Die Nasionale Gesondheidsversekeringswet: ’n onderhoud met ’n prokureur

  • 3

Péter Wassenaar, ’n prokureur wat in sy praktyk fokus op konstitusionele, administratiefregtelike en korporatiewe reg, praat met Naomi Meyer oor die Nasionale Gesondheidsversekeringswetsontwerp wat deur die President onderteken is.

Péter, ek val met die deur in die huis. Baie Suid-Afrikaners is bekommerd oor die President die nuwe wetgewing rondom die Nasionale Gesondheidsversekering onderteken het. Ander Suid-Afrikaners juig en meen dit kan vir alle Suid-Afrikaners gelyke toegang tot hoëkwaliteitgesondheidsorg verseker. Ek dink die meerderheid Suid-Afrikaners is dit wel eens dat die ideaal sou wees dat alles Suid-Afrikaners hoëkwaliteitgesondheidsorg benodig. Dink jy dat hierdie nuwe wetgewing in staat sal wees om so iets af te dwing? Waarom, of waarom nie? 

...........
Dit is nie regtig hulpvaardig om die meriete van die saak vanuit die morele of emosionele op hierdie stadium te toets nie. Nasionale gesondheidsversekering kan (en moet) in die eerste instansie getoets word aan die hand van die projek wat die staat wil onderneem.
...............

Dit is nie regtig hulpvaardig om die meriete van die saak vanuit die morele of emosionele op hierdie stadium te toets nie. Nasionale gesondheidsversekering kan (en moet) in die eerste instansie getoets word aan die hand van die projek wat die staat wil onderneem. Dit bring bepaalde vrae rondom (regerings)vermoë na vore. Enige projek, hetsy binne die privaatsektor, hetsy ’n staatsprojek, moet aan basiese praktiese vereistes rondom vermoë voldoen om ’n sukses te wees, naamlik: (1) Is daar genoegsame finansiële en ander hulpbronne beskikbaar om die projek te dra? (2) Is daar genoegsame kundigheid om die projek van stapel te stuur en in stand te hou? (3) Is ons in staat om die projek behoorlik te administreer? Daar is natuurlik verskeie belangrike sekondêre vrae, soos of die projek aan basiese regsnorme en reëls voldoen (is dit byvoorbeeld grondwetlik?) en of daar genoegsame ondersteuning daarvoor vanuit die publiek is om dit regtens te regverdig.

Hierdie vrae is egter sekondêr, en dis belangriker om eers die primêre, instandhoudende vrae rondom vermoë te beantwoord. Dit is ’n basiese vereiste vir ’n beskawing se voortbestaan dat daar nie deurlopende ineenstorting van sy orde is nie. Die vraag na “vermoë” is dus ’n uiterse belangrike konstitusionele vraag.

Vóór ons gaan na emosionele onderwerpe soos die nood na kwaliteitgesondheidsorg of selfs na die vraag of die onderliggende wetgewing wat beoog om nasionale gesondheidsversekering regtens te onderhou, afgedwing kan word, moet ons regtig eers kyk of die staat enigsins die vermoë het om die betrokke projek en wetgewing in regtewêreldterme te onderhou. Regeringsvermoë is dus ’n konstitusionele kwessie wat selfs grondwetlike en wetgewende sake vooruitgaan. As daar nie basiese regeringsvermoë is nie, is dit meer waarskynlik dat die projek op sigself onsuksesvol sal wees. Afdwinging van die regsvereiste soos wat dit in wetgewing geformuleer word onder omstandighede waar regeringsvermoë ontbreek, sal eenvoudig nie eens aan die minimum vereistes van ’n regstaat voldoen nie, aangesien die regsnorm (ius) losgemaak word van die beginsel van geregtigheid (iustitia).

...........
Afdwinging van die regsvereiste soos wat dit in wetgewing geformuleer word onder omstandighede waar regeringsvermoë ontbreek, sal eenvoudig nie eens aan die minimum vereistes van ’n regstaat voldoen nie, aangesien die regsnorm (ius) losgemaak word van die beginsel van geregtigheid (iustitia).
............

