Die kandidaat deur Hoërskool Stellenbosch: ’n onderhoud met 2026 se ATKV-Tienertoneelwenners

  • 0

https://atkv.org.za/nuus/posts/atkv-tienertoneel-se-nasionale-finaliste-bekend/

Die wenners van vanjaar se ATKV-Tienertoneel was Hoërskool Stellenbosch, met Die kandidaat, ’n nuutgeskrewe teks deur André Gerber.

Die stuk is ’n absurde komedie oor mag, leuens en ’n gemeenskap wat te lank sy oë toemaak. Die produksie het talle pryse losgeslaan, soos albei Tienertoneel-hoofrolpryse (aan Johan Swanepoel en Emelyn Snyman). André Gerber en Andrea Staude het die regie behartig.

Die kaartjies daarvoor het gevlieg. Die produksie was so gewild dat daar tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees plek gemaak moes word vir ’n onbeplande ekstra speelgeleentheid.

Andrea Staude en André Gerber praat met Naomi Meyer oor die wenproduksie.

 

Andrea, vertel asseblief van jou agtergrond. En baie geluk met Die kandidaat se sukses by vanjaar se ATKV-Tienertoneelkompetisie, waarvoor jy die regie behartig het. Wat is vir jou die heel belangrikste aspekte van ’n suksesvolle toneelstuk vir tieners?

Ek is die vakhoof van Dramatiese kunste by Hoërskool Stellenbosch. Die belangrikste aspek van ’n suksesvolle tienertoneelstuk is besonder moeilik om te definieer. Daar bestaan geen so ’n definisie nie.  

Vir my het dit primêr daaroor gegaan dat ek en my mederegisseur na ’n toneelstuk wou kon kyk waarvoor ons nie sommer moeg word nie. Mens wil ’n toneelstuk oor en oor kan kyk sonder dat dit jou verveel.

Ek dink nie daar is juis reëls waarvolgens mens kan bepaal wat werk en wat werk nie. En tog ... as die produksie slaag, wéét mens dit.

André, wat is jou agtergrond? En vertel asseblief van die drama waarvoor jy die teks geskryf het, Die kandidaat. Is hierdie toneelstuk vertaal en aangepas vir ’n hedendaagse Suid-Afrikaanse gehoor?

Ek is ’n dosent by die Universiteit Stellenbosch. Ek gee toneelspel en skryf, en ook regie.

Nee, die stuk is nie vertaal nie. Ek het die stuk aanvanklik in 2024 geskryf; dit was in die tyd van die destydse nasionale verkiesings en ek wou iets skryf oor ons politieke stelsel.

Wat ek gedink het om te doen, is om dit te plaas in ’n tyd verwyderd van ons eie. Ek vind as mens ’n bietjie afstand skep tussen die teks en die gehoor, die gehoor hopelik die metafoor beter sal verstaan en dan intellektueel met die werk kan omgaan.

Dit was vir my opwindend om die Suid-Afrikaanse politiek tot satire te omskep sonder om werklike Suid-Afrikaanse politici op die naam te noem. Mens kán dit natuurlik doen, maar dit is nie wat die roete is wat ek hier gevolg het nie.

So ek het besluit om dit te plaas in Pole in die 1960’s, eintlik maar net om ’n bietjie te kan speel met ’n gedeelte van die geskiedenis wat vir my interessant is, in die Oosbloklande. Die gevoel van die kommunisme wat heers, is eintlik ook maar die tipe skryfwerk wat die skrywer Slawomir Mrożek gedoen het. Ek “steel” die styl van hierdie stuk van hom, maar dis my eie werk.

My hoop is dat as ’n mens kyk, dan verstaan mens dat ja, dit speel af in Pole, maar dit is universeel. Ons kan ons eie politieke situasies hier invoeg. So ek het maar ’n bietjie gesteel orals: by die ANC, by die DA, by die EFF … ook ’n bietjie Amerikaanse politiek daarin gegooi. ’n Bietjie Donald Trump ... eintlik maar om die gek met hulle almal te skeer.

Die groot ding wat die stuk probeer sê, is hoe maklik ons almal die leuens glo wat politici vir ons vertel. Hopelik ervaar mense dit nie net as kritiek op die politici nie, maar as kommentaar op onsself. I think everyone has become a bit complacent.

Andrea, die tieners op die verhoog was uitstekend en natuurlik. Dit kon nie maklik gewees het om iets wat so professioneel afgerond is, te bewerkstellig nie. Wat was vir jou die lekkerste en die moeilikste aspekte van die op-die-planke-bring van hierdie toneelstuk, met die werk wat julle opgevoer het en die kinders wat die rolle vertolk het?

Ek dink een van die grootste soort uitdagings is maar logistieke uitdagings. Jy weet, soos waar pas jy dit in die skool se besige skedule in? In Hoërskool Stellenbosch glo ons om vir die leerders holistiese geleenthede te gee om aan alles deel te neem. Dit raak wel so dat die kind wat iéts doen, dan eintlik álles doen! Dit is dus uitdagings om repetisies te skeduleer en dan ook met die ouers te koördineer. Die ouers moet net soveel inkoop en opoffer as die leerders, want hulle is ultimately die mense wat die kinders rondry en wat vakansies saam met families inboet sodat die kinders kan repeteer. So dit is definitief een van die grootste uitdagings.

Spesifiek met die teks van vanjaar se stuk was die uitdaging maar om mense te kry dat hulle besef waarmee ons besig is. Dis ’n moeilike teks, al is dit ook skreeusnaaks. Daar is moeilike tematiek. Sommige van die karakters is aaklige, aaklige karakters. Dit, op sigself, is ook ’n groot vaardigheid om vir jong akteurs te leer: Jy gaan nie noodwendig van jou karakter hou nie. Die gehoor gaan nie noodwendig van jou karakter hou nie. En tog moet jy in sy vel klim en daarin rondloop. Dis wat dit beteken om akteur te wees. Bly in karakter.

