Die dosent as kunstenaar

  • 2

Pieter GR de Villiers gesels met Jannie Pretorius oor sy LitNet Akademies-artikel “Louter handeling vir alle Christene: dans, plavei en Van Gogh se Die sterrenag”.

……………………

Jannie Pretorius (Foto: Verskaf)

Jy verwys in jou belangrike, besonder oorspronklike artikel na kursusse wat jy deur die jare bygewoon het om meer te leer oor estetiese onderrig. Sedert die Verligting is ons só ingestel op die verstandelike dat ons die estetiese en kuns as subjektief en onbetroubaar beskou. Vele mense sou dink dat kuns ’n mens vermaak eerder as wat dit mens bemagtig, transformeer of onderrig.

In skerp teenstelling daarmee word vandag in estetika al hoe meer en sterk beklemtoon dat kuns ’n belangrike bron van kennis kan word. Uit jou artikel blyk dit dat jy in jou loopbaan kuns gebruik het vir die opleiding van leerders en studente en dat jy dit as ’n doelbewuste onderrigmetode bedink het.

Waarom en hoe gebruik jy kuns in jou onderrig? Hoe reageer jou leerlinge en studente op die benadering? Kan jy vertel hoe jy dit gedoen het en watter verskil dit aan jou klasse gemaak het? Hoe het jy op die benadering afgekom?

My reis met die kunste is ’n lewenslange een, maar dit het ’n akademiese rigting ingeslaan toe ek in 2007, na ’n loopbaan van 20 jaar as biologie-onderwyser, as dosent by Kovsies aangestel is.

Ek was weens my swaarkry in die onderwys – onder andere weens kinders wat nie na my kon of wou luister nie – diep onder die indruk van die sware verantwoordelikheid om onderwysstudente na behore voor te berei vir die eise van die moderne klaskamer. Ek het dit toe nog nie geweet nie, maar my intuïtiewe soektog was na ’n omvattende en nuttige onderrigfilosofie.

Al wat ek aanvanklik geweet het, was dat ek nie my studente sou oplei soos wat ek in die vroeë tagtigerjare opgelei is nie. Daardie vervelige onderrigmodel het goed gewerk toe kinders nog geslaan kon word tot hulle stilsit, maar dit was nutteloos in die 21ste eeu. Die fundamentele vraag was: Wanneer gee mense vrywilliglik aandag aan iets?

Uit eie ervaring (ek kon as kind ure na die pragtige Julie Andrews se portret agterop ons Sound of Music-plaat se omslag staar) het ek besef dat dit iets met skoonheid te make moes hê. Toe ek ’n aangrypende artikel van die bekende Elliot Eisner lees waarin hy die onderwyser met die dirigent van ’n simfonie-orkes vergelyk, was ek in ekstase – ek het my filosofie en metafoor gevind: die onderwyser as kunstenaar.

In 2008 is my artikel “Die opleiding en praktyke van die onderwyser as kunstenaar” in LitNet Akademies gepubliseer en dit rig my praktyke en onderrigmetodes tot vandag toe nog. Popkunstenaars en onderwysers het dieselfde probleem: hoe om mense se aandag te kry en te behou. As ons as opvoedkundiges dus by hulle leer en die kennis toepas, kan ons ons gehore se aandag beter behou.

As dosente en studente hierdie metafoor kan aanvaar, gaan die wêreld van die kunste vir hulle oop. Ek gebruik films, popmusiek en skilderye om te onderrig, en oor die algemeen geniet studente dit. Mens moet egter altyd onthou om dit nie te oordryf nie en dat die keuse van die kunswerk belangrik is, want enige kuns het ook ’n verdelende effek. As ek byvoorbeeld ’n video van Lady Gaga se “Born this way” gebruik, gaan daar definitief studente wees met wie sy nie “praat” nie, of wat dit selfs afstootlik vind.

Cesar Cruz hét egter gesê: “Art must comfort the disturbed and disturb the comfortable”, en ek staan en val daarby. En is daar nie in elk geval ’n natuurlike verdelende effek in alle gehore wat na ’n spreker (moet) luister nie? Daar is vir my ’n sekere noodwendigheid aan die teenwoordigheid van die kunste in ons lewens – wat ook verklaar hoekom Thomas Mann sê dat die wette van die kunste onpeilbaar is: Ons het geen ander keuse as om hulle te gehoorsaam nie, hoewel ons hulle nooit kan verstaan nie.

Ek probeer verder om dit wat ek persoonlik leer, toe te pas wanneer ek lesings gee – om self sover as moontlik ’n opvoedkundige kunstenaar te wees. So hoop ek dat ek nie net vir die studente sê wat om te doen nie, wat in elk geval beperkte nut het, maar ook demonstreer wat om te doen.

