Die koronavirus, blitsreise en hoenders wat agterbly – ’n Suid-Afrikaner se wedervaringe in China (deel 2)

  • 0

Lees deel 1

Louis het genoeg gehad van Siem Reap in Kambodja. Bedags is daar nie veel te doen nie; snags kry die plek lewe wanneer Pubstraat se liggies aangaan. Die nagklubs se deure word oopgegooi, klein straatkroegies lok toeriste met goedkoop drank en ’n rits restaurante adverteer lekkernye soos groen mangoslaai en pangeskroeide skerpioene. Maar dis ’n droë, vuil stad. Die stof koek in sy neus en hy smag na die see se soutwater en die eilande se wit sand tussen sy tone.

Cebu-eilande in die Philippyne is ’n goeie keuse want die koronavirus het nog nie daar vastrapplek gekry nie. Daar kan hy hom afsonder en snorkel in die glashelder water, totdat dit veilig is om terug te gaan China toe. Hy is besorg oor sy hoenders, soos hy sy twee dwergpapegaaitjies noem, twee lovebirds wat moes agterbly in sy woonstel in Ningbo en hopelik deur die buurvrou versorg word.

Altyd ’n gesigmasker (Foto: Louis Schekierka)

Hy bespreek sy vlugte: van Siem Reap na Bangkok, dan na Manila en ’n kort aansluitingsvlug na Cebu. Wanneer hy die betaling maak, het hy reeds ’n reuse-oordeelsfout begaan, maar dit sal hy eers besef wanneer hy in Manila aankom …

Cebu in die Philippyne (Foto: Louis Schekierka)

’n Tuk-tuk in Siem Reap (Foto verskaf)

Snorkel in Moalboal (Foto verskaf)

Alles wat hy by hom het, word in sy rugsak geprop. Die tuk-tuk wag reeds om hom lughawe toe te neem, ’n tweewielwaentjie wat deur ’n motorfiets getrek word. Hy vorder seepglad deur Siem Reap en Bangkok se doeane, maar in Manila kom daar probleme. Die beampte blaai stadig en noukeurig deur sy paspoort. Wat kan fout wees, wonder hy. Sy aansluitingsvlug na Cebu is binne die uur en hy sal moet hardloop na die anderkant van die lughawe om betyds te wees.

Dan wink die beampte vir ’n kollega en verduidelik iets. Die kollega roep hom nader en neem hom na ’n kantoortjie, waar drie ander reisigers reeds sit en wag. Hy moet sit. Mag nie sy selfoon gebruik nie. Geen verdere verduideliking nie. Louis probeer beduie dat hy sy vlug na Cebu gaan verpas maar sy betoog val op dowe ore. Hy sweet en sy hande bewe liggies van die groot skrik. Wat kan fout wees? Is daar ’n probleem met sy paspoort? Het sy naam op ’n swartlys beland om die een of ander rede? In die vreemde is daar niks so skrikwekkend soos ’n kwaai doeanebeampte nie.

Sewe ure later (die Cebu-vlug lankal weg) word hy ingelig: hy is minder as 14 dae gelede uit China en moes minstens 14 dae in afsondering wees. As hy vier dae langer in Siem Reap gebly het, was alles in orde maar nou is hy ’n koronavirus-risiko en kannie in die land toegelaat word nie. Hy moet terug Siem Reap toe. Hy word gedwing om onder toesig ’n kaartjie te bespreek – die geld vir die vlug na Cebu en sy verblyf daar word verbeur. Drie beamptes vergesel hom na die vertreklokaal, hy word eerste op die vliegtuig gesit en na ’n sitplek heel agter geneem. Een van die drie beamptes vlieg saam want Louis mag nie sonder toesig reis nie. Terug in Siem Reap moet hy wag tot almal die vliegtuig ontruim het, dan word hy vergesel na ’n doeanekantoor. Die beampte aan diens is kwaad, veral omdat die besluit om Louis weer in Kambodja toe te laat nou by hom berus. Hy is lus en stuur Louis terug China toe.

Die hoenders (Foto: Louis Schekierka)

Hoe is dit moontlik dat dinge so skielik so skeef kon loop? Die koronavirus het die hele wêreld op hol, besef hy nou. Hy is wel weer toegelaat in Kambodja, maar net tot sy visum verstryk, dan moet hy koers kry. Hulle gaan dit nie hernu nie. Hy sit en wag vir die tyd om om te gaan, bespreek weer kaartjies: Bankok, Manila, Cebu. En dié keer gaan dit goed, hy is sonder haakplek deur al wat ’n doene is. Hy gaan lek sy wonde op Moalboal-eilande, snorkel sy dae om, voel die soutwater in sy neus en die sand tussen sy tone. Wonder oor sy hoenders.

***

Ek lê en slaap wanneer Louis se teks deurkom. Dis drie-uur in die oggend en sonder bril kan ek dit uitmaak: “Ek is veilig tuis.” Veilig in Ningbo, waar hy skoolhou. Die skole is nog gesluit maar die nuus is dat die koronagevalle in China besig is om af te plat. Hy gaan in afsondering moet bly totdat die owerhede die mense weer buite toelaat. Hy gaan pienk strokies moet kry om elke tweede dag vinnig inkopies te gaan doen, onder toesig. Maar hy is terug by die huis en hy is gesond. Later kom nog ’n teks: “Die hoenders is dood. Ek is moeg gereis.”

Lees ook deel 1

Die koronavirus, blitsreise en hoenders wat agterbly – ’n Suid-Afrikaner se wedervaringe in China

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top