestel in die manipulering en selfbeweging van die menslike stem.

Ritme in musiek het Aristoxenos gedefinieer as “die geordende opstelling van afgebakende tye” (táxis aphôrismênê chrónôn), as die aantoning van klankbeweging wat in maat geplaas word. Hy het die versvoet (poûs) as die primêre eenheid van ritme (ho prôtos chrónos) beskou wat tussen die ársis (heffing van die stem by die eerste sillabe) en thésis, dws die daling daarvan, lê.

Aristoxenos het afgewyk van die kanoniese beginsel in musiek soos Puthagoras dit gesien het (waar tone matematiese deur die getal en sy verhoudinge vasgelê word soos dat die lengte van ’n snaar en sy spanning daardie toon bepaal). Hy het eerder die harmoniese beginsel beklemtoon, dws die fisiese effek van klank op die oor. Daarmee het hy die beginsel van “subjektiewe fantasie” by die aanluister van musiek ingebring, en só was hy ’n pionier van die musikale estetiek.

Volgens Cicero (Tusculanae Disputationes 1.19) het Aristoxenos die siel van die mens as die harmonía van die ganse liggaam beskou. Soos die musiekinstrument reg ingestel moet word om nie vals te speel nie, so stel musiek ook die menslike liggaam in om vlot en korrek te fungeer. Juis daarom is musiek so ’n allerbelangrike komponent by die opvoeding van die mens en die vorming van sy éthos (karakter). Sonder musiek bly die menslike gees barbaars onopgevoed.

Aristoxenos het ook ’n handleiding geskryf oor hoe om na musiek te luister (Perì mousikês akroáseôs). Ploutarchos (ongeveer 46–120 nC) sou later dieselfde doen.

Die standaard Griekse teks van Aristoxenos se bewaargeblewe fragmente oor musiek is byeengebring deur Rudolph Westphal en Franz Saran onder die titel Aristoxenos von Tarent: Melik und Rythmik des klassischen Hellenismus, Vol 2, Leipzig, 1893. Charles Williams van Cambridge se The Aristoxenian theory of musical rhythm het in 1911 verskyn. Louis Laloy het hom ook lank besig gehou met die studie van Aristoxenos: vgl sy Aristoxène de Tarente van 1904 en sy Aristoxène de Tarente et la musique de l’antiquité van 1924, beide werke wat in Parys verskyn het. Vir meer onlangse literatuur rondom Aristoxenos, sien Bruno Centrone, Aristoxène de Tarente (in Richard Goulet se Dictionaire des philosophes antiques, Band I, Paris, 1989); Oliver Busch, Logos syntheseos (George Olms, Hildesheim, 2004); Wilfried Neumaier, Was ist ein Tonystem? (Lang, Frankfurt-am-Main, 1986); idem, Antike Rhythymustheorien (Grüner, Amsterdam, 1989).

Naas Aristoxenos se geskrifte wat oorgebly het, kan ook die volgende Oudgriekse skrywers en bronne oor die antieke Griekse musiek geraadpleeg word:

1. Eukleides van Alexandrië (300 vC) se Stoicheîa. Eukleides was ’n uitstaande grammatikus in sy behandeling van die teorie van getalle in die meetkunde wat in Europa nog gevolg is tot in die 19de eeu, toe Charles Ludwige Dodgson van Oxford (die Lewis Carroll wat ook Alice’s Adventures in Wonderland geskryf het) in 1879 Eukleides se teorieë begin bevraagteken het. Proclus vertel in sy Kommentaar op Eukleides (Prol G 20) dat Eukleides die “kettingmelodie” in sy onderdele matematies opgedeel het.

2. Claudius Ptolemaios van Alexandrië (2de eeu nC), die groot sterrekundige uit Egipte wat ’n plat aarde verkondig het met die son wat daaromheen draai (maw ’n geosentriese ipv ’n heliosentriese heelal), het dit in sy Harmoniká (in drie boekdele) ook gehad oor die wiskundige aard van musiek, wat hy as die enigste internasionale taal beskou het. Hy was die skepper van die Arabiese Almagest, oftewel “wese van ons sterrehemel”.

