Die landskap van die psalms

  • 4
  • Cas Vos, Navorsingsgenoot van die Departement Ou Testament, Teologiese Fakulteit, Universiteit van Pretoria

Opsomming

Die oogmerk van die artikel is om die landskap van die psalms te verken. In die artikel word die vraag of die herhalings wat in sommige psalms voorkom, nie die komposisie van die bundel versteur nie, grondig nagevors. Die verskillende benaderings tot die psalms word ondersoek en met die begrip teopoësie verhelder. Die wyse waarop die historiese en literêre perspektiewe die verstaansproses van die psalms verlig, word nagespeur. Die bydrae van die opskrifte van die psalms word verreken ten einde die komposisie van die bundel te begryp. Daar word grondig aandag bestee aan die verskillende funksies van die psalmopskrifte. Die eerste oogmerk van die artikel is om aan te toon dat die psalms nie ’n geloofsleer ontvou nie, maar ’n geloofspoësie aanbied. Die tweede doelstelling is om die leser aan die landskap van die psalms bloot te stel. Die oogmerk word konkreet voorgestel deur die tweeling-Psalms 111 en 112. Hiermee word die aktualiteit van die psalms aangetoon.

Trefwoorde

landskap; te veel note; donkerste psalm; gedigte; ko-tekste; oorsprong; psalmopskrifte; ontstaansgeskiedenis; komposisie; teopoësie; poëtiese strategieë; poëtiese meesterstuk; slot van reis.

1. Besinning oor die landskap

’n Insig in die landskap van die psalms bied ’n uitsig op die landskap. Dit gee ook ’n aanduiding van die verskillende seisoene van die psalms. En nog meer as dit: Dit gee ’n duidelike aanduiding van die ryk oeste wat die psalms bied. Die verkenning van die landskap is noodsaaklik ten einde die verwagting wat die psalms wek, te verstaan en te ervaar. 

1.1 Die psalmbundel – te veel note? 

’n Insig in die aard van die psalmkomposisie is vir die verstaan van die noukeurig-gekomponeerde bundel noodsaaklik. Met die oog hierop is ’n verwysing na ’n gesprek met Mozart in die film Wolfgang Amadeus Mozart verhelderend. 

Op 27 Januarie 2006 is die 250ste geboortedag van Wolfgang Amadeus Mozart herdenk. Vir dié geleentheid is ’n uitsonderlike huldigingsboek oor die genie se lewensloop gepubliseer (Huchting 2006:4). 

Reeds as kind was Mozart opmerksaam en buitengewoon energiek. ’n Soort rusteloosheid het sy hele lewe bestempel. Al was hy net 1,55 m lank, was hy ’n musikale reus. Sy lewe het om musiek gedraai. Constanze, sy geliefde vrou, was die ander spilpunt van sy lewe (Huchting 2006:4, 83–4). 

Dit is teen hierdie agtergrond dat Mozart se gesprek met die keiser, die komponis Orsini-Rosenberg en die hofkomponis Antonio Salieri verstaan moet word.

Sonder om te skroom, prys die keiser Mozart se komposisie: “Mooi so, Herr Mozart. Dit is ’n uitstekende poging.” Mozart se vreugde ken geen perke nie. Maar volgens die keiser is dit net hier en daar te oordadig. Mozart wil weet wat die keiser bedoel. Die keiser huiwer en raadpleeg Orsini-Rosenberg. Laasgenoemde klaar toe die misverstand op: “Al is dit voortreflik, het ek een probleem met die komposisie, U Majesteit. Daar is te veel note.” Die keiser stem hartlik saam. Mozart voel asof hy sy wysie kwyt is. Die hofkomponis Salieri beaam Orsini-Rosenberg se insig: “Ja, ja, daar is te veel note.” Wat ’n dwaling was dit tog nie. 

Op die oog af lyk dit vir ons of daar te veel note in die psalmbundel voorkom wat die melodie versteur. Daar is soveel herhalings, beelde, vergelykings, teenstellings, karakters en tonele wat ons oorrompel. Is dit nie te veel vir die oog en die oor nie?

Die psalmbundel is ’n komposisie wat God aan mense oor lang tydperke opgedra het om saam te stel. Só noukeurig dat ons, ons in die spieël van die gedigte kan sien. Al ons vreugdes, verwagtinge, kommer, twyfel, hartseer en verganklikheid word sigbaar. En ons hoor hoe God met ons praat. Hy is by ons teenwoordig: reddend, beskermend, troostend en vermanend. 

Die psalms raak al die emosies van ’n mens aan. En dan veral die verhouding met God in sy majesteit en heerlikheid. Dit is ’n verhouding vol misterie. Daar is klaagsange uit die diepte, himniese odes vir die Ewige en sy gesalfde, die lof van onderrig, die roep om geregtigheid, die vervloeking van vyandige hordes, die vertroue in die goddelike nabyheid, ook aan die rand van en selfs in die duisternis van die onderwêreld (Schuman 2008:37). 

Dit gaan in die psalms, waarin ordelikheid oorheers, ook om die roep tot God wat nie slegs barmhartig en genadigheid is nie, maar Hom ook kan verberg en ook as teenstander van die biddende mens ervaar kan word. 

Hierdie gedagte kan toegelig word deur die insigryke woorde van Breyten Breytenbach (1999:207–8). “Die trein ry deur ’n landskap opgevreet deur die laat twintigste eeu. D.w.s. beton, snelweë, geboue soos galsterige spek, kabels hoogspanningelektrisiteit soos rituele letsels oor ’n stamlied se liggaam, verpotte bome, slykwater, flarde plastiek, ’n bietjie onkruid. Een van die passasiers is ’n enorme Afrikaan met geel oë. Sy dik jas laat hom nog groter lyk. Hy kyk neer op die moderne land. Sy selfoon skril. Hy brom met ’n dik stem wat diep uit sy bors resoneer: ‘Gee my die nuus, gou! Gou!’ Stilte. Dan steek hy sy selfoon terug in sy groot jas se sak en bulder: ‘God is dood!’”

Dit is nie om dowe neute dat Psalm 88 bekend staan as die donkerste psalm in die psalmbundel nie (Schnocks 2014:101). Die klag oor die afwesigheid van God in Psalm 88 is hartverskeurend. Dit klink asof die psalm uitkreet: “God is dood!” Die God-ontkenners is in hulle skik. Die gedig staan saam met Psalm 89 op ’n kruispunt in die psalmbundel. Dit lyk of God heeltemal afwesig is in die psalm, en as Hy aanwesig is, dan is dit sowel ’n onpersoonlike as vyandige mag. Nog erger as die liggaamlike pyn is die geestelike kwelling wat die digter ondergaan: Verlate van kennisse, vriende en God (Psalm 88:9,14,15) (Vos 2016:77). Dit voel vir die digter asof God sy hand van hom teruggetrek het (vers 6) en dat hy in die duisternis van die dood verkeer (Psalm 88:11,19) (Zenger 2000:571–4, Schnocks 2014:104–5). 

’n Eietydse gedig verwoord die rou gevoel van verlatenheid. 

U wat die see in u handholte afmeet
en elke stomende golf beheer,
waarom laat U my op die rotse loop? 

U wat die eeue laat wentel
en ’n ewigheid laat duur,
U moet net vir ’n oomblik
tog aan my ellende dink
as ek uit die bitter beker drink.

Omdat die klag in dié psalm gerig is op God as die vyand van die mens vanweë die onbegryplike lewensbedreiging, kan die psalm as teodiseeklag bestempel word (Zenger 2000:570; Vos 2016:77). Dit is met ander woorde ’n klag wat nie duidelikheid het oor die rede vir die lyding van die mens en die bestaan van die bose in die lig van ’n liefdevolle God nie. Die poging om die gedig as “gebed van ’n sieke” te beskryf, vind geen steun in die teks nie. Eensaamheid is hier geen gevolg van siekte nie. Van skulderkenning en -bewussyn is daar nie sprake nie. Ewe min van boete of ’n boeteritueel (Zenger 2000:570). Die psalm behoort tot die stroom van besinning wat die verhouding van God met die dooies toelig (Vos 2016:78). In die psalm gaan dit oor die klag van ’n enkeling op homself aangewys (Vos 2016:78). 

Psalm 88 herinner ons aan enkele reëls uit Paul Celan se ontroerende gedig, “Todesfuge”. 

Swart melk van dagbreek ons drink dit saans 
ons drink dit smiddags en soggens ons drink dit snags 
ons drink en drink.  

Die psalm behoort in die voor-Hellenistiese tyd, waarskynlik in die ballingskaps- of vroeg na-ballingskapstyd (Zenger 2000:570; Vos 2016:78). 

Psalm 88 se laaste woord “duisternis” maak dit duidelik dat die aangeroepte God slegs met swye en stilte antwoord (Zenger 2000:573–4; Vos 2016:79–80). Die psalm is ’n vermaning teen die mens se arrogansie en hoogmoed. “Wees stil my siel, God hoor nie.” Psalm 88 is sekerlik geen troosryke psalm nie. Maar dit is ’n psalm wat niks verdoesel nie. Die bidder staan met sy wanhoop op die rand van die graf. 

Wat doen hy? Hy lê sy protes voor God neer. Voor wie anders? En hy hou vir lewe en dood aan God vas. “[...] ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U” (vers 2) (Zenger 2000:571).  

Solank daar – en juis deurdat daar – ten dode toe gekla word, bly die vlam van hoop flikker (Vos 2016:79–80). 

