Kavanaugh, vroueregte en die toekoms van protes

  • 8

Erkenning: http://the-handmaids-tale.wikia.com/wiki/Faithful

Die beeld van Christine Blasey Ford, oë toe, regterhand in die lug om die eed te neem, is vir 2018-feministe wat Rosie the Riveter vir vroue gedurende die Tweede Wereldoorlog was.

Dit was toe oorlog. Dis nou oorlog. Die verskil is, hierdie slag weet vroue dat hulle nie net ’n ondersteunende rol in die oorlogvoering speel nie. Hulle is die onderwerp daarvan. Hulle is die vyand wat ten alle koste op die knieë gebring moet word.

Maak nie saak of Ford die slagoffer was nie, sy is die een wat haar huis moes verlaat en nog steeds met gewapende wagte moet rondgaan. Haar en haar gesin se lewe is omgekeer. Anita Hill moes dieselfde deurmaak in die vroeë 1990’s. Khwezi moes die land verlaat om veilig te wees na haar aanklag teen Jacob Zuma. Ashley Judd is geswartlys toe sy aanvanklik gekla het oor Harvey Weinstein. Talle vroue se klagtes is oor die hoof gesien toe hulle Bill Cosby van seksuele misdrywe beskuldig het. By minstens twee plaaslike Afrikaanse universiteite is vroulike akademici se kontrakte beëindig toe hulle bewerings van seksuele teistering teen manlike kollegas gemaak het.

Maak nie saak hoe verskillend die verhale is nie, dis tog elke keer dieselfde. Die vrou betaal die prys. Twee keer. Een keer wanneer sy aangeval word. ’n Tweede keer wanneer sy geregtigheid probeer verkry.

Selfs wanneer dit ’n vreemdeling is wat haar aanval, wonder mense dadelik: Wat het sy aangehad? Was sy nugter? Wat het sy op daai plek gesoek? Hoekom was sy so laat op straat?

Reg van die begin af is die onus op die vrou om haar onskuld en haar reinheid te bewys. Selfs met die onlangse verkragting van die dogtertjie in die Dros-restaurant was die vraag dadelik hoekom die ma haar kind alleen laat badkamer toe gaan het. Dis altyd die vrou se skuld, nooit die man s’n nie. Selfs wanneer ’n babatjie, ’n gestremde of ’n bejaarde aangeval word, moet daar eers verskoing gesoek word vir die man se gedrag. Kyk maar hoe het die volk in oproer gegaan oor die pedofilie-bewerings teen Magnus.

In die Katolieke Kerk word priesters van parogie na parogie verskuif om hule pedofiliese bedrywighede voort te sit sonder enige kommer dat hulle tot verantwoording geroep gaan word. Ingryping van buite gebeur gewoonlik eers na dekades. Ingryping van binne ... nou ja, daar word opgetree in gevalle waar daar konsensuele seks tussen volwassenes was, maar waar die slagoffer ’n kind is? Jy’s op jou eie. Onlangs het ’n kardinaal in die kerk beweer hy’t nie geweet dis ’n misdryf om seks met kinders te hê nie.

Die Man (gesigloos, naamloos, verteenwoordigend van alle mans oral) moet jammer gekry word, want sy toekoms word deur die beweringe in die gedrang gebring. Is hy dood, soos in Magnus se geval, is die groter kommer oor sy naam en eer. Nevermind dat die vrou se toekoms ook onherroeplik verander, en in baie opsigte vernietig is. Die vrou se belange moet maar agter in die ry staan. Dis hoe die patriargie werk. Dis hoe dit nog altyd gewerk het. Die skuldige party word nou in die rol van slagoffer gewerp.

Behalwe natuurlik as die man swart is. Dan word sy gewaande primitiewe drange en sy tweederangse burgerskap teen hom gebruik. Vra maar vir Bill Cosby. Clarence Thomas se saving grace was die groter Republikeinse aanslag op die regstelsel.

