Die Adam Small Boekefees | 23 tot 25 Februarie 2024 in Pniël: ’n onderhoud met Darryl David

  • 1

Darryl David praat met Naomi Meyer oor die Adam Small-fees wat binnekort op Pniël plaasvind.

Darryl, die Adam Small-fees is om die draai en dit lyk na ’n heerlike program! Vir mense wat die eerste keer hierso van die Adam Small-fees lees, sal jy hulle vertel wat dit is?

Die Adam Small Boekefees in Pniël is enig in sy soort. Toe ek op 25 Junie 2016 die nuus kry dat Adam Small oorlede is, was ek so spyt dat ek nie ’n fees in sy leeftyd begin het nie dat ek besluit het ek moet ’n fees dadelik begin. Wat interessant is, was die keuse van Pniël vir die fees. Daar was voorheen geen verband tussen Pniël en Adam Small nie, maar ek het net die gevoel gehad dat hierdie die plek vir ’n fees vir Adam Small is. Gelukkig was die voormalige voorsitter van die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT), Matthew Cyster, net so mal soos ek – en so is die fees gebore.

Jy weet, dit was die trane van Adam Small in ’n onderhoud met Murray la Vita wat my aangespoor het om ’n fees vir Small te begin – om reg aan sy statuur binne die Afrikaanse literêre sisteem te laat geskied.

Maar na sewe jaar sien ek in my geestesoog net ’n glimlag op Adam se gesig. Ek weet ek moet hom eintlik “dr Adam Small” noem, maar ek voel so na aan hom dat hy vir my nou Adam is. Ek sien hom glimlag omdat ek weet dat hierdie fees ’n reuse sukses is. En alle dank aan organisasies soos die SBA, ATKV en Vriende van Afrikaans. Matthew Cyster het eintlik bande met hierdie organisasies gesmee. Nou is dit die huidige voorsitter van PEKT, Janine Myburgh, want ek is n buitestander.

Maar dit is veral die ATKV wat hierdie fees onder sy vlerk geneem het. Dit is inderdaad vir PEKT ’n groot eer en geleentheid om die ondersteuning van die ATKV en hul programme en fenomenale span as deel van die Adam Small-fees te hê..

En dit is hoekom ek deesdae n glimlag op Adam se gesig sien. Want ek weet hy weet hierdie fees sal sy naam verewig.

Waarom het jy besluit om hierdie fees in Pniël te hou? 

Wat die fees uniek maak, is dat dit die enigste boekefees in Suid-Afrika is wat na ’n swart skrywer vernoem is. Die fees is daar om ’n platform te gee aan Afrikaapse (bruin) skrywers wat nooit erkenning gekry het vir hul literêre werke nie, soos Adam Small, maar dit sal altyd ’n veelrassige, veeltalige fees wees en almal is welkom om dit by te woon.

Maar uiteindelik is dit die mense van Pniël wat hierdie fees so spesiaal maak. As mense die Dwarsriviervallei inry, dan voel hulle: Hier is ek welkom.

Ek sien oudergewoonte opwindende skrywers op die program. Is daar skryfaanbiedinge en -gesprekke waarna jy in die besonder uitsien?

Ja, Naomi. Ek het op Facebook geskryf: “If people ask me which writer I am most looking forward to hearing at this year’s Adam Small Boekefees, I will unashamedly say it is Gaireyah Fredericks. We started this festival in February 2017, with not a cent to our names. And from Day 1 Gaireyah has walked this journey with us. Many times she had no book to her name. But she always had ideas. More than ideas she always had dreams. It was the reason I could never bring myself to say to her ‘the programme is full’. I know that in those early years she put on plays at the festival with her own money. I am pretty sure Gaireyah is not rolling in the money. But she invested in her career as a writer. Late in life. I know today she has a master’s in creative writing. I know when we met she did not have a qualification in creative writing. But word for word, page by page, she built a career. And in two weeks she will launch her book EEN VOET INNIE KABR at the Adam Small Festival. I have no idea what KABR means and I don’t want anyone to tell me. But if this book of hers is anywhere near as powerful as the performance she gave at last years festival, I know it will be something to behold.

“So that is why this is the one book I am so looking forward to. Because Gaireyah Fredericks has drive. You can’t teach that.

