
’n Foto van moderne Rotterdam (erkenning: https://pixabay.com/photos/skyline-rotterdam-architecture-1601187/)
.............
In Elizabeth Conradie (1903–39) se ondergewaardeerde akademiese werk oor vroeë Nederlandse skrywers in Suid-Afrika, Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875–1905) (1949), lees ’n mens vir Herman Frederik Schoon raak, wat in 1851 in die Nederlandse hawestad Rotterdam gebore is.
..............
In Elizabeth Conradie (1903–39) se ondergewaardeerde akademiese werk oor vroeë Nederlandse skrywers in Suid-Afrika, Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875–1905) (1949), lees ’n mens vir Herman Frederik Schoon raak, wat in 1851 in die Nederlandse hawestad Rotterdam gebore is. As negejarige trek hy saam met sy ouers en baie sibbes na die eertydse Natal.
Conradie sê hy sou “’n rotsvaste Afrikaner” word, “wat vir die Afrikanersaak selfs gevangenskap veil gehad het” (bl 204).
Die tronkstorie vertel sy in ’n ligte trant. In 1900, tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (voorheen die Anglo-Boereoorlog genoem), drink hy maande lank in Pietermaritzburg ryswater “omdat hy onder verdenking gestaan het dat hy informasie aan die Republikeine verskaf het …”. Tog kom daar uit “die brandkas van die verwoede roker geen geheime papiere of goud maar slegs ’n rol tabak … tot die teleurstelling van die Engelse offisier” (bl 218).
Van kleins af was daar vir hom min maneskyn en rose. Toe hy nog maar vyftien was, was beide sy ouers reeds oorlede. Terwyl hy later in Natal onderwys gee – self met min opvoeding onder die knie – debuteer hy as digter met Stichtelijke gedichtjes (1873), wat in Pietermaritzburg die lig gesien het.
Conradie spreek haar egter nie vleiend oor hierdie verse uit nie. In ’n trant wat dalk ’n voorbeeld is vir die alte gloeiende resensies van vandag, laat sy haar só uit oor ’n afdeling in die bundel: “[D]it is onbeholpe rymelary van ’n twintigjarige wat nog geen selfkritiek besit nie, met die gevolg dat die verse soos parodieë klink wat ons lagspiere sou prikkel as dit nie al te profaan sou wees nie en ons nie weet dat die digter in dodelike erns was toe hulle ontstaan het [nie]” (bl 207).
Vir haar is ’n uitsondering “De Sterrenhemel”, wat sy as die bundel se beste gedig beskou (bl 208):
De Zevenster met niet min stralen
Blijft steeds mijn hart bij zich bepalen
Zij trekt mijn hart naar Nederland:
Den grond waarop ik ben geboren.
Het Zuiderkruis doet mij gedenken,
Dat God zijn waarheid nooit zal krenken
Hij schonk de zeeg’ ons door het Kruis:
Dat kruis moet steeds mijn oog bepalen
Tot eens mijn zon ter kim zal dalen.
Op die Stellenbosse Gimnasium, die voorganger van die Universiteit, haal hy met brawe skrede sy agterstand in. Hy matrikuleer en word op die Kweekskool dominee. Vir ’n jaar lank is hy op Nieu-Bethesda herder van siele – waar Helen Martins (1897–1976), van Die Uilhuis-faam, se ouers sekerlik tóé op die kerkbanke gesit het.
Kort ná hy ’n beroep na Ladysmith aanvaar, verskyn sy tweede digbundel, Uitstorting des harten (1884). Daarin is hierdie kwatryn, wat Conradie as ’n “welluidende” refrein beskryf (bl 212):
Bemind te zijn is zoet;
Nog Zaal’ger is het, te beminnen;
Maar ’t allerhoogste goed
Is, én bemind te zijn, én te beminnen.
Later verskuif sy aandag na die geskiedskrywing. In 1897 verskyn Dagboek van eerw. Erasmus Smit en in 1898 Geschiedkundige overzicht der Ned. Geref. Kerk van Natal. Tydens die oorlog pen hy ’n dagboek wat nog nie uitgegee is nie. Conradie spreek toekomstige uitgewers uitlokkend aan: “Die lywige manuskrip, in ’n keurige, maklik leesbare handskrif, die mees waardevolle bron vir ons kennis van die oorlog op die oostelike front, wag nog steeds op ’n uitgewer” (bl 219).
**
Draai ’n mens die horlosie vorentoe, kom jy Louis Marius Schoon teë, wat in 1937 – sewe jaar ná sy oupa se afsterwe – in Johannesburg gebore is. In 1954 matrikuleer hy aan die Hoër Seunskool Jeppe in daardie stad, waar sy pa onderhoof was. Hy studeer aan Maties; daarna Wits.
