Die Catch-22 van woordeboekwerk

  • 3

hat650

Die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, is vroeër die maand amptelik bekend gestel. Dit is ’n bielie van ’n woordeboek propvol nuwe woorde. Die woordeboekmakers van die nuwe HAT skram nie weg om erkenning te gee aan Afrikaans in al sy fasette en variëteite nie. Dié knewel van ’n woordeboek is veel meer as net ’n woordeboek, deurstuiter of iets om blommetjies mee te pars. Dit is ’n manier om vir mense die deure van kennis oop te maak sonder dat hulle hoef te wroeg oor swak taalgebruik of die agteruitgang van Afrikaans. Jean Oosthuizen het met HAT se redakteur en een van die woordeboekmakers, Jana Luther, gesels oor die hoe en wat van woordeboekmaak.

T-hemp_BeurtkragGedurende die eerste halfeeu van sy bestaan in Suid-Afrika is die HAT as gesaghebbende naslaanbron gevestig. Vir menige Afrikaanstalige is die HAT vandag ’n huishoudelike naam. Wat is dit wat hierdie woordeboek so besonders maak?

Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die titel is in 2009 tot Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal verkort) het verskyn in die tydperk waarna Fritz Ponelis verwys het as die “goue eeu van Standaardafrikaans”. Binne ’n kort tyd ná sy eerste verskyning, in 1965, het die HAT in die meeste Afrikaanse huise, skole, universiteite en ook regerings- en sakekantore sy plek ingeneem. Wanneer die betekenis van ’n woord ter sprake kom, haal koerante, briefskrywers aan koerante en deelnemers aan gesprekke op die sosiale media gereeld die HAT as die gesaghebbende bron aan. Wanneer die betekenis van ’n woord vasgestel moet word, word die HAT ook in Suid-Afrikaanse howe as gesaghebbend aanvaar.

Lees in LitNet Akademies (Regte): ’n Taalkundige perspektief op woordeboekgebruik in die hof: die woordeboek as toevlugsoord – Terrence R Carney, Luna Bergh

 

Die nuwe papier-HAT beslaan 1 636 bladsye en is meer as 200 bladsye dikker as die vorige uitgawe. Meer as 3 000 ouer woorde en uitdrukkings is uit die papierwoordeboek weggelaat. Waarom is hierdie woorde weggelaat, want hulle het seker nie heeltemal uit die taal verdwyn nie, of het hulle?

Die Afrikaanse leksikografie het ontstaan uit die vertaling van Nederlandse woordeboeke. Die HAT was in dié opsig geen uitsondering nie. Deur opnuut terug te gryp na Nederlands het Afrikaans in die eerste dekades van die 20ste eeu tot kultuur- en hoëfunksietaal ontwikkel. Talle ontlenings uit Nederlands was nuttig en het inslag gevind; Afrikaans is daardeur baie verryk. Maar ’n gepaardgaande onverdraagsaamheid teenoor Engels, die “vrees” vir anglisismes, wat teen elke prys uit die taal geweer is, het ook gelei tot die opname in woordeboeke van ongebruiklike Nederlandse vorme wat nooit ’n ware weergawe van Afrikaans was nie.

In die 2005-uitgawe van die HAT het baie van hierdie nederlandismes nog voortbestaan – woorde soos aanbelang, aandien, aanlonk, afgesonde, afpel, afwasbak, begane grond, belaag, benieu, bloesem, duikel en so meer. So ook talle woorde en uitdrukkings wat tot ’n vroeëre, verbygegane era behoort en wat vandag selde, indien ooit, in Afrikaans gebruik word. Hierdie trefwoorde het ons uit die nuwe papierwoordeboek weggelaat om vir eietydse woorde en uitdrukkings plek te maak. Om ’n papierwoordeboek soos die HAT op datum te hou en te voorkom dat dit te dik en te duur raak, moet ou hout gereeld uitgekap word. In die nuwe HAT Aanlyn, waar ruimte nie ’n probleem is nie, word die meeste van hierdie ou woorde egter behou en is hulle nou as verouderd of histories gemerk.

