Die fees wat waai(b)! Die 2020-Suidoosterfeesprogram beloof ’n fees-ervaring uit die boonste rakke

  • 2

Die 17de Suidoosterfees word van 27 April tot 3 Mei 2020 in Kaapstad aangebied. Feesgangers kan hul vere regskud vir ’n verskeidenheid uitstekende musiek- en toneelproduksies, skaterlagkomedies, interessante gesprekke en aktiwiteite. Daar is iets vir almal se smaak en met Suid-Afrika se voorste kunstenaars op die feesverhoog, het Kapenaars beslis rede om windmaker te voel.

Die volledige program is nou beskikbaar op die webwerf (www.suidoosterfees.co.za) en kaartjies kan deur Computicket bespreek word.

Jana Hattingh, die nuwe uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, sê: “Watter voorreg om te kan feesvier rondom die kunste. Ons nooi almal uit om saam met ons fees te hou. Die program bied ’n groot verskeidenheid produksies waarin bekende en opkomende sterre optree. Dit is so saamgestel dat dit in ’n ieder en elk se smaak sal val. Die Suidoosterfees is die fees vir almal.”

Die verskeidenheid teateraanbiedings bring die beste produksies na Kaapstad. Adam Small se klassieke Krismis van Map Jacobs en die gewilde Die dinge van ’n kind, gegrond op Marita van der Vyver se trefferroman, is op die planke. Brendon Daniels en Tinarie van Wyk-Loots speel in Opdrifsel, ’n drama oor ouers se verlies na die dood van hul tienerseun.

Wessel Pretorius regisseer Wilde-Als met Dawid Minnaar en Jana Cilliers, ’n drama oor ’n beroemde skrywer wat sukkel om haar laaste roman te voltooi. Ivor Price se Namatjenners met Danneline Ramsden, Vito Heyn en die Gousblom-Namastappers beloof ook om feesgangers gaande te hê.

Die belowende jong akteur Ben Pienaar skitter in sy rol as Ludwig von Beethoven, wat aan die einde van sy lewe doof geraak het. Beet word in 2020, 250 jaar ná Beethoven se geboorte, deur Planet Blue op die planke gebring.

Bekende kos-ghoeroes Marinda Engelbrecht en Herman Lensing sorg vir groot vermaak in die produksie Crimplene Cuisine. Kroeskop, met Braeden Buys en Jumaine M. Hansen, is ’n skreeusnaakse produksie wat in Kraaifontein afspeel. Ikhraam Botha en Whadia Samuels prikkel die lagspiere in Ikie en Mo wil trou, ’n musiekkomedie met die Kaapse Vlakte as ruimte.

Komediante op die fees sluit in: Marc Lottering, Casper de Vries, Schalk Bezuidenhout, Melt Sieberhagen en Nik Rabinowitz. Dié komedie-legendes is deel van die fees se stand-up-program. Nuwe sterre op die komediehorison, Alfred Adriaan en Mariette Loubser, kom wys ook hul staal en sal feesgangers ongetwyfeld laat kruip van die lag.

Verskeie musiekhoogtepunte maak deel van die feesprogram uit. Kyle Shepherd, die man agter die klankbaan van die tweede Fiela se kind-rolprent, gee saam met die Kaapstadse filharmoniese jeugorkes ’n uitvoering van die fliek se klankbaan.

Nicole Holm is die regisseur van Smeltkroes, ’n aanbieding waarin die enorme veelsydigheid van Afrikaanse musiek ten toon gestel word. Dié produksie spog met kunstenaars soos Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry, Devonecia Swartz, Breyten Treurnicht, Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode. Fred den Hartog, Hunter Kennedy, en Rufio Vegas en vele ander is saam met ’n string musiekmakers te sien in Kaapsentriek, ’n kleurvolle multidissiplinêre mengelmoes wat Afrikaans se musikale verskeidenheid en unieke karakter vier. Rymkletsers het natuurlik ’n ereplek op die Suidooster-verhoog, en in Rymklets-Republiek: Room & Drome kom van die land se voorste hip-hop stemme byeen vir ’n onvergeetlike fees-ervaring.

Kobus Hanekom en Camillo Lombard, saam met Northlink Kollege-studente, is verantwoordelik vir Once on This Island, ’n aangrypende verhaal oor ’n jong meisie wat verlief raak op ’n man wat haar nie beskore is nie. Die begrafnis, met Leatitia en Japie Solomons, en Christy Ann Julies, bied ’n skreeusnaakse musikale blik op die onderlinge dramas wat gewoonlik by begrafnisse afspeel.

Rafiek Mammon en Gary Naidoo sorg vir ’n verskeidenheidskonsert uit die boonste rakke. The Variety Show that Skriks vir Niks word in Artscape se Operahuis aangebied. Anna Davel en Jaconell Mouton is te sien in Shirley Bassey – Diamonds are Forever, ’n aanbieding wat die beroemde internasionale sangster huldig. Buenos Afrika met Silvia Otero delf terug na die ontstaan van die tango in die 1880’s toe ’n smeltkroes van kulture uit die Amerikas, Europa en Afrika bymekaargekom het in dans, sang en musiek. Die produksie se Latynse hartklop sal feesgangers meevoer op wieke van verlange, weemoed en passie.

Lynelle Kenned en Niël Rademan is te sien in A Night at the Musicals, waarin treffers uit muskiekblyspele uitgevoer word. Buhle Ngaba se Kanna-bekroonde Swan Song, wat geskryf is toe Ngaba by die Royal Shakespeare Company was, beloof om ’n feeshoogtepunt te wees.

