Miskien word Donald Trump ge-COVID-19

  • 0

Donald Trump (foto: Wikipedia)

COVID-19 kan moontlik in die annale van die geskiedenis opgeteken staan as die pandemie wat Donald Trump se kans op ʼn tweede Amerikaanse presidensiële termyn in die wiele gery het.

Die moontlikheid bestaan ook dat Trump (73) se hantering van dié pandemie in die komende sekondes, minute, ure, dae, weke en maande so kan verbeter dat dit sy suksesvolle herverkiesing op 3 November kan verseker.

Trump het aanvanklik sleepvoet op COVID-19 gereageer. Hy het dit afgemaak as minder ernstig en dat dit sommer gou-gou gaan oorwaai. Hy beskou dit ook as ʼn skepping van China, of as ʼn “Chinese virus”.

Sy beeld het egter ietwat versterk veral nadat hy op 13 Maart ʼn nasionale noodtoestand afgekondig het in ʼn poging om die groeiende verspreiding van dié virus te stuit.

Die noodtoestand stel die federale regering in Washington in staat om tot $50 miljard se noodleningsgeld beskikbaar te stel. Dit beteken medieseversekeringsregulasies word verslap en die oprigting van nuwe hospitale en navorsing oor nuwe behandeling kan versnel word.

Terwyl die COVID-19-sterftesyfer in Amerika, veral in die Stad New York, drasties styg, en omdat Trump dreig om Amerika teen Paastyd oop te stel en te “normaliseer”, draai openbare mening deur die publiek, politieke opposisie en gesondheidspesialiste skerp teen hom.

Dié kritiek dat Trump veral die Amerikaanse volk se lewens bedreig, tesame met die berisping deur Joe Biden (77) (oudpres Barack Obama se visepresident) en senator Bernie Sanders (78), twee van die Demokratiese Party se drie oorblywende kandidate vir die presidentsverkiesing, het Trump se voorsprong bo dié Demokrate s’n laat krimp.

Voor die uitbreek van COVID-19 het Trump die golf van gewildheid vir veral die “goeie vertoning” van die ekonomie gery. Meningspeilings het getoon dat 56% van die kiesers tevrede is met Trump se hantering van die ekonomie. Dit verteenwoordig 90% steun onder Republikeine, maar net sowat 7% van Demokrate, die laagste sedert 1950.

Hy het onder meer handelsooreenkomste met ‘n menigte lande heronderhandel, die ekonomie gedereguleer en belastings verlaag.

Werkloosheid is ook die laagste in 50 jaar en gesonde inkomstegroei is veral onder minderheidsgroepe – swart en Latyns-Amerikaanse gemeenskappe – aangeteken.

Dié prestasie van ʼn lae werkloosheidsyfer resoneer sterk met die “Amerikaanse Droom” wat mense tradisioneel aanspoor om ʼn hoër lewenstandaard na te streef. Dit versterk ook die Amerikaanse hegemonie – wat Trump promoveer, uitbrei en verskans – wat reeds vir meer as 100 jaar aan die orde van die wêreldorde is.

Verder is Trump se persoonlikheid problematies, omstrede, rof en onbeskof en beskuldig hy die media van “fopnuus”. Hy betoon min of geen respek teenoor vroue en minderhede nie en ignoreer aardverwarming omdat dit volgens hom nie bestaan nie.

Trump is so verdelend en ongewild onder politieke ontleders en opposisiepolitici dat hy slegs die derde Amerikaanse president geword het in die geskiedenis wat deur die Amerikaanse Kongres in ʼn staat van beskuldiging geplaas is.

Wat wel in Trump se guns kan tel, is die reaksionêre aard van politieke opposisie deur die Demokrate sedert Obama die Withuis in 2017 verlaat het. Dié party is sedert Obama se termyn wat op 20 Januarie 2017 geëindig het, leierloos en ly aan ʼn algehele gebrek aan oorspronklikheid, kreatiwiteit en rigtinggewendheid en loods liewer hul aanvalle gebaseer op die indiskresie van Trump.

Op dié flaters en beperkte wêreldbeskouing van Trump roem die Demokrate en beroep hulle hul telkens op die aanvaarde beginsel van ʼn grondwetlike demokrasie dat indien ʼn leier, in dié geval Trump, sy nasie in die steek gelaat het, hy liewer bedank. Dis die rede hoekom hulle hom in ʼn staat van beskuldiging probeer plaas het. Soos ons weet, het dit in die Demokrate se gesig opgeblaas.

Proaktiewe politieke strategieë deur die Demokrate ontbreek omdat Trump hoofsaaklik op die brood-en-botter-issues van die werkers konsentreer.

Verder loop die Demokrate die risiko om een van hul twee oninspirerende en verouderde presidentkandidate soos Biden en Sanders teenoor die kandidatuur van Trump te stel. Dit blyk dieselfde fout te wees wat hulle in 2016 met Hillary Clinton begaan het. Clinton was nie hul beste kandidaat nie en het dus nie kiesers oor haar kandidatuur opgewonde gemaak nie.

Die buitengewoon linkse Sanders is met sy sosialistiese voorstelle nie baie aantreklik en aanvaarbaar vir sowel gematigde Demokrate as behoudende Amerikaners nie. Hy sal na alle waarskynlikheid ʼn verkiesing teen Trump verloor, omdat Trump se verkiesing in 2016 en die Britse Arbeidersparty se verkiesingsnederlae in 2010 en verlede jaar teen die Konserwatiewe Party ʼn duidelike illustrasie is dat daar wêreldwyd ‘n teenkanting teen vir sosialistiese en sentrum-linkse groeperinge is. Trump se opkoms en die Arbeiders se verliese versterk ook die sentiment dat daar geen alternatief vir neoliberale ekonomiese beleidsrigtings is nie. ʼn Sentiment wat die wêreldwye werksverliese en algehele ekonomiese krisis wat die COVID-19-pandemie gaan bring, na alle waarskynlikheid nie gaan oorleef nie.

Die sentristiese Biden het met die uitslae van die sogenaamde Super Tuesday– voorverkiesings in 14 deelstate getoon hy is meer gewild as Sanders in die Demokratiese Party. Dit beteken die Demokrate se gematigde vleuel het die oorhand oor die wilde sosialisme van die linkervleuel gekry. Of Biden die nodige charisma onder die Amerikaansevolk geniet om Trump te klop, moet nog gesien word.

Die Demokrate se linkervleuel – wat gewilde en prominente lede van die Huis van Verteenwoordigers uit die minderheidsgroepe, soos Alexandria Ocasio-Cortez, Ilhan Omar en Rashida Tlaib, insluit – verwerp Biden se progressiewe beleid ten gunste van Sanders se sosialiste idees. Dit veroorsaak groot hoofbrekens binne die party, omdat jonger Demokrate versnellend na links beweeg. Ook is daar toenemende onsekerheid oor Biden se gevorderde ouderdom en sy gesondheid en fiksheidstoestand.

Met die COVID-19-pandemie staar die Amerikaanse ekonomie egter groot uitdagings in die gesig. Die verwagting dat die ekonomie vanjaar weens dié pandemie gaan afplat, is dus realisties. Dit staan in skrille kontras met verlede jaar se ekonomiese opbloei.

Die geskiedenis bewys dat dienende VSA-presidente ʼn goeie kans het om herverkies te word, maar as die ekonomie swak vaar, verskraal dié moontlikheid. Oudpresidente Jimmy Carter en George HW Bush se herverkiesingsveldtogte is deur ekonomiese uitdagings gekelder.

Wie weet – miskien word Trump ge-COVID-19.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top