Word die man regtig vernietig deur die beweringe? Clarence Thomas is nou nog op die regbank om vroueregte saak vir saak terug te stoot. Brett Kavanaugh is huilend en kermend bevestig tot die hoogste hof in die VSA. Jacob Zuma is ingesweer as president en toegelaat om die land tot op die randjie van vernietiging te bring – en steeds word hy vereer. Hierdie week is een klag teen Harvey Weinstein teruggetrek, en dit lyk asof hy besig is om sy aansien te herwin. Cosby is tronk toe, but then again ... hy is swart, en hy is nie meer ’n aktiewe rolspeler in Hollywood nie. Die sisteem was van die begin af teen hom opgestel. Het hierdie saak gekom toe hy nog op die kruin van gewildheid as Dr Huxtable was, sou die uitslag aansienlik anders gewees het.

Dis hoe mag werk. Dis hoe patriargie werk. Dis hoe vroue keer op keer op keer onder die stootskraper van manlike chauvinisme, manlike wellus, manlike gevoelloosheid beland.

Nêrens was dit duideliker as onmiddellik na Ford se getuienis nie. Trump en sy trawante het die spot gedryf met haar pyn. Politici het gestem volgens partypolitieke opdragte asof hulle nie ’n woord gehoor het nie. Brené Brown het dit miskien die duidelikste gestel toe sy op Twitter die volgende gesê het: “It is no longer a matter of whether they believe her or not. They don’t care.”

Bitter selde kom verandering van binne.

Kavanaugh se aanstelling was ’n terugslag wat potensieel vir dekades skade aan vroueregte in VSA beteken. Vroue is moeg, moeg daarvoor om nie gehoor te word nie. Moeg daarvoor dat politici nie omgee nie. Moeg.

Maar daar is ’n teenkant, ’n verposing.

Die skermutseling is dalk verloor, maar vroue maak hulle nou reg vir grootskaalse oorlog. Oorlog in die politieke arena. Oorlog in die vermaaklikheidsbedryf. Oorlog in die besigheidswêreld.

Dis nie meer lank nie, of daar gaan ook oorlog in die slaapkamer kom. ’n Koue oorlog.

Dis nie sonder presedent nie. Seksstakings het positiewe resultate in Liberië gebring, met soortgelyke vredestakings in Nigerië, die Ivoorkus, Kenia, Colombia, Italië, Suid-Soedan, Togo en die Filippyne.

Dit het tyd geword dat Westerse vroue hulle mag terugneem. Hierdie slag is daar te veel op die spel om goedsmoeds tou op te gooi. The handmaid’s tale is nie meer net ’n distopiese verhaal nie. Dis ’n waarskuwing, ’n blik op ’n potensiële toekoms, een wat vroue nie kan bekostig nie. Nie nou nie, nie ooit nie.

Nolite te bastardes carborundorum.

  • 8

Kommentaar

  • Ongelukkig is dit in enige saak so dat jy onskuldig is tot jy skuldig bevind word. In die Blasey Ford-saak was haar getuienis vol gate soos Switserse kaas. Sy is deur die Demokrate misbruik of laat misbruik om ’n punt te maak teen Trump. Sy was glo ook een van die Pussy hat-draers wat teen Trump betoog het. Verkragting is ’n ernstige saak, maar vrouens moet hul ook waardig gedra in hul betoë. Ek sou wou sien dat toe haar regspan die brief onder oë gehad het hulle onmiddellik begin het om die saak sonder om haar bloot te stel en politieke punte te maak probeer afhandel het en nie gewag het tot die regter benoem is nie. Sonder die gehoehaai kon hul dalk nie eers haar naam genoem het nie en gekeer het dat hy benoem word en was daar nie nodigheid vir wagte om haar te beskerm nie.

  • Kavanaugh is natuurlik ONSKULDIG van die polities-gemotiveerde, totaal ongestaafde, bewerings (smeerveldtog).
    Enigiemand wat die Amerikaanse politiek volg en "WOKE" is; en die demokrate se metamorfose volg van 'n eens gerespekteerde sentrum-linkse party na een wat fascistiese en onverdraagsame optrede van die ergste graad voorstaan en basies sy kop verloor het , WEET dit.
    Indien die demokrate en linkses se verfoeilike optrede enigsins ENIGIETS verrig het, was dit die afbreek van die #metoo-beweging van wat 'n gerespekteerde beweging was, na een wat, na die linkses, demokrate en "liberales" se manewales al sy geloofwaardigheid verloor het.
    Inteendeel, die groot verloorders is eerstens die demokrate wat bewys het dat hulle alles en almal en vrouens ook onder die bus sal gooi in hul ongekende heblus en strewe na mag. Tweedens die oppergesag van die Reg; die reg om onskuldig geag te word, en nie tromp-op reeds skuldige geag te word in die lig van ongestaafde (en om eerlik te wees hoogstens verdagte) bewerings van 35 jaar terug nie en derdens, die grootste verloorders van almal: VROUENS. Dankie.