In die laat-1950’s en vroeg-1960’s is hy – self ’n digter, maar in Engels – in die Kaap ’n lid van die dampkring van Jan Rabie en Marjorie Wallace; ’n satelliet van die nou bekende Cheviot Place nommer 6, volgens Abraham H de Vries “die bymekaarkomplek van almal wat ’n kwas of ’n pen kon hanteer” (“Aan Erik. Ter herinnering”, LitNet, 2013-06-12, 15 November 2022 geraadpleeg). Hy en Breyten Breytenbach is in Langstraat woonstelmaats.
In die vroeë jare sestig is hy onder meer by die St Martin’s-skool in Johannesburg Afrikaans-onderwyser. In Februarie 2020, skryf die skool soos volg in ’n nuusbrief wat aanlyn beskikbaar is:
White South Africans who challenged the apartheid government in the 1960s, at the risk of everything most precious to them, were very few.
The number of white dissenters whose first language was Afrikaans – the language of the regime that had institutionalised racism in every nook and cranny of social and personal life – was even less. A certain Marius Schoon was one of that tiny handful. He loathed the ideology of racism but loved the richness of the Afrikaans language, especially its poetry. Marius Schoon was an Afrikaans teacher at St Martin’s in the early 1960s.
In 1964 plant hy en ander ’n bom by ’n Johannesburgse polisiestasie. Hy word vir 12 jaar tronk toe gestuur. Terwyl hy daar is, beswyk sy vrou, Diana, aan selfdood. Hy kan sy dogter slegs enkele kere per jaar sien.
In Martin Welz se boek Breyten en die bewaarder (1977), word tronkkorrespondensie tussen Breytenbach en onder meer Schoon opgeneem.
...........
In Martin Welz se boek Breyten en die bewaarder (1977), word tronkkorrespondensie tussen Breytenbach en onder meer Schoon opgeneem.
............
In 1984, terwyl hy en sy tweede vrou, Jeanette, in Lubango in Angola Engels doseer, maak sy sesjarige dogter Katryn ’n koevert oop wat vir Marius bedoel was. Dit ontplof. Sy en haar ma sterf. Hul tweejarige seuntjie, Fritz, word gevind, dolend op straat.
Schoon en sy seun sou later Ierland toe uitwyk, waar hy ’n belangrike rol in die anti-apartheid-beweging in daardie land speel. Hy tree met Sherry McLean in die huwelik.
In 1987, terwyl hy in ballingskap is, skryf hy in ’n gedig getiteld “Amsterdam memories” só oor daardie stad des vaders:
An Amsterdam December
Is foreign to our bones
Yet here we are at home
surrounded by our own …
Die ironie lê laag op laag.
By die WVK weier Schoon om vir Craig Williamson en Willem Schoon (die bronne sê: “geen verwantskap nie”), die outeurs van die teregstelling, te vergewe. “Ek’t na Williamson se pleidooi geluister en vir my het dit merkbaar baie geklink soos die neerplons van krokodiltrane.”
Een van die bekendste foto’s van Marius Schoon is Jillian Edelstein s’n, wat tydens die WVK-verrigtinge geneem is en waar sy een arm beskermend om sy bolyf gevou is, in die ander hand ’n gloeiende sigaret.
Schoon is in 1999 oorlede.
Toe die skrywer Harry Kalmer in 2019 sterf, was hy Marius Schoon se lewe aan’t opskrywe.
Lees ook:


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie belangrike stuk geskiedenis. 'n Mens wonder hoe Kalmer die geskiedenis sou hanteer. Romanmatig of feitelik?
Dis altyd te laat. Marius was ‘n moedige mens en, op sy awelinkse manier, netsoveel van ‘n mentor (vir my, altans) as Jan Rabie. "Hollandse robbies", was sy bynaam onder ons - in liefde bedoel. Op daardie ouderdom is mens nog te lomp om vir ander te wys dat jy lief vir hulle is.
Langstraat se geskiedenis sal nooit opgeteken word nie. En die wrede en sadistiese misdade van die "Veiligheidsdienste" word lankal bedolwe of gepoePoetin in die naam van ons gewraakte "morele pragmatisme". Ons het geen geheuens nie. Slegs etterende leemtes in die plek daarvan.
Dis altyd te laat, en ek is Goddank nie ´n Christen nie - maar vir wat dit werd mag wees, broer Marius, sou ek namens die totalitêre, gesuipte magsvrate van toé én van noú (same size bonghol) jou voete wil was. Al was jy nou ook nie die skoonste ou in Langstraat nie.