Die biblioteek aan die begin van my wêreld

  • 4

Deborah Steinmair (Foto: verskaf)

In die hoeveelste fase maak biblioteke oop? Lank voor die pandemie het biblioteke reeds vir my hartseer ruimtes geword: afgeskeep, effens vervalle, onderbefonds, met te min nuwe uitreikings. Eens was dit anders.

My heel eerste werk was as assistent in die Potchefstroomse Openbare Biblioteek. Dit was ’n polsende, besige plek. Ek het nie biblioteekwese geswot nie, maar was nie seker wat om in die lewe aan te vang nie en het gereken solank ek deur boeke omring is, is daar nie veel wat kan skeefloop nie.

Min het ek geweet.

Ek was ’n patetiese werknemer. My kop was in die wolke en ek kon slegs met groot moeite vir ’n paar sekondes op enigiets konkreet fokus. Sekere dinge was maklik, soos die Dewey-sisteem: my geheue was goed en ek was nuuskierig. Maar om vir ure agter die toonbank te staan en Die Publiek te bedien, was ’n uitdaging. Veel erger was egter die ledige minuutjies tussen klante wanneer ’n mens papiertjies na ’n sekere grootte moes knip om in die kaartjies te steek van boeke wat laat uithuisig is en die sondaars te bel en aan te maan.

As ’n mens kan spoedlees, verorber jy die hele stofomslag van ’n boek wat teruggebring is in twee kyke voordat jy dit in die sorteermandjie sit. En dikwels gryp dit jou aandag en begin jy die eerste hoofstuk lees. Tot die hoofdame agter jou (gedemp) brul: “Deborah!” Lees op die job was verboten, soos baie dinge.

Ons was omtrent ’n dosyn dames (ja, daar is van dames gepraat) en een heer. Ons is op die naam genoem, maar die bibliotekaris was “Meneer”. “Wat is Meneer se naam?” vra ek eendag in jeugdige onkunde vir die hoofdame. Haar oë agter brilglase rek eers in skok en vernou toe in agterdog: “Vivian. Maar ons sê maar ‘Meneer’.”

As ek terugdink, was dit ’n werksomgewing ontdaan van venyn. Die dames het almal BBib-grade gehad en was lief vir lees en boeke. Hulle was miskien nie glansryk nie, maar elk was in haar eie opsig eksentriek en goedig. Hulle was belese Doppervroue en het baie geduld met my gehad en dikwels my knoeiwerk verdoesel. My groot aandeel aan die piekniek het stelselmatig ontvou: Ek was die kantoornar wat in die tweedaaglikse teetye vermaak verskaf het. Maar meer hieroor later.

Meneer was nie onaantreklik nie, op ’n stil en donker manier. Sy naam en van was Engels, maar hy was Afrikaans en waarskynlik diep in die kas. Ongetroud en inwonend by sy moeder, met ’n spraakgebrek. Hy het besluit ek het ’n aanvoeling vir kreatiewe skryfkuns en het my gereeld na sy kantoor ontbied. Daar lees hy die langdradige sakebriewe wat hy geskryf het, hakkelend vir my goedkeuring voor. Hy het selfs ’n rekenaar gehad, maar dit was voor die dae van e-posse. Dan gaan sit ek voor sy rekenaar en tik die brief oor soos dit vir my beter klink, terwyl hy oor my skouer loer. Daarna gaan sit hy weer, kyk lank na my poging en sê mymerend oor elke sin: “S-sal ’n me-Ns nie eer-der sê ...?” en dan noem hy presies wat hy in die eerste plek getik het. Ek beaam maar alles en hy tik dit weer met twee voorvingers oor soos hy dit in die eerste plek geskryf het. Dan is ons al twee hoogs tevrede. Keer op keer.

Behalwe Meneer was daar nog ’n man: die bode, ’n bruin man wat ons Ou Gert genoem het. Hy was goedig soos dit in daardie dae iemand van sy amp betaam het. Jare later, lank ná my biblioteekloopbaan, word Nelson Mandela uit die gevangenis vrygelaat. Ek sien sy liewe gesig op TV en dink: Ek ken jou; ek ken jou goed. Van waar? Eendag daal die begrip. Ek bel die biblioteek en vra: “Dink julle nie Ou Gert en Madiba is dubbelgangers nie?” “Ja,” sê hulle, “almal praat daaroor.”