Voorspoed en vrede word afgewissel deur uitinge van wanhoop en woorde op die rand van die menslike bestaan. Vervloekinge en klagtes voer in sommige psalms die botoon (Schuman 2008:37). 

Die psalms is nie ’n geloofsleer nie, maar geloofspoësie (Vos 2005:28–30; Schuman 2008:38). Geloofspoësie skep die ruimte om iets van die Onbegryplike God te ervaar en te sien. Die mens se diepste geloofsoortuigings en -verwagtinge word ook poëties uitgedruk. Die ervaringe is egter nie tot die verlede beperk nie, maar nooi die moderne mens uit om deel van die gesprek te word. Meer nog, om die lewende God in al sy grenssituasies van vreugde, klagtes, ontnugterings, eensaamheid, lyding en dood te ontmoet en te ervaar. God is die God van uitkoms en die toekoms.    

Wat moet ons doen as die groot donker ons oorval? As alle lig uitdoof? Ons moet na God uitreik. Want Hy reik eerste na ons uit. Ons moet in Hom bly glo. ’n Sagte sprong in sy oop arms. Sy arms is altyd oop. Só liefdevol is God.

In skerp kontras met die donker Psalm 88 besing Psalm 16 en 23 op ’n intieme manier die nabyheid en beskutting van God. Dit is sy gawe aan die mens in gevaar en bedreiging. In Psalm 23 is die Here die herder wat ons in gevaar en bedreiging lei. Hy lei ons deur donker ravyne, daarna as gasheer na tafels waar daar niks, maar niks ontbreek nie. Reg voor die oë van die vyande. Op ewe indringende wyse besing die psalm die wyse van die genietinge en geborgenheid by die Ewige. Dit is merkwaardig hoe daar gemeenskaplike motiewe by ko-tekste, Psalm 16 en Psalm 23, voorkom:

Psalm 16  

Vers 2: my goed

Vers 5: my beker

Vers 6: lieflike plekke

Vers 11: U wys my die weg na die lewe

Vers 11: Versadiging

Vers 11: vir altyd

Psalm 23

Vers 6: goedheid

Vers 5: my beker

Vers 2: groen weivelde

Vers 3: Hy lei my in die spore van reg

Vers 5: oorvol (beker)

Vers 6: tot in lengte van dae

Dit is opvallend hoe hierdie twee psalms op mekaar inspeel en die ontmoeting met die leser/hoorder begelei. Die digter is bewus van sy geborgenheid by die Almagtige, ’n gasgenoot by die Ewige. Die ervaring hiervan vind nie in ’n windvrye hoek van die lewe plaas nie, maar juis te midde van dreiging en druk. Die vyande sal altyd daar wees, maar hulle is nie in staat om diegene wat by Jahwe ’n skuilplek gevind het, kwaad aan te doen nie (vgl Psalm 91:1 en 2). 

Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon,
sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. 
Ek sê vir die Here:
 “My skuilplek, my bergskuiling,
my God op wie ek vertrou!”

  Die lot van die kwaadwillige word dikwels verwoord in passiewe, “onpersoonlike” terme, terwyl die digter die regverdige se geborgenheid ondubbelsinnig aan Jahwe se ingrype toeskryf. Hiervan is Psalm 32:10 en Psalm 92:10 en 11 voorbeelde:

’n Goddelose het baie smarte,
maar wie op die Here vertrou –
troue liefde omring hom. 

Ja, kyk, u vyande, Here,
ja, kyk u vyande gaan ten gronde,
dié wat onreg pleeg, word verstrooi.

Maar U het my horings hoog gelig
soos die van ’n buffel.
Suiwer olie is oor my uitgegiet (Schuman 2008:107–8).

Nou kan ons verder op die spoor van die psalms loop om nuwe ontdekkings te maak. 

1.2 Oorsprong van die psalms

’n Besinning oor die landskap van die psalms lei vanself na die vraag van die oorsprong van die psalms. Die verdere vraag wat beantwoord moet word, is watter soort psalms in die landskap voorkom. 

Daar is veral twee benaderings tot die psalms wat ons aandag vra. Die eerste is dié van Hermann Gunkel (1862–1932) en die tweede dié van Sigmund Mowinckel (1884–1965). Gunkel is die vader van die vorm-analise (vorm-ontleding). Hy wou aantoon dat die Ou-Testamentiese gedeeltes oorspronklik deur mondelinge oorlewerings en kontekste ontstaan het en eers later neergeskryf, uitgebrei en geredigeer is. Hy pas die benadering ook toe op die psalms. 

Gunkel onderskei die psalms in soorte (Gattungen). Genre (soort, tipe) is ’n literêre begrip wat gekenmerk word deur vaste patrone van opbou, tema en woordgebruik. Gunkel beskou die reeds-bestaande tekste as “nadigting van ou liturgiese komposisies”. Volgens Gunkel kom die volgende genres (literatuursoorte) die meeste voor: Die klaaglied van die enkeling en die gemeenskap; die danklied van die enkeling en die gemeenskap; die himne, ’n loflied oor God se handelinge in die natuur en geskiedenis; die pelgrimspsalms; die Tora-psalms en die wysheidspsalms, wat albei God se verordeninge besing; en die koningspsalms as lof aan die Koning. Hierdie genre onderskeidings raak slegs die letterkundige kant van die psalms (Gunkel 1975:180–3, 260–5; Vos 2005:23–8; Schuman 2008:53–4).  

Gunkel se volgende stap is om die genres aan ’n konkrete lewenssituasie in die tyd van die psalms se ontstaan te koppel (Sitz im Leben). Hiermee val die lig op die oorsprong van die psalms in tye van siekte en genesing, skuld en boete, verdrukking en bevryding, reg en onreg. Die gewone man kon met sulke lewenservaringe in die heiligdom hom by die priesters en profete voeg. Die tekste kon tot ’n soort formuliergebed omskep word. Op dié wyse het talle psalms ontstaan met vaste patrone in samehang met die ervaringe wat dit uitdruk. Wie ’n klaaglied aanhef, doen dit anders as iemand wat ’n loflied laat opklink. 

Gunkel was van mening dat nog talle psalmdigters hulle bydrae tot die formele kultus (plek van godsdiens en godsdienstige handelinge) gemaak het. Die profete, met hulle kritiek op die uiterlike, was vir hulle ’n voorbeeld. Op hierdie wyse het psalms ontstaan wat juis dit onder woorde gebring het. Psalm 51:18–9 is ’n voorbeeld hiervan.

’n Offer vra U nie 
anders sou ek dit bring;
’n brandoffer wil U nie hê nie.
Die offer wat U wil hê, o God,
is verootmoediging.
U sal ’n hart van ootmoed en berou
nie gering ag nie (Schuman 2008:54–5).   

Hiermee kom, volgens Gunkel, die eintlike spiritualiteit van die psalms, veral in die ballingskap, tot stand. Die vorm van die psalmgenres bly dieselfde, maar die inhoud ondergaan ’n groot verskuiwing. Die vromes het liedere gaan sing wat van elke uiterlike handeling afsien, en ook nie vir die openbare erediens bestem was nie. Op hierdie wyse het die “geestelike poësie” as eintlike skatkamer van die psalmbundel ontstaan (Schuman 2008:54–5).  

Soos Gunkel gaan Sigmund Mowinckel ook van die kultiese oorsprong van talle, maar nie alle psalms nie, uit. Hy onderskei aan die hand van ’n aantal psalms oor die Goddelike koningskap die navolging van ’n groot liturgiese fees, met ’n vaste ritueel (gebruik). Hiervan is Psalm 97 vir hom ’n voorbeeld:

Die Here regeer,
die aarde moet juig […]

Hierdie psalm beskryf God se koningskap voortreflik. In oud Babilonië was daar ’n Nuwejaarsfees wat die troonbestyging van Marduk gevier het. Die fees het plaasgevind as die jaarlikse oorstromings van die Eufraat en Tigris ophou en die vrugbare grond langs die oewers bewerk kon word. Die skeppergod Marduk het die chaosmagte opnuut oorwin. In wese het oud Israel dieselfde fees gevier. Hiervan is, volgens Mowinckel, Psalm 47, 93, 96–9 en talle ander psalms voorbeelde (Mowinckel 1924:65; Schuman 2008:55–6; Schnocks 2014:29–31; Vos 2016:4–5).   

Die kultus is nie slegs van oorsprong nie, maar van altyd af ’n drama. Kultus is heilige kuns. Dit is egter ook tegelykertyd heilige werklikheid. Dit is ’n werklikheidsskeppende drama wat met skeppingskrag die gedramatiseerde gebeurtenis tot werklikheid vorm. Die werklikheid straal konkrete kragte uit, ’n sakrament. Slegs die sogenaamde “wysheids- of leerpsalms” kan vanweë hulle onkultiese aard nie binne die dramatiese raam geplaas word nie (Vos 2016:5). 

Teen die einde van die twintigste eeu het ’n nuwe benadering ontstaan. Die oorsprong van talle psalms in die tempel en ander heiligdomme word aanvaar. Die geleerde digters en bewerkers was die aangewese skeppers. Die liturgiese spore van talle psalms is herkenbaar (byvoorbeeld Psalm 15 en 24). Dit beteken egter nie dat die psalmbundel die gesangboek van die tempel was nie. Daar is ook ander liedere in die bundel opgeneem wat nie ’n liturgiese stempel dra nie (Zenger 1997b:23–4; Braulick 2004:15 e.v.), maar eerder uit die hand en hart van wysheidsleraars, wetgeleerdes, skrywers of howelinge van die koning kom. Hierdie persone of geleerde Leviete kon wel die individuele smeekpsalms (byvoorbeeld Psalm 31) gedig het. Dit vind deur middel van ’n bepaalde persoon neerslag in ’n konkrete situasie. Daarmee was dit egter nog nie ’n lied wat aan die liturgie gekoppel was nie (Schuman 2008:56–7).   