  • Marietjie le Roux

    Ek is baie bang vir die feministe-agenda. Om alle mans as potensiële verkragters te bejeën en hulle blote teenwoordigheid as toksies te brandmerk is gevaarlik. Dit is nie n aanslag op mans nie dis n aanslag op ons hele kultuur en die gesin as n hegte eenheid. Die LGBTQ gemeenskap het ook ’n vinger in die pastei ... en die media is ongebalanseerd deurspek met homoseksueles wat aggressief ook hulle agenda dryf.

  • Chris Marnewick sc

    Ons het elkeen ons eie, persoonlike "waarheid" waarin ons sterk glo. Maar daardie waarheid is subjektief en onderworpe aan ons politieke en ander oortuigings. Die "kosmiese" waarheid is dit wat regtig gebeur het. Ons soek daarna, hopelik met 'n oop gemoed, deur na die getuienis te kyk. Ons het geen ander maatstaf of metode nie, onbevredigend soos dit kan wees.

    Kwezi se getuienis was deurspek van soveel leuens dat dit ons soeke na die kosmiese waarheid, en selfs die regswaarheid (bewys bo redelike twyfel), besoedel het. Dr Ford se weergawe kon nie bevestig word nie en is deur verskeie persone wat sy geïdentifiseer het betwis, insluitende Kavanaugh, wie se skuld Bettina sommerso as bewese aanvaar. (Nie juis 'n wetenskaplike benadering in die soeke na die kosmiese waarheid nie.)

    Die stryd is nie tussen mans en vroue nie, maar tussen ons persoonlike en subjektiewe waarheid en die kosmiese waarheid.

    In elk geval, hoe seker kan ons ooit wees van wat in ander mense se huise (en gedagtes) aangaan?

  • Marietjie, wat het die LGBTQ-gemeenskap te make met die Kavanaugh-fiasko en #metoo? Ek dink dis verplaasde angs aan jou kant. Maar ek stem wel saam dat alle mans nie as seksuele aggressors en verkragters gebrandmerk kan word nie, natuurlik is dit nie waar nie. Charles is ook reg dat die linkses in Amerika nou so ver links beweeg dat hulle 'n verspotting van ernstige kwessies maak en dis heeltemal moontlik dat hulle Ford misbruik het vir hulle eie agenda.

  • “Nolite te bastardes carborundorum - Don't let the bastards grind you down." volgens Waterford. Mag klink soos Latyn, maar is waarskynlik nie in sy geheel nie.
    Wat dit ook is doen nie weg van die feit nie dat verkragting van vroue 'n wêreldwye verskynsel en euwel is. Dit is skokkend om te lees dat 'n gesiene oupa verdink word dat hy sy vyfjarige kleinkind verkrag het.
    In 2017/18 is oor die 40 000 verkragtingsake by die polisie aangemeld.
    Daar is egter ook 'n ander kant van die saak veral waar bekende persone betrokke is. Kyk gerus hoe veral sportsterre omring word deur jong vrouens om nie eers van die massahisterie by musiekkonserte te praat nie. Kyk gerus na as https://theblast.com/g-eazy-bra-panties-concert.

  • Caron Viljoen

    Weereens ek spreek my sterk uit teen die siening dat Judge Kavanaugh enigsins betrokke was by Ford se aantygings. Dis uiters twak die aantygings wat in die artikel gebruik word en sekerlik kon iemand soos Bill Cosby of die Katolieke priesters eerder aangevoer word, want daar is meer konkrete bewyse. Julle klink soos die liptards van die Dems in America. Daar was en is geen aantygings wat enigsins water gedra het nie en sy op sigself het nou net vd voorgrond verdwyn terwyl die gate in haar eie verklaring as leuens bewys is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top