Die man is die kop, maar wie is die nek? Patriargie, Christelike skynheiligheid en die vroue wat die stelsel aan die lewe hou.

  • 0
...
Die probleem is nie geloof op sigself nie, maar die manier waarop mense geloof kan gebruik om hul eie mag te beskerm.
...

Nolite te bastardes carborundorum. In Engels: “Don’t let the bastards grind you down.”

Hierdie beroemde woorde uit die reeks The handmaid’s tale is veel meer as net ’n talisman van weerstand in ’n distopiese nagmerrie; dit is ’n skrynende herinnering aan hoe kwesbaar vryheid werklik is.

Daar is immers iets diep ontstellend aan sowel The handmaid’s tale as die opvolgreeks, The Testaments, nie bloot omdat hulle ’n wêreld uitbeeld waarin vroue van hul vryheid, liggame en menswaardigheid beroof word nie, maar omdat ’n mens mettertyd begin wonder hoe ver dié skrikwekkende wêreld werklik van ons eie af staan.

In Gilead word godsdiens die regverdiging vir ’n stelsel waarin mans se gesag as vanselfsprekend aanvaar word. Vroue se lewens word beheer, hul bewegings beperk en hul liggame onderwerp aan die behoeftes van ’n patriargale bestel. Dit is immers die ironie van hierdie stelsel: dat dit homself as moreel en godsdienstig voorhou, terwyl dit onder die vaandel van geloof juis die menswaardigheid aantas wat dit moet beskerm. Wanneer ons hierdie dinge ter plaatse aanroer, word dit vinnig as ’n gevaarlike onderwerp vermy – ’n twisappel van ongemak.

Dit is nie net die mans wat my laat nadink het nie. Dit is die vroue. Wat gebeur wanneer vroue, wat self deur ’n onderdrukkende stelsel vasgevang is, daardie selfde stelsel help onderhou? Wanneer hulle die onreg begin raaksien, maar steeds ander vroue dissiplineer, stilmaak en leer om gehoorsaam te wees? Dalk is dit een van patriargie se grootste oorwinnings: dat dit nie altyd meer die man nodig het om die reëls af te dwing nie; soms doen vroue dit namens hom.

Serena Joy is ’n treffende voorbeeld hiervan. Sy was self ’n argitek van die regime se ideologie, maar is mettertyd deur haar eie skepping ingeperk. Haar status as ’n bevelvoerder se vrou gee haar sekere voorregte, maar nie die vryheid wat mans geniet nie. Haar karakter wys hoe ’n vrou ’n stelsel kan ondersteun omdat sy glo dat dit haar posisie en waardes sal beskerm, maar ontdek dan uiteindelik dat dieselfde stelsel ook haar eie vryheid bedreig.

Aunt Lydia bied ’n ander, maar ewe ontstellende, voorbeeld. Sy dwing dissipline af, straf handmaids en gebruik godsdienstige taal – soos haar gedurige herhaling van “Blessed are the meek” – om absolute gehoorsaamheid te regverdig. Hier word die Bybel nie as ’n bron van vertroosting gebruik nie, maar as ’n instrument van onderdrukking wat vroue dwing om hul eie menswaardigheid prys te gee. In The Testaments word haar verhouding met Gilead se magsorde meer ingewikkeld. Juis omdat sy self ’n magsposisie beklee, word die vraag oor haar verantwoordelikheid moeiliker: Wanneer word oorlewing ’n verskoning vir medepligtigheid, en wanneer begin iemand uiteindelik weerstand bied teen die stelsel wat hulle help onderhou het?

Daarna het ek ons eie Suid-Afrikaanse huishoudings onder die loep geneem. Hoeveel keer word ’n gesprek nie beëindig met die woorde “My man het so gesê” nie? Hoe dikwels word ’n man se besluit as die finale woord aanvaar, selfs wanneer sy vrou anders dink? Hoeveel vroue het grootgeword met die idee dat ’n goeie vrou nie vrae vra nie, nie teëpraat nie en haar man se besluite aanvaar omdat dit, na bewering, is hoe ’n Christelike huwelik behoort te werk? Natuurlik is nie elke tradisionele huwelik onderdrukkend nie, en onderdanigheid beteken nie noodwendig dat ’n vrou geen stem het nie. Maar wanneer gehoorsaamheid eensydig word, wanneer die man se wil wet is en die vrou se mening bloot geduld word solank dit nie bots met syne nie, behoort ons ongemaklik te raak.

