
Foto van Pieter van Zyl: verskaf
Die derde kinder- en jeugliteratuurskryfskool is om die draai!
Pieter van Zyl se kinderboek is by ’n vorige een van hierdie slypskole in Wellington gebore. Hy praat met Naomi Meyer daaroor.
Jy het pas jou ma verloor; ek is so jammer. Sy sou trots gewees het op jou – sy het sekerlik geweet van jou kinderboek wat binnekort verskyn! Vertel asseblief vir ons lesers van die boek wat in Maart op die rakke is. Waaroor handel die storie?
...........
My ma, Nellie Winifred de Villiers van Zyl, is die rede hoekom ek so graag kinder- en jeugboeke wil skryf.
.............
My ma, Nellie Winifred de Villiers van Zyl, is die rede hoekom ek so graag kinder- en jeugboeke wil skryf. Van kleinsaf het sy vir my gelees oor die Asteks en die Inkas wat menseharte geoffer het. Sy het my saam met Tintin, ’n joernalis soos ek nou is, op wêreldreise geneem. Ma het my voorgestel aan Asterix en Obelix wat my ’n passie vir geskiedenis gegee het.
As klein seuntjie het ek my eie boekies begin maak. Sommer ’n gekrap wat my ma dan vasgekram het. Later het ek op die strand van Jeffreysbaai en Paradysstrand gestap en “Seesandstories” vir die rotse en golwe vertel.
Toe sy met demensie gediagnoseer is, het ek besluit om saam met haar ’n kinderboek saam te stel met ons (nou albei oorlede) sfinkskatte, Grietjie en Essie, as hoofkarakters in die woonstelblok Rapallo, waar ek in Seepunt, Kaapstad bly.
Vir die afgelope vier jaar het ek al my verlof gebruik om by haar en my pa, André van Zyl, op Rosendal in die Oos-Vrystaat te kom kuier. En dan werk ons aan ons “boek”. Sy was betower deur die sfinkskatte met hulle olierige lywe om soos hul voorvaders onder die grond te woon, het sy geglo.
Met die vergeetagtigheid wat vir haar al meer ontstellend geraak het, het ek geweet ons tyd is min om ons projek te voltooi. Dis hoekom ek ingeskryf het vir die kinderboekskryfkursus om te slyp aan die manuskrip.
..........
Met die vergeetagtigheid wat vir haar al meer ontstellend geraak het, het ek geweet ons tyd is min om ons projek te voltooi. Dis hoekom ek ingeskryf het vir die kinderboekskryfkursus om te slyp aan die manuskrip.
............
Toe ek weer op Rosendal was so jaar en ’n half gelede, het ek foto’s van die katte saamgebring en ’n eerste weergawe van die teks vir haar uitgedruk. “Mamma, asseblief teken vir my illustrasies.” Sy is ’n opgeleide kleuterskool-kunsonderwyser.
“Pieter Padda, ek vertrou myself nie om iets te teken nie.”
“Ek vertrou in ma. Dit was mos nog altyd ons droom om saam ’n kinderboek te maak.”
Teen die einde van daardie twee weke lange vakansie by hulle het sy wonderlike pensketse gemaak, wat sy met gekleurde potlode ingekleur het. Sy het ook die teks, hoofstuk vir hoofstuk, met potlood per hand oorgeskryf vir die ses tot agt jaar teikenmark van die storie.
Dit was die laaste keer dat sy ooit geskryf of iets geteken het. Sy het al meer agteruit gegaan en is die aand van 10 Januarie vanjaar sag in haar slaap weens ’n massiewe aneurisme in ’n versorgingsoord in Marquard oorlede. Haar gedenkdiens was 22 Januarie in die 112 jaar oue sandsteenkerk, Baken van Hoop, op Rosendal, met 3000 mense wat op Facebook aanlyn ingeskakel het daarvoor.
Sy was en is trots op my. Dit sou so lekker gewees het om ons boekie, Die kaalkatte van Seepunt, op die rakke te hê voor sy dood is. Ek werk ook nou aan ’n kinderboek oor ’n Namibiese boer en sy wilde weesdiere.