Klassiekemusiek-produksies sal sonder twyfel groot byval vind. Die bekende AGL Opera-geselskap vier hul vyfde bestaansjaar by die Suidoosterfees met ’n aangrypende aanbieding, The Elixir of Love. Landscapes for Guitar, met onder meer Nina Fourie-Gouws, Gerard Seymour en Che Adams, kombineer klassiekekitaar-klanke met animansiekuns en flamenco-dans. Jeremy Quickfall en die choreograaf Shaun Klaasen span talente saam in Jeremy and Friends, ’n produksie waarin musiek, dans en ’n liriese sopraanstem feesgangers tussen verskeie genres en oor vyf oktawe heen meevoer. 

Così fan Tutte Alla Breve met studente van Stellenbosch Universiteit se sangdepartement, bring klassieke klanke met ’n moderne inslag na die feesverhoog. Dié weergawe van Così fan Tutte speel af in ’n dameskroeg aan die Weskus en sal gehore op die punte van hul stoele hou. Corneil Muller en Lucas Heinen sorg in Corneil Muller vir ’n musikale kragtoer wat die hartsnare sal roer.

Kaapstad is aangewys as gasheer vir Internasionale Jazzdag op 30 April 2020. Jazz-liefhebbers kan hulle dus gereedmaak vir toonkrul-aanbiedings op die fees. Verskeie jazz-aanbiedings gaan die fees met ’n unieke Suid-Afrikaanse ritme laat pols. The Unity Band, onder leiding van Lumanyano ‘Unity’ Mzi, bring ’n kontemporêre Suid-Afrikaanse waai(b), met verskeie invloede, onder meer jazz, hip-hop, salsa en funk.

Die Suidoosterfees het ’n trotse vennootskap met verskeie instansies om jong, opkomende kunstenaars by te staan en ’n vastrapplek in die bedryf te gee. Die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DKES) se jaarlikse dramafees en -kompetisie word by die fees tot ’n hoogtepunt gevoer wanneer die finale kompetisierondte gehou word en die wenstuk in die Arena Teater debuteer.

Die fees se NATi Jong sterre-komponent, in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting en Artscape, bied ’n professionele verhoog aan talentvolle jongelinge in die teaterbedryf. Produksies word geslyp en afgerond onder leiding van die bekwame mentors Amy Jeptha en Rafiek Mammon. Herschelle Benjamin, Kanya Viljoen, Du Toit Albertze, Tasneem Daniels, Keanen Engel en Stephren Saayman is die jong sterre wat in 2020 by dié uitstekende ontwikkelingsprojek baat.

Die ATKV en Rapport se Harmonie-koorkompetisie, wat in die lewe geroep is om nie-professionele kore in die Wes-Kaap te ontwikkel, verleen oudergewoonte ekstra glans aan die fees. Sanggroepe en kore uit die Karoo, Swartland, Boland en Kaap word met behulp van slypskole deur kundiges afgerond vir deelname aan die kompetisie by die fees. Die ATKV-Koorgala is al ’n instelling by die Suidoosterfees en gewis ’n programhoogtepunt. Wenkore tree op saam met die vorige ATKV-Muziq- en ATKV-Musiqanto-wenners.

Die Jakes Gerwel Stigting se gespreksreeks bring pitkos vir die siel na die Suidoosterfees. Gesprekke wat dwingende kwessies wat ons samelewing raak aansny, word gevoer. Skrywers soos Etienne van Heerden, Azille Coetzee, Rachelle Greeff, Chase Rhys, Jonathan Ancer, Shirley Gunn en Shanil Haricharan kom praat oor hul boeke wat om verskeie redes opspraak verwek.

Jan-Jan Joubert kom verduidelik vir Heindrich Wyngaard of Suid-Afrika oukei gaan wees. Brett Michael Innes, René van Rooyen en Helena Springs praat oor hoe hulle Afrikaanse boeke vir die silwerdoek verwerk het. Sosiale en taal-kwessies word deur kundiges belig. Ivor Price en Kobus Louwrens gesels oor die omstrede grondkwessie, en Kim Windvogel en Kelly-Eve Koopman, skrywers van They Called Me Queer, vertel van voortgesette diskriminasie en geweld teen queer Suid-Afrikaners. 

Die ATKV nooi kultuurleiers, opvoedkundiges, die jeug en die publiek na die tafel om saam te praat oor Afrikaans en verdere moontlikhede vir die bevordering van kohesie. Willa Boezak, Anzil Kulsen, Marius Swart en imam Hashim Sali besin oor die herkoms van Afrikaans en taalvariante, en Hein Willemse kom praat oor die onslape Achmat Davids se Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915.

Bogenoemde is enkele hoogtepunte op die 2020-feesprogram. Vir ’n volledige oorsig, besoek die webwerf www.suidoosterfees.com.

Die Suidoosterfees word moontlik gemaak deur die ruimhartige ondersteuning van die volgende borge en vennote: Media24, die Departement Kuns en Kultuur, Stad Kaapstad, kykNET en NATi.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Tasneem Daniels

    Tramakassie virrie mention, LitNET! Was leqqa om julle te ontmoet! Kom kyk ose shows op Vrydag 1 Mei 2020 innie Arena Theatre- julle gat julle klaa lag! 🙂 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top