T-hemp_Styl

Jy verwys na eietydse woorde. Daar is baie nuwe woorde in die nuwe HAT. Hoe het julle besluit watter nuwe woorde om by te voeg, en hoe kwalifiseer ’n nuwe woord om in die woordeboek opgeneem te word?

’n Nuwe, hersiene uitgawe van ’n woordeboek word altyd eerste beoordeel op grond van hoe goed dit nuwe ontwikkelings weerspieël. Nuwe woorde word egter nie voor die voet opgeneem nie. Om in die HAT opgeneem te word, moet ’n woord aan bepaalde kriteria voldoen. Ons kyk veral na gebruiksfrekwensie. Ons probeer seker maak dat die woord al in ’n verskeidenheid Afrikaanse tekste en situasies gebruik is en dat dit steeds gebruik word. Ons vra: Kan die woord verbuig? Kan dit betekenisuitbreiding ondergaan? Kan dit in samestellings optree? Is ons seker dis nie ’n eendagsvlieg nie? Om opgeneem te word moet ’n woord aan genoeg van hierdie vereistes voldoen.

Een van die nuwe woorde wat in die nuwe HAT verskyn, is beurtkrag. Die meeste speltoetsers het dit nog nie in hulle woordeskat nie. Is daar ander voorbeelde van nuwe woorde waaraan jy vinnig kan dink?

Ja: wolkberging, meem, vlog, hommeltuig, lyfjuwele, selfie, tabletrekenaar, tikkop, tjoef, mittedjale ...

Ken jy jou idiome? Stuur die 10 woorde om hierdie blokraai te voltooi. Die eerste drie korrekte trekkings wen elk die splinternuwe HAT6.


Wat is die belangrikste verskille tussen ’n woordeboek soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (die WAT) en die HAT)?

Die WAT is ’n meerdelige woordeboek wat Afrikaans so volledig moontlik moet boekstaaf. Die eerste deel van die WAT (A–C) het in 1951 verskyn en die 14de boekdeel (S-skooier) in 2013. Die werk aan die WAT sal na raming eers oor sowat drie dekades voltooi wees (en teen daardie tyd sal die eerste dele natuurlik ook al erg verouderd wees). Daarteenoor is die HAT ’n lessenaarwoordeboek wat die meeste van die woorde bevat wat moedertaalsprekers van Afrikaans vandag gebruik.

Omdat die HAT uit ’n enkele band bestaan, is ons fokus die hedendaagse standaardvariëteit van Afrikaans. Maar dan Standaardafrikaans beskou as ’n hiërargie, met skryftaal aan die bokant (geredigeerde skryftaal en vaktaal heel bo) en ongeredigeerde skryftaal van standaardvariëteitgebruikers daaronder. Verder af, in die middel langs, is taalgebruik steeds standaard, maar informeler, geskrewe én gesproke. En dan is daar nog groep- en groeptaalvariëteite en slang wat moet aandag kry. Die redakteurs van ’n omvattende, meerdelige woordeboek, soos die WAT, sif deur al hierdie variëteite van die taal. Vir die bewerking van al die verskillende leksikale items wat Afrikaans uitmaak, is daar in die HAT nie plek nie. Ons beskik ook nie oor genoeg leksikograwe, genoeg tyd of die begroting om ons skag so diep te sink nie.

Hoe sou jy die HAT se hooffunksie beskryf?

Die HAT se hooffunksie is om Afrikaans te weerspieël soos wat dit wyd en dikwels gebruik word. Daarom fynkam ons daagliks die gedrukte media (koerante, tydskrifte, boeke, webblaaie, ook die sosiale media). Ons kyk hoe mense skryf, luister hoe hulle praat, watter woorde hulle gebruik. Afrikaanse radio en televisie is belangrike bronne. 

Soos hier bo gesê, is die opneem van nuwe woorde en uitdrukkings belangrik. Die kerntaak van verklarende leksikografie, en die moeilikste en die mees tydrowende, is egter die ondersoek na die betekenisse van elke woord. Hoeveel betekenisse het ’n woord? In watter betekenis word ’n betrokke woord die meeste gebruik? In watter betekenis die minste? Het die betekenis van ’n woord uitgebrei? Het dit verskuif? Die betekenisonderskeidings van elke woord probeer ons orden op grond van hoe dikwels die woord in elke betekenis gebruik word.