Die psalmbundel is ’n komposisie (samestelling) van verskillende genres in een boek. Daar word van die leser van die psalms verwag om elke psalm noukeurig te lees en die plek daarvan in die bundel te peil. Die intertekstuele verhoudinge (skakeling en raakpunte tussen tekste) gee ook insig in die komposisie van die bundel in die geheel. 

1.3 Psalmopskrifte 

Wanneer die landskap van die psalms verreken word, moet daar ook aan die naamaanduidings aandag gegee word. Op dié wyse vind die reisiger sy weg deur die psalms.

Die meeste psalms in die Hebreeuse teks bevat duidelike opskrifte. Die ouer vertalings soos die Septuaginta (die Griekse vertaling), Vulgaat (die Latynse vertaling), Peshitta (die Siriese, “die algemene”, Christelike vertaling van die Hebreeuse Bybel in die twee tot vyf jaar na Christus) neig daartoe om die Hebreeuse teks uit te brei of om ’n nuwe titel te gebruik waar die opskrif ontbreek. Die Targum, die vrye, beskrywende vertaling in Aramees, bevat besonder uitgebreide titels (Jonker 2004:102 e.v.; Vos 2005:44–5; Witte 2009:418–9).   

Daar bestaan eenstemmigheid dat die le-opskrif van die verskillende psalms veel ruimer verstaan moet word as bloot ’n outeursaanduiding. Die le kan byvoorbeeld vertaal word met “oor, aangaande, vir” sodat le Dawid kan aandui, dat dit aan hom opgedra is of oor hom handel. Só ’n opskrif sou ook kon aandui dat Dawid ’n groot rol by die vestiging van die kultus gespeel het (vgl Psalm 131:1 met Esegiël 28:2; 2 Kronieke 26:16, 32:25) (Prinsloo 1991:87). Die naaste wat daar met ’n le as outeursaanwysing gekom kan word, is waarskynlik die volgende Psalms: 3:1; 7:1; 18:1; 34:1; 51:1; 52:1; 54:1; 56:1; 60:1; 63:1; 142:1). In hierdie gevalle word die le deur ’n spesifieke historiese verwysing uit Dawid se lewe gevolg. Selfs hierdie psalms is nie sonder probleme nie. Dit is ook moontlik dat le ’n samestellingsaanduiding is dat die psalms tot die Dawidiese versameling behoort (Vos 2005:46–9).   

Die opskrifte is heel waarskynlik ’n latere komposisionele byvoeging. Hiermee word die verskillende kontekste aangedui (Prinsloo 1991:87; Zenger 2005:398–9; Vos 2005:45). ’n Opskrif wat na Asaf verwys, kom 12 maal voor. Hy was ’n prominente Leviet ná die na-ballingskapstyd, 12 maal word die opskrif aan die Koragiete (’n tempelkoorgroep) toegeskryf. Twee maal word dit met Salomo, en een maal met Moses en Etal verbind. Heman en moontlik Jedutun kom vier maal naas mekaar voor (Zenger 1997b:28–33; Schuman 2008:121–30). Die Hebreeuse Bybel skryf 73 uit die 150 psalms aan Dawid toe. Die Griekse vertaling (die Septuaginta) verhoog die getal na 83. Ook die Nuwe Testament noem Dawid meermale as skrywer van ’n psalm (Handelinge 4:25; Psalm 2; Handelinge 2:34; Psalm 16; Romeine 4:7 e.v.; Psalm 32; Handelinge 1:16, 20; Psalm 69). 

Maar waarom word soveel psalms met ’n Dawid-opskrif versier? In Israel se geskiedenis was sy koningskap ’n hoogtepunt met talle roemryke oorwinnings. Daarom is dit nie vreemd dat hy soveel kere aan die psalmopskrifte verbind word nie.

Dawid het oud geword. Hy bid vir oulaas vir homself (Psalm 71), en dan vir sy seun en troonopvolger. Die opskrif van Psalm 72 verwys na Salomo. Hierdie opskrif is ’n uitdruklike lesersaanwysing. Ná die 17 versreëls van die psalm, sluit ’n lofroep die psalm af. In ’n soort kolofon (naskrif of onderskrif) staan die opvallende versreël: Die gebede van Dawid, seun van Isai, eindig hier (Psalm 72:20) (Arneth 2002:135–69; Schnocks 2014:53).    

Die Dawid-versameling volg ná die twee groot samestellingsblokke, Psalm 3–41 en Psalm 51–70 (Schuman 2008:130–3).   

In talle psalms van die tweede Dawid-versameling, tussenbeide Leviete-versameling, kom ’n sfeer van verlange na die stad en tempel as verlore paradys voor. Dit word selde in die eerste Dawid-versameling aangetref. Slegs in Psalm 14:7 is daar hiervan sprake. Hieruit kan ons aflei dat die tweede Dawid-versameling, meer as die eerste, gekleurd is deur die ervaring van die ballingskap. Die ballingskapseggo kom veelseggend genoeg ook daar voor waar dit lyk of die “ek” van Dawid heel persoonlik aan die woord is. Die boetelied, Psalm 51, aan die begin van die derde reeks, eindig in vers 20 en 21 op ’n verrassende noot:

Doen volgens u wil goed aan Sion,
herbou die mure van Jerusalem (Schuman 2008:133).   

Die opskrifte het ook die funksie om die psalms te groepeer en ’n lesershorison te verskaf. Psalm 72 is byvoorbeeld nie slegs deur die kolofon die slot van die psalm nie. In vers 18–9 is daar ’n prysende slotformule of ’n sogenaamde “doksologie”. Hierdie doksologie kom vier keer in die psalms voor: Psalm 41:14; Psalm 72:18–9; Psalm 98:53; Psalm 106:48 (Schnocks 2014:53–4). 

2.  Die ontstaan van die psalmbundel

Die ontstaansgeskiedenis van die psalmbundel gee insig in die ontstaan en samevoeging van verskillende tekste in die antieke wêreld. Die psalms is ’n samevoeging uit verskillende versamelings wat elk sy eie historiese oorsprong het. Volgens Dirk Human (2013:2) is dit duidelik dat individuele psalmtekste en kleiner versamelings doelbewus ontwerp is om deel van die groter geheel en tekseenhede te vorm. Die tekste is later in nuwe wisselende kontekste saamgeweef om uiteindelik die psalmboek te vorm. Human (2013:2) reken verder dat komposisionele en redaksionele prosesse bygedra het tot die skepping van die psalms. Die gebruik en herinterpretasie van die psalms in hulle nuwe kontekste het ook ’n betekenisvolle rol gespeel in die samestelling daarvan (Schuman 2008:149). 

Talle psalms het ’n lang mondelinge tradisie gehad. Die ontsag vir die (mondelinge) tradisie was groot, só groot dat die psalmbundel in die geheel nie vry kom van sekere herhalings nie. Daar is duidelike aanduidings dat die vroeëre versameling psalms saamgevoeg is om die psalmbundel te vorm, soos ons dit vandag ken. Ons vind byvoorbeeld dat ’n aantal psalms gedupliseer is: Psalm 14 = Psalm 53; Psalm 40:1418 = Psalm 70 en Psalm 108 = Psalm 57:7–11 + Psalm 60:5–12. Psalm 40:14–8 en Psalm 70 stem feitlik woord vir woord ooreen. Hierdie herhalings van lirieke in een boek is nie ’n oorsigfout aan die kant van die samesteller(s) nie. ’n Verklaring hiervoor is dat die psalmbundel ’n versameling van kleiner eenhede bevat. Die kleiner versamelings is in hulle geheel ingesluit, selfs al sou dit herhaling meebring.

Niek Schuman (2008:149–54) gee ’n uitstekende oorsig oor Israel se geskiedenis van Dawid en Salomo se tyd tot die Persiese en Griekse periodes. Tydens dié eeue het die psalms ontstaan.  

Die mees roemryke periode in Israel se geskiedenis, wat ook die psalms insluit, is as ’n soort goue eeu beskou. Dit sluit die glorieryke tyd van Dawid en Salomo, van ongeveer 1020 tot 926 vC, in. Sommige koningspsalms weerspieël iets van die glansryke tyd (Psalm 18; 45; 72; 110 en 132). In die tweede helfte van die agtste eeu neem die druk van Assirië toe. Samaria, die hoofstad van die Noorde, val in 722 vC. Verbanning na Assur volg; talle vlug na die suide, moontlik ook met himniese materiaal. In Psalm 80 klink ’n eggo hiervan op. Moontlik is Psalm 46 en 76 ’n terugskou op die beleg van Jerusalem in 701 vC. Die Babiloniër, Nebukadneser, lê Jerusalem in 587 vC. in puin. Psalm 44, 74 en veral 79 verwoord die diep klagtes hieroor. Die Babiloniese ballingskap het ’n halwe eeu geduur. In dié tyd is ’n aantal psalms versamel (Albertz 2001:117–35). Die versamelings is vroeër in die liturgie van die noordelike en suidelike tradisies gebruik (Betel, Sigem, Dan, Jerusalem). In 538 vC gee die Persiese koning, Kores, verlof vir ’n terugtog uit Babel. 

