Die koronavirus, blitsreise en hoenders wat agterbly – ’n Suid-Afrikaner se wedervaringe in China

  • 2

Louis is ’n Suid-Afrikaner wat in China skoolhou. Soos baie ander van sy generasie moes hy in die buiteland gaan werk soek en het uiteindelik in Hangzhou begin werk. Later het hy ’n pos by ’n skool in Ningbo gekry, waar hy tot onlangs gewerk het. Die ure is lank en daar word hoë eise gestel. In China word skole soos besighede bedryf: Skole ding mee om ouers te oortuig om hul kinders by húl skool te plaas, en elke nuwe plasing dra by tot die basisinkomste en dus die winsgewendheid van die skool. Louis se taak is om ouers dmv demonstrasieklasse te oortuig om ’n kontrak aan te gaan. Sy prestasie word gemeet aan die aantal ouers wat uiteindelik hul kinders by sy skool in Ningbo registreer.

Die ure is lank, van 9 vm tot 6 nm, en oortyd word aangemoedig. Saterdae en Sondae is gewone skooldae, maar die onderwysers kry darem teen Donderdag ’n blaaskans. Wanneer Louis saans na sy woonstel terugkeer, skop hy uit, maak kos, drink ’n bier of drie en kom tot verhaal. Sy geselskap is sy “hoenders”, soos hy sy twee dwergpapegaaitjies noem. Die eerste een, die mannetjie, het so half per ongeluk by hom beland toe ’n vriend getrek het; die wyfie het net eendag van nêrens opgedaag en na die mannetjie in sy hokkie op die stoep begin vry soos net twee lovebirds kan. Die paartjie is sedertdien onafskeidbaar en Louis moes maar aanvaar dat hy nou twee hoenders het.

Einde Januarie het die Chinese Nuwejaar aangebreek, wanneer miljoene Chinese per trein, bus en vliegtuig die reis na hul familievakansie aanpak. Dis die grootste vakansie op die Chinese kalender: die skole sluit en mense stroom uit die stede na die platteland, reis tussen stede, wag met hul pakgoed op stasies en lughawens. ’n Enorme mensemigrasie.

Dis toe Louis sy hoenders genoeg kos en water gee en Filippyne toe vertrek vir ’n kort snorkelvakansie.

En dis toe die koronavirus in Wuhan uitbreek.

Gesigmaskers vir almal (Foto: Louis Schekierka)

Niemand kon aanvanklik voorsien hoe groot die koronakrisis sou word nie, en hoe vinnig dit oor die wêreld sou versprei nie. Die infeksie- en sterftesyfer groei by die dag en teen die tyd dat hierdie artikel gepubliseer word, sal die syfers verouderd wees. Tans is 71 323 besmet en het 1 770 gesterf. Louis is aangesê om sy vakansie te verleng. “Ons weet nie wanneer die skool weer gaan heropen nie,” het sy skoolhoof in Ningbo geteks. “Bly eerder waar jy is, ons sal laat weet.”

’n Week later kom die opdrag vir Louis om terug te keer na Ningbo. “Ons verwag om teen die 10de Februarie te hoor wanneer die skool heropen. Kom solank terug.” Hy pak op en vlieg, onseker oor wat wag. Bang, want hy lees wyd en, soos almal, weet hy nie wat om te glo nie. Hoe erg dit werklik is nie.

Geen stadsverkeer in Ningbo (Foto: Louis Schekierka)

Ningbo is ’n spookstad (Foto: Louis Schekierka)

Busse staan ongebruik in Ningbo (Foto: Louis Schekierka)

Maar hy kom gou agter die Ningbo wat hy verlaat het, is nou ’n heel ander stad. ’n Spookstad. Niemand is op straat nie, die winkels is toe, daar is geen verkeer in die stad nie. Gesigmaskers is oral uitverkoop. Hy word in kwarantyn geplaas, ’n tipe van huisarres. Hy mag net elke tweede dag sy woonstel verlaat, maar dan net met ’n pienk toestemmingsnota van die owerhede. Ook net om te gaan kos koop, onder toesig, want aankope word beperk. Hy is dankbaar vir die geselskap van sy dwergpapegaaitjies. Soms kom kuier die buurvrou om kaart te speel.

