Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid
Skrywer: Sakkie Spangenberg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234270
Wat gebeur wanneer ’n deurwinterde Bybelkenner en akademikus, na vyf dekades van studie, tot die gevolgtrekking kom dat die kerk se boodskap histories onversoenbaar is?
Boeke wat krities staan teenoor godsdiens in die algemeen en die Christelike godsdiens in die besonder, is al ’n hele genre op sy eie, en wanneer mens so voëlvlug neem deur die soort boeke heen, word die spektrum van ongelowiges of ateïste duideliker.
Een wanpersepsie wat bestaan, is dat hierdie soort boeke maar grotendeels deur kwaai, wit, Afrikaanse mans geskryf word, Boetmanne wat dalk nog so bietjie die bliksem in is. Dikwels is dit mans wat gedwing is om “op die grens” te veg vir God, volk en vaderland. Skeptici, andersdenkendes, ateïste, agnostici, humaniste, ensovoorts kom egter onder alle rasse, kulture, nasionaliteite en genders voor. Hulle is daar, maar publiseer dalk net nie altyd so graag oor hulle ongeloof soos wat die “Boetman” graag doen nie.
Dit is inderdaad so dat heelwat van hierdie boeke wel die uitvloeisel van die “angry atheist” is. Dis gewis nie die geval met Spangenberg se boek nie.
Hierdie boek is nie maar net nog ’n geloofskritiese teks nie. Die skrywer maak wel ruimte vir sy eie oordeel om deur te skemer, maar wat die grootste deel van die boek betref, is dit ’n koel en welberedeneerde versameling van argumente wat die aansprake van spesifiek die Christelike geloof toets aan die hand van ’n wetenskaplik-historiese ondersoek.
Kritiek
Twee punte van kritiek teen Spangenberg se boek dien miskien as die ideale vertrekpunte vir verdere bespreking.
Kritiek 1: Niks nuuts nie
Die een beswaar is dat Spangenberg niks nuuts in sy boek staaf nie. Dit is met ander woorde nie ’n boek hierdie wat op primêre navorsing of enige empiriese data gebou is nie. In hierdie stukkie kritiek steek daar wel ’n mate van waarheid. Veel van wat in die boek voorkom, is welbekende feite. Spangenberg herbesoek verskeie ou bekende sake, soos die gevalle van onder andere Galileo Galilei (1564–1642) en (ons eie) Johannes du Plessis (1868–1935); gevalle waar die kerk glipse gemaak het (vir Du Plessis is later ’n standbeeld opgerig terwyl die kerk ook amptelik oor Galilei gebieg het). Dit is egter duidelik dat al die bekende ou feite opgediep word deur Spangenberg vir die bepaalde argument wat hy voer. Veral as agtergrond. Telkens, deur die loop van die geskiedenis, het die mens se insigte geskuif en moes die kerk aanpas. Waar die kerk eens geleer het dat die eerste vyf boeke van die Bybel deur Moses geskryf is, is die gedagte later laat vaar. Die kerk se verkeerde ouderdom van die aarde is ook eens in die Bybel aangedui, maar is later in die lig van nuwe insigte weer uit die Bybel gelaat.
Wat duidelik word namate mens deur die boek werk, is dat die Bybel, die boek wat veronderstel is om ’n anker van die geloof te wees, vandag besig is om ’n doring in die vlees van die kerk te word. Sedert die Protestantse reformasie het die Bybel al meer toeganklik geword vir moderne mense (weens vertalings). Vir baie mense het selfstudie van die Bybel hulle geloof versterk, maar sonder sentrale beheer oor die uitleg van die Bybel, het die kerk spoedig versplinter in duisende denominasies, ’n verskynsel wat in eie reg vrae oor die legitimiteit van die kerk se boodskap by mense laat. Protestante maak dikwels groot gewag van die leerstelling van sola scriptura, maar lees mens deur Spangenberg se boek, kom ’n mens besonder onder die indruk watter deurslaggewende rol belydenisgeskrifte histories gespeel het in die presiese manier waarop die Bybel geïnterpreteer is. Sonder die meesternarratief van die kerk, soos ontwikkel deur kerkfilosowe (teoloë), bring Bybelstudie mens maklik by ’n heel ander prentjie uit as die een wat die kerke skets.
Spangenberg lê ook gedurig klem op die kosmologiese uitkyk van die skrywers van die Bybel. Die probleem is nie gewoon dat die Bybelskrywers se kosmologie verskil van dié van moderne mense nie. Die eintlike kopseer is dat die kerk se hele boodskap vervleg is met die drievlakkige kosmologiese uitkyk. Daarom sien ons steeds nog Saterdag na Saterdag rugbyspelers wat boontoe wys met hulle vingers elke keer wanneer ’n drie gedruk word. Die oudste geloofsbelydenis, die Apostoliese Geloofsbelydenis, verklaar in die ou Latynse weergawe dat Jesus “neergedaal het na die hel”. Dit was inderdaad ook eens so vertaal in Afrikaans, maar is sedertdien aangepas om te verklaar dat Jesus “ter helle neergedaal het”, met die moderne interpretasie dat Jesus “deur helse smarte” gegaan het aan die kruis. Moderne mense aanvaar eenvoudig nie meer dat die hel onder die aarde is nie. En hoe gemaak met die stories van Jesus wat in die uitspansel in opstyg? Die viering van Hemelvaart was ’n belangrike dag op die kerke se kalender vir baie jare, maar die ywer vir die dag het aansienlik getaan in moderne tye (vergelyk die vieringe van Hemelvaart met ander godsdienstige dae wat gelowiges vier, soos Paasfees). God se wederkoms skep ook probleme, gegewe moderne kosmologiese sieninge. Hoe sal God tegelyk in die hemelruim sigbaar wees in Suid-Afrika, sowel as in China of die VSA?