Jou artikel fokus sterk op die rol wat kuns in ’n mens se godsdienstige ervaring kan speel. Jy is deel van die Fakulteit Opvoedkunde en jy het ’n twintig jaar lange geskiedenis as ’n biologie-onderwyser, soos jy reeds genoem het. In jou loopbaan kom kuns, opvoedkunde en godsdiens dus op ’n boeiende manier ter sprake en lei die wisselwerking tussen hulle tot ’n besondere perspektief op veral godsdiens. Waar kom jou belangstelling in godsdienstige temas vandaan?

As elfjarige seun was ek besonder intens bewus van die teenwoordigheid van Jesus in my lewe. Te midde van duisende uitsprake, menings, vermanings en druk deur ouers, onderwysers, predikante en medegelowiges daarna moes ek as Christen uiteindelik by ’n persoonlike interpretasie, belewing en uitlewing van my geloof uitkom.

Vir my was en is dit ’n lewenslange pelgrimstog na volkome vryheid, na ’n diepere begrip en omhelsing van die kruisdood van Jesus Christus. Op hierdie reis gryp ek na elke vorm van kuns en kunstige handewerk om my te bemoedig, te onderrig, te heilig en te inspireer. In die skryf van my artikel het ek myself onderrig oor die volle implikasies van ’n onbevange, bevryde lewe in Christus. Tans is ek met ’n soortgelyke proses besig, maar hierdie keer ter voorbereiding op die uiteindelike mistieke eenwording met Christus voor en na die dood.

Jou artikel is uitgesproke persoonlik van aard: Jy vertel van ’n fase in jou lewe waarin jy nuwe insigte en energie in jou persoonlike geestelike reis gevind het en ekstrapoleer dan die insigte op godsdienstige kwessies en inhoude. Jy skryf kripties dat sulke outo-etnografiese benaderings sin wil maak van ervarings, maar terselfdertyd het jy duidelik ook ’n “missionêre” bedoeling – jy hoop om deur die artikel ’n wyer en meer diverse gehoor as tradisionele navorsers te bereik.

Dit is boeiend dat ’n mens deur so ’n fokus op jou eie ervaring en geskiedenis akademiese werk wil doen. Dit laat my dink aan die baie persoonlike en baie gewilde boeke van Henri Nouwen, een van die mees gelese spiritualiteitskrywers, wat ook so ’n sterk persoonlike kleur gehad het. Hy het op ’n stadium geskryf dat die mees persoonlike skrywe terselfdertyd die mees universele skrywe is. Die feit dat hy die gewildste skrywer van geestelike boeke by geestelike leiers was, bevestig hoe waar sy opmerking is.

Mens sou dink dat opvoedkundige werk op die inhoud van ’n vak konsentreer en nie op die persoon van die dosent nie. Waarom is dit so ’n gewilde en effektiewe manier van skryf?

My groot mentor en lewenslange rolmodel in hierdie verband was en is Hennie Aucamp, wat graag na die egodokumentêre aard van sy artikels, briewe en dagboeke verwys het. Die egodokumentêre skrywer word dikwels daarvan beskuldig dat hy of sy selfgesentreerd of selfs narsisties is, maar Aucamp verwys na Anaïs Nin wat sê nee, dié skrywers erken deur hulle aanslag juis ’n eie onvolmaaktheid en streef na selfverbetering.

Hennie Aucamp, mentor en leermeester (Foto: Versindaba)

Uiteindelik gaan dit vir my oor my geestelike identiteit: wie ek in en deur Christus is. Hy is wel deeglik bewus van my tekortkominge en foute en Hy weet dat ek akuut bewus is daarvan – maar dat ek my ook vasberade wil losskryf daarvan. Sou dit dan vir iemand anders ook ter stigting dien, is ek baie bly, maar ek probeer in die eerste plek om myself te verbeter.

Jy skryf oor “louter handeling vir alle Christene” wat jy verbind met die filosofiese beskrywing van God. Vele lesers sal nie die begrip louter handeling ken nie. Boonop is dit duidelik nuut en anders om te praat van “’n siening van God as louter handeling (“pure act”). Dan verwys jy ook na jou begeerte om ’n lewe gekenmerk deur louter handeling uit te leef.

Jannie Pretorius se skildery, God en ek in louter handeling (Foto: Jannie Pretorius)

’n Mens het onwillekeurig verskeie vrae. Kan jy vir LitNet-lesers ’n eenvoudige verduideliking gee hoe jy die begrip verstaan? Louter kan dubbelsinnig wees – dit kan beteken “suiwer”, of “net” of “alleen”. Waarom “suiwer” en nie “suiwerende” handeling nie? En waarom die “filosofiese”?

Donald Schön praat van ’n sekere manier van wéét wat hy “knowing in action” noem: daardie intuïtiewe vermoë van die mens om in die oomblik, of oombliklik, te weet wat om volgende te doen of te sê.

