
Barend la Grange aan die woord
Van die suide tot in die noorde van die land is Suid-Afrikaners besig om eilande van hoop te skep in ’n land wat swaar gebuk gaan onder misdaad, korrupsie en ’n gebrek aan dienste weens ’n onbevoegde regering.
Terwyl baie mense om braaivleisvure in gegoede buurte met ’n glasie in die hand staan en mor dat die land ten gronde gaan, is daar ander wat hulle moue oprol en besig is om stil-stil van dorp tot dorp en baksteen vir baksteen ’n verskil te maak om die wa deur die drif te trek.
Van Kaapland tot bo in die noorde rys daar nuwe akkoorde om die land reg te ruk en ’n einde te maak aan die verval en agteruitgang.
Die hoofstroommedia reflekteer selde hierdie stille stroom onstuitbare hoop wat deur die land vloei. Sonder trompetgeskal word daar van die townships tot op die dorpspleine stukkie vir stukkie herbou aan dit wat verkeerd gegaan het.
Dialoog vir Aksie (DVA) is ’n organisasie wat help om hierdie eilande van hoop deur middel van ’n informele netwerk aan mekaar voor te stel. So word kennis en ervaring op ’n informele manier met mekaar gedeel en uitgeruil.
Hierdie eilande van hoop is nie net ’n wensdroom nie. Dit is ’n werklikheid. Nieregeringsorganisasies, sakelui en doodgewone burgers uit verskillende sektore van die samelewing werk in verskeie dorpe en gemeenskappe skouer aan skouer saam om ’n positiewe verskil te maak en ’n omgewing van hoop en optimisme te skep.
Die DVA-netwerk het die afgelope Vrydag hulle grootste byeenkoms tot dusver in die Wes-Kaap gehad sedert hul beskeie ontstaan vier jaar gelede. Byna 80 mense uit alle vlakke van die samelewing het in Bellville, Kaapstad bymekaar gekom om gedagtes te deel en te netwerk.

