Die kultuur van selfvernietigende dwarstrekkery in die VSA

  • 0

......

“In die Amerikaanse geval kom daar egter ’n gevaarlike dwarstrekkerstreep voor wat totaal kontak met die werklikheid verloor het, wat wetenskaplike feitelikheid arbitrêr verwerp en ’n ongebreidelde, onredelike sin vir individuele belange en onafhanklikheid het. Net soos ’n ongure tiener wat teëpraat net om te stry, so protesteer halsstarrige Amerikaners wat meestal baie goed weet dat die feite nie in hul saak se guns is nie.”

......

Wie sou in die nadraai van die staatskapingsera kon glo dat ons binnekort genoop sal wees om te erken dat Suid-Afrika beter krisisbeheer as die VSA toepas?

Dié gedagte tref my vandeesweek toe ek in ’n Business Insider-artikel lees dat ’n groot span antiimmuniseringsaktiviste (anti-vaxxers) en Trump-ondersteuners te midde van die VSA se snelgroeiende koronavirus-sterftesyfer in Austin in die deelstaat Texas teen die Amerikaanse weergawe van ’n grendelstaat betoog het. Die skare het telkens “Fire Fauci” gedreunsing teen die National Institute of Allergy and Infectious Diseases se direkteur Anthony Fauci, ’n man wat al deur The Atlantic beskryf is as ’n staatsamptenaar wat eerder lojaal staan teenoor feitelikheid as teenoor Trump.

Die Trump-regering se lakse houding oor die koronavirus se plaaslike impak het voorgekom in die vorm van goedkoop politiekery en ontydige blameerspeletjies. Aanvanklik het China deurgeloop. Daar is beslis goeie gronde om China op selfs diplomatieke vlak streng verantwoordbaar te hou vir sy ondeursigtige en onverantwoordelike hantering van die aanvanklike uitbraak. Ernstige vrae duik op oor die Chinese regering se onvermoë en onwilligheid om die swakgereguleerde “bosvleis”-mark, ’n broeiplek vir nuwe virusse, eens en vir altyd in plaaslike en internasionale belang vas te vat. Nogtans het die Trump-regering waardevolle tyd gemors deur die omvang van die krisis te onderskat en te laat met behoorlike noodmaatreëls weg te spring. Ten tye van skrywe het daar reeds oor die 80 000 mense in die VSA aan COVID-19 beswyk.

In Suid-Afrika, aan die ander kant, het besliste leierskap deur Cyril Ramaphosa tot minstens ’n beheermatige deksel op ’n kokende pot gelei. Die grendelstaat is in die geheel nie die finale oplossing nie, en onder die ekonomiese omstandighede nie die beste of mees gewenste nie, maar ten minste is dit die spreekwoordelike vinger in ’n lekkende dyk. Gevolglik het die infeksiekoers en sterftesyfer in Suid-Afrika sover relatief laag gebly, ten spyte van ons land se haglike sosio-ekonomiese toestande vergeleke met dié van die VSA. Of Suid-Afrika se beslistheid gaan volhou, is ’n ope vraag. Dit is nie te betwyfel nie dat ons sleg vaar op regulatoriese gebied, en gegewe die kragdadige optrede van Cele en sy stormtroepe verloën die regering ons staatsregtelike verbintenis tot burgerlike vryhede en menseregte.

Die oorsake van hierdie magsbeheptheid en regulatoriese onbevoegdheid is ’n artikel op sy eie werd; op ’n balans kan ’n mens egter nie redelikerwys anders nie as om in te sien dat probleemkind Suid-Afrika vir ’n slag beter vaar as hoofseun Amerika.

Aan die hartjie van die VSA se verleentheidstellende onvermoë om tot daadwerklike aksie om te gaan sit ’n ou, eg-Amerikaanse dwarstrekkerstreep. Hierdie cowboy-eienskap het die Amerikaners al goed te staan gekom in die sakewêreld, in internasionale verhoudinge en veral tydens hul heldhaftige stryd vir onafhanklikheid teen Brittanje, maar dit het die res van die wêreld al dikwels ingedoen en die kleiner outjies geboelie.