T-hemp_BliksemMaar hoe stel mens vas hoe dikwels ’n woord gebruik word?

Ons probeer die gebruiksfrekwensie van woorde vasstel deur korpusse (groot, deesdae veral elektroniese, teksversamelings) van eietydse (hoofsaaklik) geskrewe Afrikaans te ontleed. Elke betekenis probeer ons so eenvoudig en onpartydig as moontlik verduidelik. Vir elke betekenis moet ons in eietydse, maklik verstaanbare taal ’n definisie skryf of, waar nodig, reeds bestaande definisies herskryf. Vir soveel as moontlik woorde en hulle betekenisonderskeidings probeer ons geskikte voorbeeldsinne of -frases vind om die gebruik van ’n woord in elk van sy betekenisse toe te lig.

Maar woorde het tog ook ’n sekere waarde-inhoud wat van tyd tot tyd verskil. Hoe hanteer julle dit?

Ons teken op, gee weer, weerspieël bloot wat ons in korpusse en argiewe sien, in die konteks van ’n konstitusionele staat, waarin menseregte en menswaardighede verskans is. ’n Goeie woordeboek weerspieël die gees van sy tyd. Ons taal en taalgebruik weerspieël wie ons is. As woordeboekmakers is dit ons werk om taal op ’n gegewe moment in die tyd en geskiedenis te beskryf, sonder waardeoordele.

Iets wat woordeboekmakers seker laat kopkrap, is om te besluit watter obsene of vloekwoorde in die woordeboek opgeneem moet word en hoe om dit te hanteer?

Glad nie. As ’n woord aan die nodige kriteria voldoen, ’n hoë gebruiksfrekwensie het, neem ons hom op. Ook vloekwoorde.

Ek moet erken ek kon nie anders as om te glimlag by die verklarings van sommige woorde nie, soos byvoorbeeld die vulgêre maar veel gebruikte f-woord. Die woordeboekmakers het nie geskroom om die gebruik daarvan in gewone taal raak te sien nie, soos in fokken moeg/koud/honger wees. Dis ’n fokken gemors. Dit was fokken snaaks. Maar moedig dit nie dalk mense aan om sulke woorde in alledaagse gesprekke te gebruik nie?

Die woordeboek weerspieël; dit moedig nie aan nie.

Selfs die Kaapse bergies se variëteit van Afrikaans word raakgesien as hulle mekaar soms so onder hulle ma’s se rokke vloek. Verskyn hierdie woorde en verklarings ook in HAT se Afrikaanse skoolwoordeboek?

Nee, nie in skoolwoordeboeke met ’n beperkte lemmaomvang nie, maar wel in die groot HAT, wat ook deur leerders geraadpleeg word. Gebruiksfrekwensie gee die deurslag. Dit sou wel onverskillig wees om krag- en vloekwoorde sonder enige gebruiksleiding op te neem. Woorde wat ons dink omsigtig gebruik behoort te word, is duidelik gemerk as informeel of sleng of plat, vulgêr, kru, taboe, en dies meer. By woorde waarvan die gebruik as kwetsend ervaar kan word, kan ook ’n addisionele opmerking of ’n nota met ’n waarskuwing gevoeg word. Ons kan egter nie om preutse redes dikwels-gebruikte woorde ignoreer nie.

HAT-flyers_Page_1

Afrikaansgebruikers is allermins almal outyds of argaïes. Is dit een van die goed wat julle wou tuisbring?

