
Keith Lewis en Gaireyah Fredericks (Foto deur Jason Faro)
Elke jaar bring die Cape Flats Book Festival, aangebied deur die NRO Read to Rise, verskeie nasionale en plaaslike skrywers byeen met die gemeenskappe op die Kaapse Vlakte. Die Cape Flats Book Festival het dié jaar plaas gevind op 31 Januarie en 1 Februarie 2026 in Lentegeur, Mitchells Plain, en kry dit reg om toegang tot boeke en literêre events gratis te maak in areas waar sulke geleenthede historically beperk is. Hierie jaar issie fees verleng met ’n roadshow wat tussen Februarie en Maart meer as 20 primêre en sekondêre skole op die Kaapse Vlakte besoek het. Op 23 Maart 2026 is ek uitgenooi om deel te neem annie Cape Flats Book Festival Roadshow.
My visit was to a Mitchells Plain School of Skills, nestled tussen die residential huisies van Rocklands. Taryn Lock, een vannie founding members van Read to Rise, se uitnodiging mention dat “the objective [of the roadshow] is to inspire learners to read and write. We want learners to meet authors and poets as many have never met one before.”
Met my aankoms wassie Read to Rise span, onder leiding van programme director Roscoe Williams, alreeds biesig ommie skoolsaal te decorate met banners. Volgens Williams wassie skoolbesoeke initially net gedoen in aanloop tot die fees. Die roadshow se doel was om leerders bewus te maak vannie Cape Flats Books Festival. En sodoende oek vir hulle uit te nooi narie event. Maa Williams sê “[The roadshow] quickly became something much bigger.” Die belangstelling vanaf skole, soewel assie leerders se gretige engagement mettie genooide skrywers, het gelei tot ’n twie-maande extension vannie roadshow. Williams vertel dat dit het vi hulle die geleentheid gegie om uit te brei na mee skole oppie Cape Flats.
Wannee die leerders in rye die saal betree, is AJ Paulse, die Afrikaans-onnie, eeste om haa excitement en dank teenoor ôs uit te spreek. Sy herinner ôs dat Mitchells Plain School of Skills ’n vaardigheidskool is, en dat die meeste vannie kinnes sukkel om te lees en skryf. “Die res wat kan, wil net nie,” lag sy effens, “maar ons probeer alles wat ons kan.” Ek en Gaireyah Fredericks, wat oek invite is deu Read to Rise, het innie uber op pad na Mitchells Plain gesels oo my broertjie wat met FAS gebore was en geweier het om vaardigheidskool toe te gan uit vrees virrie stigma. Die gesprek laat my wonder oorie moontlikhede vir ons gemeenskappe as vaardigheidskole raakgesien word virrie practical skills wat dit bied aan kinners. Fredericks het oek vertel oo haa eie seun se learning disability en hoe hy innoverende avenues moes vind tot wiskunde en kuns. Sy het oek later die metodes gedeel mettie leerders en onnewysers.
Daa was nuuskierigheid innie oë vannie leerders van Mitchells Plain School of Skills. Elke stoel was gevul nie net met leerders nie, maa oek onnewysers wat nou en dan hulle phones uithaal om video’s te maak. Gaireyah Fredericks hettie program afgeskop met haa gedig “Kaaps is Hollands”.

Reeds met haa incipit lyn glip onbeheerbare giggels uit withemde. Die leerders hoo ’n Eugène Marais-prys-genomineerde gedig geskryf en perform in ’n taal met klank en ritme waartoe hulle gratis toegang geniet. Ek sluit aan met my gedig “Smartie Town”. Die gedig is ’n portrait vannie gemeenskap waa ek grootgeraak het en is gevul met alledaagse gebeurtenisse wat sommige vannie leerders laat respond met ’n gesamentlike “yoh!”.
Die twie inleidende gedigte kry dit reg om die ys te briek, asoek die oorhoofse tema van ôs gesprek in te lei: Om Kaaps, of die manier hoe die leerders buite die grense van Standaardafrikaans praat, te gebruik as ’n alternative gateway na literatuur. Veral literatuur waa hulle hulself kan hoo en dus oek sien.
