Die mense langsaan deur Elsa Hamersma: ’n onderhoud

  • 6

Die mense langsaan
Elsa Hamersma
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383508

Skrywers oor hul nuwe boeke: Elsa Hamersma vertel vir Naomi Meyer van Die mense langsaan.

’n Lekker titel. En iets waaroor mens rede het om te wonder. Het jy al gewonder oor die mense langsaan, diegene in jou nabye omgewing, en oor of mens hulle werklik ken? Of wat het aanleiding gegee tot die storie?

Ek kan eerlik sê dat my bure of die mense in my nabye omgewing nie die aanleiding tot die storie was nie, eerder die wêreld waarin ons lewe. Daar is daagliks berigte van mense wat vermoor of bedrieg word – dikwels deur hulle naaste familielede of vriende. Geld, veral, bly die wortel van alle kwaad.

Vertel asseblief nog iets van jou storie se intrige, sonder om te veel daaromtrent te verklap.

Daar is ook ’n liefdesverhaal met ’n gelukkige einde tussen die donker stories in die boek! Daarvoor moet die leser egter tot amper die einde wag.

Die mense in die storie is nie die enigste karakters met geheime nie, maar ook die ruimte - ’n gebou – waar ’n gedeelte van die verhaal afspeel. Wil jy dalk hierop uitbrei?

Geboue is die stille getuies van die gebeure wat binne-in hulle afspeel. As mure maar kon praat!

Terug by die karakters: Frikkie se gesnork laat sy vrou wakker lê. Met wie van die karakters het jy die meeste pret gehad, of met watter van hulle het jy moeite gehad om hul stories te vertel?

Vir seker was Frikkie die lekkerste karakter om te skryf, omdat hy so voorspelbaar irriterend en onaangenaam was! Soms het ek sommer begin lag oor sy manewales en sy eiewaan. Dit was vir my moeiliker om Pieter uit te beeld, want ek sukkel om in so ’n mens se kop in te klim.

Moes jy navorsing doen oor sekere misdaadsituasies in die boek, en hoe het jy jou kennis hieromtrent opgedoen? Was daar enige hulpvaardige polisiemanne of ander kundiges by wie jy kon aanklop?

Deesdae kan mens omvattende inligting oor enige onderwerp op die internet kry. Ek het ook ’n lang gesprek gevoer met Deon Knobel, afgetrede forensiese patoloog, wat baie behulpsaam was. Dan is daar natuurlik baie boeke, byvoorbeeld Forensics for Dummies (DP Lyle), wat ’n maklike en goeie verwysing is.

Jy het ook al liefdesromans geskryf; het hierdie ander, donkerder, invalshoek gebaat by daardie ondervinding oor meer gelukkige situasies in alledaagse huishoudings?

Inderdaad! Dit is vir my lekker om liefdesverhale te skryf, want daar is altyd ’n gelukkige einde en dit laat skrywer en leser goed voel. In die ware lewe eindig sommige verhoudings egter nie mooi nie en is daar valsheid, bedrog en wrywing tussen twee mense wat veronderstel was om in liefde en harmonie saam te lewe. En is die mens saam met wie jy in een huis lewe nie die mens langsaan nie?

Wat kom vir jou eerste: karakters, intrige of ’n sneller van ’n idee? En beplan jy ’n storie vooruit, voordat jy dit neerskryf?

Aanvanklik begin ek met ’n idee. Dis die vonk. Daarna word dit hoofsaaklik gedryf deur die karakters en daarom is dit vir my nogal nutteloos om te veel beplanning te doen. Die “beplanning” beland gewoonlik in die snippermandjie.

Wie is jou ideale leser? Bestaan daar vir jou so iets?

Enigiemand wat lees is die ideale leser! Mense het uiteenlopende smake en daarom is daar soveel genres. Daar is iets vir almal en daarom verstaan ek nie mense wat sê hulle lees nie.

Skryf jy reeds weer aan ’n volgende roman of wil jy nog nie iets daaromtrent verklap nie?

As mens baie skryf, skakel jy moeilik af. Daar is altyd ’n storie aan die broei in jou kop. Maar soms is dit net ’n kortverhaal!

Wat lees jy graag op die oomblik? Of watter onlangse teaterstukke of films het jy gesien wat tot jou gespreek het?

Ek het Johnny is nie dood nie onlangs gaan sien en dit baie geniet. Die Afrikaanse filmbedryf het werklik ver gekom. ’n Boek wat ek baie geniet het, is Unravelling Oliver (Liz Nugent). En dan lees ek natuurlik baie graag domestic noirs!

Foto van Elsa Hamersma: verskaf deur LAPA

  • 6

Kommentaar

  • Amanda Claassens

    Dankie vir 'n briljante en geloofwaardige boek, Elsa. Dit was my inleiding tot Domestic Noir, en 'n goeie een daarby.

    • Elsa Hamersma

      Ek is so bly jy het die boek geniet. Dis altyd 'n risiko wanneer mens iets nuuts aanpak.

  • Trots dat Afrikaanse skrywers so goed kan meeding met met die Engelse en oorsese mark!
    Welgedaan Elsa.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top