“And because she personifies what this festival is all about. See you in two weeks, Gaireyah.”

En dan is daar ook Kirby van der Merwe wat die kykNET Rapport-prys sowel as die Eugène Marais-prys vir sy roman Eugène gewen het. Dominique Botha met haar verruklike bundel Donkerberg wat die Ingrid Jonker-prys ingepalm het. Sowel as Eunice Visser, wat die niefiksie-afdeling van die kykNET Rapport-prys verower het met haar boek oor die Kaapse slawe.

En dan is daar Wendy Maartens met haar sessie getiteld “Marie biscuits met ’n woestynvader”. Ek sê vir jou, die vrou is ’n bietjie mal, soos alle goeie skrywers is. Dit gaan ’n onvergeetlike sessie wees. Ek het haar ’n jaar gelede na die fees genooi. Ek sien ook geweldig uit na Pieter P Fourie se roman Ons skulde. En Jonathan Jansen met sy boek As by fire: the end of the South African university. En niemand in Pniël ken die naam Betty Govinden nie – but I'm putting my head on the block, Naomi, as ek sê ná Saterdag 24 Februarie sal niemand haar poësie vergeet nie.

Alle skrywers is ook ná Saterdag se lesings na Die Boekklub genooi. Dis geborg deur die Botha-Enthoven-gesinne. Dominique Botha Enthoven en haar ouers en hele families was van dag een af ons grootste ondersteuners. Die Boekklub is asemrowend mooi en beslis een van die hoogtepunte van die fees. En dan is daar die kerkdiens. Dis ’n belewenis. Elke jaar sien ek so baie uit na die musiek. Adam het iets geweet toe hy geskryf het “Kô lat ons sing”. Want die mense van Pniël ken ’n ding of twee van sing!

Dis egter nie net skryfwerk wat hier ter sprake is nie. Ek sien ook musiek op die program. Wil jy hiervan vertel?

Jy weet, musiek het so organies deel van die fees geword. Ek wou altyd ’n gedeelte van die fees hê met die tema “Kô lat ons sing”. Maar in die vroeë dae het ons nie geld gehad nie. Deesdae kry ons groot ondersteuning van die ATKV, wat ons die geleentheid bied om die volgende musikale projekte aan te bied.

a) Platformsessie: In 2023 is die eerste Platformsessie deur die ATKV se Crescendo span op die Rooi Stoep by die Pniël Museum tydens die Adam Small Fees aangebied. Dit was ’n asemrowende opelugvertoning in die magiese Museum-tuin en tussen die majestueuse berge, onder leiding van Robin-Dean Fourie (Hooflig), met vertonings deur die welbekende sanger Petronel Baard, en die The Voice-finalis Keanu Harker. Die produksie is gepas Klawerjas genoem – na een van Adam Small se werke – en was ’n musiekblyspel waarin die kleurvolheid van Afrikaans sowel as die legende Adam Small gevier is. Die gehoor was in vervoering en wou hê die vertoning moes langer aanhou.

Hierdie jaar is dus die tweede jaar wat die Crescendo-span deel vorm van die fees, en Crescendo skop sy 50ste bestaansjaar af met die Klawerjas II-vertoning op Saterdag 24 September om 18.30 in die Pniël Museum-tuin. Die deelnemers hierdie jaar is Sarah Theron, Whaden Johannes, Selby Williams en Gaywin Abrahams, met begeleiding deur die Crescendo-orkes onder leiding van William Jacobs. Die produksiebestuurder is Morné van Staden.

ATKV-Crescendo gee aan kunstenaars die geleentheid om ongeag musiekgenre en roem hul musiek op die Platformsessies te deel.