Daar is mos duidelik geen geregtigheid waar wetgewing die bestaande instellings in die samelewing op hul kop draai onder omstandighede waar die alternatief wat geskep word, waarskynlik onsuksesvol sal wees. Die alternatief wat die wetgewing bied, is in werklikheid nie werklik ’n alternatief nie. Regsafdwinging van wetgewing onder sulke omstandighede sal op sigself, juridies beskou, onregmatig wees. Afdwinging dien onder sulke omstandighede slegs ’n “politieke” doel, aangesien die dwang wat so uitgeoefen word, nie deur geregtigheid gedra word nie. Daarom dat regslui dikwels na sulke wetgewing verwys as "drakonies", ’n “huldeblyk” aan die Ateense wetgewer Draco wat ewigdurende bekendheid verwerf het vir sy buitengewoon onverbiddelike en harde wette.

...........
Is nasionale gesondheidsversekering indien ons slegs na die letter van die wetgewing kyk, afdwingbaar? Waarskynlik. Enige wet wat die oormag van die staat agter hom het, kan teoreties afgedwing word. Maak dit nasionale gesondheidsversekering ’n projek wat (1) realisties is en (2) volhoubaar sal wees? Nee.
...............

Is nasionale gesondheidsversekering indien ons slegs na die letter van die wetgewing kyk, afdwingbaar? Waarskynlik. Enige wet wat die oormag van die staat agter hom het, kan teoreties afgedwing word. Maak dit nasionale gesondheidsversekering ’n projek wat (1) realisties is en (2) volhoubaar sal wees? Nee. Dui die vooruitskouings oor nasionale gesondheidsversekering op ’n projek wat binne die vermoë van die regering val? Nie volgens die meeste ekonome, regslui, mediese en openbare meningsvormers nie. Is dit meer waarskynlik dat die wetgewing drakonies sal wees? Ja, ek dink ongelukkig so.

Die kernkwessie gaan oor geld, of hoe? Die meeste mense in die land het nie genoeg daarvan nie. Die land (en die regering) ook nie. As jy nuwe wetgewing sou kon voorstel, of wysigings aan bestaande wetgewing, hoe kan dit verwoord word om beter voorsiening te maak vir die mediese behoeftes van die land se mense?

Ek is nie oortuig dat blote normformulerings binne wetgewing enigsins die vermoë sal hê om die probleem rondom mediese sorg op te los nie. Wetgewing kan nie vermoë en politieke wilskrag vanuit niks skep nie.

Ons kan as voorbeeld kyk na die stand van ons munisipaliteite in Suid-Afrika. Ons het werklik sterk wetgewing rondom die bestuur en instandhouding van munisipale finansies. Net so vind verskeie statutêre strukture wat die opdrag het om toesig te hou oor munisipaliteite (soos die parlement en ouditeur-generaal) en om in te gryp as daar verval is (soos die provinsiale en nasionale uitvoerende gesag kragtens artikel 139 van die Grondwet), hul oorsprong in die Grondwet en ander wetgewing. Tog is amper twee derdes van die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika op die randjie van totale ineenstorting. Munisipale ineenstorting is egter nie ’n buitengewone klad op die regering se naam nie. Omtrent elke openbare sosio-ekonomiese projek wat die regering van stapel gestuur het oor die laaste 30 jaar, is in krisis. Vergelyk maar net die mediaberigte rondom die stand van die Padongelukkefonds en Sassa oor die laaste jaar of twee. Ons praat vir nou nie eens oor die stand van die reeds bestaande openbare mediese sorg wat nog sukkel om selfs basiese primêre gesondheidsorg volgens die Departement van Gesondheid se 2007 se witskrif oor die transformasie van die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel behoorlik uit te rol nie.

.............
Net soos al die ander sosiale projekte ly openbare gesondheidsorg nie skipbreuk aan ’n gebrek aan wetgewing, witskrifte en goeie bedoellings nie. Die probleem lê by die kwaliteit van ons staatsdiens.
...............

Net soos al die ander sosiale projekte ly openbare gesondheidsorg nie skipbreuk aan ’n gebrek aan wetgewing, witskrifte en goeie bedoellings nie. Die probleem lê by die kwaliteit van ons staatsdiens. Tensy daar op grondvlak hervorming (nie “transformasie” nie) binne die staatsdiens plaasvind, sal geen wetgewing selfs basiese primêre gesondheidsorg ’n realiteit maak nie, wat nog te sê hoëkwaliteitgesondheidsorg.