NP Van Wyk Louw (Foto: ATKV|LitNet-Skrywersalbum)

Ter illustrasie wil ek dit graag toepas op my lewe as dosent. ’n Student kom in my kantoor in en sê hy het drie dae laas geëet, kan ek hom R50 leen om kos te koop? Wat doen of sê ek daarop – en hoe neem ek daardie besluit?

Dit kan rasioneel wees: As ek dit vir één student doen, gaan meer kom vra. Nee, dus.

Sê nou ek “kom agter” ek reik na my beursie en soek na ’n R50-noot? Dalk selfs ’n R100-noot? Wie neem daardie besluit – ek of God? Ek én God? Nét God? Is ek dan willoos in sy hande, sy raadsbesluite?

Nee, vir my beteken louter handeling nét handeling, suiwer en vrymoedige handeling: die mens as volkome vrygemaakte, gewillige medewerker van God. Jesus het self die model daarvoor aangebied in Matteus 10:19–20:

Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik (my beklemtoning) sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat.

Hoekom die “filosofiese”? Want daar is min dinge so prakties, rigtinggewend en nuttig soos ’n weldeurdagte filosofie. Van Wyk Louw sê mos filosofie is niks anders nie as “streng en omvattend dink” en dit laat ons die wêreld met natuurlike oë sien.

Jou interessante artikel verbind ’n mens se geestelike lewe op ’n kreatiewe manier met, van alle dinge, dans. Jy skryf dat jy opnuut met energie gevul is toe jy eers Lax se werk oor louter handeling en toe Lane Potter se boek oor die invloed van dans op haar lewe gelees het. Die een het jou horison oopgemaak vir ’n nuwe manier van glo, terwyl die ander een vir jou die apparatuur gegee het hóé dit gedoen kan word.

Jy lê ook heelwat klem op die groot vryheid en sterk lewensvreugde wat jy deur kuns en literatuur kon ontdek. Jy skryf egter: “Was ek, wat onder die juk van die Calvinisme grootgeword het, inderdaad vry om na my diepste begeertes te handel – en dit sonder om deur God tereggewys te word?” Dit klink baie depressief en donker. En die bestraffende-God-beeld is werklik maar aaklig.

Waarom kon jou vorige verstaan van en verhouding met God nie dieselfde effek op jou gehad het nie? Dit is ironies dat dit so met jou gebeur het, veral omdat Van Gogh, met sy louter handeling, uit die hart van die Calvinisme gekom het en op ’n stadium selfs predikantswerk gedoen het. Dit lyk dus asof hy ’n ander tipe Calvinisme geken het. Wat is dit dan aan die Calvinisme dat dit mense soos Van Gogh kon voortbring, maar terselfdertyd ook tog weer so vervreemdend kon wees?

Een van die interessantste aanlyn publikasies wat ek tans oor kuns en spiritualiteit lees, is versorg en uitgegee deur Calviniste in Nederland. Maar ook hulle skryf (in die Rookmaker-tradisie) binne breë parameters wat kuns van oraloor en almal bespreek, sonder om enige fundamentalistiese grense neer te lê. Tog kan ’n mens nie die Calvinistiese ondertoon in hul werk mislees nie.

Van Gogh het oorboord gegaan en fanaties geraak, wat hom as teoloog laat misluk, maar as kunstenaar laat slaag het. Is dit nie fassinerend nie?

Die teoloog wat hom/haar laat verlei deur perfeksionisme plaas die juk van die wet op sy/haar en gemeentelede se skouers – en dit is juis die juk wat Jesus kom afhaal het. Calvinisme was vir my ’n seëning en ’n vloek – in gelyke mate. Die vloek het gekom in die vorm van dogmatiese, eiegeregtige predikante wat my, onder druk van eng gemeentelede en ’n verskraalde persepsie en begrip van die volle implikasies van Jesus se kruisdood, skuldig laat voel het oor ek my vryspraak en vryheid wou omhels. Die seëning het gekom juis omdat dit die intensiteit van my besef en begrip van die volle implikasie van my vryspraak in Christus verhoog het.

Vir my was vryheid anderkant woede: Ek moes eers kwaad raak voor ek myself kon losmaak van fundamentalisme. Dan praat ek nie net van ’n losmaak van fundamentaliste nie, maar ook van my eie fundamentalistiese sieninge – ek moes myself losmaak van enige vorm van oordeel. Die huidige gaydebat in die NG Kerk is ’n goeie voorbeeld – ek verskil drasties van gelowiges wat verse uit verband ruk, maar ek kan hulle nie veroordeel nie, net soos ek nie gay medegelowiges kan oordeel nie. God, moes ek nie self vir jare met my eie seksualiteit en drange stoei nie?

Ek dink elke mens moet opnuut reformeer en ’n persoonlike lys stellinge teen die spreekwoordelike kerkdeur vasspyker. My artikel oor louter handeling was iets van dié aard.

