Die intieme musiekspel: ’n onderhoud met André Gerber en Petrus du Preez

  • 0

Musiekblyspele word selde deur Suid-Afrikaanse teaterpraktisyns aangepak vanweë die geweldige produksiekostes, en Suid-Afrikaanse praktisyns, veral Afrikaanse praktisyns, dikwels net klein begrotings het.

Die intieme musiekspel, daarenteen, is ’n vorm van teater wat dit vir praktisyns moontlik maak om musiekspele op ’n ekonomiese en moontlik winsgewende wyse aan te pak, verduidelik André Gerber en Petrus du Preez.

Hulle artikel oor dié onderwerp, “Die oorsprong, ontwikkeling en estetika van die intieme musiekspel, en Fees as ’n Afrikaanse voorbeeld” (September 2018), kan gelees word op LitNet Akademies (Geesteswetenskappe), waar hulle indringend ondersoek na die intieme musiekspel instel.

André en Petrus brei uit oor hulle navorsing.

André en Petrus, julle navorsing handel oor die intieme musiekspel. Definieer asseblief die term intieme musiekspel teenoor musiekspel.

André: As die meeste mense aan die musiekspel (oftewel musical) dink, kom titels soos The Phantom of the Opera, Les Misèrables en Cats na vore. Hierdie spesifieke voorbeelde bevat enorme rolverdelings en benodig dikwels groot stelle (dekor). Die intieme musiekspel neem die vorm, estetiese beginsels en aanbiedingstyl van tradisionele musiekspele en verklein dit aansienlik. Waar tradisionele musiekspele rolverdelings van 20 en meer akteurs het, maak die intieme musiekspel meestal van net vyf of ses spelers gebruik – en dikwels minder. Waar tradisionele musiekspele van groot orkeste gebruik maak, sal die intieme musiekspel net ’n klein ensemble hê – somtyds net ’n enkele klavier.

........................................................................................................

Die intieme musiekspel, daarenteen, is ’n vorm van teater wat dit vir praktisyns moontlik maak om musiekspele op ’n ekonomiese en moontlik winsgewende wyse aan te pak.

........................................................................................................

In julle navorsing bespreek julle die estetika van die intieme musiekspel. Wat is die hoofkenmerke van die intieme musiekspel ?

André: Ons verdeel in die artikel die kenmerke in drie kategorieë, naamlik inhoud, vorm en produksie. Wat inhoud betref, fokus die intieme musiekspel dikwels op ’n kleiner sosiale eenheid, omdat die rolverdeling redelik klein is. Families is ’n vername sosiale fokus. Die emosies wat uitgebeeld word, neig weg van die melodrama van musiekspele soos Les Misèrables of Miss Saigon en beweeg nader aan intieme emosionele uitdrukking – ’n meer beheerste emotiewe aanslag. Die liedjies is gevolglik kleiner en beeld meer delikate gevoelens uit. In plaas van ’n karakter wat histrionies ween, skep die intieme musiekspel geleentheid vir kleiner en meer gekonsentreerde spel. Verder is die intieme musiekspel ook dikwels polities betrokke deur tematiek aan te spreek wat nie noodwendig op ’n groot skaal winsgewend sou wees nie – ’n gay paartjie in ’n hoogs Calvinistiese Christelike milieu byvoorbeeld.

Die vorm van die stuk word uiteraard deur die inhoud bepaal. ’n Eienskap wat byvoorbeeld dikwels voorkom, is ’n gefragmenteerde storievertellingstruktuur. Die narratief word somtyds achronologies aangebied, of somtyds met impressionistiese elemente (soos die vindingryke gebruik van dekor op ’n nierealistiese manier). Dit laat ook byvoorbeeld die vloeibare en metaforiese gebruik van ruimte toe – ’n enkele leë ruimte kan tegelyk ’n kombuis, ’n sitkamer, ’n agterplaas of enige ander ruimte suggereer. Dit benodig net slim regie en ontwerp.

Die “produksie”-element het bloot met die praktiese uitvoering te doen. Gewoonlik speel die intieme musiekspel in ’n baie klein teater en maak gebruik van ’n baie klein orkes. Dit laat toe dat geen klankversterking gebruik hoef te word nie. En somtyds kan jy jou akteurs en musikante kombineer as ’n verdere geldbesparingtaktiek of tematiese element: die akteurs kan byvoorbeeld ook instrumente bespeel en dus ’n dubbele rol vervul – dié van akteurs én musikante – soos in die geval van Fees.

........................................................................................................

