Vroue wat skryf kan toor en tuinmaak

  • 1

Deborah Steinmair (foto verskaf)

Toe ek bloedjonk was, huur ek vir 'n appel en ’n ei ’n kamer in ’n vervalle losieshuis. Een van die ander inwoners tik heelnag in haar kamer op die vroeë tagtigs se weergawe van die persoonlike rekenaar: ’n draagbare tikmasjien wat lekker luid klakkeklakklakkk en aan die einde van elke reël pienngggg.

Ek vra haar eendag in die gang wat sy skryf. Liefdesverhale, sê sy in ’n Gunston-bariton. Ek het in die biblioteek waar ek gewerk het, gaan soek, en inderdaad: haar boeke het ’n rak vol gestaan. Novellas oor dodelik aantreklike dokters en nurste met kurwes.

“Het jy ’n mediese agtergrond?” wou ek weet.

“Nee,” sê sy. “Maar ek was al in die hospitaal en ek het my oë oopgehou.” Sy het sonder-nonsens gelyk en het stomende romanses oor beeldskone straight medici versin.

Sy moes vir my ’n waarskuwing gewees het: Om stoksielalleen in ’n losieshuiskamertjie snags om den brode stories te spin is sekerlik nie glansryk nie. En tog: sy was ’n vry fokken vrou. Sy het gelukkig gelyk. Sy het nie daagliks vir ’n korporasie gaan werk nie. Haar verbeelding was haar kapitaal. Haar naam was Willa Mans en nou weet Google nie meer van haar nie, maar sy het gelewe en tantièmes verdien.

Intussen het ek vele skrywers leer ken.

Jeanne Goosen

Kort voor ek veertig word, ontmoet ek vir Jeanne Goosen. Sy gee my een kyk en vra skor: “Wanneer het jy uit die kas gedonner?”

“Nee, ek is straight,” gooi ek wal. (Ek was verward.)

“Jy’s ’n poet,” het sy gesê. “Deug vir niks anders nie.”

Ek het haar geglo, want ek het haar prosa bewonder. By haar het ek gesien hoe idees heeldag soos papiervliegtuigies rondsweef en meestal op die grond val. Die lug was vol blinkers. En onuitspreeklike pyn. Die lewe is nie maklik vir haar of die mense rondom haar nie. Maar wat ’n mentor was sy.

Ons het Kaap toe verhuis. As Jeanne se steierende makker het ek heelparty skrywers leer ken. Corné Coetzee, Marlize Hobbs, Reinet Nagtegaal, Joan Hambidge, Petra Müller, Ingrid Winterbach en vele meer. Fassinerende vroue, almal sterk met ’n besige kop en droë humorsin.

Op kunstefeeste en as kunsjoernalis het ek nog skrywers ontmoet. Mense wat skryf, het ek agtergekom, luister na jou, want hulle is op soek na materiaal en inspirasie. Hulle wil weet.

Dit was egter toe ek terugtrek Pretoria toe dat ek opeens ’n vroueskrywersvriendekring opbou.

Marlize Hobbs

Vir Marlize Hobbs loop ek hier weer raak. Ek hou vol sy is Goosen se opvolger. Haar novelles is dig, woordekonomies en digterlik. Daar is veel van Afrika wat aan haar kleef, ’n grootheid van gebaar, ’n ritme in die heup, ’n droë segswyse, ’n wye lag, donker oë wat takseer, beeldspraak ryk soos grond.

Erika Murray-Theron het ek in die Kaap ontmoet, toe ek in my kombuis met haar ’n onderhoud vir Die Burger voer. Ons het gekliek soos dop en dam. Terug in Pretoria loop ek haar weer raak. Soos alle kunstenaars is sy tydloos, ongebonde aan ouderdom. Sy stel intens belang in alles onder die son en niks ontgaan haar nie. Haar vriendin Corlia Fourie het ek ook meermale in verskillende provinsies raakgeloop – verstrooid en geamuseerd, koddig soos ’n elegante flamink. Vonkel in die oog, vinnig van begrip.

Gerda Taljaard

Gerda Taljaard het my genader om ’n kortverhaalboek saam met haar te redigeer. Ek was glad nie lus nie, maar sy het my oorreed. Ek het haar onmiddellik herken as een van my persone. Ons stem saam oor skryfwerk. Sy is melankolies ingestel, met ’n pikdonker humorsin, lakoniese stem, wakker brein en groot goedheid. Ons deel ’n honger na noir.

Naomi Meyer het ek via LitNet en op kunstefeeste leer ken. Haar aspris humorsin laat kurk nat voorkom. Sy het ’n koel kyk en dodelike eerlikheid. Sy besit, soos vele skrywers, ’n skeut koddigheid wat my laat tuis voel. En ’n rustelose brein wat my amuseer.

Vir Emma Bekker het ek op ’n Boekejol raakgeloop. Sy is ’n wolvin of ’n vos, met ’n blink witborskraaiglimlag en oneindige pittighede, vlymskerp. Sy is aards en wys en heeltemal in haar lyf. Sy herinner my aan die volgende beskrywing in Patricia Lockwood se Priestdaddy: “Every time I try to capture her and force her into my private zoo of description, I fail. I have, on different occasions and in different moods, described her as ‘a tricked-out club Chewbacca’, a ‘highly literate female Tarzan’, and ‘a jaguar who went through a human puberty’. One thing is certain: she is straight out of Nature ... She’s always wearing a tiny fur vest of some kind. If I tracked her through the woods on a snowy night, I am sure she would leave paw prints.”

Juliana Coetzer

En Juliana Coetzer, ’n sielkundige saam met wie ek heeldag kan kuier, wat ek uit ’n vorige leeftyd of ’n parallelle heelal herken. Sy het Hermanus toe getrek, maar ons koppe is nog gesinchroniseer. Sy luister vir ’n lewe, maar sy skryf ook. Haar waarneming is ragfyn, haar aanvoeling ontsenuend. Saam met haar kan ’n mens die middag weglag oor ’n paar glase wyn.

Nou is ek uitgewer en werk saam met “my” skrywers in die Protea-stal: Marie Blomerus, 88 en steeds beeldskoon en fyn soos ’n Spaanse danseres, met lewendige nuuskierigheid en skerp sin vir verontwaardiging. Eunice Basson: kunshistorikus en fyntuinmaker van formaat wat met woorde woeker en ingestel is op die pols van die heelal. Renée Rautenbach Conradie, Pretoria-adel met ’n gulhartige lag en aardse komminsens. Wini Esterhuizen: legendariese reisiger wat op ’n plaas aan die einde van die wêreld bly, in rooigrond naby Koës in Namibië – Pippie Langkous wat grootgeword het.

Virginia Woolf het gesê ’n vrou het ’n kamer van haar eie nodig. Dié van ons wat skryf, het vele kamers in ons kop en die drumpel word nooit deurgetrap nie. Maar dis lekker om met jou portuur te kuier, jou dam se ganse, dromers en orakels, hekse en fee-peetma’s, jagters van die muse, branderplankryers van die toetsbord.

Here’s looking at you, Willa.

  • 1

Kommentaar

  • Heerlike woorddis!

    Ek het so lekker gelees hieraan, dat ek vir 'n oomblik weggevoer was na 'n saamkuiervertrek - vêr weg van opsluiting.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top