
Foto 1: Raymond Koopstad en Mogale Sebopetsa,hoof van Departement Landbousake in die Wes-Kaap en foto 2: Raymond Koopstad (foto’s: Gerrit Rautenbach)
Inleiding: Grondonteiening sonder vergoeding, land grabbing en ’n warboel ander dreigterme het boere al van lankal af benoud. Demokrasie verg uiteraard regverdigheid vir almal en landbougrond is nie ’n uitsondering nie. Maar maak die toekenning van ’n plaas sonder meer van iemand ’n boer?
Daar is derduisende hektaar se plase in staatsbesit, en sedert demokrasie is ’n menigte van die plase al aan voorheen benadeeldes uitgedeel. Op sigself is dit nie ’n probleem nie, maar wat wel ’n probleem is, is: Wat maak die nuwe grondeienaars met daardie plase? Tensy hulle reeds omvattende boerderykennis en ’n ondersteuningsnetwerk het, sit hul met ’n wit olifant. Die situasie gee substans aan die idioom “boer agteruit”.
.....
Benewens grond is ook vaardighede, kapitaal, markte, geskiloplossing, uittreestrategie en ’n ondersteunende omgewing nodig.
.....
Ongelukkig besef die beleidmakers en politici nie dat al die kritieke suksesfaktore aangespreek moet word om ’n volhoubare boerderybesigheid te skep nie. Benewens grond is ook vaardighede, kapitaal, markte, geskiloplossing, uittreestrategie en ’n ondersteunende omgewing nodig.
Miskien begin dink die owerhede toe dat ’n lankverlate plaas in onbruik nie die antwoord is nie. Hulle begin kyk na woekerende en winsgewende produserende boerderye. Hulle maak geluide soos reeds genoem: grondonteiening sonder vergoeding en diesulkes. Hulle herinner ons nog kort-kort daaraan dat hulle dit kan doen.
Die feit van die saak is, die kommersiële landbouprodusente hou die trollie vol kos vir die hele land. Nie net omdat hulle grondeienaars is nie, maar ook die vaardighede en passie het om dit te bewerk. Feit. Sou die regering voor die voet onteien, gaan voedselsekerheid en vertroue in die hek duik. Dan het ons, soos Zimbabwe, ’n mislukte staat sonder genoeg kos.
.....
Sou die regering voor die voet onteien, gaan voedselsekerheid en vertroue in die hek duik.
.....
In 2012 het Gerrit van Vuuren, ’n prokureur in Ceres, ’n alternatiewe raamwerk begin bou. Na twee loodsprojekte geïmplementeer is, het hy saam met boere die privaat inisiatief PALS in 2015 in Ceres begin. Alhoewel die ontknoping van apartheid en regstellende aksie ’n kompleksiteit van formaat is (steeds), het Gerrit besef om net onwerkbare regeringsbeleid te kritiseer, is ook nie ’n oplossing nie en het hy deur die PALS-raamwerk al die kritieke suksesfaktore aangespreek.
PALS is die akroniem vir Partners in Agri Land Solutions, en die sleutelwoord is partners. Dit gaan alles oor vennootskappe. PALS. Pelle gee om vir mekaar.
Soos die meeste werkbare entiteite is dit ’n eenvoudige formule van mede-aandeelhouding wat as ’n driehoek gestruktureer is: ’n gevestigde boer as mentor aan die een kant en ’n potensiële nuwe-era- swart boer aan die ander kant met ’n landboumaatskappy wat die spits van die driehoek vorm. ’n Aandeelpersentasie word bepaal, maar die swart kant het die meerderheid. Die grond word gekoop en in die maatskappy se naam geregistreer, maar kan ook op lang termyn van bestaande swart of wit eienaars gehuur word. Terwyl vennote mede-aandeelhouers is, dra hul saam aan die risiko, maar groei ook saam.