Verstaan is steeds in die oë van die leser of kyker – die bagasie van die waarnemer bepaal die betekenis wat hy of sy in die teks of kunswerk raaksien. Behalwe, uiteraard, wanneer die kunstenaar of skrywer duidelik leiding gee hoe die teks/kunswerk verstaan moet word.

Maar diepsinnige kuns neig juis om nie voorskriftelik te wees nie en wil eintlik graag hê dat die waarnemer self betekenis moet skep. Hoe seker is jy dat wat jy in die skilderye raaksien, betroubaar is? Met ander woorde, hoe sou jy reageer as ander lesers sou sê dat jy te veel in die kuns inlees of dat hulle dit heel anders verklaar?

In jou artikel noem jy byvoorbeeld dat jy in jou eie skilderwerk die kleur geel vir God gebruik, blou vir jouself en bruin vir die aarde. Wat is die kanse dat ’n leser wat jou nie ken nie, dieselfde betekenis in jou kuns sal raaklees? In Islam is groen ’n bekende kleur vir die goddelike en ’n mens sou ook kon redeneer dat groen ’n kleur vir die aarde is. Wat is die kanse dat oningeligte kykers jou simboliek sal herken?

Ek raak aggressief – selfs gewelddadig – as iemand my die reg ontsê om my artistieke vryheid en keuses uit te oefen. Ek het regtig genoeg gehad van voorskriftelikheid.

Twee van my medekursusgangers in New York kon sien en aanvoel wat ek wou uitbeeld – warmte en beweging – en dit het my groot plesier verskaf. Dit was ook genoeg. As niemand dit kon insien nie, sou ek dit kon aanvaar, want dit het my persoonlike landskap en begrip verhelder.

Die mens is ontwerp vir sosiale interaksie en ek gun elke mens sy mening en siening – maar nie as dit my persoonlike of geestelike vryheid bedreig nie. Ek stap uit die kerk uit as die predikant oor sonde preek. In daardie opsig sien ek myself as geestelike aktivis.

Dit is uit die artikel duidelik dat godsdiens in jou persoonlike konteks ’n belangrike rol speel. Hoe raak dit jou as dosent aan ’n universiteit, veral in ons huidige godsdiensneutrale samelewing?

Ek probeer so leef dat ek effektief getuig sonder om te praat. Ek is lief vir my studente en ek hoop hulle kan dit aanvoel en sien.

Daar is tans ’n merkwaardige uitstalling van William Kentridge in Kaapstad waarin, naas sy artistieke meesterskap, veral sy tegnologiese vaardigheid op ’n oorweldigende manier duidelik word. In die laaste vertrek is daar ’n film wat op drie mure van die groot saal geprojekteer word. Dit is ’n film, nie ’n skildery nie; dit betrek Afrika-karakters en het roerende musiek.

Ek het die kykervaring daar as ’n transformerende oomblik beleef, wat my op ’n nuwe manier blootgestel het aan die besondere seggingskrag van inheemse godsdiensgroepe se belewinge. Dit is ’n heel ander kunservaring as byvoorbeeld die Van Gogh-museum in Amsterdam.

Is daar sekere nuwe ontwikkelinge in die kunswêreld wat vir jou spesiaal is? Is daar Afrika-kunstenaars wat jou inspireer? Gebruik jy Afrika-kuns vir jou studente?

My studentegehoor het die afgelope vyf jaar dramaties verander, maar omdat groot kuns, in die woorde van George J Nathan, irrasioneel en kranksinnig van sy eie skoonheid is, vind ek dat die meeste van die kunstenaars wat ek gebruik, steeds tot die studente spreek. Ek het Neil Diamond egter onlangs met DJ Black Coffee vervang …

Lees Jannie Pretorius se LitNet Akademies-artikel hier:

Louter handeling vir alle Christene: dans, plavei en Van Gogh se Die sterrenag

 

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Berdéhan Brand

    ’n Reis terug sal nie met deernis wees nie, veral nie die geveg met fundamentaliese vergodding van wat is wat-so-moet-wees nie. Ook die intra-vryheisoekontdekking en byna filosofiese koherensie, die ketting wat nie meer gebreek kan word nie. Ek het geweldig agting vir die hele reis. Die onderhoud en die artikel – die relevansie hiervan kan nie onderskat word nie. En Jannie, ek wat jou ’n leeftyd ken – ek salueer jou. Dankie vir die uitstekende artikel en die opeenvolgende onderhoud.

  • Dankie vir die omhelsing van kunstenaars wat op hulle manier profete is. Deel van die mens se geestelike belewenis is belydenis. Om weg te keer van dit wat die “verhouding” vertroebel – juis omdat liefde hier die komponent is. Sy liefde dring my binne.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top