In die Persiese periode (ongeveer 538–333 vC) is ’n groot deel van die psalms gemaak en/of verwerk (Gerstenberger 2005:172–96). Die versamelings van die bestaande psalms het voortgegaan. In dié verband kan daar aan die groot aantal Dawids- en Levitiese reekse gedink word. Die tyd ná die ballingskap is ’n opbloei van die Levitiese gilde van sangers en skrywers. In die tydvak 200–160 vC volg dramatiese gebeurtenisse: Daar is die magsgreep van die Seleukiede (Sirië), die ontwyding en herinwyding van die tempel, die vervolging en opstand van die Makkabeërs. 

Daarna volg die Griekse periode (ongeveer 333–64 vC). Ná ’n periode van betreklike selfstandigheid onder die hoëpriesterlike gesag (die Hasmoneërs) vanaf die tweede helfte van die tweede eeu voor Christus, toe ’n Esseense gemeenskap hulle van Jerusalem afkeer en hulle in Qumran vestig, lei dit tot Pompeius se bloedige verowering van Jerusalem in 63 nC (die begin van die Romeinse periode). In 70 nC beleër generaal Titus opnuut Jerusalem. Deur sy toedoen is die tempel met die grond gelyk gemaak. Die psalmbundel in sy eindvorm het in die Griekse periode tussen 250 en 150 vC ontstaan.  

Karel van der Toorn (2007) wys daarop dat die publikasie van die “boek van Moses”, van die profetiese geskrifte, van ’n versameling religieuse liedere (psalms) en ook van wysheidsriglyne (Spreuke), beskou kan word as ’n Joodse antwoord op die kultuur van die hellenisme. Die skeppers, bewerkers, oorleweraars of redakteurs, asook die eindversamelaars was goed-geskoolde digters en sangers. Hulle was nie alleen kopiïste nie, maar ook komponiste. Dit kan ook wees dat “lekeliedere” aan die geskooldes gegee is wat dit dan tot psalms omgedig het. Eeue en eeue het die totstandkoming van die psalmbundel voorafgegaan. Die Here het as die groot Digter sy beskermende hand oor die versamelingsproses gehou. 

“Psalter” kom van die Grieks psalterion en kan met “psalmboek” vertaal word. Met die oog op die vroeg-Christelike gebruik kan hier ook egter die luide, die (halfluide) gebede of gesonge psalmboek bedoel word. “psalmboek” kan ook gebruik word vir die vyf dele wat deur doksologieë (lofsprake) gevorm is, Psalm 1–2 (inleiding tot psalmbundel); 3–41; 42–72; 73–89; 90–106; 107–50. Die reeks wat ná die psalm van Moses (Psalm 90) volg, is op die toekoms gerig (Jüngling 1998:780; Schnocks 2014:162).  

Die wêreld van die psalms is ryk en veelkleurig. Dit blyk reeds uit die fyn verweefdheid van die bundel. Steeds ontdek ’n mens nuwe samehang en betekenisvelde.

3.  Komposisie van die psalmbundel

Die komposisie van die psalmbundel kan, al is daar verskille, met die ontstaan van ’n Mozart-komposisie vergelyk word. Die sentrale tema word herhaal. Die doksologiese toonaard van die psalms is so helder soos die water wat uit ’n fontein borrel. Psalm 150 vorm die hoogtepunt van die jubelinge. Alles is in die loftoonaard.

As teopoësie is daar ’n rykdom poëtiese strategieë in die psalmbundel teenwoordig. Ek onderskei struktuur, tekstuur en postuur. Onder struktuur verstaan ek die samestelling van die psalmbundel in die geheel en elke afsonderlike psalm. Die tekstuur is die taal waarmee elke psalm geweef is. Die postuur is hoe die psalm in die geheel die leser en hoorder ontmoet en aangryp. Die komposisie van die psalmbundel lei tot verwondering.  

Psalm 1–2: Inleiding tot die psalmbundel
Psalm 3–41: Doksologie; Psalm 41:14
Psalm 42–72: Doksologie; Psalm 72:18–19
Psalm 73–89: Doksologie; Psalm 89:53
Psalm 90–106: Doksologie; Psalm 106:48
Psalm 107–150: Psalm 150 vorm in die geheel ’n doksologie (Vos 2005:43).   

Al kan die redaksionele verhoudinge nie altyd maklik verklaar word nie, kan die groot patrone deur die verskillende opskrifte aangedui word. Dit is:

Psalm 1–2: Inleiding tot die psalmbundel

Al is Psalm 2 heeltemal anders ten opsigte van komposisietegniek as Psalm 1, is die twee saamgeplaas. Die twee psalms kan elkeen na sy eie aard as dubbele opening van die psalmbundel dien. Die slot van Psalm 2 vorm ’n duidelike conclusio (omraming of omarming) met die begin van Psalm 1:

Psalm 1:1: Gelukkig is die mens […]
Psalm 2:12: Gelukkig is die mens wat by Hom skuil! (Schuman 2008:126).  

Psalm 1 en 2 kan as ’n dubbele opening van die psalmbundel gesien word. In Psalm 1 kom ons die mens teë wat op die pad van geregtigheid loop, en in Psalm 2 ontmoet ons die mens wat onderweg is na die koning wat op Sion, die heilige berg, tot koning gekroon is (Schuman 2008:36, 167).

Die wêreld is vol mense wat die orde van geregtigheid skend. Psalm 1 druk dit uit deur ’n sewevoudige verwysing na dié soort mense: Vier keer kwaadaardiges (goddeloses), twee maal skenders (sondaars) en nog een keer swetsers (spotters). In totale teenstelling hiermee vind die regverdige sy vreugde in die onderrig van die Here se wet. In die middel van die psalm skets die psalm die pad van die regverdiges. Die eenling se keuse is om nie in die geselskap van die goddeloses, sondaars en spotters te verkeer nie. Hy vertoef ook nie in hulle kring nie. Sy lewe is om soos ’n bloeiende, vrugbare boom te wees (vers 3). Sewentien Hebreeuse woorde bring dit tot uitdrukking. 

Wat doen die regverdige? Hy prewel mediterend en vind sy vreugde in die doen wat die wet (Tora) vra. Die psalmdigter laat die eerste woord van die psalm met die eerste letter van die Hebreeuse alfabet begin (alef) en die laaste woord met die laaste letter van die alfabet (taw). So lei die psalm die psalter as geheel, van A tot Z, in (Schuman 2008:1178). Die Here dra sorg vir die pad van die regverdiges, maar die pad van die goddelose loop dood (vers 6).

In Psalm 2 kom die opstandige sameswering van die volke teen die gesalfde na vore. Psalm 2 is ’n koningspsalm waar dit om die gesalfde koning en die volke gaan. Psalm 2 sluit by Psalm 1 aan en toon wat die koninklike weg is te midde van die rumoer van konings en al die geweld. Ja, die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die Here en sy gesalfde (Psalm 2:2). Maar dit is alles tevergeefs. Want die Here is in beheer. Daarom word die konings en die regters opgeroep om verstandig te wees. Dit beteken dat hulle die Here met ontsag moet dien en Hom met bewing moet aanroep (Psalm 2:11). En dan volg die hoogtepunt: Gelukkig is almal wat by die Here skuil (Psalm 2:12) (Schuman 2008:1168, 1267, 142). 

Die aanvangswoorde van Psalm 1 en 2 word verder in die psalmbundel ontplooi. 

Boek Een: Psalm 3–41

Psalm 3–41: Dawid-versameling. Psalm 10 en 13 sonder Dawid. Psalm 39: Jedutun. Psalm 18, 20, 21: Koningspsalms. Doksologie: Psalm 41:1.
Psalm 37 vorm ’n reeks van klaag- en smeekgebede. In Psalm 8 gaan dit oor in ’n himne. Dit vind in Psalm 9 ’n (voorlopige) afsluiting van die lied wat elemente van die klaaglied en die loflied bevat (Schuman 2008:1267).

Boek Twee: Psalm 42–72

Psalm 42–49: Koragiete. Godsstad en tempel. Psalm 43: Sonder Koragiete.
Psalm 50: Asaf. Heimwee en himnes. 
Psalm 45: Koningspsalm (bruilof).
Psalm 4250: Leviete-versameling. Afwisselend ek- en ons-vorm.
Psalm 5171: Dawid-versameling II. Oorwegend ek-vorm.
Psalm 66, 67, 71: Sonder Dawid.
Psalm 62: Volgens Jedutun.
Psalm 72: Salomo-opskrif en Dawid-onderskrif. Vrede en geregtigheid. Koningspsalm.

Boek Drie: Psalm 73–89

Psalm 73–83: Asafpsalms, veral die Godstad verwoes.  
Psalm 77: Ook Jedutun.
Psalm 42–83: Elohistiese psalter (Elohim is een van God se Name).
Psalm 84–85: Koragiete-versameling. Heimwee na tempel.Psalm 86: Dawid. Klaaglied in ek-vorm.
Psalm 87–88: Koragiete-versameling. 
Psalm 88: Ook Heman.
Psalm 89: Etan. Dawid se troon ontluister.
Psalm 73–89: Leviete-versameling II. Oorwegend in ons-vorm. Psalm 86: Dawid. 

Boek Vier: Psalm 90106

Psalm 90: Moses. Verganklikheid en God se tyd. 
Psalm 91–92: Beskerming en vreugde.
Psalm 93–100: JHWH-koningspalms. (JHWH is God se verbondsnaam.)
Psalm 101: Dawid. Troonrede. Koningspsalm.
Psalm 102: Klaag- en smeeklied.
Psalm 103: Dawid. Elemente van die “Onse Vader”.
Psalm 104–106: Halleluja. Skepping en geskiedenis.