Met die PALS-raamwerk word meer as grond aangespreek en kry aspekte soos opleiding, mentorskap en gesonde besigheidsbeginsels die nodige aandag. PALS fasiliteer onderverdelings, water- en finansieringsaansoeke, sowel as regsdienste. Opleiding word ook in verskillende modules vir nuwe direkteure en aandeelhouers aangebied. Met verloop van tyd kan ’n nuwe-era-boer op sy eie regkom en nog grond koop, of in die waardeketting belê.
Maar waar is hierdie nuwe-era-boere?

Georgina Hewitt en Raymond Koopstad (foto: Gerrit Rautenbach)
Raymond Koopstad en sy vrou Mary boer al sedert 2003 op die plaas La Vouere net buite Ceres in die Witzenberg-distrik van die Wes-Kaap. Aanvanklik, tesame met 30 lede van die La Vouere-trust, het hulle hierdie 110 ha-plaas gekoop met fondse afkomstig van LRAD (Land Redistribution and Agricultural Development Policy). Dit is regeringsbeleid wat tot stand gebring is om voorheen benadeelde swart, bruin en Indiër-burgers met befondsing te help om eienaarskap van grond te verkry.
“Na ’n paar moeilike jare het ons besef ons sakemodel is nie volhoubaar nie. Ons moes óf ’n ander rigting inslaan óf die plaas verkoop,” verduidelik Raymond. In 2015 het PALS formeel tot stand gekom en in dieselfde jaar het Raymond en Mary die ander aandeelhouers uitgekoop. ’n Nuwe maatskappy, La Vouere (Edms) Bpk, is gestig met Raymond en sy gesin as die enigste aandeelhouers.
.....
PALS laat jou op ’n nuwe manier oor grondhervorming dink – grondhervorming wat ekonomiese groei, werkskepping, voedselsekerheid en sosiale harmonie bevorder.
.....
Dit was deur PALS se betrokkenheid dat Raymond ’n vennootskap met Peter Wolfaardt en sy suster, Georgina Hewitt, van Verdun Estates, gevorm het. Die vennootskap, La Vouere Stonefruit (Edms) Bpk, is werksaam op produksie- sowel as bemarkingsvlak met La Vouere (Edms) Bpk, die meerderheidsaandeelhouer wat as grondeienaar die grond en water verskaf, terwyl Verdun Estates die minderheidsaandeelhouer is en die verpakkingsinfrastruktuur, bemarking, sowel as tegniese en administratiewe ondersteuning verskaf.
In minder as agt jaar is La Vouere nie net stewig gevestig nie, maar het hulle ook uitgebrei met die aankoop van addisionele water, wat beteken meer bome kon aangeplant word, en ander infrastruktuurverbeterings soos nette en omheinings aangebring word. Meer bome beteken meer vrugte, wat eweneens meer werkverskaffing beteken. Hulle boer vooruit.

Peter Wolfaardt en Raymond Koopstad (foto: Gerrit Rautenbach)
Vandag word Raymond gereken as een van die top uitvoervrugteboere in die land, en La Vouere gaan van krag tot krag. En die Koopstad-verhaal is net een van die suksesverhale. PALS is tans betrokke by meer as 45 boerderybesighede met wesenlike swart aandeelhouding en drie aparte PALS-sentrums in Ceres, Reitz en Mbombela.
Die hoofrede vir die sukses van PALS is dat dit nie op skuldgevoelens van wat in die verlede gebeur het, gebou is nie, maar op konkrete sakebeginsels. Dis filantropies en ’n beter alternatief. PALS laat jou op ’n nuwe manier oor grondhervorming dink – grondhervorming wat ekonomiese groei, werkskepping, voedselsekerheid en sosiale harmonie bevorder. Dis eenvoudig die regte ding om te doen.
Lees ook:
Toekomsgerigte grondhervorming moet ideologiese kitsoplossings vervang
Staatsvoogdyskap van grond: ’n realistiese voorstel vir effektiewe grondhervorming?
LitNet Akademies-onderhoud: Frederik van Dyk oor grond, grondhervorming en grondonteiening
LitNet Akademies Weerdink: Grondhervorming, onteiening en artikel 25 ‒ stand van sake