In talle van die definisies en gebruiksvoorbeelde in die vorige (vyfde) uitgawe van die HAT was die taalgebruik en lewensuitkyk van ’n ouer geslag nog ingeweef, ingebed. Enkele voorbeelde was die voorkeur vir vorme soos belewe, drywe, skawe, skrywe, wat (in plaas van beleef, dryf, skaaf, skryf) vandag dikwels as verouderd of oordrewe deftig kan voorkom; besig (in plaas van gebruik of); huid (in plaas van vel); kneedbaar (vir kniebaar); spu(ug) (vir spoeg) en toonladder (vir toonleer). In definisies is dikwels die beleefdheidsvorm dame (in plaas van die neutrale vrou) gebruik; in gebruiksvoorbeelde (waarin meestal mans figureer) dikwels die vorm vroumens, wat vandag dalk as neerhalend aangevoel word. Nog voorbeelde was die gebruik van manspersoon in plaas van man; vorme soos vitamine en proteïne in plaas van vitamien en proteïen; die aanduiding van uitsprake soos “gha-raa-zje” vir garage, wat so te sê nooit gehoor word nie; en die nooit meer gehoorde kloset, spoelkloser, gemakhuisie en privaat in plaas van die alledaagse toilet.

T-hemp_KletsDie Afrikaans van ’n paar dekades gelede het dikwels ook ’n chauvinistiese houding gehad. Is ek reg dat julle grootliks daarvan ontslae geraak het en kan jy dalk ’n voorbeeld of twee noem?

Vergelyk, in HAT5, voorbeelde soos: ’n deugsame vrou; ’n model wat haar bates skaamteloos vertoon; graag jou vrou en kinders behaag; As dit wasdag is, moet die vrou bontstaan; ’n mooi, jong ding; Sy vrou was sy eweknie in verstand. Teenoor voorbeelde in HAT6: Navorsing toon dat al hoe meer vroue broodwinners of gesamentlike broodwinners is en ’n veel groter rol in die arbeidsmark speel; Meer as 500 vroue uit 70 lande het beraadslaag oor hoe wêreldvrede bereik kan word; Ek is seker ’n feminis, maar ’n vrou moet feministies wees om te oorleef te midde van jare se paternalisme en chauvinistiese oorheersing.

Met ander woorde baie meer inklusief?

Ja, die nuwe HAT is ’n veel meer inklusiewe boek as sy voorgangers. Afrikaans is nie argaïes nie en lankal nie meer net agraries nie. Afrikaans is jonk en ook verstedelik en vandag baie meer gender- en omgewingsvriendelik as in die verlede.

Ons leef in ’n tegnologiese era waar daar lewendige gesprekke oor taal op sosialemediaplatforms soos Facebook en elders plaasvind. Tot watter mate beïnvloed dit woordeboekmakers soos julle wanneer julle moet besluit oor Afrikaanse nuutskeppings en nuwe terminologie?

Terwyl ons aan HAT6 gewerk het, was ons heeltyd met taalpraktisyns en taalbelangstellendes in verbinding, onder meer in verskillende taalgroepe op Facebook. Ek en my voltydse mederedakteur, Fred Pheiffer, is self ervare taalwerkers, nie net leksikograwe nie. Uit ervaring weet ons dus dat die meeste taalwerkers en baie taalgebruikers verwag dat die HAT (en ons!) preskriptief moet wees; dat ons oor korrekte taalgebruik moet voorskrifte gee.

Vir die taalpraktyk bly norme en riglyne belangrik, dit weet ons. As jy vir ’n koerant, tydskrif, boekuitgewer werk, is daar tien teen een ’n bepaalde stylgids, spesifieke stel huisreëls wat jy moet volg. As ’n mens vryskutwerk doen, vir verskillende kliënte werk, is dit belangrik om beste praktyk te volg én te kan aandui wat daardie praktyk is. As ’n moeilike, punteneurige kliënt ’n verandering wat jy aan sy of haar teks aangebring het, bevraagteken, moet jy hom of haar na ’n woordeboek of die Afrikaanse woordelys en spelreëls kan verwys. Skrywers wil in hulle uitgewers se goeie boekies bly; daarom luister die meeste skrywers gewoonlik na en werk hulle saam met hulle redakteurs. Die meeste skrywers aanvaar veranderings en verstellings aan hul manuskripte sonder veel teenstand, veral as die persklaarmaker sy of haar “korreksies” kan staaf met bewyse uit ’n woordeboek. Die proefleser loop op die persklaarmaker se spoor, maak seker niks buitengewoons word deurgelaat nie.