Boek Vyf: Psalm 107150

Psalm 108–110: Dawid-versameling III. Regsaak en koningspsalms. Psalm 110: Koningspsalm.
Psalm 111–112: Halleluja, alfabetiese spieëlpsalms. Halleluja: prys JHWH. Dit dien ook as oproep tot lofgesang wat deur die gemeente met himniese gesange beantwoord word. Halleluja het ook ’n selfstandige lofroep geword wat aan die begin en einde van sommige psalms voorkom (byvoorbeeld Psalm 104–6). Die Halleluja het as lofprysing groot betekenis in die Joodse en Christelike liturgie verkry.   
Psalm 113–118: Hallel het ’n liturgiese betekenis in Psalm 113–118, veral by die Pasga. Die fees van die ongesuurde brood het sewe dae geduur en op die vooraand daarvan is die paaslam geëet. Halleluja kom nie by Psalm 114 en 118 voor nie.
Psalm 119: Lof van die Tora. Alfabeties; 22 maal en 8 verse.        
Psalm 120–134: Pelgrimspsalms; op pad na Sion toe. 
Psalm 132: Koningspsalm.
Psalm 127, 131, 133: Dawid.
Psalm 136: Groot lofsang.
Psalm 137: Groot lofsang.
Psalm 138–145: Laaste Dawidspsalms IV. Byna geheel in die ek-vorm.
Psalm 146–150: Slot Hallel of klein Hallel. Byna geheel in ek-vorm. 
Psalm 144: Koningspsalm (Jonker 2004:111 e.v.; Vos 2005:143; Schuman 2008:1267, 142–4; Zenger 2008: 348-370; Schnocks 2014:58–60).  

Daar is ook ’n intertekstuele band (’n band wat oor teksgrense gaan) tussen sommige psalms. In dié verband kan na Psalm 15 en 22–4 verwys word. In Psalm 16 en 23 vind ons gemeenskaplike motiewe (Schuman 2008:1078).  

Psalm 16  

Vers 2: my goed

Vers 5: my beker

Vers 6: lieflike plekke

Vers 11: U wys my die weg na die lewe

Vers 11: Versadiging

Vers 11: vir altyd

Psalm 23

Vers 6: goedheid

Vers 5: my beker

Vers 2: groen weivelde

Vers 3: Hy lei my in die spore van reg

Vers 5: oorvol (beker)

Vers 6: tot in lengte van dae

Die psalms is fyn gekomponeer. Psalm 22:2–22 is ’n uitdrukking van God-verlatenheid. In vers 23–6 laat die “ek” die klag met ’n lofsang volg. Vers 27–32 sluit die psalm af met ’n himne op die universele bevrydingsmag van die Ewige as Koning van die volke. Dit baan die weg vir Psalm 23 as votum van vertroue, ook in die diep dal van duisternis en te midde van die dreigende vyande (Schuman 2008:131).   

In die voorafgaande oorsig oor die komposisie van die psalmbundel is daar reeds aandag gegee aan die verskillende psalmsoorte. Hier word kortliks aandag gegee aan die himne (lofsang: Psalm 113 en 117); die gemeenskaplike klaaglied (Psalm 79); die individuele klaaglied (Psalm 13) (Schnocks 2014:3349); die koningspsalms (Psalm 2, 20, 21, 45, 72, 110, 132 en 144) en ’n wysheidspsalm (Psalm 73) (Vos 2005:174; Schuman 2008:612). Psalm 113–8 is ’n psalmgroep wat ’n belangrike rol in die liturgiese tradisie van die vroeë Jodedom (ook buite die tempel) gespeel het. Hiervan blyk niks in die opskrifte nie (Schuman 2008:130).  

In Boek V neem die lofsang in intensiteit toe. 

Loof die Ewige, want Hy is goed,
ja, sy genade duur ewig!

Met hierdie lofroep begin Psalm 107, 118 en 136. Al drie word voorafgegaan deur ’n psalm wat met “Halleluja” eindig: Psalm 106, 117 en 135. Só vorm dit ’n reeks van drie, wat tematies gesien ’n steeds bindende saamvoegende funksie in die geheel het: Psalm 107–17, 118–35 en 136–50 (Schuman 2008:137).  

Die liturgiese funksie dui op ’n viering van die magnalia Dei, die groot dade van God in ’n nabye toekoms:

Psalm 115:18  Maar ons, ons sal die Here seën.
Psalm 116:14  Die kelk van bevryding wil ek oplig.
Psalm 116:17  Aan U wil ek ’n offer van dank bring.
Psalm 117:1    Loof die Ewige, julle almal, volke!
Psalm 118:21  U wil ek dank, want U het my geantwoord (Schuman 2008:138). 

Binne hierdie raam en teen dié agtergrond kan daar na Psalm 117 gekyk word. Psalm 117, die kortste psalm in die bundel, is ’n himne en is ’n voorbeeld van ’n lofoproep in die bevelvorm (vers 1). Hierop volg die hoofdeel van die himne (die corpus hymni) wat met ’n “want”/“ja” ingelei word. In die hoofdeel gaan dit om die begronding van die lof. Die Here se dade word in die verlede aangedui. Dit gaan om sy “hulde”/“goedheid”/“liefde”/“genade”/“trou” en “waarheid”. Die handelinge van God kom ook in die hede en in die toekoms aan die lig. Die psalm word met ’n “Halleluja” afgesluit (Jeremias 2004:95; Schnocks 2014:335).  

Psalm 117 beklemtoon die godsdienstige funksie van die himne om die funksie van die lofoproep te verklaar. “Alle nasies” en “alle volke” verwys nie na werklike aanwesiges nie, maar is ’n indirekte spreekhandeling (Jeremias 2004:95). Die lofoproep is aan alle volke gerig omdat (die rede, ki) die Here se troue liefde “oor ons” ook Israel insluit (Vos 2016:14). Die aanspreek van die volke is die eintlike tema van die psalm. Al is die volke nie teenwoordig nie, word hulle deur Israel verteenwoordig. Die bedoeling is dat die hele wêreld die Here moet prys, want Hy is die Koning van die ganse wêreld. Maar dit is ’n toekomsperspektief. Intussen loof en prys die gemeente die Here in die teenwoordige tyd (Vos 2016:14). 

Die toekomsdroom van die psalm is dat die volke deur Israel aangespoor word om die enigste ware God te vereer. Daardeur sal die misverstande en vyandskap tussen hulle oorwin word (Psalm 115:2; 118:10–2). Die psalm is ’n himniese vooruitskouing van die werklikheid wat God se liefde en trou teweeg bring (Zenger 2008c:302 e.v.). Die Here is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou (Psalm 86:15; 103:8 en 145:8). 

Oor die vraag na die ontstaansituasie van die psalm is die maklikste antwoord dat die ontstaanplek (Sitz im Leben) in die kultus gesoek moet word. Maar as ons die samestellingsgeskiedenis van die psalmboek in ag neem, blyk dit dat dié kort psalm ’n belangrike funksie binne die psalmgroep 113–8 beklee. Die moontlikheid is groot dat dit as brugteks vir die psalmgroep geskryf is (Becker 1973:257–83; Schnocks 2014:35). Onafhanklik van die vraag of Psalm 117 en by watter geleentheid dit in die tempelkultus ’n rol gespeel het, bied die literêre funksie ’n sinvoller antwoord (Schnocks 2014:35–6).   

Psalm 113 is ook ’n himne (lofsang). Die ooreenkomste en verskille tussen Psalms 117 en 113 blyk uit ’n vergelyking van die twee psalms. Die lofoproep in vers 1 is vergelykbaar met Psalm 117:1. Daar is in Psalm 113 nie ’n inleidende “want”/“ja” wat die lofoproep begrond nie. Die ontvouing van die lof vind plaas deur himniese woorde, wat telkens op die Here gerig is en die dade noem wat die himne prys. Sy dade word in vers 7 e.v. en 9 duidelik genoem. Vers 4–6 verwys reeds daarna. Die psalm word deur die Halleluja-omraming as loflied aangedui (Hossfeld 2008:250; Schnocks 2014:36–7). . 

Die opbou van die psalm is duidelik: Vers 3–4 bevat ’n uitgebreide lofoproep (vers 1–3). In vers 4–6 gaan dit om die wese van die Here en in vers 7–9 om sy handelinge met die armes (Hossfeld 2008:250–2). Psalm 113 is ’n himne wat ’n mens ook in ’n godsdienstige situasie kan voorstel. 

Die lofoproep in vers 1–3 lê die klem op die universaliteit van die lof. Die oproep dui op tyd (vers 2) en ruimte (vers 3). Nogtans is die vereerder van die Here die ware Israel. Die stylvorm wat die totaliteit uitdruk om die gansheid te omskryf lui: “Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan” (vers 3). Dit staan as merismus bekend (vgl Psalm 88:2). Vers 5–6 vorm ’n eenheid wat in die sentrum van die psalm staan:

Wie is soos die Here, ons God
wat hoog woon in die hemel
wat Hom nederig maak
om te sien op die aarde?

