
Foto deur Dorian Hurst van Unsplash
...
Ons het nie ’n tekort aan goeie nuus nie. Miskien het ons ’n tekort aan aandag daarvoor.
...
In Albanië vertel ’n man vir een van my Britse vriendinne dat hy nie genoeg geld het om kos te koop nie. Hy is gekwalifiseerd, maar werk as ’n straatskoonmaker. Sy kwalifikasie beteken nie veel as daar nie werk is nie, of as jy nie die regte mense ken nie. Hy probeer bloot van dag tot dag oorleef. Volgens my vriendin moet baie onderwysers in Albanië ook ’n tweede werk doen om kop bo water te hou. In soveel lande is hierdie deuntjie bekend.
My vriendin woon in Tirana en het verskeie betogings bygewoon. Sy vertel van studente met grade, maar sonder werk; van mense wat dit oorweeg om die land te verlaat; en van ’n groeiende gevoel dat die stelsel eenvoudig nie vir gewone mense werk nie.
Terwyl sy met die straatskoonmaker gesels, waarsku hy haar skielik om te hardloop. Volgens haar het die polisie pas ’n traangashouer van ’n nabygeleë gebou afgevuur. Niemand in hul onmiddellike omgewing was – sover hulle kon sien – besig om moeilikheid te maak nie.
En dan, in dieselfde stad, staan ’n betoger met ’n visstok in sy hand. Aan die lyn hang ’n croissant. Hy swaai dit voor die polisie rond asof hy probeer om ’n vis te vang. Bo die beeld op sosiale media staan: “Ju lutem mos provokoni policinë!” – “Moet asseblief nie die polisie uitlok nie!”
Ek weet nie wat my die meeste tref nie: die vreemdeling wat my vriendin probeer beskerm, die traangas, of die feit dat iemand te midde van al hierdie chaos gedink het ’n croissant aan ’n visstok is presies wat die situasie nodig het.
En dit laat my wonder: Hoe het ons, met al ons tegnologie, vooruitgang en eeue se geskiedenis agter ons, steeds hier beland?
Dieselfde probleme, net met beter wi-fi
In 1789 het die Franse Revolusie ontstaan teen ’n agtergrond van ekonomiese ongelykheid, politieke wantroue en voedseltekorte. Die gewone burger het gevoel dat die stelsel hom nie verteenwoordig nie.
Klink dit bekend?
Natuurlik het ons sedertdien vooruitgegaan. Maar mense wil steeds veilig voel, ’n bestaan kan maak, en glo dat harde werk iets beteken.
Ons het die pamflet met die slimfoon vervang. Die agterdog het saamgekom en elke tweede Jan Rap en sy maat trek ’n tamatiekissie nader om hul opinie te lug.
Wanneer word frustrasie ’n revolusie?
Die sosiale sielkundiges Martijn van Zomeren en sy kollegas wys dat drie dinge belangrik is vir kollektiewe optrede: Mense ervaar onreg, identifiseer met ander wat dieselfde ervaar, en glo dat hulle saam iets kan verander.
Wanhoop alleen bring nie noodwendig mense op straat nie. Om te protesteer moet daar ironies genoeg nog ’n bietjie hoop oor wees. Nie noodwendig hoop in die regering nie, maar hoop in mekaar.
Wat my interesseer, is die gaping tussen verwagting en werklikheid. Ons word groot met die idee dat onderwys geleenthede skep en harde werk beloon word. Wat gebeur wanneer mense alles doen wat hulle veronderstel is om te doen, maar steeds nie ’n lewe kan bou nie? Hoeveel Suid-Afrikaanse Gen Z’s sal eendag hul eie huise kan bekostig indien hulle nie erf nie?
Die revolusie het nou ’n algoritme
In Twitter and tear gas wys Zeynep Tufekci hoe sosiale media mense vinnig kan mobiliseer. Maar dit is makliker om ’n skare met ’n hutsmerk bymekaar te bring as om ’n beweging te bou wat verandering kan volhou.
En wat verkies die algoritme? ’n Rustige vergadering oor watertekorte, of ’n brandende motor?