“Musiek is ’n universele taal wat mense bymekaarbring. Met die Platformsessies wil ons vreugde, vrede en samehorigheid bewerkstellig,” sê Robin Fourie, ATKV-Crescendo-ambassadeur en -mentor.

b) ATKV-Suidoosterfees-koorwerkswinkel: Die PEKT is ook hierdie jaar deur die organiseerders van die Suidoosterfees-korekompetisie genader om die ATKV-Suidoosterfees-koorwerkswinkel tydens die fees aan te bied. Die werkswinkel word aangebied in die Pniël Congregational Kerk op Saterdag 24 Februarie, 09.00–14.00, en is oop vir enige amateur- en plaaslike gemeenskapskore (plaaskore, kerkkore ens) – juis vir kore wat dalk nie ’n opgeleide koorleier het nie. Dit is glad nie gemik op professionele koorleiers nie (geen skole), maar hoofsaaklik op kore wat inskryf vir die ATKV-Suidoosterfees-korekompetisie, maar nie beperk tot hulle nie. Die aanbieder van die werkswinkel is Lizl Gaffley.

Daar is ook ’n groter bewustheid van kinders in die gemeenskap en van hulle skryfwerk wat ek op die program gewaar. Is die Adam Small-fees ’n fees wat uitreik na die groter Pniël - en kan alle kinders in Stellenbosch of die omgewing ook hierdie geleenthede kom bywoon?

a) In Oktober 2023 het die ATKV se Vriende van Afrikaans (VVA) en PEKT hande gevat en die Skole-skryfskool by skole in die Dwarsriviervallei begin. Die klasse is aangebied deur die welbekende skrywer Anzil Kulsen, aan 30 leerders van drie laerskole asook 30 leerders van Kylemore Sekondêre Skool in die Dwarsiviervallei. Die doel van die werkswinkels is om leerders die geleentheid te gee om hul stories en gedigte te skryf.

Hierdie jaar se werkswinkels het geëindig in ’n kompetisie waar die beste werke deur onafhanklike beoordelaars gekies is en waarna die leerders blootstelling tydens die Adam Small-fees sal verkry. Al die leerders ontvang sertifikate van bywoning. Hierdie sertifikate word op 22 Februarie by die onderskeie skole aan die leerders oorhandig, en die wenners word dan ook aangekondig. Anzil sal op Saterdag 24 Februarie tydens die fees onderhoude met die wenners voer. Sy en die beoordelaars was baie beïndruk met die talent van die leerders, asook hulle hartstories.

b) Die ATKV/VVA/PEKT bied ook op 22 Februarie ’n Leeskonferensie aan onderwysers in die Stellenbosch- en Dwarsrivier-areas, met die titel “Elke kind wil lees”. Die konferensie is oop vir alle onderwysers wat ’n verskil wil maak. Dit sluit oa onderwerpe in soos “Die inklusiewe klaskamer”, “Voorleesboeke om kinders se emosionele welstand te bevorder” en “Die belangrikheid van voorlees”, en ’n motiveringspraatjie. Hierdeur hoop ons om ook die ander skole in die Stellenbosse munisipale gebied te betrek. Die hoop is dat die skryfskole na ander skole sal uitbrei.

Nog ’n doel van PEKT met hierdie inisiatiewe is ook om meer van die plaaslike inwoners na die Adam Small-fees te trek en die waarde wat die fees bied, te besef en ervaar.

Vertel asseblief hoeveel die kaartjies kos en waar die fees plaasvind? ’n Paar praktiese sake daaromtrent, asseblief.

Toegang tot die Adam Small-fees is absoluut gratis, pasella, verniet, danksy ons borge. Donasies is egter altyd welkom. Ons hoop om hierdie jaar se donasies aan die Pniël Congregational Kerk se orrelfonds te skenk. Die kerkorrel het ’n groot diens nodig wat in die omgewing van ’n halfmiljoen rand gaan kos.

Daar word slegs vir die Platformsessie-Crescendo Klawerjas II-vertoning kaartjies verkoop teen R50 per kaartjie. Kaartjies is beperk agv ruimte – bespreek asseblief by die Pniel Museum – kontakbesonderhede hier onder.

Tuisgemaakte verversings sal te koop aangebied word.

Vir meer inligting: pnielmuseum@gmail.com    
WhatsApp: 079 086 7425
Webwerf: www.adamsmallfees.co.za     

 

  • 1

Kommentaar

  • Janine Myburgh

    Wow! Wat 'n mooi artikel, baie dankie Naomi en LitNet dat jy dit alles so mooi saamgevat het. Ons sien julle by die fees. Ek is al so opgewinde!
    Kom mense, Kô Hys toe!
    Janine

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top