Vir ons as teatermakers bly die vraag altyd: Hoekom moet ons dié storie vertel?

........................................................................................................

Julle beslis in die artikel dat “die hoë produksiekoste dit vir (veral Afrikaanse) praktisyns besonder uitdagend maak om musiekspele te skep”. Hoekom juis vir Afrikaanse praktisyns spesifiek?

Petrus: Die vervaardiging van teater is oor die algemeen ’n duur aktiwiteit. Vele vervaardigers is afhanklik van borge, feeste se ondersteuning, of beleggers om die produksies op die planke te bring. Die kompetisie onder vervaardigers is daarom straf om genoeg geld in te samel om produksies te laat realiseer, veral wanneer hulle vir ’n klein pot geld by die staat of kunstefeeste aansoek doen. As hierdie veld nog verder verklein word deur Afrikaanse produksies te skep, beteken dit dat die moontlike gehoor ook kleiner is en dit is daarom moeiliker om die aanvanklike belegging te kan terugwin, veral as daar nie ander ondersteuning soos befondsing vanuit feesoorde (as voorbeeld) beskikbaar is nie. Die Afrikaanse teaterbedryf is ook die ruimte waarbinne ons teater skep, dus is die kleiner studieveld waarmee ons bekend is, ’n logiese beginpunt vir navorsing en skeppingsprosesse.

Hoekom het julle binne julle navorsing juis na die Afrikaanse konteks gekyk?

Petrus: Die studie het oorspronklik binne die Stellenbosse Dramadepartement vorm aangeneem. Verder is André ook oorwegend ’n Afrikaanse teatermaker. Die studente is ook oorwegend Afrikaans magtig. Behalwe hierdie praktiese aspekte, is die tematiese gegewens van die stuk wat geskep is, ook gewortel binne ’n Afrikaanse omgewing. Die familiedrama, die kwessies rondom seksualiteit en die druk wat nog binne spesifieke gemeenskappe (veral die Afrikaanse gemeenskap) rondom hierdie aspekte van die lewe afspeel, was natuurlik ryke materiaal wat in die skeppingsproses ontdek kon word. Vele skrywers werk vanuit die omgewings wat hulle ken, of waar hulle die kennis en begrip van die gemeenskap het. Dit was hier ook die geval gewees. Die skeppingsproses en die navorsing was baie verweef, daarom het die navorsing gefokus geraak op die Afrikaanse konteks.

Julle kom tot die gevolgtrekking dat die intieme musiekspel ’n “doeltreffende vorm kan wees om met verminderde produksiekoste ’n musiekspel op die planke te kan bring”. Julle het al in ’n mate hierop ingegaan, maar is daar enigiets wat julle wil toevoeg? Watter voordele hou die intieme musiekspel vir praktisyns in?

André: Aangesien Suid-Afrikaanse (en veral Afrikaanse) praktisyns dikwels met bitter klein begrotings teater moet skep, beteken dit dat musiekspele gewoonlik hoegenaamd nie aangepak word nie, as gevolg van die enorme produksiekostes. Die intieme musiekspel is ’n vorm wat dit vir praktisyns moontlik maak om musiekspele op ’n ekonomiese en moontlik winsgewende wyse aan te pak. Verder bied dit speelgeleentheid vir ons menigte Afrikaanse akteurs wat besonderse sangvermoëns het, maar nie noodwendig in die klassiekemusiekmilieu werk het nie. Die kleiner ruimtes waarin die intieme musiekspel opgevoer kan word, laat ook toe dat onopgeleide sangers met redelike gemak ’n ruimte met stemklank kan vul.

Julle verwys na Fees as voorbeeld van ’n Afrikaanse intieme musiekspel in julle navorsing. Watter uitdagings het julle in die gesig gestaar met die produksie op die been bring, en wat het julle geleer?

André: Een van die groot uitdagings met die skeppingsproses was die skryf van die lirieke. Om niepatroonmatige lirieke te skryf was ’n besondere uitdaging, en om met interessante ritmes en rympatrone te werk wat nie in 4/4-tyd sit nie, was moeilik. As dit nie in 4/4-tyd is nie, wil Afrikaans ritmies dikwels in 6/8-tyd praat. Omdat mens graag in hierdie musiekspel wou gehad het dat die lirieke ’n gesprekstrant aanneem, is daar dikwels met buitengewone tydmaattekens gewerk, soos 7/8, 8/12, ens. Dit het ook gehelp om ritmiese patroonmatigheid in die rym te vermy. ’n Ander uitdaging met die lirieke was beslis die dubbelnegatief in Afrikaans. Mens wil nooit die laaste “nie” in ’n sin sny nie, omdat dit hoogs kunsmatig klink (en ’n beduidende kenmerk van populêre musiek is), maar dit los mens met onopgeloste klemme in die musiek. Dit het veroorsaak dat ek baie selde enige “negatiewe” stellings in die lirieke geskryf het.