Pienk strokies vir beperkte inkopies (Foto: Louis Schekierka)

Sy kop haal truuks uit. Voel hy siek? Hy is seker die hoesie is net van te veel rook, maar sê nou dit is dié hoesie? Verbeel hy hom of het hy koors? Hy speel Xbox om sy gedagtes af te lei. Slaap. Wens môre kan kom en gaan sodat hy net weer die buitelug kan voel. Steeds geen nuus van sy skoolhoof nie, behalwe dat sy en haar gesin in ’n plattelandse dorpie by die familie gestrand is. In kwarantyn is.

“Ek dink nie hierdie situasie gaan werk nie,” teks hy haar. “Niemand weet of die skool enigsins weer gaan heropen nie. Wat is die plan? Is daar ’n plan?” Hy het gesien daar is ’n enkele vlug uit Sjanghai na Siem Reap in Kambodja, die enigste land wat nie reisigers vanuit China in kwarantyn plaas nie. As hy ’n sitplek op daardie vlug kan kry, kan hy na veiligheid vlug. Kambodja het nog net een geval van die virus aangemeld.

Hy redeneer per teks met sy skoolhoof om hom toe te laat om te gaan. Hy wil sy werk behou, hopelik weer terugkeer na Ningbo, maar hy voel sy lewe is in gevaar. Hoesmedisyne is nou verban in Hangzhou, Ningbo en baie ander stede, want dit onderdruk die simptome van mense wat die virus onder lede mag hê. Sy gee toestemming dat hy kan gaan, tot verdere kennisgewing. Hy kan aanlyn werk, administratiewe take uitvoer en leerplanne uitwerk. Hulle sal hom nog betaal, al is dit net gedeeltelik.

Hy kry ’n sitplek op die vlug uit Sjanghai, bespreek die kaartjie aanlyn, sommer ook sy kaartjie op die sneltrein na die lughawe. Hy vertrek die volgende dag, dus pak hy net die nodigste, net wat in sy rugsak kan pas. Die dwergpapegaaitjies bring hom tot stilstand. Wat maak hy met die hoenders? Hul vlerkies is geknip, so hy kan hulle nie laat wegvlieg nie. Baie kos en water uitsit. Mooi vra dat die buurvrou sal kom inloer en na hulle omsien. Hy weet nie wanneer hy weer sal terug wees nie.

Verligting in Siem Reap – sonder gesigmaskers (Foto: Louis Schekierka)

Siem Reap bring tydelike verligting. Hy kry werk gedoen, maar sy gedagtes is verdeel. Hy het gehoor daar het pas ’n passasierskip in Sihanoukville in die suide van Kambodja geanker, ’n skip wat deur vyf ander hawestede in Suidoos-Asië weggewys is. Die passasiers is glo almal gesond en is toegelaat om die skip te verlaat. Sihanoukville is ver van Siem Reap. Miskien hoef hy hom nie te bekommer nie. Of moet hy juis? Elders uit Kambodja kom daar nuus dat ’n nuwe siekte uitgebreek het – iets wat baie soos bek-en-klouseer lyk en glo verwant is aan die koronavirus.

Hy pak op, alles wat in sy rugsak kan pas. Hy gaan terug Filippyne toe. Daar was nog net een sterfte, en die eilande is afgesonder. Hy sal op een van die eilande gaan bly totdat hy nuus kry. Hy hoop daar is internet. En dat sy hoenders sal kan uithou tot hy terug is.

Lees deel 2

Die koronavirus, blitsreise en hoenders wat agterbly – ’n Suid-Afrikaner se wedervaringe in China (deel 2)

  • 2

Kommentaar

  • Pragtig, soos net jy dit kan vertel. Miskien moet ons so ’n paar van ons ministers oorstuur, hulle is "experts" om dinge te laat verdwyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top