Party mense is dalk skrikkerig dat ons met hulle gaan raas as hulle woorde “verkeerd” gebruik of as hulle ’n Engelse woord of uitdrukking gebruik. Ander verwag dat ons ander taalgebruikers op die vingers moet tik as dié, volgens hulle, woorde verkeerd gebruik. Dat woordeboekmakers heeldag sit en frons en beswaard is en wroeg oor swak taalgebruik, die agteruitgang van Afrikaans ...

En is dit so? Wroeg julle oor die veranderings in die taal wanneer julle nuwe woordeboeke maak?

Dit is allermins die geval. Taal en taalverandering fassineer ons. Al wat ons wil doen –móét doen – is om die spieël vas te hou, te sê: Kyk, so word Afrikaans vandag gebruik. Kyk, so gebruik julle Afrikaans. Dit is nie meer ons grootjies of selfs ons ouers se Afrikaans nie. Afrikaans het verander, bly verander. Afrikaans lyk vandag anders as tien, twintig, vyftig jaar gelede. Is dit nie wonderlik nie? Ons taal lewe en klink soos ons wat dit praat, weerspieël wie ons is. Of ons nou daarvan hou of nie.

Die Amerikaanse skrywer Walt Whitman het dit mooi opgesom: “Language, be it remember’d, is not an abstract construction of the learn’d, or of dictionary-makers, but is something arising out of the work, needs, ties, joys, affections, tastes, of long generations of humanity, and has its bases broad and low, close to the ground. Its final decisions are made by the masses, people nearest the concrete, having most to do with actual land and sea. It impermeates all, the Past as well as the Present, and is the grandest triumph of the human intellect.” ()

HAT-flyers_Page_2

Beteken dit dan mense kan maar skryf en praat soos wat hulle wil, ongeag die taalkundige korrektheid daarvan?

Daar is ook die keersy, wat die Nederlandse taalkundige Jan Kuitenbrouwer so verduidelik (ek vertaal sy woorde vry): Die opvatting oor hoe werke van byvoorbeeld Bach of Mozart uitgevoer moet word, het in die loop van die eeue verander. So gaan dit, geen probleem nie. Maar binne één orkes moet daar wel eenstemmigheid wees oor styl en opvatting. Wat ’n mens nie kan hê nie, is dat die strykers ’n ander styl navolg as die blasers of die slagwerk. ’n A kan meer as een toonhoogte hê, en elkeen is “korrek”, maar jy kan nie elke speler sy eie A laat kies nie. Met taalnorme werk dit dieselfde: natuurlik moet daar evolusie plaasvind, maar eenheid en konsensus is ook belangrik, anders verloor die taal sy waarde en betekenis. Dan word die lees van ’n brief of koerant soos die luister na ’n orkes waarvan die instrumente nie vooraf gestem is nie. Dan hoor jy nooit wat presies die komponis in gedagte gehad het nie; alles is maar so by benadering. En dit gaan met oorpyn gepaard. (http://www.taalkliniek.nl/taalkliniek/?p=1360#more-1360)

Tot watter mate is julle dan voorskriftelik?

Vir woordeboekmakers en taalpraktisyns, wat met taalverandering moet tred hou, impliseer dit ’n heeltydse wisselwerking tussen beskrywing aan die een kant en voorskrywing aan die ander kant. In die sentrum staan ons pogings om ’n gesonde balans te handhaaf: tussen reg en verkeerd; tussen wat vroeër as verkeerd beskou is, en vandag dalk nie meer nie, of byna nie meer nie. Goeie, gesonde beskrywing behels ’n mate van voorskrywing; goeie, gesonde voorskrywing behels ’n mate van beskrywing.

Daar word dikwels die draak gesteek op sosiale media met mense wat Afrikaans verkeerd gebruik. Hoe voel jy daaroor?

Waarvan ek nie hou op sosiale platforms nie, is die geniepsigheid oor taalgebruik wat ’n mens so dikwels teëkom. Die selfaangestelde voorskrywers, taalwaghonde, beswaardes oor die toekoms van Afrikaans, sogenaamde vegters vir die behoud van Afrikaans wat met ’n gevoel van meerderwaardigheid heeltyd net bly kap na – volgens hulle – “taalfoute”, taalonkunde, swak taalgebruik. Ek dink nie Afrikaans het dit nodig nie. Om foto’s te neem en die draak te steek met ’n bestaansboer se sukkelende handgeskrewe groenteverkoopbordjie langs die pad, op Facebook so iemand se beste, waardige poging ten toon te stel en neer te haal, is kwetsend en gemeen, dink ek dikwels.

