
Die huilende bruid & ander versinsels
Dominique Botha
Uitgewer: Painted Dog Press
9781067185565
Afrikaanse kortfiksie trek onlangse jare aan die kortste ent. Uitgewers verkeer (altyd, skynbaar) onder finansiële druk, en dit het gewoonlik vir die algemene leser tot gevolg dat die verskeidenheid leesstof op een of ander wyse ingeperk word. Ten spyte daarvan dat kortverhale in Afrikaans ’n lang, indrukwekkende en sterk literêre tradisie het, vind ’n mens deesdae heelwat minder kortverhaalbundels op die winkelrakke as voorheen. Dit het natuurlik nie net te doen met die sente wat die uitgewers moet omdraai nie – daar moet ook erken word dat lesers se smake mettertyd verander, en kortverhale is nie oor die algemeen meer sulke gewilde leesstof as wat dit eens was nie.
’n Mens is daarom bly wanneer jy ’n boek soos Dominique Botha se Die huilende bruid & ander versinsels (hierna Die huilende bruid) op boekrakke sien. Soos met Botha se vorige twee werke, haar debuutroman Valsrivier (2013, Umuzi) en debuutdigbundel Donkerberg/Bloodwood (2021, Dwarsrivier-Uitgewers), word daar in haar nuutste boek met grense gespeel: Valsrivier is geskoei op Botha se grootwordjare op ’n plaas in die Vrystaat en kan as outofiksie geklassifiseer word, terwyl daar ook outobiografiese oorvleueling bestaan tussen die digter en spreker in Donkerberg/Bloodwood. Gevolglik is dit nie verbasend nie dat hierdie outofiktiewe spel in Die huilende bruid aangetref word, en dit word op die flapteks bevestig deur verwysings na die bundel as ’n “versameling kort skryfwerk” en “outobiografiese fiksie”.
In Die huilende bruid is beweging, reis en verhuising ’n voortdurende tema, en in 19 sketse vergesel die leser die verteller op letterlike en figuurlike besoeke en herbesoeke. As ’n mens bekend is met Botha se roman en digbundel, word jy vinnig bewus van die opsetlike skakels wat tussen haar vroeëre werke en Die huilende bruid geskep word. Vaagweg kom dit neer op ’n voortgesette vertelling van die hoofkarakter Dominique se lewe ná die einde van die gebeure in Valsrivier, al is dit nie ’n gewoon lineêre vervolg nie. Veeleer sien ’n mens weer karakters wat in Valsrivier bekend gestel is, wat nou weer in Die huilende bruid verskyn, soos wat sommige van hulle ook in Donkerberg/Bloodwood opgeroep is. Die eerste hiervan is die oorlede broer Paul wie se gedig die sketse in Die huilende bruid voorafgaan:
kom saam met my
na die kaalgestroopte veld
waar die wind
ons sal suiwer
en saamvoeg
jou in my in
my in jou in
Hierdeur word die simboliese teenwoordigheid van Paul weer eens bevestig: die geliefde broer, die verlore eersgeborene, die denker en digter. Behalwe dan natuurlik vir Dominique self, tref ons ook haar vader Andries aan, na wie daar meestal net verwys word as “Pa”. Soms is hy letterlik deel van die gebeure in die sketse, terwyl hy ander kere ’n soort simboliese teenwoordigheid aanneem. Dit sien ons in sy uitbeelding as patriarg van die Botha-familie (12–21), wat aangevul word deur sommige van die foto’s wat die openingskets vergesel. Op bladsy 14 verskyn daar byvoorbeeld ’n foto van OR Tambo en Pa, en aan hulle regterkant staan jong Dominique, hoewel helfte van haar afgesny word. Sodoende word die oorheersende rol van vaderfigure in Afrikanergesinne beklemtoon. Die ingeslote foto’s, skilderye, ensovoort in die teks is dus nie bloot vir versiering nie – hulle slaag daarin om die inhoud van die teks te verdiep en te verryk. (Dit is jammer dat hulle plasing tipografies nogal tekortskiet. Dit voel soos beelde wat in ’n Word-dokument ingelas is, maar asof die uitlegkunstenaar nie die teks en beelde voldoende kon spasieer nie.)
Die uitbeelding van Pa is nie ongenuanseerd nie, want net omdat hy met tye ’n onverbiddelike patriarg is, is hy nie ’n booswig nie. Juis op verskeie ander plekke in Die huilende bruid dien hy as ’n kwynende geheue van ’n Suid-Afrika wat nie meer bestaan nie, en as ’n ontnugterde dromer wat gehoop het dat sy land anders sou uitdraai as wat dit het. Veral die skets “’n Laaste hoera” wys die broosheid én mooiheid van nostalgie en die newelagtigheid van die verlede. Die figure in hierdie boek is dus afgerond en opmerklik menslik in hulle uitbeelding.