Gesprekke gedurende teetyd
Daar was akademici, kunstenaars, joernaliste, sakelui, huisvrouens, landboukundiges, regsgeleerdes, geloofsleiers en vele meer. Almal behalwe politici, wat doelbewus nie na die geleentheid genooi is nie. ’n Soortgelyke byeenkoms met net soveel mense is verlede jaar ook in Gauteng gehou.
DVA glo daar is baie in die land om te waardeer en te vier ten spyte van al die probleme. “Ons mense het verskeie bydraes gemaak sedert die 1980’s toe ons druk vir verandering uitgeoefen het tot nou, waar ons aandring op aanspreeklikheid. Hierdie potensiaal kan, en moet, verder ontsluit word,” sê die groep in hulle beleidsverklaring.
Behalwe Engels en Afrikaans is DVA se doelstellings reeds in nog drie van die land se amptelike tale beskikbaar, naamlik isiZulu, Sesotho en Setswana. Ander vertalings sal binnekort vrygestel word.
Die beweging sê in hulle verklaring hulle besef dat buitengewone inspanning en doelgerigte aksie nodig is om die erfenis van die verlede en die uitdagings van die hede te oorkom as Suid-Afrikaners ’n lewensvatbare toekoms wil bou.
“Om dit te bereik, moet Suid-Afrikaners met soortgelyke waardes met mekaar saamwerk. As ons die burgerlike samelewing wat ’n groeiende nasionale visie steun, kan verenig, sal dit die gees wat ons mense, en ook die wêreld, in die 1990’s geïnspireer het, weer laat opvlam.”
Dat hierdie droom besig is om pos te vat blyk duidelik uit die terugvoer van deelnemers aan verlede week se byeenkoms.
Die aktrise, regisseur, jeugaktivis en sakevrou, Natalia da Rocha, sê sy het daar weggegaan met ’n lied in haar hart en bewus geword van die mense wat “agter die skerms” gewerk het om die US vir alle Suid-Afrikaners oop te stel, toe sy Willie Esterhuyse ontmoet het.
Sy was in 1981 die eerste bruin persoon wat ’n drama-graad aan die destydse Afrikaans-dominante Universiteit Stellenbosch (US) behaal het. Tydens verlede week se byeenkoms het sy vir die eerste maal kennis gemaak met Esterhuyse wat een van diegene was wat agter die skerms gewerk het om die US vir alle rasse toeganklik te maak.
Esterhuyse is ’n leidende figuur in die Afrikanergemeenskap wat deur versiendheid en ’n diep liefde vir sy land die nutteloosheid daarvan besef het om apartheid te probeer handhaaf. In ’n poging om ’n bloedbad te voorkom en met groot risiko vir sy eie aansien en geloofwaardigheid, het hy hardnekkig volgehou met die taak om ander belangrike leiers binne sy eie gemeenskap te oortuig van die noodsaaklikheid om in die 1980’s onderhandelinge met die ANC te voer.
“Ek het weggegaan met ’n lied in my hart met die wete dat ons almal in ons silo’s gewerk het om lewens met ons projekte te verander. Wanneer ons al ons energie bymekaar sit, kán ons ’n verskil maak in die lewens van alle Suid-Afrikaners,” sê Da Rocha.
Ander kunstenaars wat teenwoordig was, is Lochner de Kock en Ricardo Arendse. Lochner sê vir hom was die geleentheid ’n paar uur se sielevoeding. “Mag die liefde en omgee oor die harte van ons mense versprei. Mag daar altyd brood op ons tafels en in ons gees wees.”
Die joernalis en assistent-redakteur van die Daily Maverick, Marianne Thamm, die reisjoernalis, Erns Grundling, Ali van Wyk van Vrye Weekblad, Jody Hendricks van RSG, Landbouweekblad se redakteur, Chris Burgess, en Rapport se redakteur, Inge Kühne, was van die joernaliste wat hulle ervarings gedeel het.
Thamm het vertel waarom sy so lief is vir die land en vir Afrikaans. “Onthou, ek is half Porra en half German. Ek is nie eers hier gebore nie. Ek is in Engeland uitgepop deur my ma.”
Sy sê sy praat die taal (Afrikaans) omdat die taal in haar mond gesit is, maar dit is die mooiste taal in die hele wêreld. “Dis jazz.”
Hoewel sy geregtig is om in vier lande aansoek te doen vir ’n paspoort (Portugal, Brittanje, Duitsland en Suid-Afrika) wil sy geen ander paspoort as haar Suid-Afrikaanse paspoort hê nie, want sy wil nêrens anders heen gaan nie.
Selfs die mense in Orania is gelukkig, want die Grondwet beskerm hulle ook, sê Thamm wat self gaan kyk het hoe lyk dit daar.
Nieregeringsorganisasies soos PALS het tydens verlede week se gesprekke opnuut getoon watter belangrike rol sulke organisasies speel. Deur projekte te loods wat fokus op opvoeding, gesondheid en armoedeverligting, help talle van hierdie organisasies om die lewens van mense te verbeter en eilande van hoop in gemeenskappe te skep.
PALS is die akroniem vir Partners in Agri Land Solutions, ’n private grondhervormings- en ontwikkelingsinisiatief. Dit is in 2015 as Witzenberg PALS (NPC) in Ceres gestig deur boere in vennootskap met plaaslike gemeenskappe en al drie sfere van die regering.
Die sleuteldoelwit is om ’n bemagtigende omgewing te skep om innoverende grondhervorming en inklusiewe landbougroei te implementeer wat sosiale harmonie ondersteun.
Deur PALS word boere van kleur nie net ware grondeienaars met volle titel nie, maar word hul sukses as boere verseker deur sinvolle vennootskappe met kommersiële boere. Dit is ’n beproefde raamwerk, gebaseer op gesonde korporatiewe bestuursbeginsels en is herhaalbaar oor alle kommoditeite, sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad.
PALS se strategiese adviseur, Gerrit van Vuuren, sê hulle is opgewonde om kontak te maak met inspirerende veranderingmakers by DVA. “Saam bou ons brûe, bevorder begrip en versterk ons impak regoor Suid-Afrika. Netwerk vir positiewe verandering is die brandstof wat ons missie vorentoe dryf.”

Maria-Anita Pieterse
Behalwe organisasies soos PALS en die sakesektor, is dit gewone individue soos Maria-Anita Pieterse van Mount Pleasant by Hermanus wat mense se verbeelding aangryp.
Sy staan soggens douvoordag op om te sorg dat bejaardes in haar omgewing iets te ete en te drinke oor hulle lippe kry, sodat hulle nie hul medikasie op hul nugter maag hoef te neem nie. Later die dag begin sy in haar eenvoudige huisie op ’n tweeplaatstofie kos maak vir die kinders in die buurt wat teen laatmiddag tou staan voor haar huis om ’n bord kos te kry.
“Ons het dialoog en samewerking nodig om ons demokrasie-dividend te kry,” sê Siwe Coka, ’n aktivis wie se werk geslagsgebaseerde geweld insluit. Coka wat die laaste spreker was, sê die land het ’n toekoms maar die vraag is hoe gaan die land se mense die huidige paradigma in 2024 verander. Die grootste uitdagings in die townships is volgens haar mense se geestesgesondheid. Sy kom uit ’n agtergrond waar apartheid pyn aan haar en haar ouers veroorsaak het. “Nou moet ek ’n ander pyn hanteer wat die huidige regering veroorsaak. Die vraag is hoe gaan ons vorentoe? Die Afrikanergemeenskap het industrieë en instellings gebou en seker gemaak daar word na hulle mense gekyk. Waarom ontneem ons huidige demokrasie my daarvan?”
Sy sê dialoog en aktiewe deelname is van kritieke belang om die land van verval te red en te verhoed dat die dividend wat demokrasie behoort op te lewer, nie lei tot hongersnood, korrupsie en plundering van staatshulpbronne vir selfverryking soos in baie Afrikalande nie. “Dit is ’n oproep tot aksie,” sê sy. “Mense wat motors met klippe gooi, gee nie om wie is in die motor nie. Almal moet kollektief saamwerk om ongeag hulle kleur saam te staan om die uitdagings in die gesig te staar, want dit is almal se land.”
Kubeshini Govender sê vir haar het dit verlede week weer soos 1976 en die 80’s gevoel. “Die beplanning, strategiese en ‘undercover’ vergaderings, behalwe dat ons nou in die oopte kan ontmoet. Ek was so beïndruk om na die sprekers te luister en alles wat hulle doen in die naam van ’n beter Suid-Afrika en om sosiale kohesie te bou. Laat ons ons Ubuntu-gees voortsit om ons demokrasie te vorm.”
So is daar oral in die land eilande van hoop wat soos paddastoele opskiet. In die Moot in Pretoria doen mense soos Johan Oberholster en sy span baanbrekerswerk. Die Moot Projek is ’n apolitieke inisiatief deur die gemeenskap vir die gemeenskap van die Moot-gebied in Pretoria, waardeur hulle self werk om hul omgewing te verander om die skoonste en netjiesste area moontlik te skep en dit ’n veilige area vir die inwoners te maak.