Kritiek 2: Nie wetenskap nie
’n Ander aanklag, en een wat veel minder aandag verdien, is dat Spangenberg glad nie met “wetenskap” besig is nie. Dit is natuurlik verkeerd.
Dit is eerder waar dat daar nog altyd mense was wat die kerk se boodskap bevraagteken het. Baie van hulle is uitgewis of op ander maniere stilgemaak en vervolg deur die kerk. Baie is verbrand.
Dit is vandag algemene kennis onder akademici dat daar nie ’n enkele woord in die Bybel staan wat deur ’n Christen geskryf is nie.
Die eerste volgelinge van Jesus, so wys Spangenberg tereg en gedurig uit, het nie die triniteitsleer geken nie en het nie vir Jesus gelyk aan God gestel nie. Hulle was eerder ’n Joodse sekte, of splintergroep, as wat hulle Christene was. Lees in hierdie verband ook byvoorbeeld Julie Galambush se boek The reluctant parting (2005, Harper One). Die idee dat Jesus ’n Christen was, ’n nuwe godsdiens wou begin of homself as God beskou het, is gewoon onwaar. Dit word ook bevestig deur byvoorbeeld die filosoof Bertrand Russell (1872–1970), wat amper 80 jaar gelede geskryf het:
Christianity, at first, was preached by Jews to Jews, as a reformed Judaism. St James, and to a lesser extend St Peter, wished it to remain no more than this, and they might have prevailed, but for St Paul, who was determined to admit gentiles without demanding circumcision or submission to the Mosaic Law. (History of Western philosophy, 2004, Routledge)
Nog ’n klassieke voorbeeld van hoe die kerk aan die slaap gevang is, bly die saak van homoseksualiteit. Vir eeue lank het die kerk gepreek teen homoseksualiteit. Die kerk se standpunt was maar gewoon ’n refleksie van die res van die samelewing. Stadig maar seker het die persepsies rondom homoseksualiteit egter verander. Teen 1973 het die Amerikaanse Sielkundige Vereniging homoseksualiteit verwyder van hulle lys van geestelike afwykings. Homoseksualiteit word vandag staatkundig en wetlik as doodnormaal en aanvaarbaar beskou in een staat na die ander, maar die kerke sukkel om hulself hiermee te versoen, veral teen die agtergrond van ’n patriargale boek soos die Bybel.
Miskien is die heel grootste mite wat die kerk lewend hou, die een van die mens se onsterflike siel of gees.
Ongelukkig was daar nie veel ruimte in Spangenberg se boek om hierdie onderwerpe aan te roer nie.
Die hellenisering van die Jodedom word wel deur Spangenberg verreken, in hoe dit neerslag gevind het in beide die kolonisering van antieke Israel en die invloed van die Septuagint (die Griekse vertaling van die Bybel, wat waarskynlik daartoe bygedra het dat Maria as ’n “maagd” beskryf is, in plaas van ’n “jong vrou” soos in die oorspronklike Hebreeus).
Griekse filosowe soos Plato se nalatenskap strek waarskynlik ook veel verder, want deur die Griekse taal en filosofie het die idees oor die onsterflike siel skynbaar oorgespoel na die vroeë kerk.
Dus?
Ten spyte van die feit dat Spangenberg heelwat bekende feite herhaal, is die lees van hierdie boek meer as die moeite werd en kom die skrywer tot ’n aantal fassinerende insigte. Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid is geensins ’n anti-Christelike boek nie. Inteendeel, die Christelike geloof word as ’n kosbare deel van ons erfenis voorgehou, een wat nie “na die ashoop moet karwei [word] nie” (bl 261).
Die manier waarop Christelike teologie beoefen word, kom egter onder skoot, spesifiek waar die Christendom in die verlede as die “enigste waarheid” voorgehou is. Dit geld egter vir alle godsdienste.
Omdat godsdiens bepaalde psigologiese en kulturele dimensies het, sal die kerk nie verdwyn nie. Gemeenskappe is verknog aan tradisie, maar weens die ontploffing in kennis sal die kerk se historiese meesternarratief van sondeval-verlossing-eindoordeel waarskynlik toenemend herverpak word.
Dit is reeds lank al ’n gegewe dat talle gereformeerde kerke se geloofsbelydenisse dikwels diep weggebêre word wanneer daar vir die weeklikse preek voorberei word, selfs ook vir die Sondagskool.
Lees ook:
Die Bybel, die Christelike godsdiens en die waarheid deur Sakkie Spangenberg: ’n resensie
Kommentaar
Wat 'n uitstekende stuk werk, Barend! Ek hoop jy skryf dit in vir resensent van die jaar.
'n Baie goeie resensie, Barend!
Baie dankie Barend, en natuurlik ook Sakkie, vir julle onderskeidelike en goed deurdagte bydraes.