’n Ander element was die feit dat daar met studente-akteurs gewerk is. Daar is ook van hulle verwag om buitengewone vaardighede te bemeester. Benewens die sangvereistes, moes die akteurs instrumente bespeel. Dit was vir hulle beslis uitdagend om instrumente wat hulle moontlik laas op skool gespeel het, weer af te stof en moeilike parte te moet memoriseer en te speel terwyl hulle toneelspeel en moet sing.

“Die beskrywing van die intieme musiekspel is egter nie in vaste vorm gegiet nie en dit hang van die teatermakers af hoe hierdie aspekte toegepas word. Die uitdaging van die intieme musiekspel is om, net soos enige ander teatervorm, ter sake te bly om te verseker dat die kommentaar wat gelewer word en die stories wat vertel word, waarde binne die gemeenskap het.”

Is dit belangrik dat toneelstukke sosiale kommentaar van een of ander aard lewer?

Petrus: Hierdie is ’n oeroue kwessie in die teater en nog steeds is daar nie ’n finale antwoord daarop te vinde nie. Ons teatermakers het die geluk dat ons redelik vinnig op eietydse kwessies kan kommentaar lewer. Die ou beskrywing van teater as ’n spieël van die samelewing bly daarom nog steeds van toepassing. Selfs in oënskynlike komedies kan daar ook skreiende sosiale kommentaar gelewer word. Binne die musiek(bly)spel is dit ook nie vreemd dat sosiale kommentaar, dikwels wel op ’n baie vermaaklike wyse, gevind kan word nie. Vir ons as teatermakers bly die vraag altyd: Hoekom moet ons dié storie vertel? En die dinge wat ons pla, die sosiale kwessies, word natuurlik ’n bron vir die ontwikkeling van nuwe werk. Ons wil nie hierdeur sê dat alle werk noodwendig “betrokke” werke moet wees nie, maar as jy ’n kans het om jou stem te verhef, hoekom dit nie gebruik nie?

Wat is jul raad vir praktisyns wat intieme musiekspele op die planke wil bring?

Petrus: Die eienskappe van die intieme musiekspel is so plooibaar dat die teatermakers letterlik met die akteurs wat beskikbaar is, in ag genome hulle verskillende vaardighede, ’n nuwe werk kan skep. Die feit dat die vervaardigingskostes van so ’n produksie aansienlik minder is as dié van ’n volskaalse musiekspel, maak hierdie skeppingsproses ook meer lewensvatbaar.

Binne die skeppingsproses moet die akteurs en die vervaardigingspan natuurlik ook genoeg tyd hê om in gevalle waar die akteurs musikale vaardighede moet opknap, dit op so ’n mate onder die knie te kan kry dat die uiteindelike produk nie “afgeskeep” of amateuragtig lyk nie.

Geld is natuurlik altyd ’n kwessie: dus is van die beste raad wat ’n mens kan gee, om seker te maak dat jy as vervaardiger genoeg geld het om jou mense te betaal. Daar loop soveel stories rond van professionele teatermakers wat nie die akteurs of tegnici betaal nie. Die intieme musiekspel is ’n manier om werk te kan skep, akteurs se vaardighede te ontwikkel en vermaak aan ’n gehoor te bring. Op die ou end bly die gehoor ’n baie belangrike aspek, daarom is dit noodsaaklik dat jy as teatermaker weet vir wié en wáárom jy die werk skep.


 

André Gerber is ’n jong teaterregisseur en skrywer. In 2017 voltooi hy sy PhD in drama- en teaterstudie aan die Universiteit Stellenbosch, waar hy vir die boek en regie van ’n nuwe Afrikaanse intieme musiekspel, getiteld Fees, verantwoordelik was. Hy is ook dosent in regie, toneelspel en teaterskepping in die Departement Drama van die Universiteit Stellenbosch.

Petrus du Preez het kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en sy nagraadse studie aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, waar hy sy doktoraat in drama- en teaterstudie behaal het. Hy is tans voorsitter van die Departement Drama, doseer teaterwetenskap en toneelspel, en dien as redakteur van die South African Theatre Journal.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top