Wanneer ’n duur reklamebord van ’n groot winkelgroep Afrikaans minag, is dit ’n ander saak, maar die meeste, gewone taalgebruikers gebruik taal om te kommunikeer. Dis al.

Die meeste van ons druk ons meestal uit nes ons wil. By elke mens ontwikkel daar, vandat ons gebore word totdat ons doodgaan, ’n eie idiolek. ’n Eie, individuele manier van praat wat heeltyd klein veranderinkies ondergaan, al probeer jy ook hoe keurig praat. Ons taalgebruik word beïnvloed deur hoe die mense rondom ons praat, hoe ons ouers, grootouers, familie, vriende, bure, kollegas praat, deur die taal van die radio, TV wat ons dikwels hoor. Ook deur wat ons lees, hoeveel ons lees en die tale wat ons lees.

Oor tyd heen vorm die unieke spraakpatrone, die omgangstaal van mense in ’n bepaalde gebied ’n stabiele variëteit of dialek. Wanneer genoeg variëteite en dialekte oor ’n lang tyd heen oorvleuel, ontstaan daar ’n standaardvariëteit. Oor lang periodes heen word nuwe tale gevorm. Niks verbonde aan hierdie proses, aan iemand se moedertaal, is onkundig, barbaars, ’n skande of fout nie.

HAT-flyers_Page_3

Maar wat word dan van Standaardafrikaans as daar soveel verskillende dialekte en variëteite ontstaan?

In die HAT Taalgids skryf Tom McLachlan oor Standaardafrikaans: “Geen natuurlike taal is in alle opsigte ’n eensoortige ding wat in alle omstandighede deur alle moedertaalsprekers op dieselfde manier gebruik word nie. Daar is verskillende vorme van die betrokke taal, wat variëteite genoem word. Die variëteite is die vorme van die taal wat byvoorbeeld in sekere streke gebruik word, of deur sekere groepe, of in sekere omstandighede en so meer. Een van die variëteite van gestandaardiseerde tale is die sogenaamde standaardvariëteit.

“Dit geld ook Afrikaans: Die standaardvariëteit word Standaardafrikaans genoem, maar daar is ook talle niestandaardvariëteite. Daar is byvoorbeeld gebruikersgroepvariëteite soos Tienerafrikaans, Griekwa-afrikaans of Vissermansafrikaans, of streeksvariëteite soos Weskusafrikaans, Kaapse Afrikaans (Kaaps) of Namakwalandse Afrikaans, of gebruiksvariëteite soos Skryftaalafrikaans, Radioafrikaans, en so meer.

“Standaardafrikaans behoort nie aan, of is nie die variëteit van, enige bepaalde groep of streek nie. Eenvoudig gestel is dit die variëteit wat die grootste mate van standaardisering toon, deur die grootste moontlike groep van Afrikaanssprekendes verstaan word, die minste verraai waarvandaan of uit watter groep die gebruiker kom en die beste geskik is vir sekere min of meer formele situasies of omstandighede. Standaardafrikaans (of die standaardvariëteit van ’n ander taal) sal ’n mens tipies aantref in byvoorbeeld handboeke, lesings, toesprake, die howe, standaardwoordeboeke, hoofstroomkoerante, wetgewing, werksonderhoude en so meer. Daarteenoor kan ’n mens die taal wat gemoedelik tussen vriende of gelykes in informele omstandighede gebruik word, geselstaal of omgangstaal noem.

“Standaardafrikaans is nie ‘beter’ of ‘meer korrek’ as ’n ander variëteit nie, want elke variëteit vervul die rol waarvoor hy ontstaan het. ’n Mens kan egter wel sê dat een variëteit in bepaalde situasies meer geskik of gepas is as ’n ander. In byvoorbeeld ’n brief aan jou werkgewer of ’n aansoek om ’n betrekking of ’n wetenskaplike artikel is die standaardvariëteit meer gepas as die taal wat jy gebruik om op die sosiale media met jou vriende te gesels, of as jy saam met vriende by die sportveld is of vleis braai.”