Ander familielede kry gedetailleerde vertellings: grootouers (“Die waters van my rus” [25]); ’n interessante en tragiese grootoom (“Elke familie het een” [37]); en ’n tante (“’n Laaste hoera” [89]), terwyl die moeder en sommige van die sibbe uit Valsrivier ook weer te siene is, al is dit in minder detail. Verder figureer talle ander interessante figure, van ’n arm Joodse violis (“Ons laaste violis” [111]), ’n eksentriese vrou waarby die verteller ’n huis gekoop het (“De breede & de smalle weg” [53]) tot die joernalis Rian Malan (“Gerugte van Rian” [163]) en die digter Breyten Breytenbach (“Danslesse vir die gevorderde van ouderdom” [151] en “’n Heelal het ons ontval” [175]).
Soos die geval was met Botha se roman, is die prosa in Die huilende bruid vloeiend en liries – veral wanneer dit gaan om die landskap. So skryf sy dat September in die Vrystaat die tyd is “wanneer die vlies van somer nog so dun is soos papawers, net ’n belofte. ’n Veraf rammelende belofte” (39). Ook lig ek graag hierdie liriese beskrywing uit: “Die aandster het saam met die perskes aan die takke kom hang” (110). En dan is daar langer beskrywings wat die omgewing mooi skets (71):
Wanneer die son agter die pas insink, word Drakenstein se kranse jeneverpienk. Haar hellings dra ’n romp van fynbos, met ’n soom van sonvoëls, en om haar polse ’n ruiker van bethlehemsterretjies op murmelende stingels wat die blye tyding van die lente met wit klokkies verkondig, op stele wat tjienk as jy hulle teen mekaar opvryf. Tjienk, tjienk, tjienkerientjies.
Talle beskrywings van of opmerkings deur karakters is spitsvondig humoristies. Iemand was byvoorbeeld “brandmaer en het ’n Eugene de Kock-donkerbril gedra wat sy nooit afgehaal het nie” (56), en daar is sprake van hoe tee op ’n spesifieke plaas beter smaak as op enige ander plek, want die “boorgatwater is mineraalryk, met kalkreste wat die water sagter en soeter maak as elders, en saam met die vlermuise wat in die opgaartenk versuip, sorg dit vir die heel beste tee” (43). Hierdie humor dien gereeld om gevoelens van verlies en nostalgie in bedwang te probeer bring, soos veral in “’n Laaste hoera” (89), wat handel oor ’n besigtigingstoer van Afrikanergedenkwaardighede in die Vrystaat. Heel betekenisvol eindig hierdie skets met ’n paar verwysings na die werk van Karel Schoeman, wat die leser dwing om hierdie vermaarde prosaïs én die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse geskiedenis weer te waardeer. Die woordrykheid van sekere beskrywings mag dalk nie in alle lesers se smaak val nie, maar ek beskou dit nie as ’n skrywersaanwensel nie. Dit is vir my deel van die sjarme van Botha se prosa, soos haar versigtige gebruik van hedendaags weinig gebruiklike Afrikaanse woorde. Byvoorbeeld, wat ’n lekker woord is “deugniet” (38) darem nie.
Ten spyte van die meer melankoliese toonaard van sommige van die sketse in Die huilende bruid, is alles nie onophoudende nostalgie en wanhoop nie. In “Skoppensboer” (101) tref ons die verteller en haar pa aan by Landbouweekblad en AgriSA se landbouberaad wat in 2018 in Bela-Bela plaasgevind het. Hier sien ’n mens tekens van hoe landelike gemeenskappe – en veral boere – meer doen om ’n progressiewe toekoms te omarm as wat ’n mens sou wys word uit algemene mediaberigte. Die hoop is vaag, maar dit beskaam nie.
Uiteindelik is Die huilende bruid ’n plesier. In die sketse is daar gesprekke met talle bekende figure, maar ook alledaagse mense, en tussen die verwysings na die Afrikaanse letterkunde en klassieke musiek is daar sprake van kontemporêre popkultuur en hoe die kuns en letterkunde dikwels deur laasgenoemde verdwerg word.
Botha stel in die erkennings dat sy “vrymoediglik vervorm” het uit haar vorige werk (213), en sommige lesers wat haar roman, digbundel en ’n paar stukke wat op wyle Vrye Weekblad verskyn het, goed onthou, sal waarskynlik hierdie “vervormings” opmerk. Is hierdie soort herhaling dalk ’n bietjie steurend? Dit kan wees, juis omdat ’n mens vir ’n oomblik voel jy lees weer dieselfde ding – soveel te meer wanneer dit oor dieselfde karakters en gebeure as voorheen gaan. Die kere dat jy wel so voel, is egter beperk, en oor die algemeen word daar ook op hierdie vervormings uitgebrei, wat die groter gesprek tussen Botha se roman, digbundel en hierdie versinsels goed vaslê. Uiteindelik was ek as leser bly om weer ’n prosawerk van Botha te kon lees. ’n Mens hoop terdeë dat dit nie die laaste is nie.