In Psalm 113:5b–6 is twee parallelle uitsprake nou verwant. “Hoog woon in die hemel” en “nederig maak om op die aarde te sien”. God is onvergelykbaar, so verhewe dat Hy in die hemel troon. Terselfdertyd maak Hy Hom nederig omdat Hy Hom oor die lewe op aarde bekommer. Twee voorbeelde van God se aardse sorg word gegee. Soos Hy “verhewe” is (vers 4), verhef Hy die armes (vers 7). Soos Hy hoog in die hemel woon (vers 5), laat Hy die armes en onvrugbare “woon” (vers 8 e.v.). God is sowel die verre wêreldheerser asook die nabye helper van mense. Ja, veral die redder van die geringe en randfigure. Die grote God heers oor die ganse skepping en ook oor die armes (Hossfeld 2008:251–2; Schnocks 2014:38–9). Daarom moet al die volke, en ons veral, sy lof, van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, besing.   

Hierdie grondplan van die psalmbundel help die leser om ’n insig in die ryk en geskakeerde landskap van die psalms te kry. 

4.  Psalm 111 en 112 – ’n poëtiese meesterstuk 

Hoewel Psalm 112 aanvanklik nie deel van die kultus was nie, kon dit tog later wel saam met Psalm 111 deel van die kultus geword het. Oor die datering is daar soveel hoofde, soveel sinne. Wat wel seker is, is dat ’n komponis of komponiste die twee psalms meesterlik langs mekaar in die psalmbundel ingevoeg het. Albei die psalms begin met “Halleluja”: prys JHWH. Dit dien ook as oproep tot lofgesang wat deur die gemeente met himniese gesange beantwoord word. Halleluja het ook ’n selfstandige lofroep geword wat aan die begin en einde van sommige psalms voorkom (byvoorbeeld Psalm 104–6). Die Halleluja het as lofprysing groot betekenis in die Joodse en Christelike liturgie verkry. Die twee psalms is alfabetiese spieëlpsalms (Prinsloo 1991:58).

Die twee psalms is odes, wat respektiewelik op die handelinge van God (Psalm 111) en op dié van die mens as spieëlbeeld van God dui. Dit kom in die vormgewing van die twee psalms aan die lig. Beide gedigte bestaan uit 22 reëls. Die reëls is oor 10 verse verdeel. Die totale aantal woorde van die twee psalms is 153. Dit is nege maal 17. In die merkwaardige opbou van die twee psalms staan daar by die sesde letter, in verse 3b, presies dieselfde uitspraak oor God en die regverdige: “en sy geregtigheid hou stand vir altyd” (Schuman 2008:121).

Die woord- en fraseherhalings in Psalm 112 is opvallend. Die Naam Jahwe kom slegs twee keer voor (vers 1b, 7b). Die stam י ר א kom drie keer voor, een maal in die vorm van ’n selfstandige naamwoord (vers 1b) en twee maal in die vorm van ’n werkwoord (vers 7a, 8a). Dit word in laasgenoemde gevalle deur die negatiewe partikel “nie” voorafgegaan. Die woord “opregtes” word twee maal in die psalm aangetref. Die eerste deel van die psalm fokus op die opregtes, terwyl “die goddelose” in die laaste deel van die psalm hulle verskyning maak (vers 10a en 10c). 

Die woord wat die meeste gebruik word, is “(sy) regverdigheid”, vers 3a, 9b; “regverdig”, vers 4b en “regverdige”, vers 6b. Die tydsaanduiding “vir ewig” kom twee maal voor (vers 2a, 6b). Die werkwoordvorm “hy sal wees” word in twee versreëls, naamlik vers 2a en 6b, aangetref. Dit wys op ’n gunstige toekoms vir die regverdige. Die woord “hart” word in vers 7b en 8a aangetref. Dit dui elke keer op die regverdige. Die hart is die orgaan van die verstand en die gevoel. Gevoel is egter nie net tot die hart beperk nie, maar word saam met niere en lewer gebruik (Frevel 2006:3). Die werkwoordvorm “hy sal sien” word in die een geval gebruik om die regverdige wat op sy vyande neersien, te beskryf (vers 8b) en in die ander geval om te kenne te gee dat die goddelose die verhoging van die regverdige sal sien (Prinsloo 1991:57). 

In Psalm 112 is ’n oorvloed woordpare. “Oorvloed en rykdom” (vers 3a); “genadig, barmhartig en regverdig” (vers 4b); “[…] wat ontferm […] en uitleen”, (vers 5a); “hy is gerus […] hy vertrou” (vers 7b); “hy voel veilig […] hy is nie bang nie” (vers 8a); “hy deel uit, hy gee” (vers 9a). “Die goddeloses sien dit en hy is ontsteld” (vers 10b); “hy kners op sy tande” en “smelt weg” (vers 10b) (Prinsloo 1991:57).  

Maar die vraag is: Wat is die aard en funksie van dié soort poëtiese komposisie? Watson (1986:198) gee ’n betekenisvolle samevatting hiervan: 

  1. Deur die gebruik van elke letter van die alfabet probeer die digter ’n tema volledig behandel. Die leser ervaar dat die gedig vanuit verskillende perspektiewe ontgin word. Volledigheid en afgerondheid is dus die sleutelwoorde. 

  2. Om dié vorm vir sy gedig te verkies, vra van die digter vernuf en vaardigheid. 

Psalm 112 begin met ’n saligspreking in vers 1. Dit geld vir die leefwyse van die regverdige en bestempel hom as “gelukkig”. Die weg na geluk is vreugde in die gebooie van die Here wat as ordening vir die heilvolle saambestaan gegee is. Dit is die kompas vir die lewe. Die regverdige kom die gebooie van harte en met hartelus na. Dit is vir hom sy hoogste vreugde (Zenger 2008a:239).            

Vers 1b en 1c is sonder twyfel nou verbind. Die regverdige dien die Here (vers 1b) en hy vind daarin vreugde (vers 1c). “[S]y nageslag” (vers 2a) verwys na “die een wat welgeluksalig is” (vers 1b). Vers 2b kan op twee maniere verstaan word. Aangesien sy nakomelinge opreg leef, sal hulle deur die Here geseën word. Die mense rondom hulle sal hulle prys op grond van hulle opregte lewe. Die tweede rede is volgens die konteks die verkieslikste (Vos 2005:186–7; Zenger 2008a:240). 

Vers 3a skakel om ’n paar redes met vers 2a–2b. Die tema van seën wat die regverdige en sy nageslag sal toekom (vers 2a–2b), word hier voortgesit. Vers 2a praat van “sy nageslag” en vers 3a van “sy huis”. Vers 3a meld dat die regverdige met lewensmiddele geseën sal word. Rykdom en welvaart pronk in sy huis (Vos 2005:187–8; Zenger 2008a:240). 

Vers 3b skakel deur die “sy geregtigheid” met die voorafgaande. Sy geregtigheid, dit is die heil wat die Here aan hom geskenk het (vgl Psalm 24:5b), staan nie in die skadu van verganklikheid nie. Die geregtigheid is soos ’n blywende seën oor hom en sy nakomelinge (Vos 2005:187; Zenger 2008a:240). Die regverdige leef deur sy nageslag voort.. Hierdie versreël het in die psalm ’n belangrike funksie omdat dit as refreinvers gebruik word (vgl vers 9b). Hiermee word ’n sentrale motief beklemtoon.  

Wie is die handelende persoon in vers 4a? Is dit die Here wat sy lig laat uitstraal of is dit die “opregte”? Die opregte tree deurgaans as handelende persoon van Psalm 112 op (behalwe in verse 10a, 10b en 10c). Alles wat in Psalm 111 van die Here gesê word, word nou van die regverdige gevra. Hy is ’n lewende beeld van die Here. In Psalm 111 is die regverdige die ontvanger van seën: Nou deel hy dit mildelik uit (vers 4a) (Franz 2003:240; Vos 2005:188). 

In vers 4b word gesê dat die regverdige genadig is en in vers 5a dat hy genadig optree. Hy ontferm hom en help diegene wat hulself nie kan help nie. In vers 5b gaan dit steeds om die regte optrede van die regverdige. Twee byvoeglike naamwoorde in vers 4b beskryf die regverdige se optrede. Dié woorde word ook vir die Here gebruik (Psalm 111:4). “Genadig en barmhartig” word nou op die regverdige oorgedra (vgl Eksodus 34:6). 

Die geregtigheid word gesien as gemeenskapsbegrip in dié sin dat die opregte die nood en hulpeloosheid van die ander waarneem en hulle daadwerklik help (Vos 2005:188; Zenger 2008b:240). Hy ontferm hom deur geldelike middele te voorsien. Hy eis dit nie terug as die skuldenaar nie tot terugbetaling in staat is nie (Zenger 2008a:240). Op dié wyse help hy die mens in nood daadwerklik. 

Die regverdige sal nooit wankel nie. Hy sal altyd in eer gehou word (vers 6a en 6b). Soos die berg Sion sal hy nie wankel nie. Wie so handel en leef, leef voort in die gedagtes van mense (Vos 2005:188; Zenger 2008b:241).         

Vers 7a, 7b en 8a is heg met mekaar verbind. Die regverdige hoef nie bang te wees nie. Sy vertroue is immers op die Here gevestig. Die een wat die Here “vrees” (vers 1b) laat hom nie deur slegte tyding afskrik nie. Sy hart, sy denke en wil, is in die Here gewortel. Die vyand is magteloos. Hy sal op sy vyand neersien (vers 8b) (Prinsloo 1991:61; Vos 2005:188–9). Om op iemand neer te sien, is ’n daad van oneer en skande. 