Eendag sit daar ’n boek vas tussen die bodem en wand van die sorteertrollie. Die trollie was van hout en het ’n bodem gehad wat kan beweeg: As die trollie leeg is, is die bodem bo, maar hoe voller dit word, hoe laer sak die bodem. Toe ek aan die boek pluk soos die Bybelse herder wat glo nie ’n enkele skapie mag verlore gaan nie, verduidelik een van die dames gelate: “Jy sal dit nie uitkry nie. Meneer én Ou Gert het al probeer.” Net daar slaan ek ’n slag vir feminisme deur te kreun “Ek sál” en die boek met brute krag vry te pluk.

Daar was nog ’n handvol dames wat nooit dames genoem is nie en apart tee gedrink het. Die paksters. Jong bruin vroue. Ek het graag (onwettig, in werktyd) met hulle geklets, want ons het iets gemeen gehad: Ek het onlangs in ’n tentkerk radikaal tot bekering gekom en was, soos hulle, dolverlief op Jesus. “Suster Deborah” het hulle my genoem, soos hulle mekaar genoem het. Hulle was nie Doppers nie, maar in een of ander streng Pinksterdenominasie, en het gewoonlik oor die kerkdiens of Die Skrif gepraat. Eendag kom staan een langs my, kyk my op en af en lyk bitter ongemaklik. Daar is iets wat hulle vir my wil vra, prewel sy. En toe, sonder om asem te skep: “Sister-Deborah-mág-vrouens-broekdra?”

Nog iets oor die hoofdame: Sy het sykouse en hofskoene en dikwels geruite rompies en wit bloeses gedra. Haar hare was netjies gedoen. Sy het soos ’n sekere manlike Engelse kontinuïteitsaanbieder op TV gelyk, dit het ek eers later gesien – eintlik ’n oulike hasiegesiggie agter die swaar bril. Onder die strengheid het sy ’n speelse, lawwe streep ook gehad. Sy het byvoorbeeld ’n ding vir Meneer gehad, dit kon almal sien. Eendag gedurende teetyd verklaar sy luid: “Meneer kan my koek kry!” en begin onbeheers giggel.

Baie van die dames deel om die een of ander rede bisarre, intieme besonderhede oor hul lewens met my wanneer ons saam op aandskof is. So vertel die hoofdame eenkeer vir my haar man hou nie daarvan dat sy in die huis broekies (panties) dra nie. ’n Ander dame vertel my dat sy op haar wittebroodnag gedroom het sy is ’n klein wit hondjie wat haar been teen ’n boom lig, toe word sy wakker en sien sy het in die bed gepiepie. ’n Ander dame se man, ’n professor, het vir die hele gesin truie gebrei.

Nou: die teetye. Elkeen het ’n aangewese stoel gehad. Die hoofdame was altyd langs Meneer. Later het ek aan die ander kant langs Meneer beland, want ek het hom geamuseer. Hy het my graag uitgevra oor my lewe. Die dames het gewoonlik in stilte hul tee gesluk, maar die gebruik het ontstaan dat Meneer my iets vra en ek begin vertel. Daar het ek (pynlik skaam) vir die eerste keer ontdek dat ek met groot gemak voor ’n groter groep kan optree. Miskien was hulle ’n maklike gehoor. Hulle het aan my lippe gehang en geskater wanneer ek vertel van my lewe voor die bekering, my vreemde jeug en my eksotiese vriendekring. Dikwels sou een van hulle sê: “Vertel ons weer van die keer ...” Kortstondige roem so vroeg.

Muriel Spark het later in haar lewe ’n boek geskryf oor haar werk in die uitgewersbedryf in haar prille jeug: A far cry from Kensington. Miskien skryf ek eendag oor my biblioteekdae. Daar is nog soveel staaltjies, soos oor die arme Parkinson-lyer wat ek een aand bly oorslaan het, want sodra ek voor hom gaan staan het om sy hopie boeke te stempel, het hy sy kop heen en weer geskud en dan draai ek maar na die persoon langs hom om haar eers te help. Hoe het hy gelees gekry?

