Die Jan H Marais-prys bevorder Afrikaans as wetenskaptaal

  • 0

Almal praat oor die vrae rondom Afrikaans as wetenskaptaal. Dioné Prinsloo gesels in hierdie onderhoud met Naomi Meyer oor die ruim Jan H Marais-prys wat erkenning gee aan 'n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal. Hier is nog inligting omtrent die prys.

Dioné, betreffende die opwindende Jan H Marais-prys waarvoor aansoeke teen die einde van Januarie 2016 sluit: Die prys se oproep om nominasies maak dit duidelik dat erkenning gegee wil word vir 'n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Sal boeke, projekte of selfs die oeuvre van 'n digter hiervoor kwalifiseer?

Ek is bly dat LitNet hierdie vreugde deel.

Lees ook:
Lees 'n onderhoud tussen Jean Oosthuizen en Pieter Kapp oor Jan Marais.
Lees 'n onderhoud tussen Jean Oosthuizen en Andreas van Wyk oor dieselfde beurs.

Die Jan H Marais-prys word op die Nobelprys geskoei en is juis daarop gemik om lewenswerk te bekroon (en te beloon). Navorsing en projekte in Afrikaans wat van hoogstaande akademiese gehalte getuig word spesifiek as moontlike wenners geïdentifiseer. Wat die oeuvre van digters betref, is dit meer problematies. Die keurders sal moet besin tot watter mate skeppende werk bydra tot Afrikaans as "wetenskapstaal deur wetenskaplike werk".

Gedurende 'n tyd waartydens daar heelwat oor onderrigtale op universiteitsvlak gepraat word, sal 'n prys soos hierdie veral aandag gee aan die ontwikkeling van nuwe terminologie of bewoording vir wetenskaplike begrippe, byvoorbeeld, of sal die navorsing in geheel beoordeel word – met die taal waarin die navorsing beskryf word 'n primêre oorweging, eerder as bydraende faktor?

Afrikaans is 'n dinamiese taal en op akademiese terrein word nuut­skeppinge verwelkom. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is bekend vir die voortreflike werk wat die Taalkommissie doen met die standaardisering van Afrikaans deur die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) (terloops, die volgende AWS verskyn as 'n Eeufees-uitgawe in 2017). Die ontwikkeling van nuwe wetenskaplike terme is noodsaaklik en 'n saak waaraan deurlopend aandag gegee word. Wat die prys betref, sal die navorsing in geheel beoordeel word, maar dit moet volgens die reglement ook aan die “van hoë gehalte in Afrikaans"-vereiste voldoen, dus sal Afrikaans 'n bydraende faktor wees.

Daar word genoem dat die prys onder een of meer pryswenners verdeel kan word – word daar 'n maksimum aan hierdie verdeling gestel?

Daar is geen maksimum op die verdeling van die prys gestel nie, maar die keurkomitee se besluit sal in dié verband en na gelang van die nominasies finaal wees. Indien 'n span natuurwetenskaplikes byvoorbeeld vir 'n besondere projek die prys verower, kan dit gebeur dat die instansie en nie die individue nie, die prys ontvang.

Is hierdie prys spesifiek bedoel vir navorsing wat tans aktief is en publikasies lewer, of sal afgetrede akademici ook kan kwalifiseer vir hul lewensbydrae?

Die prys is gerig op "lewensbydrae", dus is afgetrede akademici beslis nomineerbaar. Persone wat steeds met 'n projek besig is, kan ook in aanmerking kom indien daar voldoende afgehandelde gepubliseerde navorsing is om te beoordeel.

Julle stel dit duidelik dat 'n volledige CV beskikbaar moet wees indien 'n persoon genomineer word, maar wat is nodig by 'n nominasie van 'n instelling of vereniging?

In die geval van 'n instansie of vereniging sal dit noodsaaklik wees om die instansie of vereniging se doelstellings, agtergrond en geskiedenis, asook ander tersaaklike inligting, in te sluit.

Die motivering van die voorstel sal van deurslaggewende belang wees.

Hoe sal die CV anoniem en volledig bekend wees aan die een wat die persoon wil nomineer (die nominasie vind immers plaas sonder dat die een wat genomineer word, hiervan bewus is)?

Dit is onwaarskynlik dat mense wat vir die groot prys in aanmerking kom, nie reeds goed bekend sal wees nie en dat daar nie reeds heelwat tersaaklike inligting, onder andere op die internet, vryelik oor hulle beskikbaar sal wees nie. Ek wil opnuut beklemtoon dat die nominasie, soos jy ook pas genoem het, sonder die medewete van die genomineerde moet gebeur. Die Suid-Afrikaanse Akademie nomineer jaarliks 'n kandidaat, sonder dat die genomineerde daarvan bewus is, vir 'n Nobelprys, en vind dit nog altyd moontlik om 'n volledige CV sowel as dokumente ter ondersteuning van die nominasie te verskaf.

Is die prys oop vir enige wetenskaplike vakrigtings, of is daar sekere afdelings wat voorkeur geniet?

Die prys is vir alle vakrigtings en dissiplines beskikbaar. Die vereiste is egter dat die werk van die genomineerde 'n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal moes gelewer het. Alle nominasies word verwelkom.

 


 

DIE JAN H MARAIS-PRYS: REGLEMENT

  1. Doel: Erkenning vir 'n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaps­taal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans.
  2. Oprigters: Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit Stellenbosch.
  3. Naam: Die Jan H Marais-prys, as erkenning vir die visie van wyle mnr Johannes Henoch Marais van Stellenbosch (1850–1915), veral sy bydrae tot die vestiging van Afrikaans as akademiese taal.
  4. Keuring: Deur 'n wetenskaplik verteenwoordigende keurkomitee van vooraanstaande plaaslike en/of internasionale wetenskaplikes, jaarliks spesiaal saamgestel deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
  5. Nominasies: Die keurkomitee vra vooraf openbare nominasies vir die prys op 'n wyse wat hy goed ag.
  6. Instellings as ontvangers: Die prys is in beginsel vir natuurlike persone bedoel, maar die keurkomitee mag ook besluit om dit aan 'n instelling of vereniging toe te ken wat hom besonder verdienstelik om Afrikaans as wetenskapstaal gemaak het.
  7. Verdeling: Die prys mag in 'n bepaalde jaar tussen meerdere prys­wenners verdeel word, soos die keurkomitee bepaal.
  8. Geen nadoodse toekenning: Die prys mag nie aan 'n oorlede persoon toegeken word nie, maar daar mag 'n nadoodse oorhandiging plaasvind in die geval waar 'n prys reeds toegeken is en die pryswenner voor die oorhandiging te sterwe kom.
  9. Prysgeld: Vyfhonderdduisend rand (R500 000), met periodieke aan­passings, soos bepaal deur die stigters, om die waarde van die prysgeld te behou.
  10. Oorhandiging: Jaarliks op 30 Mei (of so na as moontlik aan dié datum) te Stellenbosch, met die eerste oorhandiging in Mei 2016.
  11. Nietoekenning: Dit staan die keurkomitee vry om in 'n bepaalde jaar geen toekenning te maak nie.
  12. Aanwending van prysgeld: Na goeddunke van die ontvanger.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top