Ons skryf en praat dus verskillend?

Die praattaal en die ongeredigeerde skryftaal van standaardvariëteitgebruikers (die sogenaamde opgevoede gebruikers van Afrikaans) is nie noodwendig dieselfde nie. Ongeredigeerde skryftaal en geredigeerde skryftaal ook nie. Hoe subredakteurs, vertalers, proeflesers met die geskrewe taal van opgevoede skrywers omgaan, het bepaalde implikasies – wat standaardisering betref, wat betref dit wat ons in nuwe, hersiene uitgawes van ’n woordeboek soos die HAT opneem, asook wat ons daaruit weglaat, want geredigeerde skryftaal is ons hoofverwysingspunt.

Tot watter mate moet mens jou dan nog aan stylgidse en taalhandleidings steur wanneer mens Afrikaans skryf as daar soveel variëteite is?

Stylgidse en taalhandleidings hou die taalgebruik van opgevoede, vaardige, geoefende skrywers as voorbeeld voor. Niks fout daarmee nie. Mense wat professioneel met Afrikaans werk, moet Afrikaans se spel- en skryfreëls op hul duimpie ken. Maar wanneer ons ons bronne raadpleeg, moet ons gereeld ook na die titel- en kolofonbladsye van daardie bronne kyk. Waar kom hierdie reëls vandaan? Wie het hulle gemaak? Wanneer? Het daar intussen dalk al ’n nuwe uitgawe verskyn? Hoe ingrypend is die nuwe uitgawe hersien? Geld alles wat in ’n spesifieke stylgids of woordeboek staan vandag, in 2015, nog net so as toe die gids of woordeboek dalk ’n dekade of langer gelede verskyn het? Moet ons elke reël wat ons ken of kry, blindelings toepas? Redigeer soos ’n masjien? Skrywers se woorde en stelwyses klokslag verander elke keer as dit nie ooreenstem met ’n spesifieke reël of woordeboekinskrywing nie? Of is daar reëls wat ons moet herbekyk? Inskrywings in taalgidse en woordeboeke wat hersien moet word?

Een van die belangrikste ontwikkelings vir die leksikografiepraktyk en die beskrywing van taal was ongetwyfeld die koms van die rekenaar en die ontwikkeling van groot gerekenariseerde tekskorpusse: groot elektroniese teksversamelings; deursoekbare argiewe op die internet, soos dié van Media24 se koerante en tydskrifte; korpusse van gepubliseerde skryfwerk. Hierin lê egter ook die vangplek, die Catch-22 van woordeboekwerk: korpusgebaseerde evaluering van taalgebruik berus meestal op die veronderstelling (en dit word deeglik as verkoopspunt benut) dat taalgebruik in korpusse “natuurlike” taalgebruik is. Teenoor die “onnatuurlikheid”, of kunsmatigheid, van gebruiksvoorbeelde wat ’n woordeboekmaker by haar rekenaar sit en uitdink.

Die rol van taalpraktisyns en die gevolge van redaksionele ingryping in kopie kom by die ontleding en interpretering van korpusdata selde ter sprake. Lesers sien net die eindproduk, weet nooit werklik hoeveel van wat hulle sien, ’n skrywer se eie teks is en hoeveel die gevolg van redaksionele inmenging is nie.

HAT-flyers_Page_4

Hoe lyk ’n goeie subredakteur?

Taalpraktisyns, en veral subredakteurs, speel in die skep en instandhouding van die geskrewe standaardvariëteit van Afrikaans ’n kardinale rol. Hulle doen dit veral deur die vermindering en uitskakeling van opsionele variasie. Dit bring verantwoordelikhede mee waarvan die meeste taalwerkers dalk onbewus is.

Dikwels word gesê om ’n goeie sub te wees moet jy onsigbaar wees. Jy moet geen spoor laat wat ’n leser aan jou tussenkoms kan herinner nie. Wanneer redigering opval of ooglopend ontbreek, lei dit die leser se aandag af. Goeie redigering behoort ’n onsigbare laag te wees tussen die leser en die oorspronklike teks.