Ek het telkens gedink aan die bekende gesegde: “Die man is die kop, maar die vrou is die nek.” Dit word gewoonlik met ’n glimlag gesê, asof dit ’n speelse erkenning is van die invloed wat ’n vrou agter die skerms kan uitoefen. Maar as die gesegde eintlik meer verklap as wat ons besef ... wat dan? Sê nou maar die sogenaamde kop se vermoë om die rigting te bepaal hang grootliks af van die nek wat hom ondersteun? En wat gebeur wanneer daardie nek moeg word, ophou saamwerk en besluit om nie meer die kop se bevele uit te voer nie?

Wanneer vroue hul gehoorsaamheid terugtrek, kan dit lyk asof die wêreld van mans wat gewoond geraak het aan beheer, skielik in duie stort. Miskien was daardie mag nooit so vanselfsprekend of selfstandig as wat hulle geglo het nie. Dit is juis wat die vroulike karakters in Gilead so interessant maak: Hul verhouding met mag is nie altyd eenvoudig nie. Sommige probeer hulle hul posisie binne die stelsel beskerm; ander begin die reëls bevraagteken; en ander vind uiteindelik die moed om weerstand te bied. Serena Joy het byvoorbeeld ’n vinger daarvoor verloor, en June Osborne, die protagonis – wat in die reeks se onderdrukkende stelsel as Offred en Ofjoseph (letterlik “van Fred” en “van Joseph”) geklassifiseer is – het radikale dinge begin doen vir geregtigheid. Die vroue is nie bloot passiewe slagoffers nie, maar hulle is ook nie almal ewe vry om te kies nie. Vrees, sosiale druk en die behoefte aan oorlewing speel ’n rol. Dit maak die vraag na vroulike medepligtigheid ingewikkelder as bloot om te vra waarom vroue nie eenvoudig teen die stelsel in opstand kom nie.

Dit bring my by die morele en Christelike skynheiligheid wat deur die reeks blootgelê word. Die probleem is nie geloof op sigself nie, maar die manier waarop mense geloof kan gebruik om hul eie mag te beskerm. Dit is maklik om oor Bybelse beginsels te praat wanneer daardie beginsels jou posisie bevoordeel. Dit is egter moeiliker om liefde, barmhartigheid, geregtigheid en menswaardigheid te beoefen wanneer dit beteken dat jy van jou voorregte moet afstand doen.

Gilead se leiers beroep hulle op die Bybel, maar die vraag is of hulle werklik die waardes uitleef wat hulle voorgee om te verdedig. Wanneer vroue se liggame beheer word, hul stemme stilgemaak word en geweld en vernedering deur godsdienstige taal geregverdig word, ontstaan daar ’n pynlike teenstrydigheid tussen geloofsbelydenis en optrede. Hierdie skynheiligheid word nêrens so skrynend sigbaar as in die ritueel van die “Ceremony” nie – ’n staatsgelegitimeerde praktyk waarin ’n handmaid maandeliks onder die dekmantel van godsdienstigheid en reproduksie deur ’n bevelvoerder verkrag word. Voordat ’n bevelvoerder ’n handmaid verkrag, word die handeling voorafgegaan deur ’n plegtige skriflesing uit Genesis 30:1–3, waar Rachel vir Jakob smeek: “Gee vir my kinders, anders sterf ek.” Hierdie Bybelse vers word heeltemal uit sy konteks geruk en letterlik op ’n stelsel van staatsgedwonge verkragting toegepas. Die ironie is tergend: Wanneer die handmaids swanger word deur hierdie gewelddadige daad, word dit nie as ’n produk van onderdrukking erken nie, maar skynheilig afgemaak as ’n sogenaamde “gift from God”. ’n Mens hoef nie Christenskap in sy geheel te veroordeel om hierdie diepgaande misbruik raak te sien nie. Inteendeel, juis die ware waardes van liefde, geregtigheid en deernis maak dit moontlik om hierdie godsdienstige valsheid ongesiens en sonder skroom te bevraagteken.