Lizette Wilson, Natalia da Roscha en Marianne Thamm
In Kaapstad se Kuilsrivier werk Lynette Wilson en vier tuiniers onverpoosd om die omgewing te verfraai met plante en struike, maar sy sukkel om die gemeenskap betrokke te kry sodat sy die werkers kan betaal.
Tidy Towns is weer ’n gemeenskapsgedrewe projek in KwaZulu-Natal (KZN) waar eendersdenkende vrywilligers hande vat met private sekuriteitsmaatskappye, plaaslike wetstoepassers, die SAPD en die sakesektor. Deelnemers is daartoe verbind om openbare ruimtes na skoon en veilige omgewings te herstel vir die genot van plaaslike inwoners en besoekers. Dit skep ook geleenthede wat die lewensbestaan van die toegewyde skoonmaakspanne verbeter.
Op vele ander plekke in die land word daar gewoeker om eilande van hoop te skep. In Hartbeesfontein in Noordwes is daar mense soos Freda de Klerk; in Delmas in Mpumalanga is daar iemand soos Martin van Rensburg; en Hartswater in die Noord-Kaap het vir Jennifer Howarth wat almal hoop skep.

Jean Oosthuizen, Henry Mathys, Willie Esterhuyse, Milan Mogashoa, Truida Prekel en Lochner de Kok
Dit is teen hierdie agtergrond dat DVA hulle saam met ’n beduidende groep Suid-Afrikaners toewy aan die waardes van die land se Grondwet. “Ons glo dat die waardes van respek, waardigheid, gelykheid, medemenslikheid, deernis, omgee, verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, deursigtigheid, regverdigheid, eerlikheid, integriteit, nie-rassisme, anti-seksisme, wet en orde ons weer sal kan verenig en aktiveer,” sê Barend la Grange, een van die groep se sameroepers wat verlede week se gesprek saam met Truida Prekel, Anneke Greyvenstein en hulle span moontlik gemaak het.
Die groep glo dat demokrasie op die vlak van gemeenskappe begin. Om hierdie waardes te bevestig, onderneem hulle om aktief betrokke te raak by inklusiewe dialoog, aksies en projekte, met soveel moontlik ander Suid-Afrikaners wat net so gemotiveerd is om by te dra om ’n beter Suid-Afrika vir al die land se mense te bou.
“As ’n groep individue is ons gretig om meer en nuwe maniere te ontgin om ’n positiewe bydrae in gemeenskappe te lewer op ons eie, saam, of in samewerking met ander individue, groepe of inisiatiewe.”
Die netwerk is polities-onverbonde ten einde almal te kan betrek.
La Grange sê die doel is om ’n informele netwerk van individue en groepe met soortgelyke doelwitte en waardes te vestig en wyd uit te bou, wat mekaar ondersteun en daartoe bydra om:
- Gemeenskappe op te hef en uitdagings aan te pak deur te help om werksgeleenthede te skep, indiensneembaarheid deur vaardigheidsontwikkeling te verhoog, te werk vir gelykheid, afgetakelde instellings te help herbou en veiligheid en sekuriteit te bevorder;
- proaktief areas te identifiseer waar mense kan bydra deur spanningskwessies te verlig en te help om gemeenskaplike oplossings te vind; en
- deel te neem aan inklusiewe vergaderings, dialoog en aksies om onderlinge begrip en vertroue te bou en versoening te bereik.
Foto’s: Jean Oosthuizen | Video’s: Truida Prekel
Lees ook:
Is daar hoop vir die land? Hoe lyk die toekoms? | Etienne van Heerden Veldsoirée 2023
Kan gemeenskappe, organisasies, munisipaliteite en die regering hande vat?


Kommentaar
Ons kan nie meer kyk na ’n regering nie. Ons moet daarwerklike inspring om as gemeenskappe SA van chaos te red.
Bravo aan hierdie groep. Kom ons almal spring in.
Dankie vir jou berig, Jean.