Wat doen die regverdige? Hy doen wat sy Vader doen. Sy hand is oop vir die armes. Hy gee oorvloedig vir hulle (vers 9a). Soos ’n boer saad strooi, strooi hy gawes en gunste vir die hulpbehoewendes. Hy voorsien in die sosiale nood van behoeftiges. Omdat hy gee, ontvang hy hoë aansien (vers 9c). Die een wat die Here vrees, wat ruimhartig gee, word ryklik geseën. Met gelatenheid en erkenning van die samelewing, veral van die armes (Vos 2005:189; Zenger 2008b:241).  

Vers 10a, 10b en 10c beskryf hoe die goddelose die voorspoed en aansien van die regverdige sien wat hom tot skande maak. Hy is tot die dood toe ontsteld. Hy is bleek van woede. In sy magteloosheid kners hy op sy tande. Hy stort in die afgrond. Die begeerte na aardse rykdom is vir die goddelose ’n ydel droom. Hy verleen geen hulp aan die arme nie, maar skep deur gewetenloosheid en geweld armoede. Psalm 37:20 en 21 stel die goddelose aan die kaak:

Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die Here 
soos die prag van die weivelde;
hulle verdwyn soos rook, 
hulle verdwyn.
Die goddelose leen en gee nie terug nie,
maar die regverdige ontferm hom en gee; […] 

Psalm 111 en 112 is wysheidspsalms (Prinsloo 1991:63–4; Vos 2005:190–1).

Die teenstelling tussen die regverdige en goddelose in Psalm 112 bevestig dit; ook dat die regverdige sy lewe rig volgens die Here se “wet” of gebooie. Die regverdige staan in die regte verhouding tot die Here en sy hulpbehoewende naaste. Die psalm kan ook as saligprysing gesien word. Die oorspronklike konteks of situasie verwys na  die politieke terrein, veral na die politieke volgelinge van ’n koning of ’n godheid. In die saligspreking word die aangesprokenes oorreed om troue en lojale volgelinge van die koning te wees. Die saligspreking is ’n kort samevatting van die vereiste lojaliteit of die aanbevole leefwyse waarin die gevolge van trou en lojaliteit uitgespel word. Dit geskied gewoonlik deur kontrasbeelde wat beklemtoon dat dit nie om meer of minder geluk gaan nie, maar ’n lewe van lewe of dood, heil of onheil. Die saligspreking kan ’n soort trou-eed aan die koning wees (Zenger 2008b:237).    

Wat is ware wysheid? Om in jou Pa se skoene te loop. Wanneer die twee psalms langs mekaar gesit word, word dit kristalhelder (Franz 2003:249). 

Psalm 111: die Here

1: Ek wil die Here loof 

3a: Sy werk is sieraad en prag

3b: Sy geregtigheid duur vir altyd

4b: Genadig en barmhartig

5a: Hy gee spyse

5b: Hy bewaar die aandenking 

7–8: Sy gebooie is betroubaar

10c: Sy roem bly vir altyd  

Psalm 112: Die opregte

1: Salig is die mens

3a: Oorvloed en rykdom is in sy huis

3b: Sy geregtigheid duur vir altyd

 4b: Genadig en barmhartig

5a: Hy gee en leen uit (vgl vers 9a)

5b: Hy word tot aandenking

7–8: Sy hart vrees nie

9b: Sy geregtigheid bly vir altyd

Die mens is ’n spieëlbeeld van God se werk in die wêreld (Franz 2003:250). Psalm 111 fokus op God se handelinge en Psalm 112 op die handelinge van die mens. In die spieël van Psalm 111 en 112 kan ons in ons Pa se skoene loop. Dit word in die vormgewing tot uitdrukking gebring. Albei gedigte bestaan uit 22 reëls, steeds oor 10 verse verdeel. Die totaal aantal woorde van die twee psalms is 153, nege maal 17. Deur die spieëlbeeld-samestelling staan die sesde letter, in vers 3b, presies dieselfde uitspraak oor God en die regverdige: 

[...] en sy geregtigheid hou stand vir altyd (Schuman 2008:121).

Psalm 111:3b, 4b; 112:3b, 4b, 5a word in die Christus-gebeure konkreet. Paulus gebruik juridiese terme om die vryspraak te verduidelik wat Christus bewerk het. God regverdig ons (Psalm 111:3b) deur Christus se soenoffer. Hy spreek ons vry omdat Christus die offer vir ons sonde gebring het (Romeine 5:9). Op hierdie wyse hef God sy oordeel (toorn) oor ons sonde op. Daar is nou geen veroordeling vir dié wat in Christus is nie (Romeine 8:1). God wat ryk in barmhartigheid is, het ons wat deur die sonde dood was, lewend gemaak (Efesiërs 2:4). Ons het geen aandeel aan die vryspraak nie. Ons ontvang dit verniet; dit is louter genade. Die genade het na ons toe gekom deur Christus (Romeine 5:15–7). Ons staan met leë hande voor God, armsalige bedelaars. Maar ons ontvang sy vryspraak (geregtigheid) en barmhartigheid deur die geloof wat Hy aan ons skenk (Romeine 1:17; 3:24). God gee aan ons geloof en daarom vra Hy dit. 

Die Here se genade waarvan Psalm 111 praat, is nie goedkoop genade nie. Daarom pleit Bonhoeffer (2015a:29–43) vir duur genade. Goedkoop genade is oppervlakkige troos. Genade sonder prys. Goedkoop genade beteken genade as leer, as beginsel, as sisteem; die vergewing van sondes as algemene waarheid.  

Goedkoop genade bied regverdiging van die sonde en nie van die sondaar nie. Omdat die genade alles alleen doen, kan alles by die oue bly. Die wêreld bly die wêreld en ons bly sondaars. Dit beteken dat die Christen maar net so kan leef soos die wêreld. Hy hoef nie anders as die wêreld te leef nie. Goedkoop genade is genade sonder navolging, sonder die kruis; genade sonder die lewende, mensgeworde Jesus Christus.

Duur genade daarenteen roep op tot navolging. Dit vra dat ons in ons Pa se skoene moet loop. Dit is duur omdat dit die sondaar regverdig. Duur bowenal omdat dit God soveel gekos het; omdat dit God die lewe van sy Seun gekos het. 

Navolging van Christus bevry ons van goedkoop genade, die bitterste vyand van navolging. 

Wat beteken dit as Martin Luther sê: Pecca fortiter, sed fortius fide et gaude in Christo (“sondig dapper, maar glo en vertrou nog dapperder in Christus”)? Is dit nie ’n onverbloemde vrybrief van goedkoop genade nie? Beteken dit nie die opheffing van navolging nie? Is dit nie waarteen Paulus in Romeine 6 waarsku nie? “Ons moet aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem nie? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde nog daarin voortlewe?” 

As Luther se uitspraak as veronderstelling van ’n genade-teologie gemaak word, dan is dit pure goedkoop genade. Maar as dit as slotsom, as einde, as resultaat bedoel word, is sy uitspraak geldig. “Sondig moedig” beteken vir Luther die evangelie van God voor wie hy onder alle omstandighede sondaar is. God soek ons as sondaars op en spreek ons vry. Erken en bely jou sonde. Moet dit nie ontken nie. Maar “glo nog veel dapperder”. Pecca fortiter is ’n troos in die aanvegting en oproep tot navolging (Bonhoeffer 2015a:38–43). Duur genade is alleen suiwer genade wat werklik sonde vergeef en die sondaar bevry. 

Ons moet dit wat die Here in Psalm 111 doen, soos in Psalm 112 nadoen. Ons geregtigheid moet vir altyd duur. ’n Lewe volgens Psalm 112 beteken om in die wêreld te wees; om genadig en barmhartig teenoor ander te wees; om aan die lyding en ellende van die hulpelose te help dra; om te stry vir menswaardigheid en geregtigheid; om dáár te wees vir die ander. Godsdiens is méér as net dogmas, rites en eredienste. 

Leef uit die genade beteken ’n lewe van navolging, al kos dit wat ook al. Genade is nie goedkoop of te koop nie, maar dit vra egte dissipelskap en navolging van Christus in ’n mondige wêreld. Al is die prys hóé hoog. Die prys wat duur genade vra, word in Sheila Cussons (1997:65) se gedig “Twee” poëties verwoord:

Here, Here, hoe swaar
die geduld wat U van my vra:
dat ek struikelend intussen 
myself as my eie kruis moet dra.

Bonhoeffer se nadruk op die “werkende geloof” word in sy Nachfolge uitgespel (Bonhoeffer 2015a:252–5). Navolging van Christus beteken om in die wêreld so oor God te praat dat die goddeloosheid van die wêreld nie versluier word nie. Dit staan in sy brief van 18 Julie 1944 (Bonhoeffer 2015b:537). Daar moet ’n verrassende lig op die wêreld val. Dit is die hoop wat die gelowiges aan die wêreld kan gee. 

Deur Christus na te volg, kan ons ’n naaste vir die ander wees. Die navolging van Christus beteken ’n weg van versoening met die broer (Bonhoeffer 2015a:121–9). Sodoende kan ons ’n verskil in hierdie wêreld en in die lewe van ander maak. Daarom moet ons getuies van die liefde wees. Dit beteken dat ons uit liefde moet leef en dit kosteloos aan ander moet gee. 

Ons moet ook reg en geregtigheid aan alle mense laat geskied. Geregtigheid moet nie net geleer word nie, maar gedoen word (Bonhoeffer 2015a:115–29). Die geregtigheid van Jesus se dissipels was geregtigheid onder die kruis. Die geregtigheid word sigbaar in die armes, aangevegtenes, hongeres, sagmoediges, vredeliewendes, vervolgdes. Die vreemdelinge, gebrokenes, die randfigure, die dakloses en die boemelaars mag nie onaangeraak by ons verby gaan nie. Hierdie broses, eensames, armlastiges, verlooptes en kwesbares het ook ’n reg op die orde van die samelewing en die ordening van hulle lewe. 