...
Dalk begin vryheid nie in die stilte van Gilead of die konvensies van ’n patriargale huwelik nie, maar op daardie presiese oomblik van opstand – wanneer die nek sy eie rigting kies.
....

Terwyl ek die reeks gekyk het, het ek ook aan Lynthia Julius se “Die vrouens in my familie” uit haar digbundel Uit die kroes (2020) gedink. Julius se uitbeelding van vroue se verhoudings, hul wedersydse ondersteuning en die verwagtings wat binne familie- en huweliksverband op hulle rus, laat ’n mens nadink oor hoe vroue mekaar kan liefhê en ondersteun, maar steeds binne patrone leef wat hul eie vryheid beperk. Dit herinner my aan die vroue in Gilead: vroue wat in dieselfde wêreld leef, maar nie noodwendig dieselfde keuses maak of dieselfde mag besit nie. Ook haar gedig “Wat alles verdra” bied ’n betekenisvolle aanknopingspunt. Die idee dat liefde alles moet verdra, kan ’n gevaarlike betekenis kry wanneer dit gebruik word om vroue se lyding as ’n noodsaaklike deel van liefde of huweliksgetrouheid voor te hou. Wanneer word verdraagsaamheid ’n deug, en wanneer word dit ’n verwagting dat iemand haar eie menswaardigheid moet prysgee? Dit is ’n vraag wat ewe relevant in Gilead as in ons eie samelewing is.

In ’n ander gedig van Julius, “Steak-en-kidney-pie”, uit die bundel Kinderlê (2024), word hierdie soort selfopofferende, byna groteske lyding deur ’n verstommend treffende Suid-Afrikaanse beeld vasgevang. Wanneer die spreker beskryf hoe ’n ma letterlik haar eie niere met haar kaal hande uit haar rug sou grou om vir haar man ’n steak-en-kidney-pie op ’n Vrydagaand te maak terwyl hy TV kyk en kla dat die kos te min is, word vroue se grenslose, onvoorwaardelike opoffering op die altaar van ’n huwelik op skrynende wyse ontbloot. Hoewel daar talle voorbeelde van hierdie soort patriargale disfunksie bestaan, bring Julius dit met hierdie unieke plaaslike beeld tuis: die huislike geweld van selfvernietiging wat in ’n alledaagse Suid-Afrikaanse werklikheid genormaliseer word. Dit is hierdie selfde eise van onderdanigheid en totale selfbeperking – of dit nou onder die vaandel van ’n distopiese teokrasie soos Gilead of ’n patriargale huwelik is – wat vroue se liggame en lewens aan bande lê.

Miskien behoort ons daarom minder tyd te bestee aan die vraag of ons onsself as goeie mense of goeie Christene beskou, en meer tyd aan die vraag hoe ons die mense behandel oor wie ons mag het. Want wat beteken dit om geloof te bely as ons ander mense se vryheid ontken? Wat beteken dit om moraliteit van vroue te verwag terwyl mans se gedrag verskoon word? En wat beteken dit wanneer vroue wat self weet hoe dit voel om stilgemaak te word, die volgende generasie leer om stil te bly? Gilead is fiksie, maar die idees waarop dit gebou is, verdien ook buite die televisieskerm ons aandag.

Die vraag is nie net of ons die mans se mag kan bevraagteken nie. Dit is ook of ons bereid is om die vroue se rol in die instandhouding daarvan te ondersoek, sonder om die omstandighede, vrees en ongelyke mag waarmee hulle worstel, uit die oog te verloor.

Uiteindelik: As die man tradisioneel as die kop voorgehou word en die vrou as die nek, wat gebeur wanneer daardie nek weier om die kop nog langer te dra? Dalk begin vryheid nie in die stilte van Gilead of die konvensies van ’n patriargale huwelik nie, maar op daardie presiese oomblik van opstand – wanneer die nek sy eie rigting kies.

Ek wag gretig vir daardie dag.

Lees ook:

Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips

Eietyds en eiesinnig: Lynthia Julius "vry met getroude sinne / en ligtekooi met reëls"

Cliff-hanger: Kinderlê deur Lynthia Julius, ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top