3. Alypius (3de/4de eeu nC) het ook ’n uitgebreide “Inleiding tot Musiek” (Eisagôgê mousikê) geskryf wat behoue gebly het. Dit vorm vandag ons hoofbron oor die Oudgriekse musieknotasie. Vgl hier Carl von Jan se Misici Scriptores Graeci, 1895, ble 357–406.

4. Ploutarchos, 46–120 nC, die bekende biograaf en moralis, het ook, pseudoniem, ’n boek oor die musiek geskryf onder die titel Perì mousikês, en ons oa ook vertel hoe om na musiek te luister.

5. Theon van Smurna (floreat 115–40 nC), ’n vurige Platonis, het ’n behoue werk geskryf onder die lang titel Tà katà tò mathêtikòn chrêsima eis tên Plàtôn anágôsin waarin hy ’n inleiding tot Plato skryf met insluiting van getalletipes, die sterrekunde en die teorie van musikale harmonie.

6. Kleonides van die begin van die 2de eeu nC het ook ’n “Inleiding tot harmonie” (Eisagôgê harmonikê) geskryf wat bewaar gebly het waarin hy ons die beste verduideliking gee van Aristoxenos se harmonieteorie.

7. Nikomachos van Gerasa, ’n Puthagoreër en wiskundige, wat tussen 50 en 150 nC geskryf het, het ook ’n handboek oor die harmonieleer geskryf onder die titel Harmonikòn eincheíridion, waarin hy musiek binne die teorie van getalle bespreek. Apuleius het dit later in Latyn vertaal.

8. Aristides Quitilianus van die 3de/4de eeu nC het ook ’n boek, Oor die musiek (Perì mousikês), geskryf waarin hy harmonie, ritme en metriek behandel en Aristoxenos nougeset navolg.

9. Bakcheios van Geron, ’n tydgenoot van keiser Alexander die Grote (274–337 vC), het ook in vraag-en-antwoord-vorm ’n inleiding oor musiek opgestel onder die titel Eisagôgeê téchnês mousikês, waar dit suiwer gaan om musikale tegniek: vgl weer eens Carl von Jan, Musici Scriptores Graeci, 1895, ble 283–316.

10. Martianus Capella van Noord-Afrika van die 5de eeu nC gee in die 9de boek van sy De nuptiis Philologiae ’n fantasie-extravaganza, heel allegories, van die “hemelvaart” van Philologia saam met haar diensmeisies, die sewe Artes Liberales, wat natuurlik die beoefening van musiek insluit. Daar bestaan vele manuskripte van hierdie werk wat weer heel ernstig opgeneem is in die tyd van die Karolingiese Renaissance (die eerste belangrike herlewing van die humanitas van die klassieke Oudheid teen 750–900 nC). Hierdie werk is inderwaarheid didakties geskryf, in prosa en verse, deur ’n vader ter opvoeding van sy seun. En die opvoeding in musiek staan voorop – soos dit van oudsher behoort het.

11. Anicius Manlius Severinus Boethius, ook van die 5de eeu nC (480–524), het in sy bekende Consolatio Philosophiae een van die mooiste werke ooit in Latyn geskryf. Sonder dat hy die Christelike Nuwe Testament ’n enkele keer aanhaal, het hy vir sy naderende dood deur teregstelling volkome vertroosting en berusting gevind in die wyshede van die profane klassieke filosofie, want die enigste goed moet God wees. Daar bestaan vandag meer as 400 manuskripte van hierdie juweel van ’n werk. Dieselfde Boethius het ook net so ’n fraai werkie oor die beoefening van musiek geskryf, naamlik De Musica, en gesê alleen musiek kan rus en ekwilibrium aan ’n gekwelde en getormenteerde gees gee. Dit was hierdie Boethius wat Alighieri Dante se beroemde dictum by sy Inferno 5.121 geïnspireer het: “Nessun maggior dolore che ricordarsi del tempo felice nella miseria” (“Daar is geen groter pyn as om in die bitterheid weer die tyd van geluk opnuut terug te roep nie”). En ’n skone melodie is een daarvan.

Lees ook:

Die Oudgriekse musiek en musieklewe (deel 1)

  • 2

Kommentaar

  • Liesbeth van die Kaap
    Liesbeth van die Kaap

    Wonderbaarlik interessant (die twee stukke), Prof Kruger, maar wat terselfdertyd “skreeuend dors na die genot” van 'n vleugseltjie of twee klank-weergawe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top