Die feit dat die wetgewing nou haastig onderteken word, is opvallend naby aan die verkiesing. Dit stuur wel ook ’n boodskap uit dat die regering besef hier is ’n probleem met die land se gesondheidsorg. Hier is te veel ongelykheid. En die staatsinstellings wat met mediese kwessies belas is, funksioneer nie na behore nie. Is daar ander wetgewing wat aandag behoort te kry om sake op een of ander wyse realisties te verbeter? Het jy enige voorstelle?

Ek het geen voorstelle wat nie reeds deur talle ander aan die Uniegebou se voordeur gespyker is nie. Ons moet die basiese dinge begin reg doen. Eerstens: Ons benodig meer geld in die ekonomie. Meer belegging, meer werk en meer vryheid om welstand uit te bou. Dit verlang egter ’n drastiese politieke en ideologiese skuif weg van die transformasie van die samelewing as die primêre regeringsfokus. Tweedens: Ons moet fokus op basiese dienslewering sodat dié wat in staat is om welstand te skep, in die land sal bly. Derdens benodig ons ’n verhoging in die gehalte van onderwys sodat meer mense kan deelneem aan hoër vlakke van welstandskepping. Trek mekaar op sodat almal beter vaar eerder as om almal onder die banier van gelykheid gelyk te kap. As ons in die proses die kanker van korrupsie en wanadministrasie in die staatsdiens kan uitroei ... ’n bonus. Skryf wette sodra die bestuur en kwaliteit van die staatsdiens reggeruk word.

Gestel die wetgewing is onderteken en daar is inderdaad geld vir hierdie gesondheidsversekering beskikbaar, hoewel beperk: Hoe gemaak om seker te maak dat die geld korrek aangewend word? Buiten ’n tekort aan geld, is ’n ander kopseer ook die bestuur van fondse. Daar moet waterdig seker gemaak word dat die geld nie korrup spandeer word of dat mense nie andere in gesagsposisies aanstel wat nie bevoeg is om die werk te doen nie of aangestel word bloot omdat hulle bevriend is met die een wat aanstel, of omdat hulle hom of haar daarvoor betaal nie.

Ongelukkig het ek ernstige bedenkinge oor die grondwetlikheid van die wetgewing agter hierdie nasionale gesondheidsversekering. Indien die wetgewing egter die toets deurstaan, sal korrupsie, wanadministrasie en wanbesteding ’n deurlopende uitdaging wees. Sonder waghonde met tande (binne en buite die staat), sterk openbare vervolging en ’n regbank wat met ’n reguit stok slaan, is ek bevrees dat nasionale gesondheidsversekering net nog ’n trog sal wees vir dié wat die staatskas misbruik.

  • Péter Wassenaar is ’n praktiserende prokureur van die firma Kriek, Wassenaar en Venter Ing in Pretoria. Hy fokus op konstitusionele, administratiefregtelike en korporatiewe reg.

Lees ook:

Nasionale gesondheidsversekering nodig om armes se menswaardigheid te herstel en om bevoorregtes menswaardigheid te leer

Die toekoms van teenkorrupsiestrategieë in Suid-Afrika: die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030

Healthcare: Between money and paternalism

  • 3

Kommentaar

  • Janieta de Wet

    Ek dink net, dat in 'n vryemarkstelsel, kan geen privaatinstansie gedwing word om hulle dienste verniet te verskaf nie. Die regering is mal. Hulle doen dit nou om die gepeupel vir hulle te laat stem.

  • Maryke Roberts

    Wat 'n insiggewende oorsig is dit nie. Baie van ons weet dit, maar goed om dit vanuit regsperspektief uiteengesit te sien. Een koerant het hierdie wetgewing as 'n verkiesingsfoefie afgemaak - net so doeltreffend soos gratis t-hemde of 'n emmervol braaihoender. Dankie hiervoor.

  • Snottie Snotjan

    Regter Zondo sal ten minste weer 'n joppie losslaan. Dis nou te sê indien die regering teen daai tyd nog enigsins die moeite sal doen om korrupsie met nog 'n peperduur tandelose kommissie te laat ondersoek. Dalk sal die gesteel al 100% skaamteloos wees teen daai tyd.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top