Maar die boek wat eerste gepubliseer gaan word, is Die harte van ’n seekat. Dis ’n jeugroman vir matrieks en ouer. Dis geïnspireer deur nuusberigte van skandale waar sportafrigters en onderwysers in koshuise betrokke was by die grooming van leerlinge vir seks. Dis rou en dis gebaseer op onderhoude met oorlewendes wat ek gedoen het.
Al die gegewe is fiksie. Hansie en sy maats, wat ’n sekshandel-nes oopvlek en gewelddadig in stukke opkap en ’n ondergrondse tonnelstelsel oopvlek, leef almal in my kop en op die bladsy. Magiese realisme en humor is deurgevleg om die wrede realiteit te temper met ’n reuse-kraken (seekatmonster) as held.
Dit is ’n John Wick-tipe wraakneemstorie met ’n tikkie Stranger things weirdness ingeklits. Daar is ’n paar skokkende kinkels wat seker ’n paar mense gaan ontstel.
Dis nie vir sensitiewe lesers nie, maar ek voel dis iets wat oopgeskryf moet word. Dis die realiteit van kinders en tieners op skool en durf nie geïgnoreer te word nie. Dit word in April deur Minimal Press uitgegee.
Jy skryf al jou lewe lank. Jy is bekend as joernalis en het ’n kinderboekskryfkursus by die Wellington Galery bygewoon. Hoe verskil dit om as joernalis te skryf en om ’n kinderboek aan te durf? Praat met my oor die verskille en die uitdagings.
Dit was ’n lieflike ontvlugting van my werk om die jaarlange kursus by te woon in 2023. Alhoewel die werklikheid waaroor ons by Huisgenoot skryf meestal vreemder as fiksie is, is dit regte mense met emosies wat ek ’n onderhoud mee moet voer en wat reaksies gaan hê oor wat op die ou end gepubliseer gaan word.
Met kinderboeke skep ek ’n wêreld en karakters wat leef en praat in my verbeelding, maar wat ’n skrywer in woorde moet opbou en skep sodat die leser onomwonde daarin glo. Daar moet ’n band vorm sodat elke besoek tussen die bladsye die leser na daardie ruimte en die inwoners daarvan terugvoer.
..........
Met kinderboeke skep ek ’n wêreld en karakters wat leef en praat in my verbeelding, maar wat ’n skrywer in woorde moet opbou en skep sodat die leser onomwonde daarin glo. Daar moet ’n band vorm sodat elke besoek tussen die bladsye die leser na daardie ruimte en die inwoners daarvan terugvoer.
.............
Tydens my honneursjaar in Afrikaans-Nederlands aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom was ons outomaties ook deel van die ATKV Skryfskool. In 1996. Ek het my neus toe opgetrek vir kinderstorietjies oor “kabouters en feetjies”. Onder die leiding van Betsie van der Westhuizen is ek sagkens gedwing om vir hierdie mark te skryf. Op een van my verhale wat ek ingehandig het, het sy geskryf: “Heroorweeg jou weerstand teen kinderstories. Jy doen dit heel goed.” Ek het 83% gekry.
Dit het my 25 jaar geneem as misdaadjoernalis by Beeld in Johannesburg, kuns-en-vermaakskrywer by die Oos-Kaap-Burger en skrywer van álles by Huisgenoot, om eindelik my hand te waag aan kinder- en jeugliteratuur.
Dis een van die moeilikste skryfgenres wat ek my nog ooit in begewe het. Ek het al twee nie-fiksieboeke op die rak: Gert & Joey en Verhale van hoop. Met die skryf vir jongelinge is die dialoog so gespesialiseerd. Jy moet presies weet hoe jou lesers praat en die woorde wat hulle gebruik en nie gebruik nie.
Ek het nie my eie kinders nie, maar my sussies het opgemaak daarvoor met sewe altesaam. Maya, Leya, Marco en Bothma het my baie gehelp met die jeugboek om seker te maak ek maak my naam nie gat nie. Dit moenie klink soos ’n ou oom wat probeer cool en hip wees nie.
Met kinderboeke is die verhaallyn en die skep van volronde karakters nog moeiliker, want jy het ’n beperkte aantal woorde en bladsye daarvoor. By hierdie soort skryf beteken “killing your darlings” letterlik ’n bloedbad. Jy moet ’n 200 bladsy roman reduseer tot 1 500 woorde as dit nou ’n prenteboek is.