........
My mederegisseur het gesê: Jou teks is soos ’n instruction manual. En jy weet, jy kan nie vir die gehoor die instruction manual gee nie – jy moet dit vir die akteurs gee, want hulle moet die instruksies kan volg om die wêreld op ’n geloofwaardige vlak te kan skep.
.........

Met die eerste oogopslag, as jy die teks lees, is dit maar grof. My mederegisseur het gesê: Jou teks is soos ’n instruction manual. En jy weet, jy kan nie vir die gehoor die instruction manual gee nie – jy moet dit vir die akteurs gee, want hulle moet die instruksies kan volg om die wêreld op ’n geloofwaardige vlak te kan skep.

Daar’s meer besonderhede in die teks as wat daar ooit aan die gehoor gekommunikeer word. Dit is uitdagend om verby die lees op ’n plat vlak te vorder – en dit duidelik te maak dat die tekslesers en die ouers sien: So lyk die teks en dit lyk woes … maar op die verhoog maak dit meer sin.

Verder uitdagings is dat ons skool nie die fasiliteite het wat ’n teater het met betrekking tot die tegniese dinge soos sound desk en lighting desk en lighting rig nie. Tegniese versorgings is ’n geweldige uitdaging, want die heel eerste keer wat ons werklik met daardie uiters belangrike komponente van teater kan speel, as deel van die toneelstuk, is wanneer ons intrek by ’n teater. Daar is net omtrent 40 tot 50 minute wat jy het, en dan moet jy die toneelstuk afgerond op die planke hê in die teater waar al die tegniese dinge ten opsigte van klank en beligting betrek word – gereed vir die gehoor om te kyk.

So dit is ook moeilik om dan leerders op te lei om in daardie tegniese rolle te funksioneer, want alles is tot op ’n sekere punt abstrak en teoreties. Jy weet, as jy met kinders praat oor beligting en oor klank, is dit net praatjies. Totdat jy actually agter daai desk of desks sit, kan jy dit nie toepas nie. So dit is ’n geweldig groot uitdaging en dit is nie iets wat maklik deur enige skool opgelos kan word nie, want dit is geweldig baie geld om ’n skool op hierdie manier so te kan inrig.

Die tegniese dinge waarvan ek praat, is inderwaarheid uiters belangrik. Dis nie nice to haves as ’n “ekstra” iets saam met die toneelstuk nie. As mens teater kyk, word so baie aspekte van teater nie net deur die akteurs uitgebeeld nie. Dis ’n sinergie van verhoog, teks, akteurs en tegniese klank en beligting. Die storie word vertel juis deur dit wat uitgelig word of deur dit wat weggesteek word. Dit is teater.

Dink jy die toneelstuk kan tieners beïnvloed om die lewe op ’n ander manier te sien – en dalk na te dink oor wat in hierdie land – en elke land, op sy eie manier! – aan die gang kan wees?

Wel ek hoop so! Ek hoop ons leerders het die gehoor se kritiese denke ’n bietjie wakker gemaak. Die idee is nie dat jy eintlik aanklank vind by enige van die karakters nie, maar dat jy kan sien: Hierdie is argetipes. Jy kan sien wat in die hele wêreld aangaan deur na hierdie fiktiewe plattelandse dorpie te kyk.

Ons wou hê mense moet self daaroor kon nadink. Dit was deel van die proses met die leerders ook. Dis nie net ’n teks wat ons in die hand stop en sê: “Daar, gaan sê jou woorde op” nie. Dit is gesprekke … baie, baie, baie gesprekke.

Ons sê vir die leerders wat betrokke is: Dink na oor jou aksies en die reperkussies in hierdie situasie. Hopelik gaan hulle uit in die wêreld in en hulle het ook gesprekke met ander mense en hulle kan almal ook vir hulleself dink. En jy weet, as jy internasionale of nasionale nuus kyk, dat jy ’n bietjie kan dink daaroor, en sê: "O hang aan, hang aan, hang aan, ek sien eintlik nou hierdie karakter raak en ek sien wat moontlik kan gebeur." Dit is die belang van teater. Dit bly nie net op die verhoog nie.

Jy weet, dit is deel van ons pedagogiese plig as drama-onderwysers of regisseurs om aan die kinders te dink terwyl ons in die proses is – sodat hulle ’n intieme en authentic begrip het van wat aangaan, en sodat dit nie net opeindig om monkey training-akteurs te wees wat woorde opsê nie.

........
Dat hulle ’n outentieke begrip en verstaan het van wie die karakters is en van waar af hulle afkomstig is. Jy as akteur kan ook nie iemand veroordeel wie se rol jy vertolk nie.
..........

Dat hulle ’n outentieke begrip en verstaan het van wie die karakters is en van waar af hulle afkomstig is. Jy as akteur kan ook nie iemand veroordeel wie se rol jy vertolk nie. Jy weet, ek sê altyd vir my kinders ook: As jy nou-nou gecast word as ’n diktator, iemand soos ’n verskriklike diktator in die geskiedenis, kán jy nie neerkyk op hierdie persoon nie. Die meeste mense dink hulle neem besluite met die regte bedoelings. Die belangrikste is maar jy moet die menslikheid agter die karakter verstaan. As jy jou karakter veroordeel, gaan jy nie outentiek jou karakter kan wéés nie.

Lees ook:

Persverklaring: ATKV-Toneelfinaal 2025 ’n magnetiese fees van talent!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top