Wat in Austin plaasgevind het en wat in die breër Amerikaanse politiek uitspeel is niks anders nie as ’n ongedissiplineerde en hoogs irrasionele vorm van teenstribbeling; as’t ware ’n kultuur van selfvernietigende dwarstrekkery.

Hiermee bedoel ek nie die demokratiese proses van robuuste interne politieke debat, aksie deur die burgerlike samelewing en drukgroepe of massa-optrede deur burger- en menseregtegroepe nie. Laasgenoemde verskynsels is eerder die murg in die pype van ’n demokrasie en is nodig om die elites en maghebbers aan die kaak te stel en deurlopend verantwoordbaar te hou. In die Amerikaanse geval kom daar egter ’n gevaarlike dwarstrekkerstreep voor wat totaal kontak met die werklikheid verloor het, wat wetenskaplike feitelikheid arbitrêr verwerp en ’n ongebreidelde, onredelike sin vir individuele belange en onafhanklikheid het. Net soos ’n ongure tiener wat teëpraat net om te stry, so protesteer halsstarrige Amerikaners wat meestal baie goed weet dat die feite nie in hul saak se guns is nie.

In die gewone loop van sake sal min mense hulle steur aan die teenkanting van ’n kleinerige groepie dwarstrekkers wat hul aspris blind hou vir die feite. ’n Hoogs aansteeklike plaag soos COVID-19 forseer ons egter om die beperkinge van ons individuele belange, vryhede en vermoëns te erken. In ’n afsydige wêreld vol selfsug, ongeërgdheid en oorbeklemtoonde individualisme word ons vir ’n slag terug geruk na die werklikheid van ’n ineengeskakelde wêreld, waar een persoon se optrede tot baie ander se nadeel (of voordeel) kan strek. In Suid-Afrika lyk dit of gewone mense, dalk vanweë ons kulturele opvattings oor menslikheid en empatie, die erns van die saak ingesien het en grootliks gehoor gee aan die grendelmaatreëls. Planne word gemaak en mense open hul beursies en harte vir mekaar. Drukgroepe wend hul waar nodig tot die howe om die oppergesag van die reg te onderhou.

Maar in die VSA het talle mense, ook die President, ’n kom-wat-wou-houding wat niks anders is nie as ’n koue ongeërgdheid oor die gevolge van jou dade vir ander. Party stemme redeneer dat die ekonomiese gevolge van die grendelstaat nie die ekstreme maatreëls regverdig nie. Sulke argumente is egter ewe ekstreem, omdat dit ’n valse dilemma skep: ’n Staat van inperking wat virusverspreiding probeer hokslaan, kom nie noodwendig teen die prys van totale ekonomiese ineenstorting nie. Die goue middeweg lê tussen totale ongeërgheid oor die virus se aansteeklikheid en ’n histeriese oorreaksie wat geen verhandeling van goedere en dienste prakties moontlik maak nie. Met ’n tekort aan regstreekse kennis oor hoe om ’n krisis van hierdie omvang in ons geglobaliseerde omstandighede te hanteer, moet ons ’n mate van begrip toon en erken dat hierdie middeweg ’n ongekarteerde see vir almal is.

Dit is egter baie beter as om à la die VSA jou blind te staar teen die voordele wat openbare gesondheidsmaatreëls vir die groter gemeenskap inhou, en om selfvernietigend aan te dring op jou vryhede wanneer dit vir soveel ander mense ’n lewensrisiko kan wees.

Lees meer oor populisme in Amerika in hierdie LitNet Akademies artikels:

Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel – Deel 1: Literatuuroorsig, teoretiese benadering en voorkoms

Die kragtige oplewing van populistiese mobilisering in die eietydse internasionale stelsel – Deel 2: Oorsake en gevolge

Lees ook op LitNet en Voertaal:

Donald Trump, die koronavirus se beste vriend

Miskien word Donald Trump ge-COVID-19

Trump skok Suid-Afrika en res van wêreld tydens koronakrisis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top