Maar is dit, wat Afrikaans betref, altyd die geval?

Subwerk is ’n belangrike maar dikwels oor die hoof gesiene stadium van die publikasieproses. Die vraag is eintlik: Moet of kan ons dit leksikografies verreken?

Feitlik alles wat woordeboekmakers in die gedrukte media sien, is deur ’n redakteur en/of proefleser nagesien. Hele koerante, tydskrifte, reekse skoolhandboeke – fiksie en niefiksie, populêr en wetenskaplik – vloei dikwels deur dieselfde sif van dikwels net ’n handjievol mense wat jaar in, jaar uit op die standaard geskrewe vorm van Afrikaans hulle stempel bly afdruk. Op Afrikaanse spelling, grammatika ... Publikasies, artikels word aangebied as die werk van die skrywer. Maar wat was die redakteur se bydrae, dié van die proefleser? Tekens van redaksionele ingryping word uitgewis. Redaksionele ingrypings kan nie in ’n korpus nagespeur word. Ons het geen data of instrumente om die omvang van taalwerkers se invloed op die standaardvariëteit van Afrikaans vas te stel nie. In ’n korpus is die natuurlike geskrewe taalgebruik van opgevoede skrywers nie van die geredigeerde kopie van taalversorgers te onderskei nie.

Ons moet dus mooi sorg en moeite maak, ons taalwerkers, wanneer ons met ander se skryfsels werk. Seker maak dat ons altyd die nuutste bronne, die nuutste woordeboeke tot ons beskikking gebruik; dat ons weet watter bronne en woordeboeke beskikbaar is, en wat ons aan elkeen van hulle het; dat ons met die tyd en natuurlike taalverandering tred hou. As woordeboekmakers en subredakteurs is ons direk, in die voorste linie, by die proses van standaardisering en herstandaardisering van Afrikaans betrokke. Ook deur die illusie van ’n eenvormige standaardtaal in stand te hou.

Julle het ’n baie interaktiewe webwerf en lewendige Facebook-blad. Vertel so bietjie meer van HAT se aanlyn boetie (www.hataanlyn.co.za) en julle teenwoordigheid op sosiale media soos Facebook en Twitter.

By HAT Aanlyn, waar ruimte nie ’n probleem is nie, word die sesde uitgawe van die HAT, die HAT Taalgids, die HAT Feitegids en die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek in Augustus saamgevoeg, saam met die Longman Dictionary of Contemporary English, Longman Business English Dictionary en Longman SA School Dictionary. Aanlyn sal dié versameling voortaan intyds bygewerk word – in sover Pearson, die Engelse uitgewer van die HAT, ons toelaat om die werk voort te sit. Ons sal gereeld nuwe trefwoorde, betekenisse, gebruiksvoorbeelde byvoeg; foute en weglatings waarop gebruikers ons aandag vestig, regstel.

Op sosiale platforms sal ons voortgaan om met HAT-gebruikers en taalwerkers te gesels, gebruikers op hoogte hou van nuwe toevoegings tot die woordeboek. Op die HAT se Facebook-blad gaan ons binne die eersvolgende weke aan HAT-gebruikers ’n uitnodiging rig om ons met hulle foto’s die nuwe aanlyn HAT te help illustreer, ’n projek waaroor ons baie opgewonde is. Ons droom is nou ’n lewende woordeboek van eietydse Afrikaans op die internet.

  • Jana Luther het in die letterkunde en leksikografie gestudeer en in 1991 ’n meestersgraad met lof aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit behaal. Sy is onder meer samesteller van die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek en Sakwoordeboek (2009) en van die Longman-HAT Engels-Afrikaans/Afrikaans-Engels Basiswoordeboek, Skoolwoordeboek en Sakwoordeboek (2011) en redakteur van die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT).

Hat_poster-2pdf

  • 3

Kommentaar

  • Gerhard van Huyssteen

    Pragtig en insigryk. Goed gesê, Jana - ek hoop baie mense lees die hele onderhoud met aandag deur.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top