Die dodelikste donuts in die heelal: ’n onderhoud met kinder- en jeugboekskrywer Cecilia Steyn

  • 0

Die dodelikste donuts in die heelal
Cecilia Steyn
Human & Rousseau

Naomi Meyer praat met Cecilia Steyn, veral bekend vir haar kinder- en jeugboeke, oor ’n kinderboek van haar wat in Junie by NB-Uitgewers verskyn.

Cecilia, dit was onlangs internasionale kinderboekdag. Kan jy in ’n sin of twee vertel waaroor jou nuwe boek Die dodelikste donuts in die heelal handel?

In Die dodelikste donuts in die heelal kom Wynand en sy vinnige skoene te staan teen die bose sjef Sprinkles. Maar sal hy haar plan om almal in die wêreld met haar hipnotiserende donuts te verlei, betyds in die wiele kan ry? 

Die titel lyk soos ’n oulike woordspel. Maar met mense wat dié soort geheim het, soos jou hoofkarakters, weet mens sommer gou: Dalk is die titel die waarheid. Kan jy iets verklap wat jou karakters nogal spesiaal en anders maak?

Wynand het supersoniese superheldtekkies waarmee hy vreeslik vinnig en vreeslik ver kan hardloop. En sy ma is dalk net ’n superheldin. Lesers kan die eerste boek in die reeks lees om die geheime uit te vind. 

Foto van Cecilia Steyn: NB-Uitgewers

Die tema van die storie is iets wat baie kinders hul lippe sal laat aflek. Dis iets soos ’n entrepreneursdag, iets soos ’n koekverkoping … Watter kind sal nou nie lus wees om aan so ’n boek te smul nie? Hoe het jy die boek se tema gekies?

...........
Dit het alles begin by ’n baie verleidelike donut waarmee ek ’n dieet verbreek het. Toe dink ek, sê nou maar net ... daar was nie goed soos reëls nie! Hoe sou so ’n wêreld lyk?
..........

Dit het alles begin by ’n baie verleidelike donut waarmee ek ’n dieet verbreek het. Toe dink ek, sê nou maar net ... daar was nie goed soos reëls nie! Hoe sou so ’n wêreld lyk?

As ’n ma of pa hierdie onderhoud lees: Vir watter ouderdom en met watter kinders in gedagte het jy dié prettige storie geskryf?

...........
Soos die vorige boek in die reeks is hierdie een ook geskik vir leerlinge van graad 3 tot 4. Die boekies het ’n opwindende storielyn met kort sinne wat maklik lees en ook multimodale teks wat nielesers se aandag sal hou. Johann Strauss se lewendige illustrasies dra ook by tot die genot van die leser.
.............

Soos die vorige boek in die reeks is hierdie een ook geskik vir leerlinge van graad 3 tot 4. Die boekies het ’n opwindende storielyn met kort sinne wat maklik lees en ook multimodale teks wat nielesers se aandag sal hou. Johann Strauss se lewendige illustrasies dra ook by tot die genot van die leser.

Wat was jou eie gunstelingboeke as kind? En watter boeke wat onlangs verskyn het, kan jy vir jong lesers aanbeveel?

My gunstelingboek as kind was Die Groot Sprokies-omnibus vol bekende verhale en betowerende illustrasies. Ek het ook heerlik na Siembamba se radiostories geluister en ook klokslag na Liewe Heksie en Bennie Boekwurm gekyk. Ons het ook gereeld biblioteek toe gegaan, dan het ek boeke met die mooiste omslae uitgeneem, maar hulle nie gelees nie! Eers heelwat later in my lewe het ek ’n liefde vir lees ontwikkel. Boeke wat ek vir jonger kinders kan aanbeveel is die Pippie Langkous-boeke, Die dagboek van ’n Dork-reeks, en enige iets deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen. Kry nielesers dalk eers aan die lees met niefiksie oor onderwerpe wat hulle interesseer. 

Lees ook:

 

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top