Na die poësie, maa oek voodat sy lees uit haa debuutroman, een voet innie kabr, geskryf in Kaaps en Cape Muslim vernacular, vertel Fredericks ees oo haa journey as a writer. Dit is ’n journey wat synonymous is met haa ontmoeting met geskrewe Kaaps. Sy vertel oo haa verhouding mettie persoonlike voornaamwoord jy. En hoe daai eenvoudige, alledaagse woord soe maklik oorrond en verflou word omdat “dit is wat ons leer ‘regte’ Afrikaans is”. Fredericks sê: “Ek het nooit dit wat ek gepraat het, gehoo nie. Ek was soe ge-indoctrinate dat as ek praat, het ek my Afrikaans-juffrou innie klas gehoo.” Maa toe sy virrie eerste kee die woort djy sien in literatuur, en dit hardop lees, “was dittie begin van my language identiteit. Dit was my eeste ontmoeting mettie taal waa’in ek gebore is en wat ek my hele liewe lank al praat.” Daa is ’n kwesbaarheid wannee sy praat oo haa eie skaamte vi hoe woorde uit haa mond gekom het; ’n skaamtegevoel wat sy kliphard moes teen veg en afleer. Dan briek die saal wee oep met gelaggery wannee Fredericks praat in ’n paa vannie verskeie dialekte van Afrikaans.
Terwyl Fredericks ’n uittreksel lees uit een voet inni kabr, let ek op hoe veral die meisies in hijabs mekaa poke as hulle woorde uittie Cape Muslim vernacular herken. Fredericks vertel my dat sy verbaas was om annie einde van ôs sessie te leer dattie kinnes nog nooit soe lank stilgesit het tydens ’n byeenkoms nie. “Ek dink dit kan grootliks toegeskryf word annie feit dat hulle ‘n taal gehoo het waamee hulle bekend is: hulle eie taal. Hulle moedertong,” noem sy ten slote.
My gedeelte van ôs sessie het begin met ’n voorlesing van my gedig “Starstruck”. Hierdie gedig ondersoek rou ennie negatiewe impak wat gangsterism op ôs gemeenskappe het.

Dan perform ek die gedig “Mettie sterre gepla”, gepubliseer innie anthology Yesterdays and imagining realities. Die gedig maak gebruik van siekere woorde uit sabela-taal, oftewel gangster-taal. Die underground taal (wat soms verbode is om te praat deur niebendelede) sowel as die impak van gang violence issie foreign virrie jong gesigte nie. Dit is die Cape Flats se reality, maa oek Paarl s’n. My twie neefs, Nolan Davids en Damon “Boetietjies” Davids, en mees onlangs my broertjie, Donavon Claassen, was oek rondom hulle ouderdom toe hulle vermoor was. Ek wou annie leerders bekend maak dat dit was die loss van my getuies se liewens wat my gelei het tot poetry.
Dit was my manier om te probee sin maak vannie seer. In daai tyd het poetry oek ’n plek geraak waa ek hulle stories kan onthou en vertel. Hulle stories is nie groot stories nie, maar nog steeds maak hulle bestaan oek saak. Ek het annie leerders genoem dat elkeen van hulle se stories oek valuable is. Ek is sieker dat vannie leerders alreeds nie net gedigte skryf nie, maa daa’s oek van hulle wat dalk rap, of sing, dans of funny TikTok-video’s maak. Daa is siekere leerders wat dalk graag wil act of wil leer om te paint; wat oek al die medium: Art gaan oo storytelling. En ek wou hê hulle moet wiet dat hulle stories oek goed genoeg is om deu art vertel te wort.
Juffrou AJ Paulse het teen die einde van ôs assembly genoem dat sy kan getuig van hoe moeilik dit is ommie leerders te bereik met literatuur wat in Standaardafrikaans geskryf is. Sy het verlede jaar die initiative gevat om 'n groep ouer leerders bloot te stel an Kaapse gedigte. Sy noem dat “sy kon voel hoe die energie verander in die kamer”. Ek het ees bewus geraak van literatuur geskryf in Kaaps toe ek in my 20's was. Fredericks vertel by geleentheid dat sy 35 was met haa eeste ontmoeting met Kaapse literatuur. Ek is excited, want die leerders het alreeds 'n voorsprong vi ‘n verhouding met taal en literatuur wat hulle stemme, hulle ervaringe en hulle needs sentraal stel.
Op 30 Maart 2026 was die laaste skoolbesoek vannie Cape Flats Book Festival Roadshow. Ek het weer uitgereik na Williams en wou weet wat vi hom die twie maande uitgestaan het. Hy sê: “Knowing that we are helping to shape young minds, encourage a love for reading, and create spaces where children feel seen and heard, is incredibly fulfilling. These two months have once again strengthened my understanding that access to books and positive role models can change the trajectory of a child’s life.”
Lees ook:
Lady Di, die Cape Flats Book Festival het die jaar iets gekort
Die gewig van ’n gedig: ’n close reading van Gaireyah Fredericks se gedig "Swaa dra"’