Ons het nog nooit soveel maniere gehad om ons stemme te laat hoor nie. Ek is net nie seker ons het beter geword om na mekaar te luister nie.
Is sosiale media die nuwe guillotine? ’n Video of beskuldiging kan binne ure ’n reputasie vir altyd stil maak. Soms ontbloot dit werklike magsmisbruik. Ander kere versprei ’n halwe waarheid vinniger as enige regstelling.
Maar is openbare vernedering dieselfde as geregtigheid? En wie hou die digitale skare verantwoordelik?
Wie ken Onagawa?
Ek het dikwels ’n voorbeeld uit Japan in my klaskamer gebruik wanneer ek met leiers in kernkrag gepraat het oor hoe slegte nuus deur megafone uitgebasuin word, terwyl goeie nuus selde die voorblaaie haal.
Op 11 Maart 2011 het ’n verwoestende aardbewing en tsoenami Japan getref. Fukusjima het wêreldnuus geword toe sy veiligheidstelsels gefaal het. Maar ek is amper seker jy het nog nooit van Onagawa gehoor nie. Dié kernkragsentrale, selfs nader aan die aardbewing se episentrum, het sy reaktors veilig afgeskakel. Die aanleg was hoër gebou en beter teen die tsoenami beskerm; mense uit die omgewing het selfs daar skuiling gevind.
Onagawa het nie sonder skade daarvan afgekom nie, maar ’n kernramp is voorkom. Algoritmes hou nie van hierdie tipe nuus nie. En dit is juis die punt: Ons onthou die ramp wat gebeur het, nie die ramp wat voorkom is nie.
Waarom skree slegte nuus harder?
Die sielkundige Paul Rozin en sy kollega Edward Royzman beskryf iets wat hulle negativity bias noem: Ons brein gee dikwels meer gewig aan negatiewe gebeure as aan positiewe gebeure. Slegte nuus trek ons aandag omdat gevaar vir ons belangrik is.
Maar dit laat my wonder wat ons alles miskyk.
In April 2026 het wetenskaplikes berig dat geenterapie die gehoor van 90% van 42 deelnemers met ’n seldsame vorm van aangebore doofheid verbeter het. En in Australië het natuurbewaarders iets reggekry wat nog nooit tevore gedokumenteer is nie: ’n Bedreigde palmkaketoe het suksesvol in ’n kunsmatige boomholte uitgebroei en grootgeword. ’n Klein oorwinning vir ’n voëlspesie wat sy broeiplekke verloor.
Maar hoeveel van ons het van hierdie twee reuse deurbrake gehoor?
Intussen het die omstredenheid rondom Peet en Mel Viljoen in Suid-Afrika nuusberig ná nuusberig opgelewer. Ek sê nie dié stories behoort nie aandag te kry nie. Ek wonder net waarom ’n skandaal so maklik ons nuuskierigheid prikkel, terwyl iemand wat weer kan hoor, of ’n bedreigde voël wat ’n kans op oorlewing kry, skaars deel van ons gesprekke word.
Ons het nie ’n tekort aan goeie nuus nie. Miskien het ons ’n tekort aan aandag daarvoor.
Van die pous tot ’n croissant
Humor is een van die oudste vorme van politieke weerstand. Die antieke Grieke het teater gehad, die Protestante houtdrukprente, die Franse karikature, en vandag het ons TikTok en Instagram.
En hier is iets wat ek al jare aan dink: Die Protestante het juis hul naam aan ’n protes te danke.
In 1529 het vorste en stede tydens die Ryksdag van Speyer formeel beswaar gemaak teen besluite wat die Hervorming sou beperk. Uit hierdie Protestasie van Speyer het die benaming Protestante ontstaan.
Die Hervormers het ook verstaan hoe kragtig humor kan wees. Kunstenaars soos Lucas Cranach het spotprente geskep waarin die pous en die Katolieke hiërargie belaglik voorgestel is. Sommige was só kru dat ’n mens wonder of die 16de eeu nie maar net ’n kommentaarafdeling sonder elektrisiteit was nie.
’n Spotprent kon ’n boodskap oordra wat andersins ’n hele preek sou verg.