As joernalis doen mens dikwels dieselfde. Jy het bladsye vol inligting nadat jy onderhoude gevoer het met ’n klomp mense. Maar jy het net 1 200 woorde vir ’n gewone artikel in die tydskrif. Nog minder vir ’n berig.
Wat vir my pret is, is dat ek my opgemaakte karakters net soos die regte mense ondervra as joernalis. Uiteindelik het ek ’n goeie rede om te praat met al die verskillende stemme in my kop.
Wat het die skryfskool by Mia Oosthuizen en Anne-Ghrett Erasmus jou geleer van kinderboekskryf en hoekom sal jy dit aanbeveel vir enigeen om die einde van die maand – môre reeds! – hierdie reis aan te pak?
Alles. Van hoe om idees te ontwikkel, die beplanning, die plot, dialoog, hoe om jou lesersmark te leer ken, hoe om spanning te skep, om illustrasies in gedagte te hou by die skryf van ’n prenteboek ... tot die inhandiging van die manuskrip. En om terwyl jy wag vir terugvoer weer aan ’n nuwe manuskrip te begin werk.
Ek sit elke dag twee tot drie uur opsy vir kreatiewe skryf. Na-ure as ek klaar is met my salariswerk as joernalis. Die kursus het my geleer hoe hierdie manier van skryf my nie net afwisseling gee nie, maar dat dit ontspannend kan wees en my kan help met my skryfwerk by Huisgenoot. My beskrywing van tonele en intriges is meer verbeeldingryk en kleurvol.
Mia is die voorste kenner op die gebied van kinder- en jeugboeke. Sy was al keurder en manuskripontwikkelaar by talle uitgewers. Sy ken die binnewerke van hierdie bedryf wat bitterlik moeilik is om jou voet in die deur te kry.
Haar modules is keurig ontwikkel en uiteengesit in uitdeelstukke. Die eenkeer ’n maand wat ons by die galery in Wellington bymekaar kom, is dit soos ’n ondersteuningsgroep. Met praktiese oefeninge en insette van Mia en mede-kursusgangers voel mens veilig terwyl jy oor die 12 maande al meer gekonfyt raak met die skryf en die teorie van om vir hierdie mark te skryf.
Ons het ook toegang tot Mia se uitgebreide biblioteek van die beste, gewildste en mees onlangse kinder- en jeugboeke. Want as skrywer is jy net so goed soos die boeke wat jy lees.
Anne-Ghrett, bestuurder van die Breytenbach-sentrum, is ons rasieleier. Jy kan nie vra vir iemand beter om jou aan te moedig in die kreatiewe proses nie. Sy lees graag wat jy skryf, gee insette en sorg dat ons elke keer ’n nuwe en opwindende ruimte het om in te skryf en leer, met die wonderlikste kuns in die galery wat elke maand verander.
Sy sorg ook vir die middagetes – gesonder kos vir die maag en siel. As ons gelukkig was, het Mia een van haar toweragtige koeke saamgebring. Want wat is beter as soetigheid om jou verbeelding vleuels te gee.
..........
Anne-Ghrett, bestuurder van die Breytenbach-sentrum, is ons rasieleier. Jy kan nie vra vir iemand beter om jou aan te moedig in die kreatiewe proses nie. Sy lees graag wat jy skryf, gee insette en sorg dat ons elke keer ’n nuwe en opwindende ruimte het om in te skryf en leer, met die wonderlikste kuns in die galery wat elke maand verander.
Sy sorg ook vir die middagetes – gesonder kos vir die maag en siel. As ons gelukkig was, het Mia een van haar toweragtige koeke saamgebring. Want wat is beter as soetigheid om jou verbeelding vleuels te gee.
..........
Ons is steeds in verbinding met mekaar op WhatsApp om seker te maak daardie boek of boeke waaraan ons gewerk het in die kursus, beland op die rakke. En wie weet, dalk word my ma se droom van ons kinderboek posthumous waar. Haar prente en woorde sal voortleef, kom wat wil.
- As jy nog wil inskryf, kontak die aanbieders van die slypskool. Hulle kontakbesonderhede is in die persverklaring.
Lees ook:
Persverklaring: Die derde kinder- en jeugliteratuurskryfskool is om die draai!
Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool 2025: ’n onderhoud met Mia Oosthuizen