Lees ook:

Vroue wat skryf kan toor en tuinmaak

 

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Interessante stuk! Dankie. Die biblioteke probeer hulle bes darem sou ek sê. Ek het baie met bibliotekarisse saamgewerk. Die meeste biblioteke is onder die administrasie van die provinsiale regering ingevolge skedule 5 van die Grondwet. Nie net is daar maar altyd min geld nie, maar ook te min bibliotekarisse en bestuurders met kennis van die biblioteekwese. En die nood is baie groot, die smag na inligting is daar van jonk tot oud, maar die behoeftes van skoliere word tog geprioteriseer sou ek se. Soos dit seker moet. Die regering bou gereeld nuwe biblioteke op afgelee plekke en in townships, waar die nood groot is.

  • Ek lees hierdie stuk nou vir die derde slag deur, en elke keer word dit vir my net snaakser.
    Was juis in my jeug in met 'n groep meisies wat bedags in Pretoria se openbare bib gewerk het, en saans in Zethushof, op komberse en rondom bottels wyn, eindeloos oor verlangde, vermeende en, by uitsondering, selfs werklike, kêrels gepieker en gegis het. (Ons pa's en oupas was Afrikaanse dominees en hoofouderlinge.) Later het ons wel onder Afrikaanse skrywers en digters verval. Waaroor mens ook 'n boek sou kon skryf.

  • Avatar
    Estelle Boers

    As bibliotekaris in murg en been het ek nou die vertelling vreeslik geniet. Ek is al vir 'n hele klompie jare by die biblioteke in 'n redelik naby gelee buurdorp, net in die ander provinsie waar die skrywer haar ondervinding opgedoen het, werksaam. En as jongmeisie was dit wraggies so. Meneer was Meneer, niks anders nie. Selfs na sy aftrede het hy nooit 'n oom geword nie. En hy het die biblioteek met 'n ysterhand geregeer. En ons was bang vir sy buie. In daardie dae kon ons nog musiek in die biblioteek speel, maar behoede jou siel as dieselfde plaat meer as een keer op 'n dag gespeel is. Nag Nella. En ons hoofdame was ook 'n regte dame. Wraggies ja. So het ons juniors die biblioteek ook gesien groei en verander. Ons moes later die binnekant verander toe die studente ons in grootmaat begin binneval en na n studieruimte begin soek het. En die skoolkinders se take het wild begin raak en so het ons ook later in semi-onderwysers begin verander, want iemand moes die taakopdragte mooi verduidelik. Definitief 'n ander definisie van die tradisionele inligtingsonderhoud. En vandag is dieselfde gebou n besige sentrum met rekenaars en internet vir ons publiek. Die jeug lees nie meer so baie soos ons wil he nie, maar daaraan werk ons gedurig. Boekklubs vir die juniors kan dalk n liedjie of twee saam met die boekbesprekings insluit... Wat weliswaar die meer senior gebruikers se wenkbroue laat lig, maar nou ja! Daar is ook altyd tyd en plek vir ons ouer gebruikers en dan word jy sommer so n semi-sielkundige. Jy weet, soos 'n haarkapper.
    Ons het dalk nie meer altyd die nuutste boek wat nou op RSG voorgelees word nie, maar ons probeer. En daar is ook wonderlike engele wat boeke koop, een keer lees en vir ons skenk.
    Dinge het oor die afgelope bykans 30 jaar verander en ons omhels nou ook die elektronika, highlight ons hare en dra selfs jeans en ons moet definitiefEst nou harder baklei vir n paar dinge, maar as die biblioteek in jou bloed is, is die bibliotekarisse wraggies altyd bereid om die stryd aan te se.

    En watter voorreg om dan ook ons plaaslike skrywers se boeke in die biblioteek te kan aanhou en die nuutste weergawe in 'n getroue leser se hand te kan sit.

    Met groot vrede in my hart, se ek steeds dat die biblioteek steeds my hartsplek is en n groot dankie aan al ons skrywers, want sonder julle sou ons nie ons werk kon doen nie. Ten spyte van die alwetende Mr Google!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top