Dieselfde beginsel geld vir die Albaniese croissant. Volgens plaaslike berigte het die grap gevolg op ’n aantyging dat ’n polisieman verpakte croissante gesteel het. Ek kon nie bevestig of die voorval werklik plaasgevind het nie. Maar die betogers het die storie in ’n kragtige simbool van politieke wantroue tydens die onlangse optogte in Albanië verander.
En die ironie ontgaan my nie: Hulle gebruik ’n croissant as proteswapen, terwyl Frankryk, die land van die croissant, self tans aan die protesteer is.
Soms is humor ’n meer verteerbare weergawe van die pynlike waarheid. Dit vervang nie politieke verandering nie, maar kan mense laat voel dat die mag wat hulle vrees, nie heeltemal onaantasbaar is nie.
Wanneer ’n boodskap aan die brand slaan
As Suid-Afrikaner ken ek die beelde: brandende bande, versperde paaie en beskadigde skole. Hoe gebeur dit dat mense wat beter dienste eis, soms juis die infrastruktuur vernietig waarvan hulle afhanklik is?
Ek verstaan die frustrasie. Maar om vernietiging te verstaan, beteken nie dat ons dit hoef goed te keur nie.
Het ons ’n punt bereik waar mense glo dat ’n probleem aandag verdien eers wanneer iets brand?
Het ons werklik iets geleer?
Ons het konings met presidente vervang, pamflette met algoritmes, en politieke karikature met meme. Tog staan mense steeds in die strate omdat hulle voel niemand luister nie.
Ons praat dikwels oor die moed wat dit verg om teen ’n regering op te staan. Miskien behoort ons meer te praat oor die geduld en vaardigheid wat dit verg om daarna iets beter te bou.
Ek dink nie die mensdom het niks geleer nie. Maar dalk het ons nog nie geleer hoe om vooruitgang te skep wat vir genoeg mense soos vooruitgang voel nie. En sal ons ooit daar kom?
Die revolusie is inderdaad opgedateer. Die griewe bly herkenbaar. Maar miskien is die belangrikste vraag nie hoeveel mense nog bereid is om in opstand te kom nie. Dit is hoeveel mense nog glo dat betekenisvolle verandering sonder ’n opstand moontlik is.
Bronne
ABC News Australia, 29 Maart 2026. Berig oor die suksesvolle uitbroei van ’n bedreigde palmkaketoe in ’n kunsmatige nesholte.
Die Protestasie van Speyer (1529). Historiese gebeurtenis waaruit die benaming Protestante ontstaan het.
Lucas Cranach die Ouere en die Protestantse Hervorming. Sestiende-eeuse houtdrukprente en godsdienstige satire.
National Academies of Sciences, Engineering, and Medicine. 2014. Lessons learned from the Fukushima nuclear accident for improving safety of US nuclear plants. Oor die Japannese kernkragsentrales en die gebeure van Maart 2011.
Nature, 22 April 2026. Multicentre gene therapy for OTOF-related deafness followed up to 2,5 years. Navorsing oor geenterapie en gehoorherstel.
Politiko.al, 22 Oktober 2026. Molto me grep peshkimi, gjesti ironik i protestuesve për policët.
https://politiko.al/english/video-molto-me-grep-peshkimi-gjesti-ironik-i-protestuesve-per-policet-i564137.
Report TV, 24 Oktober 2026. Berig oor die croissant-gebaar tydens Albaniese politieke protes.
https://report-tv.al/lajm/tentative-per-tu-ngjare-te-rinjve-militantet-e-berishes-i-kopjojne-gjestin-e-karremit-me-kroasant.
Rozin, P en EB Royzman. 2001. Negativity bias, negativity dominance, and contagion. Personality and Social Psychology Review, 5(4):296–320.
Tufekci, Z. 2017. Twitter and tear gas: the power and fragility of networked protest. New Haven: Yale University Press.
Van Zomeren, M, T Postmes en R Spears. 2008. Toward an integrative social identity model of collective action: a quantitative research synthesis of three socio-psychological perspectives. Psychological Bulletin, 134(4):504–35.
https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/18605818.