Psalm 111 en 112 open die weg na die naaste in nood.

5. Slot van ’n reis

Ek kom tot die slotsom dat die psalms so ryk is dat dit vir mense in alle benouende en vreugdevolle situasies van God se teenwoordigheid bewus maak. Die ko-tekste van Psalm 16 en 23 maak die leser bewus van sy geborgenheid by die Almagtige en dat hy ’n gasgenoot by die Ewige is. Die ervaring vind nie in kommervrye situasies plaas nie, maar juis te midde van bedreiging en druk. 

Die besinning oor die oorsprong van die psalms wek verwondering. Mowinckel en Gunkel se beskouinge oor die ontstaan van die psalms is nagespeur. Die oorsprong van talle psalms in die tempel en ander heiligdomme word aanvaar. Maar daar is talle liedere wat in die psalmbundel opgeneem is wat nie ’n liturgiese stempel dra nie. Wysheidsleraars, wetgeleerdes, skrywers of howelinge van die koning kom in aanmerking vir die psalmdigting. Gewone mense wat die buitengewone gedigte kon skep. 

Daar bestaan eenstemmigheid dat die le-opskrif van die psalms ruimer verstaan moet word as bloot ’n outeursaanduiding. Die opskrifte het ook die funksie om die psalms te groepeer en ’n leeshorison en -verwagting te skep.  

Talle psalms het ’n lang mondelinge tradisie. Die mondelinge tradisie dra daartoe by dat die psalmbundel nie vry kom van herhalings nie. Dit moet steeds in ag geneem word dat individuele psalmtekste en kleiner versamelings doelbewus geskep is om deel van die groter geheel uit te maak. Van die tyd van Dawid en Salomo af tot by die Griekse en Persiese periode het die psalms beslag gekry. 

Die komposisie van die psalms is meesterlik gedoen. Daar is die inleiding (Psalm 1 en 2) en vervolgens die vyf groot onderdele. In die navorsing is daar noukeurig aandag gegee aan die weefdrade wat die verskillende psalms en psalmboeke tot ’n geheel omskep. Geen wonder nie dat Psalm 146 tot Psalm 150 die klein Hallel genoem word. 

Die poëtiese meesterstuk, Psalm 111 en 112, is vir die leser ontvou. Die mens is ’n spieëlbeeld van God se werk op aarde. Psalm 111 laat die lig op God se handelinge val en Psalm 112 op dié van die mens. Die invloed van God en sy dade roep die mens op om in sy skadu te wandel en te handel. Die Christus-gebeure maak dit vir die mens moontlik en werklik om God na te volg en óók die lydende naaste in die oog te hou en met die eie ek af te reken – al is dit meestal moeilik. In die lig van Psalm 111 kan die volgelinge van God Hom behaag en geregtigheid aan die naaste laat geskied.

Dit is die slotsom van hierdie navorsing oor die landskap van die psalms.

Bronnelys

Albertz, R. 2001. Die Exilzeit. Stuttgart: W. Kohlhammer.

Arneth, M. 2002. Psalm 72 in seinen altorientalichen Kontexten. “Mein Sohn bist du” (Ps 2,7): Studien zu den Königspsalmen. In E. Otto en E. Zenger (reds.). Stuttgarter Bibelstudien 192. Stuttgart: Katholisches Bibelwerk.  

Becker, J. 1973. Einige Hyperbata im Alten Testament. In Biblische Zeitschrift 17. Paderborn: Walter de Gruyter.  

Bonhoeffer, D. 2015a. Nachfolge. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus. 
—. 2015b. Widerstand und Ergebung. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus. 

Braulick, G. 2004. Psalter and Messias towards a Christological understanding of the Psalms in the Old Testament and the Chuch Fathers. In D.J. Human en C.J.A. Vos (reds.). Psalms and Liturgy. Londen en New York: T&T Clark. 

Breytenbach, B. 1999. Woordwerk. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau. 

Cussons, S. 1997. Twee. In ’n Engel deur my kop. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers Beperk.

Franz, M. 2003. Der barmherzige und gnädige Gott. Stuttgart: W. Kohlhammer.

Frevel, C. 2006. Anthropologie. In A. Berlejung en C. Frevel (reds.). Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: WBG. 

Gerstenberger, E.H. 2005. Israel in der Perserzeit. Stuttgart: W. Kohlhammer.

Gunkel, H. 1975. Einleitung in die Psalmen. Die Gattungen der religiösen Lyrik Israels. Göttingen: Vandenhoeck Ruprecht.  

Hossfeld, F-L. 2008. Psalm 113. In F-L. Hossfeld en E. Zenger (reds.). Psalmen 101150. Freiburg: Herder.    

Huchting, D. 2006. Mozart. Ein biografischer Bilderbogen. Duitsland: Optimal Production. 

Human, D.J. 2013. Psalms and Canon in the Hebrew Bible. [Ongepubliseerde voordrag]. 

Jeremias, J. 2004. Worship and Theology in the Psalms. In D.J. Human en C.J.A. Vos (reds.). Psalms and Liturgy. Londen en New York: T&T Clark.

Jonker, L.C. 2004. Revisiting the Psalm headings: Second temple Levitical propaganda? In D.J. Human en C.J.A. Vos (reds.). Psalms and Liturgy. Londen en New York: T&T Clark. 

Jüngling, H-W. 1998. The International Bible Commentary. Collegeville, Minnesota: The Liturgical Press.

Mowinckel, S. 1924. Psalmstudien VI: Die Psalmdichter. Oslo: Kristiana.

Prinsloo, W.S. 1991. Die Psalms leef! Halfway House: NG Kerkboekhandel.  

Schnocks, J. 2014. Psalmen. Paderborn: Ferdinand Schöningh. 

Schuman, N.A. 2008. Drama van crisis en hoop. Zoetermeer: Meinema. 

Van der Toorn, K. 2007. Scribal Culture and the Making of the Hebrew Bible. Cambridge en Londen: Cambridge University Press.

Vos, C.J.A. 2005. Theopoetry of the Psalms. Londen en New York: T&T Clark.
—. 2016. God die groot Digter. Lynnwoodrif: Cordis Trust Publikasies. 

Witte, M. 2009. Der Psalter. In G.J. Christian (red.). Grundformation Altes Testament. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Zenger, E. 1997a. “Daß alles Fleisch den Namen seiner Heiligung segne” (Ps 145, 21): Die Komposition Ps 145–150 als Anstoß zu einer christlich-jüdischen Psalmen-hermeneutik. In Biblische Zeitschrift. Paderborn: Walter de Gruyter.  
—. 1997b. Die Nacht wird leuchten wie der Tag: Psalmenauslegung. Freiburg: Herder.  
—. 1998. Der Psalter in Judentum und Christentum. Freiburg: Herder.   
—. 2000. Psalm 88. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.
—. 2004. Einleitung in das Alte Testament. Freiburg: Herder. 
—. 2005. Psalm. In G. Ueding (red.). Historisches Wörterbuch der Rhetorik. Band 7.  Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft. 
—. 2008a. Psalm 111. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.
—. 2008b. Psalm 112. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.
—.2008c. Psalm 117. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101150. Freiburg: Herder.
—.2008d. Die Buch der Psalmen. In E. Zenger (red.) Einleitung in das Alte Testament. W. Kohlhammer: Stuttgart.

Watson, W.G.E. 1986. Classical Hebrew poetry. A quide to its techniques. Sheffield: University of Shefield. 

Lees ook:

"Solank ek leef, sal ek Hom aanroep": ’n Ondersoek na die teologiese bedoeling van Psalm 116

Bybel in Kaaps: Psalm 1

Bybel in Kaaps: Psalm 2 en 3

Die Pesalms vi ôse mense: ’n onderhoud met Willa Boezak

  • 4

Kommentaar

  • Susan Vorster

    Dankie Cas, die Psalms is 'n skatkis wat ontgin behoort te word. Ek vind veral die parallelle wat getrek is tussen 16 en 23, en 111 en 112 besonder insiggewend.

  • Ek, en ek vermoed ander 'gewone' Bybellesers lees soms 'n psalm met waardering en soek na die boodskap daarin.

    Cas bring met hierdie studiestuk die hele psalmbundel na ons en wys daarop dat die bundel 'n komposisie is wat God oor lang tydperke aan mense opgedra het om neer te skryf en saam te stel sodat God met elk van ons kan kommunikeer.

    Die psalms is nie geloofsleer nie, maar geloofspoësie.

    Cas betrek Mozart, wat deur die keiser en Salieri gekritiseer is, omdat hul gemeen het dat daar te veel note in sy musiek voorkom. Ons moet agter die baie 'note' in die psalms die 'melodie' waarneem.

    Dit is interessant dat Cas ook vir Breyten Breytenbach aanhaal waar 'n persoon, midde in die menslike versteuring van die natuur, uitroep 'God is dood!"

    Cas lys agt genres waarin die psalms verdeel kan word.

    Hierdie insiggewende artikel van Cas het my oë en begrip vir die psalms ge-open. Ek kan my nou verdiep in hierdie omvangryke poëtiese boodskap waarvan die Skepper die bron is.

  • Hercules Boshoff

    Dit is nodig dat 'n digter weer hierdie tekste verken, in 'n tyd waarin digkuns en skoonheid nie meer die primêre fokus van vertalings is nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top